1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Christus se Lewe van Lyding

Die lyde van die lewe van Christus is die tweede stap in sy staat van vernedering. Ons Here Jesus Christus het tydens sy aardse lewe soveel gely dat dit lyk asof daar in sy hele lewe niks ánders as lyding was nie. Daar is inderdaad nie ʼn meer paslike lewensbeskrywing vir Hom nie, as om net te sê: “Hy het gely”.

Hy het soveel armoede verduur dat Hy aan ʼn aspirant dissipel gesê het: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Mat. 8:20). Aan die einde het hulle die bietjie wat Hy gehad het ook van Hom weggeneem toe hulle sy klere verdeel en vir sy kleed die lot gewerp het.

Hy was “verag en deur die mense verlaat” (Jes. 53:3), “sonder oorsaak gehaat” (Joh. 15:25), vreemd en ʼn onbekende vir sy broers (Ps. 69:9), teëgespreek deur sondaars (Heb. 12:3, verwerp deur sy eie mense (Joh. 1:11), deur sy dissipels verlaat en verloën (Matt. 26:56, 74) en “saam met die oortreders getel” (Jes. 53:12).

Hy word beskuldig dat Hy ʼn vriend van tollenaars en sondaars is, van godslastering, dat Hy met die duiwel saamspan en dat Hy die nasionale veiligheid in gevaar bring. Sy koninklike aanspraak is verag en die keiser is bo Hom verkies; selfs die gemene misdadiger, Barabbas, is bo Hom verkies. Sy eie mense, die Jode, het Hom dikwels probeer dood maak.

Aan die einde het sy vyande in sy gesig gespuug, Hom in die gesig geslaan, Hom bespot en uitgelag, Hom gegesel en gekruisig. Hoe het Hy gely!

Wat in hierdie lyding saak gemaak het,  was nie soseer die skande, die vernedering, die verwerping en die pyn nie, maar die feit dat Hy onder die toorn van God vir óns sonde gely het. Dit word deur die Woord van God in Jesaja 53:3-6 geleer.

Toe Christus verag en verwerp is, toe Hy die grootste smarte gely het, was dit nie net ons wat Hom nie geag het nie, Hy is deur God geslaan en verdruk (vs. 4). Só is Hy in al sy lyding  “ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede . . . verbrysel” In al sy lyde het God “die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (vs. 6). In dié opsig is daar geen smart soos die smart wat Hom aangedoen is nie (Klaagl. 1:12).

Dit was vir ons verlossing nodig. Christus het nie net die straf vir ons sonde betaal deur aan die kruis te sterf nie, maar moes, omdat ons hele lewe in sonde gelewe word, sy lewe lank ly. Deur sondeloos, deur al die lyde heen, gehoorsaam te wees, het Hy herstel bewerk, het Hy dit wat ons nie betaal het nie, die gehoorsaamheid wat ons aan die heerlikheid van God verskuldig is, betaal. Christus praat self hiervan in Psalm 69:5: “wat ek nie geroof het nie, moet ek dan teruggee”.

In Hebreërs 5:7-9 word alles opgesom: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs — Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het;  en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ʼn bewerker van ewige saligheid geword”.