3 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee .

Calvyn se Leerstelling oor die Nagmaal

Johannes Calvyn word algemeen beskou as een van die grootste teoloë van die Hervormingstydperk. Baie koppel sy naam aan leerstellinge soos die soewereiniteit van God, verkiesing en uitverkiesing, maar min mense is daarvan bewus dat hy uitvoerig geskryf het oor die leerstelling van die Nagmaal. Die onderwerp verskyn gedurende sy hele loopbaan herhaaldelik in sy preke, traktate en teologiese verhandelings. Calvyn se klem was nie ongewoon nie. Tussen die baie leerstellinge wat gedurende die Hervorming gedebatteer is, is die Nagmaal meer as enige van die ander bespreek.

Teen die tyd dat Calvyn ’n prominente stem geword het in die laat 1530’s het die Hervormers al jare lank oor die Nagmaal gedebatteer met die Rooms-Katolieke en onderling. Om Calvyn se leerstelling oor die Nagmaal te verstaan is dit nodig om te verstaan watter sienings hy teengestaan het. Deur die laat-Middeleeue tot en met die sestiende eeu, was die Rooms-Katolieke leerstelling oor die Mis die aanvaarde gesigspunt in die Westerse kerk. Twee aspekte van die Rooms-Katolieke leerstelling verdien egter kommentaar: Rome se mening oor die Eucharistiese teenwoordigheid en Rome se siening oor die Eucharistiese offer.

Volgens Rome moet Christus se teenwoordigheid in die sakrament verklaar word in terme van die leerstelling van transsubstansiasie. Die leerstelling van transsubstansiasie (vormverandering) voer aan dat wanneer die priester die wydingswoorde spreek die brood en wyn in die werklike liggaam en bloed van Christus verander word. Die vorm (dit wil sê die eienskappe) van die brood en die wyn bly dieselfde. Rome leer ook dat die Eucharistie ’n versoeningsoffer is; inderwaarheid dieselfde offer wat Christus aan die kruis geoffer het. Die Eucharistiese offer word aangebied vir die sondes van die lewendes en die dode.

Die Hervormers was eensgesind in hul verwerping van beide aspekte van Rome se leerstelling oor die Nagmaal. Hulle het transsubstansiasie verwerp, asook die idee dat die Nagmaal ’n versoeningsoffer is. In sy boek: The Babylonian Captivity of the Church (1520) het Martin Luther beide hierdie leerstellinge aangeval. Die Switserse Hervormer Ulrich Zwingli het dit ook teengestaan. Alhoewel Luther en Zwingli saamgestem het in hul verwerping van Rome se leerstelling kon hulle nie tot ’n vergelyk kom oor die werklike aard van die Nagmaal nie.

Zwingli het geargumenteer dat Christus se woorde “Dit is my liggaam” gelees moet word as “Dit dui my liggaam aan.” Hy het gestel dat die Nagmaal ’n simboliese herdenking is waarin die gelowige belowe dat hy ’n Christen is en verklaar dat hy met God versoen is deur Christus se gestorte bloed. Martin Luther het Zwingli se leerstelling onversetlik verwerp, en aangedring dat Christus se woorde “Dit is my liggaam” in hul eenvoudige, letterlike sin geneem moet word.

Martin Luther het geargumenteer dat alhoewel Rome se verklaring van Christus se ware teenwoordigheid by die Nagmaal verkeerd was, die feit van Christus se ware teenwoordigheid korrek is. Hy het ’n ander verklaring van die teenwoordigheid van God aangebied. Om sy standpunt egter te verstaan is dit nodig om ’n paar obskure teologiese terme te verduidelik. Middeleeuse akademiese teoloë het onderskei tussen verskillende wyses van teenwoordigheid, of maniere om teenwoordig te wees. Hulle het die term lokale teenwoordigheid gebruik om te beskryf hoe fisiese, eindige goed teenwoordig is in ’n omskrewe plek. Spirituele teenwoordigheid beskryf die wyse waarop spirituele wesens (soos engele, siele of God) teenwoordig is. Omdat hierdie term ietwat vaag is, is ander terme gebruik om meer spesifiek te wees. Nie-lokale teenwoordigheid is byvoorbeeld gebruik om die wyse waarop eindige spirituele wesens (byvoorbeeld menslike siele of engele) teenwoordig is, terwyl  versadigde teenwoordigheid die wyse is waarop ’n oneindige spirituele wese (God) teenwoordig is.

Zwingli het geargumenteer dat “lokale teenwoordigheid” die enigste manier is om die teenwoordigheid van die menslike liggaam van Christus te beskryf. Volgens Zwingli is Christus se liggaam daarom lokaal teenwoordig in die hemel en nêrens anders nie, tot met die tweede koms. Luther het Zwingli se siening verwerp en gesê dat ander modusse van teenwoordigheid van toepassing was op Christus se menslike liggaam – en spesifiek die nie-lokale modus van teenwoordigheid. Omdat Christus se liggaam op ’n nie-lokale manier teenwoordig kan wees, kan dit volgens Luther teenwoordig wees in die brood van die Nagmaal. In sy Confession Concerning Christ’s Supper (1528) argumenteer Luther dat daar ’n “sakramentele vereniging” tussen die substansie van Christus se liggaam en die brood is, wat lei tot ’n nuwe en unieke substansie waarna Luther as fleischbrot (“vlees-brood”) verwys het. Dus, volgens Luther is Christus se menslike liggaam bonatuurlik teenwoordig by die Nagmaal in ’n werklike en nie-lokale wyse.

Calvyn se eerste betekenisvolle bydrae oor die onderwerp het in die 1536 uitgawe van sy Institusie verskyn, toe daar alreeds vaste standpunte ingeneem is. Oor die volgende twee dekades het hy voortgegaan om toenemend sy leerstelling oor die Nagmaal op te helder en te verduidelik. Calvyn se leerstelling oor die Nagmaal is grotendeels beïnvloed deur Luther, maar ander het ook bygedra om sy benadering tot die onderwerp te vorm. Die invloed van Augustinus, Philip Melanchthon, Peter Bucer, en Peter Martyr Vermigli is van dié wat opmerklik is.

Calvyn het Augustinus nagevolg deur ’n sakrament te definieer as ’n “sigbare teken van iets heiligs” of as “’n sigbare woord van God”. Volgens Calvyn is die sakramente onafskeidbaar verbonde aan die Woord. Die sakramente verseël die beloftes wat in die Woord gevind word. Meer spesifiek, in die geval van die Nagmaal word dit gegee aan dié wat die brood en die wyn in geloof nuttig om die belofte te verseël dat hulle werklik die liggaam en bloed van Christus nuttig. Calvyn verduidelik dit in terme van die gelowige se mistieke vereniging met Christus. Net soos die doop verbind word aan die gelowige se inlywing in die verbintenis met Christus, versterk die Nagmaal die gelowige se voortgaande verbintenis met Christus.

Dit alles laat ’n vraag ontstaan. Hoe verstaan Calvyn die aard van Christus se teenwoordigheid in die Nagmaal? Volgens Calvyn is die sakramente tekens. Die tekens en die dinge waarvan dit ’n teken is, moet onderskei word sonder om geskei te word. Calvyn verwerp die gedagte dat die sakramentele tekens slegs simbole is (soos byvoorbeeld Zwingli). Maar hy verwerp ook die gedagte dat die tekens verander word na die dinge waarvan dit ’n teken is (soos byvoorbeeld Rome). Calvyn argumenteer dat as Christus die woorde “dit is my liggaam” gebruik, die naam waarvan dit ’n teken is (“liggaam”) toegepas word op die teken self (die brood).

Calvyn het herhaaldelik gesê dat sy argument met die Rooms-Katolieke en met Luther nie gaan oor die feit van Christus se teenwoordigheid nie, maar slegs oor die wyse van daardie teenwoordigheid. Volgens Calvyn is Christus se menslike liggaam lokaal teenwoordig in die hemel, maar dit hoef nie neer te daal sodat gelowiges werklik daarin kan deel nie, want die Heilige Gees bewerk die gemeenskap. Die Heilige Gees is die band van die gelowige se verbintenis met Christus. Daarom, dit wat die die leraar op die aardse vlak doen, doen die Heilige Gees op die spirituele vlak. Met ander woorde, dié wat in geloof deel in die brood en wyn word ook, deur die krag van Heilige Gees, gevoed deur die liggaam en bloed van Christus.

Dit laat natuurlik ’n tweede vraag ontstaan oor die wyse waarop gelowiges deel in die liggaam en bloed van Christus. Zwingli het geargumenteer dat om die liggaam en bloed van Christus te eet en te drink eenvoudig ’n sinoniem is vir geloof in Christus. Calvyn het verskil daarvan. Hy het geargumenteer dat om die liggaam van Christus te eet nie ekwivalent is aan geloof nie, maar die resultaat van geloof is. Calvyn het dikwels die term “Spirituele eet” gebruik om die wyse te beskryf waarop gelowiges deel het aan die liggaam van Christus, maar hy was ook versigtig om te definieer wat hy bedoel. Hy het herhaaldelik gesê dat “spirituele eet” nie beteken dat die gelowiges slegs deel het aan Christus se gees nie. Volgens Calvyn beteken “spiritueel eet” dat gelowiges deur geloof deel het aan die liggaam en bloed van Christus deur die krag van die Heilige Gees, wat die lewe van Christus in hulle in stort.

Calvyn het ook die idee verwerp dat ons met die mond deel het aan die liggaam en bloed van Christus. Nie slegs Rome nie, maar ook Luther en sy volgelinge, het die leerstelling van gewoon eet-met-die-mond gehandhaaf. Volgens die Lutherane word die liggaam van Christus mondeliks geëet, maar dit is ’n bo-natuurlike of hiper-fisiese eet in teenstelling tot ’n natuurlike of fisiese wyse van eet. Volgens die Lutherane ontvang beide gelowiges en ongelowiges die liggaam van Christus, maar ongelowiges ontvang dit tot ’n oordeel van hulself. Calvyn het ontken dat ongelowiges enigsins die liggaam van Christus ontvang. Volgens Calvyn word die liggaam en bloed van Christus objektief aan almal aangebied, maar dit word slegs deur gelowiges ontvang.

Volgens Calvyn is die Nagmaal ook “’n band van liefde” wat bedoel is om onderlinge liefde tussen gelowiges te skep. Dit moet danksegging en dankbaarheid voortbring.  Aangesien dit die kern van Christelike aanbidding is, het Calvyn geargumenteer dat dit moet plaasvind elke keer as die Woord verkondig word, of “minstens eenkeer per week.” Dit moet ontdoen wees van alle bygelowigheid en in bybelse eenvoud gevier word. Calvyn het die Nagmaal beskou as as ’n goddelike gawe wat deur Christus self aan sy volk gegee is om hulle te voed  en te versterk in hul geloof. As sodanig moet dit nie verwaarloos word nie, maar eerder dikwels en met vreugde gevier word.