2 bladsye.

Christus se Gebed en Gebod oor die Eenheid van die Kerk

Johannes 17:1-12

... dat almal een mag wees ... Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees’

Christus se uur het gekom (Johannes 17:1). Dit is die uur van sy kruisdood, oorgawe aan helse smart. Hy staan voor die poort van sy borgtogtelike sterwe. Hy tree – hoe kan dit anders? – die poort biddend in.

Sy gebedsaandag is gerig op alle uitverkorenes, almal wat die Vader in sy ewige raadsbesluit aan Hom gegee het (Johannes 17:2). Die lydende Kneg van die HERE, wat sy siel as ’n skuldoffer aanbied, hou sy geestelike nakroos voor oë (Jesaja 53:10).

Sy gebed omsluit almal wat die Vader aan Hom gegee het, die gestorwe gelowiges wat in die hemel is, die lewende lidmate van sy kerk op aarde in alle lande, van Adam af tot die laaste mensekind wat aan Hom behoort. Hierdie gebed omspan ruimte en tyd. Dit bly in die geskiedenis altyd aktueel.

Die onderdeel wat ons aandag vra, is die bede om eenheid. Die gebed dat almal een mag wees, is ook ’n gebod. Die Heiland bid: Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U aan My gegee het, saam met My sal wees. Vader, Ek wil. Ek bring my wil, my gebod, biddend voor u aangesig. My gebed om die eenheid van die kerk is ook my gebod.

Die eenheid wat die Here Jesus afsmeek en gebied, vorm aantrekkingskrag na buite.

Die wêreld merk dit sodanig op dat die uitverkorenes onder hulle aangetrek word en tot geloof kan kom (Johannes 17:21). Die eenheid van die kerk is dus sigbaar, aanwysbaar. Die gemeentes wat van Paulus en die verheerlikte Christus (Openbaring 2:1-3:22) briewe ontvang het, het ’n aardse adres gehad.

Dit gaan in die gebed van die Heiland nie alleen oor plaaslike eenheid van die gelowiges in ’n geïnstitueerde kerk nie, maar ook oor die eenheid van al die plaaslike gemeentes (Openbaring 2:12-20). Hulle moet kerkverbandelik ’n eenheid vorm en buite die landsgrense die kerke van Christus herken en erken.

Die kerk van die Here is nie onsigbaar, onaanwysbaar nie. Die kerk is wel sigbaar, maar ons kan die kerk wat orals ’n adres het, se omvang nie waarneem nie, nóg in die ruimte, nóg in die tyd.

Die vraag is wie dié ‘almal’ is vir wie Christus bid. Wie word by hulle ingesluit? Wie word uitgesluit? Die Here bid om die eenheid van almal wat deur die apostoliese Woord in Hom sal glo (Johannes 17:20). Dit bevat ook die Ou Testament waarop die apostels voortgebou het. Die Woord, die Skrif, is die waarheid (Johannes 17:17).

Die eenheid wat Christus gebied, is die eenheid in die waarheid. Die kerk van die Here aanvaar in alle lande en tye een en dieselfde geloofsinhoud (vergelyk Efésiërs 4:4-6). Die geloofseenheid vind sy neerslag in een geloofsbelydenis (Romeine 10:9-10). Gereformeerde kerke tipeer hulle belydenisskrifte dan ook tereg as Formuliere van eenheid.

Die kerk word gekenmerk deur sy volstrekte gerigtheid op die Woord. Dit en dit alleen word gepredik (NGB, artikel 29). Sy lewende lidmate ondersoek die Skrif, sowel persoonlik as gesamentlik. Die regverdiges se behae is in die wet van die Here; hulle oordink sy wet dag en nag (Psalm 1:2). Die Woord is die genademiddel waardeur hulle die enige waaragtige God leer ken en Jesus Christus wat Hy gestuur het (Johannes 17:3).

Die Gees lei die uitverkorenes deur die Woord tot geloof, tot toe-eiening van skuldvergewing, tot vernuwing van die lewe. Die Woord van God word al hoe meer ons rigsnoer, die lig op ons pad, op alle lewensterreine.

Die eenheid van die kerk kom ook uit in die bewaring van die Woord (Johannes 17:6) teen aanslae van binne en van buite. Gelowiges is een in toesig op mekaar (Hebreërs 3:12-14), een in onderlinge vermaning tot behoud (Galásiërs 6:1), een in tugoefening oor almal wat hulle verhard in afvallige leer (Titus 1:10-11; 3:9-11) en lewe (1 Korinthiërs 5:1-6). Die kerk laat die ongelowige wêreld nie in sy midde toe nie.

Die kerk gaan ewemin in die antigoddelike wêreld op. Sy lidmate is, net soos sy Hoof, nie van die wêreld nie (Johannes 17:16). Die hemelse Vader wat sy volk liefhet, laat sy liefde in hulle wees (Johannes 17:26).

Dié liefde kies kant, stel die antitese. Die keuse is voor God en daarom teen alle oortuigings, ideologieë, in-en ontspanning wat Hom mishaag. Lidmate van die kerk wat uit God gebore is, oorwin die wêreld deur die geloof (1 Johannes 5:4). Hulle beaam die Skrifwoord: Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie (1 Johannes 2:15).

Christus se gebed en gebod oor die eenheid van die kerk wys die kerkpad vir elkeen wat glo. Die eenheid van die kerk word vergestalt in die:

eenheid in die aanvaarding van die Skrif, die Woord van God;
eenheid in die belydenis ooreenkomstig die Woord;
eenheid in tugoefening oor almal wat volhardend in leer en lewe van die Skrif en die belydenis afwyk;
eenheid in die kerkorde waarin die kerke saam Christus as die Kerkhoof eerbiedig en sy Woord as gesaghebbend aanvaar;
eenheid in liefde vir die HERE en sy diens;  en
eenheid in afwysing van alles wat Hom mishaag.

Almal is verplig om by dié kerk aan te sluit en hulle daarmee te verenig (NGB, artikel 28).

Waar dié eenheid bewaar word (Efésiërs 4:3) is die kerk die kurk waarop die nasie dryf. As daar in Sodom en Gomorra ’n kerk van tien persone gevind was, sou die HERE ter wille van dié tien regverdiges die stede nie verwoes het nie (Génesis 18:32). O volk van Suid-Afrika, neem Christus se gebed en gebod oor die eenheid van die kerk ter harte. Tot behoud van ’n christelike nasie.