Bron: Kompas, 2008. 3 bladsye.

Is DEELNAME in die Politiek BELANGRIK? “Die Wêreld is ons Woning nie”

wapen SA

Met hierdie klaagroep van die bekende gereformeerde teoloog en digter, Totius, het baie Christene al te kenne gegee dat hulle nie ingetrek wil word in die politiek nie. Die persepsie bestaan dikwels dat politiek “vuil” is, dat dit gepaard gaan met rugstekery, oneerlikheid en persoonlike, selfgesentreerde ambisie.

Die kritiek is miskien wel waar vir die wêreldse benadering tot die politiek. Verder is dit ook waar dat al die negatiewe elemente van “politiek” in sy wydste sin in elk geval te vinde is in die kantoor, die skool, in familieverband en selfs in besondere gevalle in kerke.

Kantoorpolitiek en sogenaamde “power-play” is tot so ʼn mate ʼn realiteit in enige moderne organisasie dat studies in die verband al deur bedryfsosioloë en personeelbestuurders onderneem is.1

Onder sektariese godsdiensgroepe soos Jehovah se Getuies (oftewel die Wagtoring-kerk) bestaan daar byvoorbeeld ʼn uitgesproke teenkanting teen enige deelname aan verkiesings, militêre diensplig en die politiek in die algemeen.

Ook in gereformeerde kerke bestaan die sentiment onder sekere lidmate dat die sekulêre aard van die grondwet en ook die potensieel permanente aard van ANC-meerderheidsdominansie deelname aan die parlementêre politieke proses en verkiesings onwenslik maak. Die motiverings van hierdie standpunte varieer oor ʼn wye spektrum.

Aan die één kant van die spektrum is die dryfveer doodgewoon apatie en ʼn gevoel van: “Ek stem nie, want dit sal in elk geval nie help nie”. ʼn Ander benadering is weer (en heeltemal tereg) dat ʼn wegblystem ook ʼn vorm van protes is omdat dit ook ’n bepaalde boodskap aan regeerders stuur. Die derde benadering op die ander kant van die spektrum is meer radikaal en behels in kort dat Christene ʼn plig het om hulle te weerhou van deelname aan die parlementêre bestel omdat dit ʼn onchristelike bestel, is met ʼn bose regering aan die stuur wat nie enigsins deur Christene gelegitimeer mag word nie.

Hierdie drie benaderings word kortliks hieronder bespreek.

Apatie🔗

Volgens sekere ramings is soveel as 40% van wit kiesers in die noordelike gedeeltes van die land tans nie geregistreer as kiesers nie. Onder swart kiesers is die registrasiesyfer hoër, maar die Onafhanklike Verkiesingskommissie spreek gereeld sy kommer uit oor die feit dat kiesersregistrasie onder jong kiesers (swart sowel as wit) kommerwekkend laag is. In die suidelike provinsies, en in besonder in daardie munisipaliteite waar opposisiepartye alleen of in koalisie regeer, is die belangstellingsvlakke uiteraard hoër. Die afleiding is dus dat die persepsie baie sterk bestaan dat mense belangstelling verloor as gevolg van ʼn fatalisme of ʼn gevoel dat hulle deelname (veral in die noordelike provinsies) nie ʼn verskil gaan maak nie. Hierdie benadering is natuurlik teenproduktief. Die nadeel daarvan is dat hierdie benadering ʼn bose kringloop tot gevolg het. Mense raak apaties omdat hulle dink dat hulle geen impak het nie – as gevolg daarvan word minder Christen-politici verkies wat weer daartoe lei dat mense sê: “Sien, ek het julle mos gesê julle het geen impak nie!”

Christus se opdrag aan sy volgelinge is om die sout van die aarde en lig van die wêreld te wees.

Albei hierdie beelde het iets in gemeen, naamlik die kleinheid van die inset teenoor die grootheid van die impak. ʼn Bietjie sout wat smaak gee aan ʼn groot gereg en ʼn klein liggie wat oorweldigende duisternis verdryf. Christene wat hulle deur apatie en fatalisme laat lei in hulle besluit om nie deel te neem nie aan enige prosesse wat die wêreld raak, insluitend die politiek, versaak hulle plig om hierdie Goddelike opdrag na te kom.

stemming

Wegbly-Protes🔗

Wêreldwyd bestaan daar erkenning vir die reg om deur middel van ʼn wegblystem ook ’n boodskap aan die regering te stuur.

Tydens die afgelope verkiesing in Spanje was daar byvoorbeeld ʼn merkbare wegblystem. Die wêreld neem kennis daarvan en dit stuur ʼn bepaalde boodskap uit.

Ook in die nuwe staatjie Kosovo, wat pas van Serwië in Oos-Europa afgeskei het, was daar ʼn 100% wegblystem tydens die Serwiese presidentsverkiesing.

Die voordeel hiervan is dat die wegblystem identifiseerbaar is en dat ʼn sterk boodskap uitgestuur word. ʼn Belangrike voorvereiste is egter dat die wegblystem sodanig moet wees dat dit identifiseerbaar en meetbaar is.

In Suid-Afrika is die saak egter anders. Partye soos die HNP, wat hulle vir ʼn wegblystem beywer, beleef telkens die frustrasie dat niemand kennis neem van die wegblystem nie, omdat die wegblyers wyd oor die land woon en nêrens ʼn sigbare meerderheid vorm nie.

Sodoende kan daar byvoorbeeld nie gedemonstreer word dat hierdie of daardie dorp of provinsie ʼn meetbare wegblystem aangeteken het nie. Verder is die meeste van die “wegblyers” in elk geval nie eens geregistreer as kiesers nie, wat beteken dat die stempersentasie as geheel ook nie die “wegblystem” reflekteer nie.

In Suid-Afrika vandag is die wegblystem as protesstem dus nie op dié stadium ʼn opsie nie. Dit is te betwyfel of Christene tans hul lig sigbaar kan laat skyn en of hulle werklik smaaklike sout van die aarde kan wees deur hierdie opsie uit te oefen.

Die Nie-Legitimerings-Benadering🔗

Hierdie benadering gaan daarvan uit dat die regering onwettig en boos is en dat Christene deur die uitbring van ʼn stem “medepligtig” raak aan die boosheid van die regering – dat hulle as ‘t ware hulleself bind aan ʼn politieke bestel waaraan hulle andersins nie gebonde sou wees nie. Hierdie benadering berus op ʼn dwaling en ʼn ontkenning van die uitdruklike skriftuurlike bepaling dat alle gesag van God af kom.

Ons bely immers dat owerhede deur God daargestel is weens die verdorwenheid van die mens, dat dit sy wil is dat die wêreld deur middel van wette en regerings regeer moet word. Dit is ook God se wil dat regerings kwaaddoeners sal straf en die Woordbediening sal beskerm.2 In sy slotwoorde bely Artikel 36 van die NGB byvoorbeeld: “daarom verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot”. Guido de Brès het hierdie belydenis in 1561 opgestel in ʼn tyd van intense vervolging van die Protestante deur die Roomse Kerk en plaaslike regerings.

Net so het Paulus in Romeine 13 Christene opgeroep om aan die regering onderdanig te wees ten spyte van die goddeloosheid van die destydse Romeinse regering en ryk.

God verklaar deur die profeet Jeremia dat Hy sy volk aan ballingskap uitgelewer het deur “sy kneg” Nebukadnesar.3 In Daniël lees ons hoe God op sy tyd vir Nebukadnesar verneder het, maar ook weer herstel het, weer eens op sy tyd. Ons sien dus dat regerings – hoe korrup en hoe goddeloos ook al – deur God daargestel is en deur God as sy knegte gebruik word om sy wil te laat geld.

Net so is die huidige Suid-Afrikaanse regering ook – hoe korrup en goddeloos ook al – deur God daargestel. God kan egter op sy tyd ook hierdie regering van sy mag ontneem. Dit is dus nie vir ons as Christene om die regering te legitimeer of van sy legitimiteit te ontneem nie. God doen dit op sy tyd.

stembriewe🔗

Ons Taak as Christene🔗

Ons taak is om as Christene aan die regering onderdanig te wees, terwyl ons – soos Daniël teenoor Nebukadnesar en Darius, of soos Paulus teenoor Festus, of Elia teenoor Agab, of Ester teenoor Ahasveros – nie sal skroom om te profeteer aangaande wat God se wil is en oor wat heilsaam is vir ons samelewing nie.

Suid-Afrika het inderdaad ’n sekulêre grondwet. Inderdaad is dit waar dat die grondwet ’n speelveld geskep het wat die Christendom en ook die voorskrifte van Gods Woord gelyk gestel het aan ander ideologieë en godsdienste. Met sake soos die beoogde getrouheidseed vir skoolleerders, beoog die regering selfs om die huldiging van sogenaamde struggle-helde in die skole in te voer. Daniël en sy drie vriende het geweier om Nebukadnesar se beelde te huldig of Darius se bevel om die koning te aanbid, te gehoorsaam. Nogtans het hulle as administrateurs in die destydse regeringstelsel gedien en hulle profetiese amp daar uitgeleef. Hulle het geweier om aan God ontrou te wees, maar nie geweier om hulle take in die landsadministrasie getrou te bly doen nie.

Vandag roep die Woord ons steeds op tot gehoorsaamheid aan die regering waar dit gaan oor wet en orde, maar ook om aan God meer gehoorsaam te wees as aan mense wanneer van ons verwag word om God te verloën.

Die bestaande politieke bestel en in besonder die stelsel van proporsionele verteenwoordiging maak dit vir Christene moontlik om vir Christelike Bybels-gefundeerde partye te stem. Hoe meer Christen-kandidate tot die parlement verkies word, hoe meer word daar vanuit ʼn Christelike oogpunt in die parlement en in die openbare domein gedebatteer en geargumenteer oor die gang van die geskiedenis. En as ons wonder of dit die moeite werd is – of ons nie dalk te min is nie – kan ons met reg retories saam vra: maak ʼn klein bietjie suurdeeg nie die hele deeg suur nie en gee ʼn klein bietjie sout nie smaak aan ʼn groot gereg nie?

Laat ons ons verantwoordelikheid in die verband nie versaak nie. Dit is ons roeping.

Endnotes🔗

  1. ^ Lees meer hieroor in Organisational Behavior deur R Kreitner en A Kinicki, 3de uitgawe, 1995 pp 265 e.v.
  2. ^ Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 36 
  3. ^  Jeremia 43:10