Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Calvyn en "Tentmaker"- Bediening

Calvyn was een van die grootste eksegete van alle tye, indien nie die grootste nie. Ons kan baie leer deur na hom te luister. Dit is daarom nie eienaardig dat Gereformeerdes hulle telkens op Calvyn beroep nie. Dit gebeur ook t.o.v. die saak van ‘tentmaker'-bediening. So het ds. P.J. Buys in Die Kerkblad van 27 Januarie 1988 p. 31 die stelling gemaak: ‘Tentmaker-predikante, wat self in hulle lewensonderhoud voorsien, was dus vir Calvyn aan­vaarbaar'. Dit is egter 'n baie onge­kwalifiseerde stelling. Calvyn was alleen onder bepaalde omstandig­hede daarvoor te vinde. Dit sal in hierdie artikel aangetoon word.

Vandag gaan daar 'n koor van stemme in die Gereformeerde kerke op vir `tentmaker'-predikante. Die groot vraag is: Wat dirigeer hierdie koor? Ek glo nie ek is verkeerd as ek sê dat die dryfveer van hierdie simfonie 'n gebrek aan geld in die gemeentes is om 'n 'vol­tydse' predikant te kan trakteer en, daarmee samehangend, die groot aantal proponente wat nie beroepe ontvang nie. Maar regverdig dit tent-maker-bediening? Kan ons Calvyn sien as lid van so 'n koor? Ek glo nie!

In Handelinge 20: 33-35 herinner Paulus die ouderlinge van Efese daaraan hoe hy, terwyl hy by hulle was, in sy eie behoeftes voorsien het deur met sy hande te werk. Hy noem ook die rede vir hierdie stap: "Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei, die swakkes moet help . ."

Die Valse Apostels🔗

Ongelukkig was daar valse apostels werksaam in die gemeente. Hulle het hierdie onkunde van die swakkes uitgebuit deur geen onderhoud te vra nie. In sy kommentaar op 2 Korintiërs 11: 12 wys Calvyn daarop dat die valse apostels hulle daarvan weer­hou het om besoldiging te ontvang, om sodoende die ongeleerdes na hulle toe te trek. Op onkundiges — mense wat die Skrif nie goed ken nie en dus nie weet van die Skrifgegewe reg op traktement nie — sou hierdie valse apostels wat gratis werk, 'n baie beter indruk gemaak het as 'n Paulus wat wel op sy reg staan. Dit was juis hulle oogmerk om Paulus in 'n swak lig te stel en hulself baie goed voor te doen. As Paulus sou aandring op traktement, sou dit tot gevolg gehad het dat die swakkes die valse apostels sou navolg.

Wat sê Calvyn?🔗

Calvyn sê in sy kommentaar op hierdie verse dat Paulus hulle geen wet voorskryf wat alle dienaars van die Woord te alle tye moet volbring nie. Hy verklaar in hoeverre hy hulle opwek om sy voorbeeld na te volg, nl. om die swakkes op te neem. Calvyn lê dus 'n beperking op die omstandighede waaronder tent­maker-bediening beoefen kan word. Dit gaan om die swakkes: om hulle te help sodat ons hulle nie aanstoot gee nie.

Wie is nou eintlik hierdie swakkes? Volgens Calvyn in sy kommentaar op 1 Korintiërs 9 is hierdie swakkes nie afgodsdienaars wat heeltemal vervreemd staan teenoor die godsdiens nie. Hulle is die onkundiges en ongeleerdes wat nog nie so goed onderrig was in sekere Skrifsake nie. By hulle was daar nog onkunde oor bepaalde regte of vryhede wat die Skrif self aan ons skenk.

Paulus se gebruikmaking van sy reg sou dan gelei het tot hulle struikeling en nie tot hulle opbou in die geloof nie. Volgens Calvyn is dít die rede waarom Paulus die evangelie koste­loos aan die Korinthiërs verkondig het.

Onkundiges en Onwilliges🔗

Ons moet egter daarop let dat Paulus hom in Korinthe skik na onkundiges en nie na onwilliges nie. Dit gaan nie om mense wat goed geweet het wat God eis t.o.v. die lewensonderhoud van sy dienaars en wat dit desondanks nie wou doen nie. Ons weet goed wat God vandag van ons in die verband verwag!

Calvyn het hierdie onderskeid tussen onkundiges en onwilliges besonder goed raakgesien. Hy lê sterk nadruk hierop wanneer hy die gebruikmaking al dan nie van ons Christelike vryheid behandel. Hy roer die saak o.a. aan in sy kommentaar op 1 Korintiërs 9:22 en in sy Institusie (Boek III, Hfst. 19, par. 11-3). Aan die een kant kry ons die swakkes. Aan hulle moet ons toegee, as ons hulle deur die gebruikmaking van ons vryheid kan laat struikel. Ons mag hulle nie aanstoot gee nie.

Aan die ander kant kry ons die hardnekkiges, die bose mense, wat deur skynheiligheid, hovaardigheid of boosheid wens dat die Christelike vryheid heeltemal weggeneem was. Ons vryheid mag geensins wyk vir die wrangheid van hierdie Fariseërs nie.

Predikante mag dus nie hulle reg op traktement laat vaar ter wille van laasgenoemde groep nie. Onder hierdie omstandighede sou tentmaker­-bediening ten ene male vir Calvyn onaanvaarbaar gewees het. Dit stel ek teenoor die ongekwalifiseerde uitlating van P.J. Buys. Ons sal ons motief vir tentmaker-bediening moet beoordeel in die lig van hierdie onderskeid wat Calvyn maak.

Die Goue Reël van die Skrif🔗

Ons sal hierdie vraag moet beant­woord: Is dit verkeerd om, wanneer ons werksveld so ontsaglik groot is dat ons nie naastenby by alles uitkom nie, predikante in die wing­erd te stuur wat met al hulle krag en al die tyd tot hulle beskikking kan arbei? Moet ons nie eerder gelei word — soos die Skrif self leer — deur die vraag: Wat dien tot stigting van die mense wat ons bearbei nie? Inderdaad! Dit is die goue reël wat Calvyn self, op grond van die Skrif, neerlê: ‘Oral moet 'n mens jou toelê op die liefde en let op die stigting van die naaste'.

Niks is duideliker as hierdie reël nie: dat ons ons vryheid moet gebruik as dit dien tot stigting van ons naaste, maar as dit nie vir ons naaste tot nut is nie, moet ons ons daarvan weerhou. Volgens Calvyn kan dit dus soms noodsaaklik wees — ter wille van die welsyn en stig­ting van die naaste — dat predikante wel van hulle reg sal gebruik maak. Calvyn sou nie te vinde gewees het vir 'n tentmaker-bediening wat nie beheers word deur hierdie reël van die liefde nie.

Ons sal onsself moet afvra — in die lig van die reël van die liefde — ­of ons ons vryheid mag begrawe in 'n tentmaker-bediening, terwyl ons eerder gelei word deur 'n geen-geld­motief as deur hierdie goue reël. Is dit tot lidmate se stigting om tent­maker-predikante vir hulle te gee, wat met halwe kragte die opbouwerk moet doen, terwyl dit eintlik ons hele krag vereis.

Ons sal minder in ons beursies moet kyk en meer in die Woord van God. Geld is nie die bepalende fak­tor of ons ons reg moet neerlê nie. Die opbou of stigting van die gemeente is die deurslaggewende reël. Na my mening redeneer ons heeltemal onskriftuurlik in hierdie saak. Ons begin by die vraag: het ons geld vir 'n voltydse predikant? Ons moet eerder begin by die vraag: wat dien tot stigting van ons naaste? D.w.s. wat eis God van ons? Dan moet ons ook vertrou dat God saam met sy eis ook sy belofte sal nakom deur ons in staat te stel om aan die eis te voldoen. Dit is ten diepste 'n geloofsaak! Calvyn — en trouens die Skrif ook — noem nooit 'n gebrek aan geld in die gemeente 'n goeie rede om ons toevlug te neem tot tentmaker-bediening nie!

My bedoeling is nie om te beskul­dig of te veroordeel nie. Ek wil wel waarsku: Laat ons oppas dat ons nie, deur 'n onskriftuurlike toepas­sing van hierdie saak, helpers van die duiwel word wat predikante half-pad, kwartpad, of hoe ook al, vind en hom so 'n handjie gee om gemeentes van hulle predikante te beroof nie. Ons kan onder 'n waas van godsdienstigheid handlangers van die duiwel word.

Laat ons nooit vergeet nie dat die leidende en deurslaggewende begin­sels of predikante hulle vryheid sal gebruik of neerlê die volgende is: die verheerliking van God (1 Korintiërs 11:31), die goeie voortgang van die evangelie (1 Korintiërs 9:12) en die stig­ting van ons naaste (1 Korintiërs 8:1).

Dit alleen moet die lig op ons pad en die lamp vir ons voet wees, ook in 'n baie donker ekonomiese tyd!