Bron: Die Kerkblad, 1990. 4 bladsye.

Christus in die Psalms

Harp Dawid

Ons ken die belydenis van Simon Petrus (Matteus 16:6): "U is die Christus, die Seun van die lewende God". Hy, die Christus, is die enigste Redder in 'n skuldverlore, nog altyd sugtende, smagtende wêreld. Daarom moet hierdie belydenis as reddende boodskap lank en luid en oral in die wêreldlande verkondig word. Dit het Petrus gedoen, van die oomblik af dat die Heilige Gees uitge­stort is. En dit het Paulus gedoen, onder al die nasies wat hy kon bereik. Hulle teks was Jesus Christus, en Hy as gekruisigde.

So moet die prediking bly. Uitgangspunt van ons prediking en eindpunt moet bly: God, wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het. Middelpunt die Christus, in wie se naam geloof en bekering verkondig moet word.

Nou voorsien ons die teëwerping dat Christuspredi­king met 'n Nuwe Testamentiese stof as grondslag nie soveel moeilikheid oplewer nie. Natuurlik weet ons dat die hele heilsverhouding altyd 'n swaar werk is en dat die Here altyd in die stilstaande waters roering moet bring, dan sal die heil in Christus kragdadig geboodskap word. Maar wanneer dit kom tot die Ou-Testamentiese Skrif in sy volle omvang, dan is die Christusverkondi­ging dikwels 'n taak waarteen opgesien word. Menige prediker voel dat hy nie ten volle (soms baie ten dele) aan sy hoë roeping beantwoord nie.

Christus ook die Middelpunt in die Ou Testament🔗

As uitgangspunt neem ons die rigtinggewende woord van Jesus wat Hy by sy verskyning aan die apostels gespreek het:

Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.Lukas 24:44

In vers 27 staan dat Christus aan die Emmaüsgangers uitgelê het "in al die Skrifte (nl. van die Ou Testament) die dinge wat op Hom betrekking het".

Jesus noem die wet, die profete en die psalms. Dit is die hoofdele van die Ou Testament. Laat ons met die laaste begin, en dan nagaan hoe Christus onder die ou bedeling deur die sang verkondig is.

In die psalm en lied van die Ou Testament is Christus:

  1. die sanger,

  2. die sangstof en

  3. die voorsinger.

1. Christus die Sanger🔗

In die psalm is Christus ten eerste die sanger. Hierdie bewering mag, as ons dit so hoor, vreemd klink, want die psalms is gemaak deur manne (en ook vroue) wat meestal met hulle name aangedui word: Dawid, Asaf, Hanna, Maria e.a.

Om ons bewering te staaf moet hier dus dieper gedelf word. Hier kom Petrus ons te hulp as hy aangaande die ondersoek en navorsing van die profete sê dat "hulle nagespeur het op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna" (1 Petrus 1:11).

Let wel, die psalmdigter was ook 'n profeet. Dawid was dit saam met die sangers van Israel. Die lof wat hulle aangestem het, was dus vanweë die lewendige drywing van die Gees van Christus wat in hulle was. Deur sy Gees het Christus hulle die heilige lied ingefluis­ter; voorgesing het Hy hulle wat en hoe hulle moes sing; met ander woorde die eintlike sanger is die Messias.

Jesus het deur Moses gespreek en deur die profete geprofeteer. En toe het alles wat Hy geleer het, in die skoonste kunsuiting in die Psalms uitgebloei. Die kerk is dus in besit nie alleen van die hoogste waarheid nie, maar ook van die uitnemendste skoonheid. In Sion is geopenbaar die volkomenheid van skoonheid (Psalm 50:2).

Laat die prediker hom vergewis aangaande die ryke skatkamer wat hier oopgaan. Die Here self die sanger! Laat ons luister tot ons sy stem hoor.

skat

Hier kom nog by dat Christus self sy lied hoorbaar hier op aarde gesing het. 'n Duidelike voorbeeld daar­van is wat gebeur het by die laaste Paasfees wat Hy saam met sy dissipels gevier het, tegelyk die eerste nagmaalsfees. Daar staan in Matteus 26:30;

Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.

In dié tyd was dit gebruiklik om by dié fees te sing. Psalm 113-118 is gesing, wat die Groot Hallel genoem is. Lees dié psalms en pas hulle nie dadelik op uself toe nie maar op die Christus, uit wie se hart en mond hulle gevloei het. Ons volstaan met hier aan te haal die be­kende woorde uit Psalm 116, wat in die beryming só lui:

Om my was bande en strikke uit die dood;
en angste van die hel het my laat bewe;
ek was benoud, vol droefheid was my lewe;
maar 'k het die Heer gesmeek in al my nood.

Hierdie hoë herkoms van die Bybelse psalm maak dat die gelowige moet uitroep: "Geen enkele geestelike lied, deur mense gemaak, hoe skoon ook, kan by 'n psalm haal nie. Die vrye lied kan ek deurvoel en deur­vors, maar 'n psalm nimmer. Die psalm is altyd nog dieper as my diepste ervaring".

2. Christus die Sangstof🔗

Maar Christus is ook die sangstof. Hy sing van Homself. Hy is die Maker van die heilige lied, maar ook die inhoud daarvan.

Hoor hoe Hy die inhoud van sy lied aankondig vir Psalm 40:8, 9;

Toe het Ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe. Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.

Hier dien Hy Homself aan in volle bereidheid as die enigste Wetvervuller. Dit is sy lus om te volvoer die opdrag wat geen mens kan vervul nie.

Om dit te kan wees en te kan doen moes die Christus in sy persoon die goddelike en menslike natuur verenig. Hy was waarlik God, maar ook waarlik mens. Die ewige Woord het vlees geword. Dit is die verborgenheid van die Godsaligheid. Groot is die misterie (verborgenheid) van Christus. En daarvan is die Psalmboek vol.

Christus as die Borg moes ly. Hoor hoe dit in Psalm 22:7 besing word:

Om my staan honde wat my wil bespring:
'n bende skenders staan om my 'n kring.
Hul staal het my deur hand en voet gedring.
Met welgevalle sien hul die skouspel aan wat,
gans vervalle, my vlees hul bied.
My klere die verdeel hulle;
oor my gewaad werp hul die lot;
so speel hul met my verdriet.

Maar die Lyer wat op 'n ander plek (Psalm 42) moes kerm:

As ek in my smart bedolwe
wegsink in u watergolwe —

Golwe see

Hy het ook oorwinningsvreugde gekry. Daarvan word menigmaal gejubel, onder meer Psalm 110:4 en 8:

Die frisse dou, deur môreglans omtower,
wanneer die son net oor die kimlyn gaan,
word nie so dig gevind op kruid en lower
as wat die jonge manskap om U staan.

Gods Grootvors sal, omdat Hy dors gely het
— só het Hy hul gejaag in somertyd! —
buk by die beek as Hy die stryd volstry het,
en dan sy hoof hoog ophef na die stryd.

Laat die prediker hom maar besin op die rykdom van uitbeelding wat ons uit hierdie verse toespreek.

O ek, wat skaars die Psalmboek ken! Ek sien hoe my Verlosser, wat legioene van engele altyd tot sy beskik­king gehad het, in sy uiterste nood nie gevra het om en nie gewag het op die geruis van die serafsvleuel om Hom te verlos nie, maar sy toevlug gesoek het onder die dekking van 'n gevleuelde psalmwoord! Sku en skaam voel ek, arme swakkeling, dat ek in my predi­king so weinig die krag van die uitspraak van my lippe in die melodiese glorie van die Psalmboek gesoek het!

3. Christus die Voorsanger🔗

Onder hierdie laaste woord, gekies ter wille van die simmetrie moet hier meer verstaan word as wat dit let­terlik beteken. Ons bedoel daarmee veel meer as net navolg, nadoen van wat Christus vir ons voorgedoen het.

Ons bedoel dit:

Die Psalmboek (vgl. 118:28, 19) jubel: "U is my God, en ek sal U loof; o my God, ek sal U verhoog". Wie is daartoe uit homself in staat? Wie sal kan sê dat hy by sang geen Middelaar nodig het nie? Kyk, die wet sê: "Jy moet God liefhê”. En die Psalmboek kom met die eis: "Jy moet God loof". Hierdie liefdeseis is vir die natuurlike mens 'n gerubswaard wat vlam en flikker en wat hom uit sy paradys van eiegeregtigheid ver­drywe.

By die hoor daarvan word die natuurlike mens se mond nie geopen nie, maar gestop. Die woord halleluja (loof die Here) beteken tog in die grondtaal: Laat dit uitstraal! Dit wil sê: 'n straal van lof, uit ons binneste gebore, moet die heelal van die een end tot die ander, tot voor die troon van God, deurklief. Maar óns binneste is so dof, die straal uit ons hart so mat; en by die natuur­like mens is daar duisternis.

Alleen Christus kan die lof van God so sing, so laat straal dat nie alleen die aarde verlig word nie, maar ook die troon van God omkring word deur 'n kleurige reënboogkrans. Sonder Christus is die lof van God by ons verlore. As Christus maar red, so dink ons, kan ons wel sélf dit regkry om te bid en te sing. O nee, Hy moet in alles en end-uit die Middelaar bly.

Dit is so: Ons kan alleen lewe omdat Hy gely het; ons kan alleen bid omdat Hy ons voorbidder is, ons kan alleen sing omdat Hy ons voorsanger is. Jesus het alle geregtigheid vir ons vervul. So het Hy beskrywe die eis wat Hy gevoel het kragtens die wet wat Hy bo. Hom erken het. So kry ons 'n gelowige insig in die wydte en diepte van sy werk, ook met betrekking tot ons sang en die vertolking daarvan in die prediking.

arend

Jesus is die sterk arend wat ons dra op sy vlerke, die hoogtes uit en dieptes in.

Die magtige bastoon van sy hallel moet ons sang en ons prediking dra deur die eeue heen, dra tot voor die troon van God. Daarom is die Psalms Messiaans, en as sodanig vertolk ons hulle in die prediking.