Bron: Kompas, 2011. 2 bladsye.

Christus deur die Wêreldlike Regter Veroordeel

hande was

Christus het gely. Die eenvoudige woordjie gely is vinnig uitgespreek, soms ook gedagteloos uitgespreek. Ons is so gewoond aan die bekende klanke: die lyding van Christus. Maar besef ons nog steeds die ontsaglike inhoud van die woordjie gely?

Daar word in hierdie wêreld baie gely, ook in ons land. Daar gaan geen dag verby of ons word met menslike lyding gekonfronteer nie. Jy lees daarvan in die koerante of jy sien dit op die televisie. Slagoffers van oorlog of geweld, van uitbuiting of honger. Slagoffers van ernstige ongelukke. Ons dink hier aan ons polisiemanne en ons ambulanspersoneel. Dit is werklik verskriklik wat hulle daagliks moet meemaak. En wat van die lyding in die hospitale en inrigtings? Wat ons van die lyding sien en lees, is egter nog maar ’n klein gedeelte van al die lyding in hierdie wêreld. In ’n sekere mate is ons wel vertroud met die woordjie: gely. Die wêreld is vol van lyding. ’n Mens kan geneig wees om Jesus te plaas onder die eindelose ry van lyers. Hy het wel baie gely, maar ander ly tog ook baie? Was sy lyding werklik erger as die afskuwelike lyding van bv. slagoffers van oorlog? As jy dit vergelyk met mense wat hul lewe lank swaar lyding moes verduur, het Christus na verhouding dan tog maar nie net ’n kort tydjie gely nie? So kom Christus se lyding op dieselfde vlak as ons menslike lyding te staan.

Christus se Lyding kan Nie met Ons Lyding Vergelyk word Nie🔗

As ek so redeneer, sien ek Christus se lyding nie meer raak nie. Christus se lyding kan immers nie met ons lyding vergelyk word nie. Sy lyding is totaal anders, uniek. Soos Hy gely het, het geen mens ooit gely nie en sal geen mens op aarde ooit ly nie. Hy alleen het werklik in ons plek gely, borgtogtelik gely. Hy het al ons skuld op Hom geneem – die skuld van die hele menslike geslag – sodat alle lyding op Hom saamgetrek het. Sy lyding was ’n losprys en betaling vir baie. Ons vind dit erg genoeg as ons vir onsself moet ly, maar Hy het vir die skuld van baie ander gely.

Hy het ook aan liggaam en siel gely. Ons fokus gou op wat ons sien, die liggaamlike smart en pyn. Ons sien hoe Jesus deur die soldate gemartel word en hoe Hy die wrede marteling aan die kruis moet ondergaan. Wat ’n lyding. Maar die ergste lyding is dit aan Jesus se siel. As mens sonder sonde het Hy die lyding vlymskerp aangevoel. Hy het agter die slae die oorsaak daarvan gesien. Nie die slae self was vir Hom die mees pynlik nie, maar die oorsprong van die slae. Deur die sonde is ons afgestomp. Ons is nie meer so fyngevoelig nie. Maar by Christus is dit anders. As sondelose mens voel Hy haarfyn aan watter sonde daarin skuil. En die sonde daarin laat Hom ly. Want elke sonde is ’n vergryp teen sy hemelse Vader. Dit sny soos ’n swaard deur sy siel.

Christus het ook die hele tyd van sy lewe op aarde gely. Reeds sy geboorte as ’n arme in die stal was vir Hom lyding – waar blyk die verwagting van die beloofde Messias? As kind moes Hy ter wille van sy lewe vir die wrede Herodes vlug. By sy doop aanvaar Hy in die openbaar sy lydensweg. Sy lewe is lyding. ’n Christen kan ook baie ly. Maar ’n Christen kom nie in die lewe om te ly nie. As dit gebeur, dan is dit ’n droewige gevolg van sy trou aan die Here. Nie die doel van sy lewe nie. Dis anders met Jesus. Hy kom om te ly. Sy lyding is nie sy lewenslot nie, maar sy lewenswerk. Dit is die doel van sy lewe. Sy lewe was een en al lyding. Dit maak sy lewe op aarde so onvergelykbaar.

Christus het onder Pontius Pilatus gely, lees ons in die apostoliese geloofsbelydenis. Wat wil die toevoeging vir ons sê? Wil dit net sê dat Jesus in die tyd van Pontius Pilatus sy ergste lyding ondergaan het? Nee, deur die woorde word die karakter van Jesus se lyding aangegee. Die regter het sy lyding agteraf gesanksioneer.

Pontius Pilatus

Die regter het die afwysing en vervolging van Jesus goedgekeur. Hy het Jesus uiteindelik gevonnis, die doodstraf aan Hom opgelê. Dit was ’n geregtelike goedgekeurde strafoefening. Jesus se lyding was geen tragiese lot nie, geen ongeval nie. Hy het nie aan ’n sekere siekte gesterwe nie. Hy is ook nie deur ’n verraderlike moord omgebring nie, maar Hy is geregtelik tot die dood veroordeel, deur ’n wêreldlike regter. So moes dit volgens God se beskikking gebeur.

Jesus se Lyding was Geen Tragiese Lot Nie, Geen Ongeval Nie🔗

Die Jode het daardie beskikking van God nie verstaan nie. Hulle het dit veilig gevind om te erken dat hulle onbevoeg was om die doodsvonnis uit te spreek. Pilatus, die bevoegde owerheidspersoon, moes die beslissing maar neem. Pilatus het ook nie God se beskikking verstaan nie. Hy het Jesus baie onreg aangedoen deur Hom onskuldig te veroordeel. Hy het daardeur groot skuld op Hom gelaai.

Maar dank God, hierdie onregverdige doodsvonnis dra groot vrug. Daardeur het Christus jou en my bevry van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom. Hoe kan dit wees? Hoe kan ons van God se oordeel bevry word, deurdat Christus onregverdig veroordeel is?

Dit kan omdat die wêreldlike regter God se dienaar is. So is Pontius Pilatus hier – ondanks homself – God se instrument om reg te spreek. Agter en bo hom sien Christus dan ook voortdurend sy Vader. En uit die mond van Pilatus hoor Christus die stem van sy Vader. Wanneer Christus vanuit die regterstoel benede onskuldig tot die dood veroordeel word (en dit is ’n gruwelike onreg), hoor Christus van bo die regverdige doodsvonnis van die Vader.

Uit Homself is Christus inderdaad onskuldig. Dit het Pilatus goed aangevoel. Maar God het Hom vir ons tot sonde gemaak. En Hy het self ons skuld op Hom geneem. Daarom moes Pilatus Hom tog tot die dood veroordeel (ook al het hy dit enkel uit eiebelang gedoen, omdat hy bang vir die volk was en die vriendskap van die keiser nie wou riskeer nie). Dit het egter volgens Gods se plan so verloop, sodat ons van sy strenge oordeel wat oor ons moes kom, bevry sou word. Pilatus se vonnis is uiteindelik God se vonnis. God straf sy Seun ter wille van jou en my. Om ons te kan vryspreek.

Pilatus se Vonnis is Uiteindelik God se Vonnis🔗

Wat daar gebeur, is nie net ’n Joodse aangeleentheid nie. Jesus staan voor ’n wêreldlike regter, ’n regter van die groot Romeinse wêreldryk. Hier gebeur iets van universele belang. Christus wil deur die lyding na die Pinkster toe, na die wêreld van die heidene. Daarom kom Hy volgens God se raad voor hierdie heiden, Pontius Pilatus, te staan, ’n wettige verteenwoordiger van die Romeinse ryk. Christus word oor die grens geskuif, van die kerk na die wêreld toe. Sy voete staan so te sê op die grondgebied van die heidene. En daar wil Hy wees. Hy soek immers sy algemene, universele Christelike kerk. Hy soek ook ons, oorspronklik van heidense afkoms, sodat ook ons sou deel in die seën van Abraham.