Wat beteken dit om Jesus Christus na te volg? 

Bron: Wegwijs, 2012. 3 bladsye. Vertaal deur Louise Haak.

Christen Wees is Jesus Navolg

kruis dra

Ons is christene, dus is ons navolgers van Jesus. Maar hoe volg ons Jesus? Wat is ons bereid om daarvoor prys te gee? Of onttrek ons as dit ons iets kos? En wat beteken dit werklik om Jesus na te volg in die tyd waarin ons leef?

Jou kruis opneem🔗

Die bekendste uitspraak van Jesus oor die volg van Hom, vind ons in Matteus 16:24-25: ‘As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor sal dit vind.’

Jou lewe verloor – dis nie juis vir ons die realiteit nie. Eintlik staan daar nie jou lewe nie maar jou siel. En jou siel, dis jyself, dit is hoe jy werklik is, diep binne in jou. Dit gaan dus oor ‘jouself verloor’ pleks van ‘jou lewe verloor’. Dit is radikaal gestel in ʼn samelewing waarin juis die teenoorgestelde belangrik is: om jouself te vind...

Dit kan nog radikaler: Petrus – een van hulle met wie Jesus praat – het sy lewe verloor omdat Hy Jesus nagevolg het. En in die sestiende eeu het daar in Nederland christene op die brandstapel beland omdat hulle Jesus gevolg het. Ook in ons tyd word christene in Islamitiese lande onthoof omdat hulle Jesus wil navolg.

Is ons gewillig?🔗

In ons Westerse kultuur gaan dit oor ʼn gerieflike, sinvolle en goeie lewe, oor maksimale individuele ontplooiing, om jou eie gevoel na te streef, ens. Is ons nie al te veel deur hierdie kultuur beïnvloed om Jesus onvoorwaardelik te wil navolg nie? Is ons bereid om offers daarvoor te bring? ‘Offers’ is natuurlik meer as net finansiële offers, maar ook daarin raak die offervaardigheid minder. Dit word vir kerke al hoe moeiliker om aan hul finansiële inkomste te voldoen.

Verbruikersmentaliteit🔗

Wanneer Alan Hirsch praat oor die navolging van Jesus, sien hy as grootste bedreiging vir die christelike geloof nie ander godsdienste nie, maar die heersende verbruikersmentaliteit.  Hy noem dit deur en deur heidens. Want Jesus sê daaroor: ‘Want na al hierdie dinge soek die heidene’(Matt. 6:32). Volgens hom lyk al die TV-programme oor binnehuisversiering, oor lekker kook, oor beroemd raak dalk soos onskuldige vermaak, maar in werklikheid word ons gebreinspoel met die idee dat dit al is wat belangrik is. Jy sal jouself moet afvra: volg ek Jesus na of die mark of die kultuur? Of probeer ek dinge dalk kombineer?

TV kyk

Die klant is koning🔗

Daar is nog ʼn kant aan die verbruikersmentaliteit wat bedreigend is vir die navolging van Jesus. Dit is ook om uit die veelheid van produkte die een te kies wat jou aanstaan. Dit is wat ons gewoond is. Die klant is koning, dus hy maak die keuse. Dit is moeilik om los te laat as dit gaan oor die navolging van Jesus. Ons neem dit selfs saam kerk toe en dink: dit wel en dat nie. En ons kamoefleer dit vir onsself: ‘dit is die mening van die predikant’. Partykeer is dit so: ek gee nie voor dat ek die Woord van God objektief kan oordra nie. En tog het God dit self ‘die dwaasheid van die prediking’ (1 Kor. 1:21) genoem...

Geloofwaardigheid🔗

Jy verloor jou geloofwaardigheid as jy sê dat jy jouself heeltemal aan iets oorgee, maar dit in die praktyk kombineer met allerhande ander dinge. As mens bereid is om offers te bring, dan dwing dit ander om na te dink oor die waarde daarvan. Dit het gebeur in die tyd van die eerste christelike gemeente in Jerusalem. ‘En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het’(Hand. 2:45). En daarom ... was hulle in guns by die hele volk’(Hand. 2:47). Hulle het offers gebring vir hulle saak, die koninkryk van God.

Hulle het Jesus sonder voorbehoud gevolg. Dit sien jy ook in lande waar christene vervolg word. As mense selfs hul lewe wil opoffer vir die navolging van Jesus – ja, dan moet jy hulle wel ernstig opneem. Dis hoekom die kerk daar meestal teen die verdrukking in groei.

En nou?🔗

Hoe kan ons ons geloofwaardigheid terugkry? (As God dit gee natuurlik). Ons moet begin om die evangelie te beliggaam. Jou geloof uitleef. Nie net as jy die dag lus is nie, maar 24 uur per dag, sewe dae per week. En moenie ‘ontvolg’ as dit wat Hy sê jou nie geval nie; Hy is die een wat seggenskap het oor jou lewe.

So staan dit in die Bybel: ‘Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood’ (Jak. 2:17). Bewys ons geloof  hom dan nie daadwerklik nie? Verseker, maar meer binnetoe as buitetoe.

Binne die kerk gebeur heelwat dinge op die gebied van meelewing, mekaar ondersteun en help. Maar dit is buite die kerk nie altyd sigbaar nie. Boonop sou hierdie dinge ook nie beperk moet bly tot binne die kerk nie.

Goed doen🔗

Die evangelie moet dus beliggaam word. Twee sake is hierin belangrik. In die eerste plek: goed doen in die samelewing. ‘Bevorder die belange van die stad waarheen ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange’ (Jer. 29:7) en ‘Wie sal julle kwaad aandoen as julle beywer vir wat goed is?’ (...) As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter so as om te ly wanneer julle kwaad doen’(1 Petr. 3:13, 17). En dink aan die woorde van Jesus: ‘Julle moet julle vyande lief hê, en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.’ (Matt. 5:44-45a).

hand uitsteek

Gemeenskap🔗

Die tweede saak wat belangrik is as dit gaan oor die beliggaming van die evangelie, is die christelike gemeenskap. Chester en Timmis benadruk dit in Total church: a radical reshaping around gospel and community. Vir ʼn waarlik christelike gemeenskap moet jy na ʼn klein groepie kyk, sê hulle. Want daar het jy mekaar nie uitgekies nie, maar moet jy met mekaar klaar kom. Julle ken mekaar, en as dit goed is vertrou julle mekaar, bemoedig julle mekaar met woorde van God en kan jul mekaar ook vrae vra. Daarvoor is genade nodig, ʼn gedeelde visie en harde werk om ʼn gemeenskap te vorm.

En verder: ‘Ons sou nog daaraan kon toevoeg dat ʼn wonder nodig is waarvan God die enigste een is wat dit kan verrig. Maar dit is wel in ʼn soortgelyke gemeenskap dat dissipels gevorm word.’

Dit is christelike gemeenskap. En juis in die omgang met mense wat dalk soms irriterend anders is as ons, kan ons laat sien dat ons Jesus volg. Dit is nie verniet nie dat Jesus in die Bergrede (Matt. 5-7) so uitgebrei het oor die omgang met jou medemens. En die meeste ‘vrugte van die Gees’ (Gal.5:22-23) het te doen met die omgang met jou medemens.