Bron: Die Kerkblad, 1989. 1 bladsye.

Christelike Toekomsverwagting

Daar is 'n diepgaande onderskeid tussen die toekoms­verwagting van die mens wat vanuit sy eie denke ver­klaar dat 'met die dood alles klaar is', en die van die Christen wat deur die geloof leef.

Die onderskeid word veral dáárin getref dat die ver­wagtinge van die mense se eie denke nie verwerklik sal word nie. Ook as hy nog wél iets verwag en 'n Utopia, 'n eie wêreld bou – van ewige wêreldvrede of so iets – sal dit nooit vervul word nie. Terwyl die toekomsver­wagting van die Christen eenmaal volle realiteit sal wees.

Wat 'n verskil: 'n hersenskim, wat verdwyn, óf: 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde, ewige lewe en ewige heerlikheid!

Waarna Sien Ons Uit?🔗

Dit is van onmiddellike belang in die lewe. 'n Christelike toekomsverwagting plaas 'n groot stempel op die lewe. Dit hou rekening met die vermaning van die Here Jesus Christus, "maak vir julle skatte bymekaar in die hemel" (Matteus 6:20). Dit sal jou immers in die openbaar vergeld word as jy sy Koninkryk soek, die broederskap help, dié in die gevangenis besoek (Matteus 25:31, 40). Jy sal mag feesvier saam met die Here (Matteus 25:21, 23). Jy sal ontvang word in die ewige woning (Lukas 16:9). Jy sal as koning tot in ewigheid kan regeer (Openbaring 22:5). En nog baie dinge meer. Dit gee altyd 'n onvoorstelbare groot uitsig. Wie sal hom as Christen nie daarop toespits nie?

Die heerlikheid van die nuwe hemel en die nuwe aarde gaan wel alle voorstelling te bowe – soos ge­skrywe staan: "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir dié wat Hom liefhet" (1 Korintiërs 2:9). Ons moet intussen daarmee rekening hou en die Here dien, en ons lewe daarop instel.

God se kinders het daarom selfs soms, met die oog op die toekoms, alles agtergelaat, alles waarvoor hulle lief was gelaat vir wat dit was, en as martelaars hul lewens verloor om Christus ontwil, om hulle lewe-met­-die-Here te kon behou (Matteus 10:39).

Die Christelike toekomsverwagting rig hom só kon­kreet op die toekoms, dat dit in vele opsigte die lewe bepaal. Die vraag kom egter wel op of die verwêreldliking van die teenwoordige tyd nie vir baie die uitsig op die groot toekoms van die herskepping grotendeels weggeneem het nie.

Natuurlik behoort dit nog steeds tot die amptelike kerklike belydenis dat die mens se: "Ek glo aan die opstanding van die vlees en 'n ewige lewe". Maar dit kan maklik gebeur dat jy op die vraag: "Verlang u ook na die wederkoms van Christus?" die antwoord kry: "Nee, ek wil liewers nog nie sterf nie."

Blykbaar besef die mens nie dat ons as God se volk by die wederkoms juis nie meer hoef te sterf nie!