5 bladsye.

Daar Word vir Ons Gebid!

Wanneer dit oor voorbidding gaan, dink ons dadelik aan die opdrag wat so duidelik in die Nuwe Testament na ons toe kom, om te bid vir alle mense (1 Timoteus 2:2), vir owerheidspersone (1 Timoteus 2:2), vir mekaar as gelowiges (Efesiërs 6:18), vir hulle wat siek is (Jakobus 5:16) en vir broeders wat sondig (1 Johannes 5:16). Die Here Jesus beveel ons selfs om vir ons vyande te bid (Matteus 5:44). Tot welke mate ons bid ook "bid vir" beteken, leer Hy ons in die Onse Vader. Die meervoud "ons" dring ons daartoe om in ons gebed al die kinders van God met ons saam te neem na sy troon.

Hoe wesenlik hierdie voorbidding ook al vir ons gebedslewe is, wil ek nie nou dáároor handel nie. Ek vra aandag vir ʼn ander voorbidding, die voorbidding van ons Heiland. Ek doen dit omdat die gebedswerk van ons Here in die prediking sowel as in die geloofspraktyk dikwels min aandag kry. Die klagte van A. Kuyper dat die saak van Christus se voorbidding verswak is en, tot skade van die kerk, van die eerste plek tot die laaste plek verdring is en ʼn soort aanhangsel by die versoeningsleer geword het 1, is steeds nog nie heeltemal bygelê nie.

Christus se Voorbidding🔗

Miskien het dit u nog nie só opgeval nie, maar die Heidelbergse Kategismus noem in antwoord 49 as eerste "nut" van die hemelvaart, dat Christus in die hemel by die Vader vir ons pleit. Daar kan oor die hemelvaart baie gesê word. Dit is Christus se troonsbestyging. Hy gaan sit aan die regterhand van God. Deur die hemelvaart is "ons menslike natuur" in Hom in die hemel, en word dit vir Hom moontlik om sy Gees vir ons te stuur. Maar die eerste is sekerlik dat Christus só ons Voorbidder by die Vader geword het. Ek vind dit ook in wat Paulus geskryf het in Romeine 8:34: "Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree". Die apostel verkondig 'n vooruitgang in die heilswerk, 'n vooruitgang wat daarop uitloop dat Christus vir ons pleit. Dit is vir Paulus die hoogtepunt: die Pleiter in die hemel!

Ons vind iets dergeliks in die brief aan die Hebreërs. Dié brief verkondig die lewe en werk van Christus op aarde (Hebreërs 2:14e.v.; 5:7e.v.; 9:14), maar noem as "hoofsaak" van alles wat hy wil verkondig: "Ons het so 'n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele, 'n bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel ..." (Hebreërs 8:1,2). Wat dié bediening inhou, hoor ons in hoofstuk 9:24: Om vir ons voor God te verskyn.

Tereg sê H. Bavinck dat die aardse lewe van Christus (dus ook sy kruisoffer) in die brief aan die Hebreërs dikwels verstaan word as 'n voorbereiding vir die hoëpriesterlike werk wat hy nou in die hemel verrig.2

Die Heidelberger volg dus in die spoor van die Skrif wanneer hy aan die voorbidding van Christus so 'n groot gewig verleen. Die Here Jesus kan ons volkome red juis omdat Hy altyd vir ons intree (Hebreërs 7:25)!

Versoening🔗

Die voorbidding van Christus kom in die Nuwe Testament in verskillende verbande ter sprake. Myns insiens staan die versoenende krag daarvan tog voorop. Johannes praat daaroor wanneer hy skryf: "My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is 'n versoening vir ons sondes ... " (1 Johannes 2:1,2). Vir "voorspraak" gebruik die apostel die Griekse paraklētos.

Geruime tyd is aanvaar dat dié woord 'n tipies juridiese kleur het. Onlangse ondersoek het egter aangetoon dat die woord 'n meer algemene strekking het in die sin van begunstiger of helper.3 In ons sondenood is die Here Jesus ons bystand by die Vader. Hy help ons in die hemelse hof. Hy kán ons help deurdat Hy "die Regverdige" is: Hy het in alles aan God se geregtigheid voldoen en staan volmaak skuldloos voor God.

In die aanduiding "die regverdige" sien ons hoedat sy lewe en werk op aarde geen oomblik los te maak is van sy werk in die hemel nie. Hy kan ons pleitbesorger by die Vader wees, omdat Hy op aarde sy bloed vergiet het tot vergiffenis van sondes (vgl. Matteus 26:28). Teoloë het soms onderskeid gemaak tussen die middelaarskap van versoening en die middelaarskap van voorbidding. Dit lyk vir my nie wenslik nie. Versoening en voorspraak hoort onafskeidbaar bymekaar. Die versoenende werk van Christus gaan in die hemel verder.

Nie dat Hy Hom nog aan die Vader offer nie. Dit het op aarde eens en vir altyd gebeur (Hebreërs 10:10,14). Maar wel in die sin dat Hy sy bloed laat spreek by die Vader (vgl. wat Hebreërs 12:24 sê oor die sprekende bloed van die Middelaar Jesus!). Dat die Heiland ook in die hemel nog Middelaar en Versoening is, blyk uit wat Johannes in verband met sy voorspraak skryf: " ... Hy is 'n versoening vir ons sondes". Die apostel skryf nie "was" nie, maar "is". Die Heiland is in eie persoon nog altyd " 'n versoening".

In sy voorbidding leef en werk sy offerande voort. Nie die van Christus se persoon losgemaakte en eens vir altyd op aarde volbragte offerande nie, maar die verhoogde Christus, wat immers die gekruisigde is, is en bly die versoening van ons sondes.4 Vir "versoening" gebruik die Nuwe Testament die woorde katallage en hilasmos, wat elk 'n eie karakter dra. Johannes noem Christus 'n hilasmos, 'n woord wat uit die kultiese sfeer stam. Dit spreek van die bedekking van iemand se oortredings deur die bloed van 'n offerdier.5 Dat die apostel juis hierdie woord hier neerskryf in die konteks van "sondig", verkondig aan ons hoedat ons Heiland as die één wat gekruisig is, vir ons by die Vader intree. Ons sondes verbreek steeds weer die vrede met God. Ons roep sy toorn oor ons op. Maar steeds tree Christus vir ons in die bres. In daardie hof der howe laat Hy sy bloed spreek. En so is Hy voortdurend 'n versoening, 'n bedekking vir al ons sonde. Daar is vergewing vir wie sonde bely, omdat ons 'n Helper het wat in eie persoon die versoening, die vrede met God is (vgl. Efesiers 2:14: "Want Hy is ons vrede") en so sy bloed laat spreek.

Toegang tot die Vader🔗

Artikel 26 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, wat oor "Christus ons Voorspraak" handel, begin met die belydenis dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Ons kan net tot die Vader nader omdat Christus, wat 'n "versoening" is, vir ons pleit. Deur hierdie Pleitbesorger is ons "die toegang" gegee (vgl. Efesiërs 2:18). Dit is veral die Hebreërbrief wat op hierdie aspek van Christus se voorbidding wys. As slotsom van alles wat die skrywer aan ons verkondig oor die werk van Christus as hoëpriester, klink dit in hoofstuk 10: "Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus ... laat ons toetree ... ".

Die weg na God se troon was onder die ou bedeling nog nie geopen nie (Hebreërs 9:8). Die hoëpriester mog net één keer per jaar 'n rukkie in die nabyheid van God se troon verskyn. Christus het met sy offer die reg verwerf, nie alleen om tot God se troon te nader nie, maar ook om by die troon te bly. Ons het 'n Hoëpriester wat vir altyd sit aan die regterhand van die troon van God se majesteit (Hebreërs 8:1). Ons kan nou "... deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir (ons) in te tree" (Hebreërs 7:25). Ons mag "gaan" (Hebreërs 4:16), "toetree" (Hebreërs 10:22), "kom" (Hebreërs 12:22), omdat Christus eens en vir altyd die hemelse heiligdom ingegaan het (Hebreërs 9:12), omdat hy vir ons voor die aangesig van God verskyn (Hebreërs 9:24) en altyd leef om vir ons te pleit.

Ons ontdek hier hoe wesenlik Christus se voorbidding aan ons bidde verbonde is. Ons kan net tot God nader omdat Hy die weg met sy offer gebaan het, en permanent vir ons pleit. Sonder sy voorspraak sou ons gebede, onwaardig soos hulle is, nooit deur God gehoor word nie. Calvyn skryf treffend dat ons " 'n Middelaar nodig het om in ons naam te verskyn, ons op sy skouers te dra en ons vasgemaak aan sy bors te hou, sodat ons in sy Persoon aangehoor kan word6 Ons nader in ons gebede tot die ontsagwekkende hemelse Majesteit wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien (Habakuk 1:13). Maar, terwyl ons nader, is ons getroue Heiland daar, wat sy stem vir ons verhef en die troon van dié Majesteit vir ons maak 'n troon van genade en hulp (Hebreërs 4:16)!

Dit is hierdie aspek van Christus se voorbidding wat in artikel 26 NGB wyd aan die orde kom. Die agtergrond is onmiskenbaar: die vele voorsprekers wat die kerk van Rome in Maria en die gestorwe heiliges gevind het. Met al hierdie menslike pleitbesorgers in die hemel reken ons belydenis onverskrokke af. Dit het my getref hoedat dit ons op die hart gedruk word dat ons by die Here Jesus sál teregkom. Die artikel benadruk dat "die verhewenheid" van hierdie Middelaar ons nie moet laat terugdeins nie. In die Middeleeue het die verhewenheid sterk op die voorgrond gestaan. Christus is veral gesien as die ontsagwekkende komende regter.

Dit is 'n siening wat ver verwyderd staan van die familiariteit waarmee baie vandag oor "Jesus" praat. Intussen kan dit 'n heilsame korrektief wees wat daaraan herinner dat ons belydenis wel ook oor dié verhewenheid praat! Ons Heiland ís die Heer der here en die Hoëpriester wat sit aan die regterhand van die majesteit van God. Toe hy as sodanig aan Johannes verskyn het, het die apostel soos 'n dooie aan sy voete geval (Openbarings 1:17). Van verhewenheid gepraat ...

Maar hoe verhewe ook al, by Hom het ons vrymoedigheid. En ons het nie tussengangers nodig om na Hom te gaan nie. "Want", sê artikel 26, "toe God Hom aan ons gegee het (as Voorspraak), het Hy goed geweet dat ons sondaars is". Ons kan dan ook met vertroue deur Hom tot God gaan (Hebreërs 7:25), des te meer omdat Hy op aarde mens was en ons nood uit ervaring ken. Hy kan ons by uitstek te hulp kom omdat Hy self versoeking gely het en daarom met ons swakhede medelye kan hê (Hebreërs 4:15).

Bewaring🔗

Die voorbidding van Christus word in die Dordtse Leerreëls genoem in verband met die bewaring van die ware gelowiges. Hulle kan diep val. Die Leerreëls wys op Dawid en Petrus. Maar hulle vervreem nie heeltemal van die geloof en die genade nie, bly nie tot die einde in hulle sonde nie en gaan nie verlore nie. As dit van hulle afhang sou dit ongetwyfeld gebeur, maar omdat dit van God afhang, kan dit glad nie gebeur nie. Dan wys die Leerreëls onder meer op die voorbidding van Christus (v.8). In die kantskrif word verwys na Romeine 8:34 en Lukas 22:32. Mens kan myns insiens hier ook verwys na die hoëpriesterlike gebed in Johannes 17.

Wat Lukas 22 betref ontmoet ons daar 'n Petrus in naïewe oormoed. Hy het klaarblyklik niks begryp van die lyding wat op sy Meester wag nie. Hy dink oor "gevangenis" en "dood". As dit sover met Jesus sou kom, kan sy Meester op hom reken. Hy bly by die Meester al word dit ook donker. Miskien kry satan sy mede-apostels beet, hy, Petrus, sal Jesus nooit verloën nie: "Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie"! (Markus 14:29).

Calvyn teken by hierdie betuiging van Petrus aan dat hy op twee maniere sondig. Petrus het in oormoed trou beloof en sy eie swakheid nie in ag geneem nie.

So is dit ook. Petrus sal by Christus bly en volhard in die geloof, nie omdat sy liefde so sterk is nie, maar enkel en alleen omdat Christus vir hom gebid het dat sy geloof nie sal ophou nie. Wat die Meester aankondig, sal gebeur. Binnekort vind 'n gruwelike verloëning plaas. Maar die diep val sal nie die einde wees van Simon, die Rots, nie. Hy sal tot inkeer kom, daar sal trane van berou wees. Dit is die vrug van Christus se voorbidding. Net in hierdie voorbidding alleen lê die geheim van Petrus se uiteindelike bewaring in die liefde tot, en die geloof in sy Meester!

In Romeine 8:34 ontdek ons dieselfde geheim. In die verband som Paulus al die gevare op wat ons as God se kinders kan bedreig: verdrukking, benoudheid, vervolging, honger, dood en magte. Maar van 'n fatale bedreiging is nie sprake nie, omdat niks ons sal skei van die liefde van Christus nie; Christus wat vir ons pleit. As dit van ons sou afhang, sou ons op die geloofspad dodelik verongeluk het. Maar nou is daar die bewarende krag van Christus se voorbidding. Daardeur is die jubel moontlik: "Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars." Christus se voorbidding as die geheim van die volharding van sy skape kom ons ten slotte ook sterk teë in die hoëpriesterlike gebed van Johannes 17. Dit is allereers 'n gebed vir die dissipels (vgl. v. 8) maar brei dan uit na dié wat deur hulle woorde in Hom sal glo (vgl. v. 20). Dit is verrassend hoedat hierdie gebed vol is van Christus se sorg vir sy kinders wat Hy in die wêreld agterlaat. Dit gaan om bewaring teen die bose, om heiliging in die wêreld en om één wees met God.

Die gebed loop uit op 'n kragtige wilsverklaring met betrekking tot die toekoms van al dié wat aan Hom behoort: "Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou ..." (v. 24). Die Heiland kan met soveel stelligheid spreek omdat Hy die werk wat die Vader Hom gegee het, volbring het. Hy sê dit ten aanhore van sy leerlinge sodat ons kan weet hoeseer Hy ons toekoms ter harte het en hoeseer ons daar seker van kan wees dat ons in sy heerlikheid sal deel. Ons hoor in Johannes 17 sy liefste en laaste wens! Dié gebed staan in die evangelie om aan ons te verkondig hoe Christus vir die wat aan Hom behoort gebid het en nóg vir hulle pleit.

Met reg verwys die Dordtse Leerreëls na die voorbidding van ons Here juis in die hoofstuk wat handel oor die volharding van die heiliges. Hulle wys nie daarop om ons tot sondige sorgeloosheid te lei nie: "ons hoef niks te doen nie, want ons word in elk geval bewaar"! Die Leerreëls gee vir so 'n houding nie die minste ruimte nie. Immers sê hulle dat God die volharding van die wat aan Hom behoort verkondig tot troos van al die gelowiges (die Nederlandse DL V, 15 het "Godvruchtige zielen". Sien ook DL V, 12 - vertaler). God se getroue kinders hoef nie bang te wees dat hulle dodelik sal struikel en vir altyd verlore gaan nie. 'n Diepe val kan gebeur. Maar dan bring die Here hulle weer tot inkeer en opregte berou, soos met Dawid en Petrus gebeur het. Want die "voorbidding .. van Christus kan nie kragteloos gemaak word nie" (V, 8). Sy "Vader, Ek wil ... " styg uit bo al die geweld van die satan en al die boosheid van ons hart. Sy pleitende stem bewaar, en sorg daarvoor dat ons geloof nie beswyk nie!

Johannes 16:26🔗

Nou dat ons nagegaan het in welke kontekste die Nuwe Testament spreek oor die voorbidding van Christus, onstaan 'n probleem wanneer ons lees wat Hy aan die dissipels sê in Johannes 16:26: "In daardie dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; want die Vader self het julle lief ... ". Hoe is hierdie woorde te rym met die troos wat ons gevind het in alles wat gesê word oor die permanente voorbidding van die groot Priester in die hemelse heiligdom?

Eksegeties is daar heelwat menings oor die woorde. J. van Andel meen dat hier gesê word dat gebed in Jesus se Naam 'n besondere tussenkoms van sy kant oorbodig maak. Die leerlinge sal hier op aarde, tot die mate van die volkomenheid van hulle vereniging met Christus, verhoog word tot die staat waarin die volmaaktes, wat 'n Voorbidder nie meer nodig het nie, verkeer.7 P.H.R. van Houwelingen betrek die uitspraak geheel op die toekoms. "In daardie dag" slaan dan op Christus se wederkoms. By die wederkoms word nog steeds in sy Naam gebid, maar Hy hoef dan nie meer by die Vader te bemiddel nie. Die tyd van sy tussenkoms is dan verby.8 Ek verkies die verklaring wat Herman Ridderbos aanbied.9"In daardie dag" het betrekking op die tyd van die Gees, wat die leerlinge sal lei tot "die hele waarheid" en Christus so verheerlik (vgl. Johannes 16:12 e.v.). Deur die Gees sal Christus "ronduit" spreek oor die Vader. Alle misverstand en bedekking sal dan weggeneem word. Die leerlinge sal die werk van hulle Meester verstaan, en só sal dit vir hulle moontlik word om in Jesus se Naam te bid: met beroep op sy werk en op sy volmag.

Hulle het nog nie só gebid nie (Johannes 16:24). Hulle kón nog nie, want hulle was nog vasgevang in onkunde en misverstand. Dit kon ook nog nie omdat die groot werk nog deur Christus volbring moes word.

Maar die koms van die Gees van die waarheid sal 'n nuwe gebedsmoontlikheid bring! Aanstonds kan die leerlinge met beroep op Christus en sy werk tot die Vader nader. Dan is Hy werklik die weg na die Vader. Soos Calvyn gesê het: ons verower die hart van die Vader wanneer ons aan Hom die Naam van sy Seun voorhou.

Die woorde van die Here verseker ons dat ons direkte toegang tot die Vader het. Dit sê alles oor ons posisie: die Vader self het ons lief omdat ons sy Seun liefhet (Johannes 16:27). Christus hoef nie alles namens ons te vra nie. Hy hoef nie in ons plek ons nood aan die Vader bekend te maak nie. Ons mag en kan dit self doen as die Vader se geliefde kinders, deurdat die Gees ons die Vader leer aanroep (vgl. Galasiers 4:6). As dit gaan oor vra, kan ons self by die Vader teregkom. Terselfdertyd bly dit so, dat die verhoring van ons vrae enkel en alleen vas is in Christus se voorbidding, waarby hy steeds sy bloed vir ons laat spreek. Sy voorbidding bly noodsaaklik.

Dit moet ons nie ontgaan dat sy woorde oor sy "nie ... vra nie" in die konteks staan van "in my Naam bid"! Dit beteken: ons vra gaan saam met die beroep op sy werk en voorbidding. Ons vra self, maar ons kom tot God deur Hom wat altyd leef om vir ons te pleit. Die Vader self het ons lief, maar dit is en bly "die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is ... "(Romeine 8:39).

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. GC Berkouwer, Geloof en volharding, Kampen 1949, p 118.
  2. ^ H Bavinck, Gereformeerde Dogmatiek, III, Kampen, 1929, p 473.
  3. ^ Vgl. AN Hendriks, Die in de waarheid leidt. Heerenveen 2002, p 144vv. 
  4. ^ H Bavinck, a.w. p 477. 
  5. ^ Vgl. JP Versteeg, Bijbelwoorden op de man af, Kampen 1983, p 31. 
  6. ^ Institutie III, 20:18 (Vertaling HW Simpson, Potchefstroom, 1988).
  7. ^ J van Andel, Johannes' evangelie aan de gemeente toegelicht, Leiden 1900, p 327.
  8. ^ PHR van Houwelingen, Johannes, Kampen 1997, p 328. 
  9. ^ Vgl. Herman Ridderbos, Het Evangelie naar Johannes, II, Kampen 1992, p 197.