1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Christus sit aan God se regterhand

Die derde stap in Christus se staat van verhoging is dat Hy aan die regterhand van God plaas geneem het. Die Bybel leer dat dit met sy hemelvaart gebeur het (Ef. 1:20). Dit is ook deel van sy verlossingswerk as ons Middelaar en Saligmaker.

Aangesien Christus na sy goddelike natuur reeds God is, moet sy plaasneming verwys na sy menslike natuur. Met ons vlees en as mens het Hy opgestaan uit die dood, het Hy opgevaar na die hemel en is Hy nou aan die regterhand van die Vader.

Ons weet dat God nie “ ʼn liggaam, dele of hartstogte”1 het nie, daarom kan Hy nie ʼn fisiese en vleeslike “regterhand” hê nie. Uit die Skrif leer ons dat iemand wat aan die regterhand van ʼn groot en magtige persoon is, ʼn plek met hoë eer, groot mag en seën inneem (Gen. 48:8-22; 1 Kon. 2:19; Matt. 25:33, 34). Dat Christus aan die regterhand van God sit, beteken dus dat Hy tot ʼn plek van die hoogste eer, heerlikheid en mag verhoog is. Aan die regterhand van God is Hy die Heer der here en die Koning van die konings.

Dat Hy sit, verwys na sy koninklike heerlikheid en mag. Sittende aan die regterhand van God sit Hy op ʼnmajesteitlike troon. Hy is deur God self as Koning op die troon geplaas, en dáár is sy mag die mag van God. In een Skrifgedeelte word beskryf hoedat Christus aan die regterhand van God staan (Hand. 7:55) — ʼn duidelike beskrywing daarvan dat Hy gereed is om in heerlikheid weer te kom, om dié wat aan Hom behoort aan te neem en hulle bloed te wreek. Andersins lees ons daarvan dat Hy sit. Só sal Hy sit totdat Hy opstaan om na hulle wat aan Hom behoort te kom en hulle tot Homself te neem.

Al hierdie eer en heerlikheid is Christus se loon vir die werk wat Hy volbring het, die loon wat van die begin af deur die Vader aan Hom beloof is (Filip. 2:9; Heb. 1:3). Dit is belangrik om te besef dat Hy al hierdie dinge ontvang, en verhoog en verheerlik word, in sy menslike natuur. As die Seun van God hoef Hy nie en kan Hy nie verhoog word nie, maar as mens word Hy om ons ontwil verhoog.

Die heil en die heerlikheid en die eer en die krag wat Hy ontvang, ontvang Hy vir ons en skenk dit aan ons deur die uitstorting van sy Gees. Dit is wat Petrus bedoel het toe op Pinkster gesê het: “Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor" (Hand. 2:33).

Met dié heerlikheid en krag stort Hy wat Hy ontvang het uit én berei Hy ons harte om dit te ontvang, versamel Hy ons in sy kerk, berei vir ons ʼn plek voor in die Vaderhuis met baie wonings en onderwerp al ons vyande. Aan die regterhand van sy Vader tree Hy ook voortdurend vir ons by die Vader in. Wie sou die Vader eerder hoor as sy eie geliefde Seun, wat ook aan sy eie regterhand sit?

Wanneer ons van die hemelvaart van Christus hoor, sê ons: “Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog” (Hand. 5:31.)

Endnotes🔗

  1. ^ Westminsterse Geloofsbelydenis, Hoofstuk 2.1.