Bron: Kerk en Woord, 2005. 4 bladsye.

Deuteronomium - Geheel Toewyding aan die Here 'n Inleiding op Deuteronomium

wet van die Here

Deuteronomium neem 'n baie spesiale plek in die Bybel in. Die naam van die boek spel dit al uit. Deutero en Nomium is die twee Latynse woorde waarmee die Hebreeuse naam vertaal is. In Afrikaans beteken dit: Die tweede wet – of beter gestel: die tweede afkondiging van die wet.

Die grootste gedeelte van die boek is die skriftelike neerslag van Moses se laaste groot toespraak, sy afskeidspreek, wat hy tot die verbondsvolk in die woestyn gerig het voordat hy op die berg geklim het om op 120-jarige leeftyd te sterwe soos die HERE dit beveel het.

Die spesiale plek van Deuteronomium lê eerstens daarin dat dit deel vorm van die eerste vyf boeke van die Bybel, wat volgens oorlewering deur Moses geskrywe is en wat ook deur die geskiedenis as die Pentateug bekend staan. Die Heilige Gees het op besondere wyse daarvoor gesorg dat hierdie vyf boeke heel eerste in die Bybel opgeneem en vir ons bewaar gebly het. Hulle verteenwoordig (om 'n beeld te gebruik) die kiemsaad van God se openba­ring waaruit die hele res van die Bybel oor baie eeue gegroei en ontwikkel het totdat dit eindelik met die boek Openbaring tot afsluiting gekom het.

In hierdie vyf boeke leer ons die heel eer­ste pennestrepe van die Heilige Gees deur die diens van geïnspireerde mense ken. Daardeur sien ons in die besonder hoedat God Homself met al sy Goddelike eien­skappe as Skepper en Herskepper van alle ware geregtigheid en heiligheid, goeder­tierenheid en barmhartigheid openbaar; hoedat God sy salige verbondsverhouding met die sondegevalle mens openbaar.

Dan is dit troosryk en insiggewend dat die kiemspore van hoe die mens se verhou­ding met God werk, pas na die skepping, en hoe dit in die tuin van Eden uitgedruk word in die opdragte wat God aan die mens gee: die kultuuropdrag.

Daarna het die sondeval plaasgevind wat 'n growwe skending van die verhou­ding tussen God en mens veroorsaak het. Wanneer God van sy kant af weer die verhouding herstel, bied die geskiedenisse van die aartsvaders kosbare gegewens: Dat die HERE na hulle uitreik, Homself as hul Verlosser en hul God bekendstel, en hulle oproep om Hom gelowig te dien.

Die mees volledige uitdrukking van hoe die HERE sy verhouding met die mens beoefen, is egter die wetgewing by Sinaï. In die Tien Gebooie vind ons die wortel van die verbond God. Net soos wat die gebed, die Onse Vader, dien as 'n kernkode vir die breë gebedslewe van die Christen, net so ook dien die vyf boeke, die deka­loog, as die kernkode vir die verhouding tussen God en mens, met as opsomming: liefde tot God en liefde tot die naaste.

Vir Moses, die kneg van die HERE, het hierdie uitnemende openbaring van die HERE aan Hom op die berg die diepste grondbeginsel verskaf waarop die lewe van 'n verbondskind in die besonder en van die verbondsvolk in die geheel opge­bou moet word. Die geskrewe dokument daarvan het Moses immers self van die HERE ontvang, die twee kliptafels wat die HERE met sy eie vinger beskrywe het, en wat die volk altyd met hulle in die ark saamgedra het.

Daarom is dit ook noodsaaklik dat ons vanuit Eksodus 20 gaan kyk na die betekenis wat Deuteronomium vir die hele openbaringsgeskiedenis het, sowel wat die res van die Ou Testament betref asook vir die lewe en leer van die Here Jesus en die res van die Nuwe Testament.

Dit is immers nie sonder rede dat in die Nuwe Testament baie keer die term: ʺdie Wet en die profeteʺ gebruik word as 'n terminus technicus vir die hele Ou Testa­ment nie.

Die interpretasie van die wet van God het ons die eerste keer in die paradys gevind. Daar het die HERE die proef gebod op Adam en Eva uitgebring.

Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.Genesis 2:17

vrugteboom

Daar het ons egter al die eerste twee inter­pretasies van die Wet van die HERE gekry. Die een is die geloofgehoorsame interpreta­sie wat vra ʺhoe kan ek dit wat God beveel so goed as moontlik doen soos Hy dit wil hêʺ, die ander interpretasie die goddelose twyfel-interpretasie wat God se motiewe bevraagteken en sy woorde omdraai en vra ʺhoe kan ek te werk gaan om tog dit wat God beveel, nie na te kom nie.ʺ

Sedertdien het hierdie twee interpretasies langs mekaar bly bestaan.

Een van die gereelde vrae onder Chris­tene is wat die betekenis en die toepaslik­heid van die Ou Testamentiese wet vir die kerk van vandag het. Hierdie vraag is nie net beperk tot eenvoudige gelowiges nie, maar ook wetenskaplikes raak verstrengel in die verstaanprobleme in eksegeses van die Ou- en Nuwe Testament.

Versigtige antwoorde moet gegee word om 'n fondasie te lê vir die regte verstaan van die lewe van die kerk en die kerklike samelewing.

Deuteronomium is een van die hoofstoor­kamers van die Israelitiese wet. Daarom word baie navorsing oor Deuteronomium gedoen.

Merkwaardig is dat al die groot weten­skaplikes van die Ou Testament deur die eeue hierdie toespraak van Moses terugher­lei het na die Tien Gebooie. Normaalweg kon hulle nie 'n logiese verband sien tussen die vele praktiese voorskrifte van Moses en die struktuur van die Tien Gebooie nie. Tog vind ons in die kommentaar van Calvyn asook in die diktate van prof B Holwerda op Deuteronomium reeds ryke grondwerk om te verstaan hoedat Moses die verskillende voorskrifte logies rondom die verskillende gebooie van die Dekaloog georden het.

'n Deurbraak in die verstaan van die boek het in 1979 gekom toe Kaufman sy voorgestelde ooreenkomste tussen die Deuteronomiese wette en die dekaloog gepubliseer het. Dit was blykbaar die eerste suksesvolle poging om so 'n ooreenkoms te trek en dit het reeds erkenning verkry as 'n standaardwerk in die veld van die studies oor Deuteronomium.

Volgens die struktuur van Deuterono­mium lyk dit duidelik na 'n homilie van Moses met prakties tien hoofpunte, geor­ganiseer volgens die tien wette van die Dekaloog en nie noodwendig georganiseer volgens een of ander kultuur-historiese juridiese sisteem nie.

Eerder is dit 'n homilie gegrond op die teks van die Tien Woorde van God wat op die kliptafels in die verbondsark gebêre is. Moses het die "gees" en "wese" van elkeen van die tien basiese wette van die Dekaloog blootgelê.

Net so het Jesus met sommiges daarvan gedoen in sy Bergrede; toegepas in verskil­lende praktiese lewensomstandighede.

Die implikasie van hierdie ontdekking is dat nou besef word dat dit nie oorge­laat is aan Christus of aan Jeremia om te verkondig dat die tien basiese gebooie wyer in reikwydte en dieper in die hart daarvan verstaan moet word as die ʺletter van die wetʺ nie.

Eerder moet die indiwiduele gebooie dien as deure wat toegang verleen tot 'n bespre­king van Goddelike moraliteit. Dit wat die mens deur die sondeval geskaad en verloor het sy regverdige en heilige beeltenis van God juis dit wil God weer in die mens herstel noudat Hy ons deur sy genadever­bond in Christus verlos het van die Bose en ons tot sy kinders en erfgename gemaak het.

Die Tien Gebooie is dus reeds by Moses so verstaan dat dit by die indiwidu 'n lewenstyl van God-verwante morele gedrag kweek, teenoor God en teenoor ons mede­mens.

Bybel

Die besef dat die verkondiging van die wet bedoel is om die mens na God se Beeld te vernuwe, beteken dat ons vyande van die sosio-kulturele verklaring van die Wet moet wees.

Israel se omstandighede sou 'n paar keer drasties verwissel, vanuit 'n Egiptiese kul­tuurwêreld, deur 'n nomadiese bestaanwyse in die woestyn, na 'n Kanaänitiese kultuurwêreld in die beloofde land, en dan weer in ballingskap na 'n Assiriese en Babiloniese kultuurwêreld toe … en uitein­delik, teen die aanbreek van die Nuwe Testamentiese tyd, 'n Griekse-Romeinse kultuurwêreld.

Maar deur al hierdie kultuurwisselings sou die Tien Gebooie God se onverander­like wet bly, gesagvol, waarvolgens die ver­bondskind se lewe geskoei en ingerig moet wees. Dan verstaan ons dat God se wet eintlik 'n openbaring van sy onveranderlike Self is waartoe Hy ons hoe langer hoe meer wil vernuwe. In die sin verstaan ons die Wet heilshistories – soos wat die HERE in die openbaringsgeskiedenis waarlik behan­del het; presies dieselfde voorskrifte in en deur Christus tot vervulling laat kom het, en dit in die res van die Skrif bekragtig en uitgebou het. Heilsordelik – soos wat dit deur die uitgiet daarvan vir die mense aan wie dit eerste gerig is werklike heil gebring het op die werkswyse soos wat dit dwarsdeur die Skrif verkondig en steeds vir ons geldig is.

Deuteronomium kan gedefinieer word as een stuk uitleg van die wet – geïnspireerde uitleg. Dit is soos Moses dit self in 4:14 sê: Die HERE het my bevel gegee om julle die insettinge en verordeninge te leer dat julle dit kan doen…

So gee Moses self die struktuur van sy leerrede op die wet van die HERE. Dit berus op die grondstelling dat die HERE God 'n enige Here is, en dit berus daarop dat ons die HERE onse God sal liefhê met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en met al ons kragte, en ons naaste soos onsself. En derdens volg dit die letter van die wet in die herhaling van die tien gebooie van Sinaï. Ons hoor vierdens ook die implikasies van die wet, uitgewerk en toegepas in verskillende lewensomstandig­hede.

Dit is moontlik om in Deuteronomium vier hoofsake te identifiseer wat sowel in die eerste tafel en ook net so weer in die tweede tafel van die wet na vore kom en waaromheen die wette van Deuteronomium skyn­baar georganiseer is. Soos volg:

HOOFSAKE

AANGAANDE GOD

AANGAANDE MENS

1. Gesag

1e gebod / Deuteronomium 6-11

5e gebod / Deuteronomium 16-18

2. Waardigheid

2e gebod / Deuteronomium 12

6e gebod / Deuteronomium 19-22
7e gebod / Deuteronomium 23
8e gebod / Deuteronomium 23-24

3. Getrouheid

3e gebod / Deuteronomium 13-14

9e gebod / Deuteronomium 24:8-6

4. Regte en Voorregte

4e gebod / Deuteronomium 14-16

10e gebod / Deuteronomium 24-26

Slotopmerking🔗

Die Bybel is God se verbondsboek waarin Hy sy salige verhouding met sy verlostes volledige beskrywe. Daarin neem die wet 'n sentrale plek in. Die hele Bybel is 'n uitleg wat God gee van sy eie wet. Daarmee belig Hy meer as die letter van die wet. Hy lê die gees van die wet bloot, die grondbeginsel/s waarop die wet berus.

Hy verkondig ook die wye implikasies van sy wet oor die volle spektrum van elke duimbreedte van ons totale lewe. Nie om ons tot kasuïstiese Fariseïsme te bring nie, maar om ons tot sy ewebeeld te vernuwe.

Boekrol

Neem ons die boek Deuteronomium in die hand, dan sien ons 'n 120-jarige oue dienskneg van die HERE wat volgens die Hebreër-briefskrywer (3:5) getrou was in die hele huis van Israel wat God vir Homself afgesonder en uitgekoop het. En noudat sy jare op aarde afgeloop het en hy moet gereed maak om te sterwe, kry hy die geleentheid om sy laaste woorde tot die kerk te rig.

Dit is sy sterfbedwoorde; dit is eintlik sy testament wat hy uitspreek. En oor die algemeen neem ons mense se laaste woorde voordat hulle sterf, besonder ernstig op.

Die vraag is nou: Wat is Moses se laaste wens, wat is sy laaste boodskap, ja veel dieper: wat is die laaste woorde wat die HERE hom laat spreek het tot die ver­bondsvolk wat op die punt staan om die beloofde land in besit te neem…?

Die hele toespraak trek saam in die ver­maning van ons teksverse: Hoofstuk 4:10b … om die HERE te vrees, al die dae wat ons op die aarde lewe en dit aan ons kinders te kan leer.