Bron: Die Kerkblad, 1984. 2 bladsye.

Deformasie in die Gereformeerde Belydenis

Meer as 100 jaar gelede was daar in Nederland en ook in ander wêrelddele ’n jammerlike minagting van die Gereformeerde Belydenis. Vrysinnigheid in die leer van die kerk het ook losbandigheid van die lewe gebring. Vir die predikante was dit selfs ’n stryd tussen die ‘quia’- en die ‘quatenus’-standpunte. Dit beteken heel eenvou­dig: In die eerste geval onderteken jy die Formuliere (die Belydenis) omdat dit ooreenkom met God se Woord en in die tweede geval onderteken jy dit in soverre dit oor­eenkom met die Woord. In die laaste geval is jy dan vry om self te bepaal wat in die Belydenis aanvaar kan word en wat nie.

In hierdie tyd van verwaarlosing van die Belydenis, moes die Gereformeerde vaders ’n harde stryd teen die vrysinnigheid voer. Dr. A. Kuyper het dan ook met sy belangrike ‘Traktaat van die Reformasie van die kerke’ (1884) nadruklik gewys op die uiters groot gevaar van die deformasie in die Gereformeerde Belydenis.

Daar is veral twee gevare:

Oorskatting van die Belydenis🔗

Ten eerste bestaan die gevaar dat die kerke hulle begin­sel, die enigste waarheid, alleen uit die Belydenisskrifte put en nie uit God se Woord nie. Dan word die kerk op ’n vals manier ‘konfessioneel’ en dink en werk altyd asof die Bybel nie meer belangrik is nie. Nee, die Belydenis is 100% gebou op die Woord van God. Dit moet altyd getoets word aan die Woord. Die Drie Formuliere van Eenheid wat ons almal onderskryf, het nie gesag oor die Heilige Skrif nie, maar die Skrif het gesag oor die Be­lydenis. Hier is geen sprake van ’n dualisme, ’n kerklike tweeslagtigheid nie.

Dit is soos ’n kompas en ’n landkaart. Die kompas se koers staan altyd vas en daarvolgens word die landkaart gemaak. En dit is ’n dwase reisiger wat in ’n vreemde land alleen met die kompas wil werk en ’n goeie land­kaart weggooi. Maar dit is ook ’n dwaas wat weier om ’n moontlike fout op die kaart te ondersoek. Alle predi­kante (ook ouderlinge en diakens) beloof dan ook met hulle naamtekening dat as hulle enige bedenkings teen hierdie leer het, dat hulle dit nie ‘openlik of in die geheim in die prediking of in geskrif’ sal propageer nie, maar dit eers aan die kerklike vergadering sal voorlê (Vgl. die Ondertekeningsformuliere vir professore, predikante, ouderlinge en diakens volgens art. 53 en 54 K.O.) Dit is die orde in Christus se kerk. Dit is die mooi, eerlike pad van gravamen (beswaar). Solank hierdie pad in die kerke nog oop is, kan die Belydenis nie die Woord probeer oorheers nie.

Die Belydenis as ’n Vals Vlag🔗

Die tweede groot gevaar veral in ons tyd is dat die senuwee van die Gereformeerde Belydenis deurgesny word. Dan is daar verlamming. Dan is daar ’n ‘siekte-proses’ in die kerk wat algaande erger word as dit nie gekeer word nie. Dit is die pad van deformasie.

As die senuwee van die Belydenis deurgesny word, dan kan dit gebeur dat ’n gereformeerde kerk nog roem in sy belydenis, maar in die praktyk word dit nie meer gehandhaaf nie. ‘Gereformeerd’ is dan die mooi mode­leuse, die sierlike vlag om op die oseaan te vaar. Kerk­leiers praat dan met ’n bravade van ‘ons gereformeer­des’, maar dit is slegs ’n onderskeidingsteken teenoor ander kerkgroepe. Dit is selfs goed as ’n historiese naam, maar dit bly alles skyn. Die vaandel vertel nie meer wat werklik in die kerk gebeur nie.

Hier het ons presies een van die mees dodelike gevare wat die Gereformeerde kerke altyd sal bedreig. Die geskiedenis vertel ’n droewige verhaal. Armenius, die predikant van die Gereformeerde Kerk Amsterdam en later professor in Leyden kon op ’n keer met sy vuis op sy bors slaan om te getuig dat hy die Gereformeerde belydenis handhaaf en intussen bestry hy God se soewereine genade. (Hierdie stryd het uitgeloop op die Dordtse Sinode, 1618 - 19).

Dat dit vandag in die gereformeerde wêreld moontlik is om die naam gereformeerd te dra en terselfdertyd die gesag van die Skrif te loën en met allerhande verstands­kennis die Bybel vermink .

Dat dit moontlik is om te roem op die Gereformeerde Belydenis en terselfdertyd dieselfde belydenis in jou teologie te misken ...

Dat dit moontlik is om in die wêreld sogenaamd te stry vir die beginsels van die Hervorming in leer en lewe en terselfdertyd baie sondes (soos o.a. aborsie, homo­seksualisme, dobbelary ens.) goed te praat .

O, dit maak dit vandag in ons eie land en in die wêreld so donker selfs soms binne gereformeerde kerke!

Hierdie dinge het die manne in die geskiedenis van die Gereformeerde kerke ’n ‘belydeniskrankheid’ genoem. En vandag sit ons met dieselfde siekte. Dikwels het die woord gereformeerd goedkoop geword.

Dit is deformasie in die Belydenis. As ‘gereformeerd’ slegs vir die skyn gebruik word, dan is dit ook defor­masie in die Woord.

Reformasie beteken: terugkeer na die Woord. Meteen sal dit ook ’n reformasie in die Belydenis wees, want dan sal jy op jou pad die waarde van die goeie ‘landkaart’ in die Kerkgeskiedenis vind. Jy sal dit duidelik sien, daar van die ‘12 Artikels’ se dae af ... daar van Athanasius se dae af ... daar van Nicea se dae af ... daar van Luther en Calvyn se dae af ... en daar van Dordrecht se dae af. En elke Sondag met die dominee wat God se Woord preek en die getroue ouderling en diaken wat met die Woord huisbesoek doen, sal jy die Belydenis weer waar­deer. Met die suiwer Woordprediking en die suiwer bediening van die sakramente en die handhawing van die regte kerklike tug, sal jy die waardevolle skat van die Gereformeerde Belydenis weer in jou eie gemeente ontdek. Jy sal weet waar is die ware kerk en waar is die valse kerk (artt. 28 en 29 NGB).