Bron: De Wekker. 3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Calvyn oor huisbesoek: ʼn belangrike instrument vir pastorale sorg

Die huisbesoek🔗

Die pastoraat het vir Calvyn veral gedraai om die pole van sonde en genade, en ʼn belangrike aspek van sy beskouing van sielesorg was die huisbesoek. Die oorsprong van gereelde huisbesoek soos ons dit in ons gereformeerde tradisie ken, vind ons in die Genève van Calvyn. Hoewel die reformator die noodsaak van huisbesoek al vroeg bepleit het, is dit eers in 1550 amptelik in die kerk van Genève ingevoer. Na Calvyn se mening was dit baie laat. Waarom was huisbesoek vir Calvyn so belangrik? Sy grondmotief was dat op dié manier die Bybelse voorskrifte vir pastorale sorg vir enkelinge en gesinne, ten beste uitgevoer kan word. Daarbenewens is daar egter ook sprake van drie ander motiewe wat meer deur die omstandighede van die begin van die Reformasie in Genève bepaal is.

Huisbesoek en die bieg🔗

In die eerste plek wys ek op die wegval van die sakrament van die bieg. Dit is bekend dat dit in die middeleeue die grondslag van pastorale sorg geword het. Tydens die bieg het mense hulle sondes bely, die priester het ondersoek ingestel na die mate van berou, vergewing uitgespreek en nuwe pligte opgelê wat as boetedoening moes geld vir wat verkeerd gedoen is. Calvyn het hierdie Rooms-Katolieke instelling radikaal verwerp. Hy vervang die bieg met huisbesoek, wat uitdruklik nie ʼn sakramentele karakter gehad het nie en waaruit alle wettiese verknegting van die gewete van mense verdwyn het. Volgens Calvyn gaan dit by huisbesoek oor ʼn oop geestelike gesprek waarin – uiteraard – sake soos sonde, vergewing en lewensheiliging wel ter sprake kom.

Huisbesoek en kategese🔗

Vir Calvyn het huisbesoek ook ʼn kategetiese aspek. Ons lees naamlik in die bepalings met betrekking tot huisbesoek wat in Genève uitgevaardig is, dat baie mense as gevolg van die verwarring van die Pousdom nie in hulle jeug goed onderrig was nie. Die gevolg was dat hulle as volwassenes nie goed op hoogte was van wat die Christelike geloof ingehou het nie. Daarom is besluit om jaarliks ‘van huis tot huis’ die gemeentelede te besoek om by elkeen eenvoudige ondersoek in te stel na sy of haar geloof, sodat niemand na die Nagmaal sou kom sonder kennis van ‘die fondament van sy saligheid’ nie. Predikante en ouderlinge moes hierin besondere aandag skenk aan ‘knegte, kamerbediendes, pleegmoeders en mense uit die vreemde’ wat in groot getalle hulle toevlug in die stad gesoek het, en hulle mettertyd daar gevestig het. Die bedoeling was naamlik dat niemand sonder vooraf toestemming aan die nagmaal sou deelneem nie. Om (kinders en) volwassenes breër in die leer te onderrig, is daar in Genève weeklikse kategismusdienste gehou. Die huisbesoekers het by die gemeentelede daarop aangedring om dié dienste by te woon, veral as hulle gemerk het dat kennis van die leer iets te wense oorgelaat het.

Huisbesoek en tug🔗

Ten slotte lê Calvyn ook ʼn verband tussen die huisbesoek en die kerklike tug. Waarskynlik kom hierdie kombinasie vandag vreemd voor omdat ons intuïtief geneig is om ‘tug’ en ‘pastorale benadering’ as teenstelling te beskou. Tog moet ons nie vergeet dat Calvyn en baie ander reformatore die (kerklike) tug en pastorale sorg nou met mekaar verbind nie. In die verband is dit dalk gewens om daaraan te herinner dat ons woord ‘tug’ saamhang met die Duitse ‘Busszucht’. Dit beteken letterlik ‘trek (ziehen) tot boete of bekering’. Die kerklike tug bedoel dus ten diepste om mense vir ʼn eerste keer of opnuut tot bekering te bring! Ons kan dit op ʼn nog meer pastorale manier sê: die tug bedoel om verlore of afgedwaalde skape terug te bring na die kudde en by die kudde te bewaar! In praktyk beteken dit volgens Calvyn dat daar tydens huisbesoek sterk klem geplaas moet word op lewensheiliging van die gemeentelede. Om dit te illustreer gee ek die volgende kenmerke wat Calvyn van huisbesoek in die gemeente gee. Tydens die huisbesoek moet ondersoek ingestel word na die geloof én die lewenswyse van die nuwe inwoners van die stad. By hulle wat reeds langer in die stad woon en aan die gemeente behoort, word vasgestel ‘of dit vreedsaam is in die huis, of daar rusie met die bure is en of daar traagheid is in die kerkbesoek’. As die besoekende broeders hierin iets vind wat tekort skiet, kon die gesinshoof, of diegene wat besoek is, voor die kerkraad gedaag word, om oor sy of haar verkeerde lewenswyse verantwoording te doen. Calvyn sê oor die huisbesoek in die algemeen dat die doel daarvan is ‘om die mense te leer ken, sodat die Nagmaal nie ontheilig word nie, en om elkeen aan te spoor om sy plig teenoor God te doen en na sy heilige woord te luister’. So het Calvyn dan die huisbesoek gesien as ʼn belangrike instrument om aan pastorale sorg vorm te gee. Wat in besonder opval, is dat hy in hierdie besoeke ʼn effektiewe middel gesien het om die leer van die Bybel persoonlik op te skerp en vermaning en tug so konkreet moontlik op die situasie van die besoekte lidmate toe te spits. Die laaste twee aspekte het by sommige mense in Genève nogal verset laat ontstaan. Die notules van die kerkraadsvergaderings van die tyd gee ʼn goeie beeld daarvan. Ons moet hierby egter ook sê dat hierdie intensiewe pastorale sorg vir baie tot seën was. Ook daarvan het getuienis bewaar gebly, al word dit na my mening ietwat onderbeklemtoon in die literatuur oor Calvyn.

Vier oorwegings🔗

Sedert die 16e eeu het ontwikkeling plaasgevind. Dit hou in dat daar duidelike (aksent)verskille gesien kan word tussen die beskouing van Calvyn en die manier waarop ons vandag gewoonlik huisbesoek doen. So word daar in ons tyd meer onderskeid getref tussen huisbesoek en ʼn tug-besoek as in die dae van Calvyn. Die verhouding tussen huisbesoek en die heilige Nagmaal is ook minder eksklusief as in die 16e eeu in Genève, al behou ons kerkorde nog ʼn herinnering hieraan. Teenswoordig gaan dit by huisbesoek veel meer oor gewone pastorale besoek van die ampsdraers, waarby, in beginsel, al die vrae van die lewe in die lig van die Skrif aan die orde kan kom. Dit (behoort) daarby veral te gaan oor gesprek oor die persoonlike verhouding tot God. Nietemin kan die beskouing van Calvyn steeds ʼn bydrae lewer by ons besinning. Ek vat dit in vier oorwegings saam.

  1. Al het die tipiese biegkarakter by huisbesoek in Genève verdwyn, het die afkoms van dié pastorale werkswyse nie heeltemal verdwyn nie. Dit gaan immers oor ʼn vertroulike gesprek waarin op ʼn persoonlike manier oor dinge van geloof en die lewe gepraat word. Dit hou onder meer in dat die inhoud van sulke gesprekke vertroulik by die sielesorger moet bly. Dit is na my mening nog steeds ʼn noodsaaklike voorwaarde vir huisbesoeke en ook vir pastorale werk in die algemeen.
  2. Ek sou nie wil terugkeer na die streng koppeling tussen huisbesoek en Nagmaal soos dit by Calvyn was nie. Nietemin sal die nagmaalviering al dan nie van belydende lidmate van die gemeente, ʼn belangrike tema tydens huisbesoek bly. Daar is nie net historiese nie, maar veral ook pastorale redes daarvoor.
  3. In Genève het huisbesoek ook ʼn kategetiese komponent gehad: dit was bedoel om die kennis van die leer te ondersoek en indien nodig ook onderrig daarin te gee. Dit is myns insiens nie die bedoeling dat huisbesoek die vorm van volskaalse gesinskategese soos by die 17e eeuse Puriteine moet aanneem nie. Maar die onderrig uit die Skrif en die leer van die kerk kan wel tydens die besoeke ter sprake kom! Daar kan juis op dié manier aan die geestelike lewe leiding gegee word.
  4. Die verhouding tussen huisbesoek en tug is waarskynlik die mees kontroversiële. Tog moet dié verband in elk geval nie vandag (heeltemal) uit die oog verloor word nie. Tydens die huisbesoek stel die besoekende broeders die gesin wat besoek word immers saam onder die tug van die Woord. Dit hou in dat die vermanende krag van die Woord ter sprake moet kom. Ware huisbesoek is naamlik nie sonder ʼn boodskap nie.