Bron: Die Kerkblad, 1990. 4 bladsye.

Die Afrikaanse Psalmberyming Geen Boek Soos Die Psalmboek

klavier met roos

Calvyn se woorde, "Daar is geen boek soos die Psalmboek nie", geld ook juis vir die Afrikaanse Psalmboek:

  • Dit is uniek in die wêreld,

  • dit is uitsonderlik in die Christen­dom,

  • dit kom uit die bodem van Afrika,

  • dit is uitstaande in die Gereformeer­de Kerke,

  • dit is opvallend in die geskiedenis van Psalmberymings.

'n Verkeerde Opvatting🔗

Ongelukkig is daar 'n wanopvatting wat daar onder ons mense en jammerlik genoeg — selfs onder teoloë en kerkleiers bestaan, naam­lik: Die Afrikaanse Psalmberyming is eers deur prof. J.D. du Toit (Totius) ná die voltooiing van die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933 gedoen. Die indruk bestaan dat hy die berymings vanuit die vertalings gedoen het. Dit is nie korrek nie. Trouens, alreeds 10 jaar vantevore (1923) het daar 'n Afrikaanse Psalmberyming verskyn. En die be­rymings is vanuit die oorspronklike Hebreeus gedoen!

Verder bestaan daar ook 'n ander verkeerde opvatting, naamlik dat Totius spesiaal van sy gewone werk losgemaak is en verlof ontvang het en spesiaal besoldig is om die Psalms in Afrikaans te berym. Dit is ook nie korrek nie.

Die Eerste Poging🔗

Die Kerkblad moet alle eer kry dat hy alreeds vanaf 1918 die eerste be­rymde Psalms van Totius in Afrikaans gepubliseer het. Telkens is die lesers met meer voorbeelde ver­ras. Dadelik het dit onder die kerkvolk begin inslaan en in die Gerefor­meerde Kerke het daar 'n entoesiasme gegroei.

Maar ook buite die Gereformeer­de Kerke het daar belangstelling ge­kom. Die Kerkblad is ook in Stellen­bosch gelees en op 22 Mei 1922 kom daar 'n brief van die bekende musi­kus F.W. Jannasch aan Totius waarin hy vra of hy die Psalms wat in Afrikaans berym is, musikaal kan toonset. Dit was alreeds byna twee jaar voordat daar amptelik met die Afrikaanse Bybelvertaling begin is.

Op hierdie vriendelike versoek het Totius dadelik ingewillig en toe stuur hy voor die einde van die jaar 36 berymde Psalms aan Jannasch. Vroeg in die volgende jaar (24 April 1923), kom daar in Die Burger in Kaapstad 'n aankondiging: die ver­skyning van "36 Psalme in Afri­kaans, berym deur Totius. Musiek bewerk deur F.W. Jannaseh. Die Nasionale Pers, Bpk., Kaapstad. Prys 6/6".

Dat die Psalms in ons eie moeder­taal gesing moet word, noem Totius in die Inleiding,

die besef wat by ons volk ontwaak het. Daarom is die oortuiging algemeen dat ons taal, ook op die terrein van Godsverering en erediens, nie later teruggedring mag word nie. Oor die noodsaaklik­heid van 'n Afrikaanse Psalmbery­ming sal ons dus geen woord meer verspil nie.

'n Ontsaglike Taak🔗

Reeds in hierdie eerste Afrikaanse Psalmbundel laat die digter dit deurskemer dat ons hier met 'n baie moeilike, delikate, swaar taak te doen het — selfs baie moeiliker as wanneer die digter sy eie kunswerke lewer. Selfs moeiliker as die werk van Bybelvertaling.

Totius maak ook gewag van die feit dat 'n Psalmberyming sterk deur die tydsgees beïnvloed kan word.

Alreeds in 1923 vertel hy in die eerste bundel dat,

ons veral gewaak het teen die vermenigvuldiging van Gods-name buite die Skrif om — iets waartoe die digter maklik verlei word — asook teen die verkondi­ging van 'n deugdeleer wat nie deur die Skrif self gewettig is nie — al­twee punte wat vir ons 'n refleks is van die tyd waarin die Psalmbery­ming ontstaan het.

Hy verwys hier na ouer Nederlandse Psalmberymings.

Totius

Uit die Kerkgeskiedenis ken ons hierdie beïnvloeding van die Psalm­berymings deur die tydsgees baie goed. Selfs van die Nederlandse Psalmberyming (1774) wat die Afri­kaanse kerke tot in 1936 gebruik het, kan aangetoon word dat "ook hier en daar die gees van die tyd die sin van die Skrif verduister het" (A. Janse: Van Dordt tot '34, Kampen. 1934, p. 41).

Hoe groot hierdie eerste Afrikaan­se Psalmbundel se invloed was en tot hoe 'n mate dit die kerkvolk wak­ker gemaak het, kan nie bereken word nie. Die belangstelling was al­reeds so groot dat daar enkele jare later (1926), 'n tweede bundel van 60 Afrikaanse Psalms deur Totius verskyn het en in 1930 staan die getal al­reeds op 86 en in 1933 op 110!

Die Langste Psalm Laaste🔗

In September 1933 — nog voordat die eerste Afri­kaanse Bybelvertaling ver­skyn het — is al die 150 Psalms voltooi. En die laaste een wat berym is, was Psalm 119, die langste met 63 berymde verse! Toe aan To­tius op 'n keer gevra is hoe­kom hy dan die langste vir die laaste gebêre het, was sy ant­woord:

Ek sou hierdie langste een al­leen kon aan­pak as ek nog moed oorgehou het nadat ek al die ander reeds klaar gemaak het.

Slegs in 'Verlore Oomblikke'🔗

In die Sinode van die Gereformeer­de Kerke in Suid-Afrika wat in Maart 1933 in Pretoria vergader het, word daar spesiaal van die feit dat prof. J.D. du Toit geen verloftyd vir die Psalmberyming gehad het nie, gemeld:

In aanmerking moet ge­neem word dat hierdie werk tot dusver gedoen is in oomblikke wat sy eerwaarde moes loswoeker.

Dit moes 'in verlore oomblikke' gedoen word. En hiervoor het Totius ook nie ekstra inkomste ontvang nie, be­halwe dat daar op 'n keer 'n baie klein 'bonus' aan hom gegee is (1924).

Prof. Du Toit het sy werk as Psalmberymer nooit op sy eie al­leen, sonder advies en samewerking van die Gereformeerde Kerke, ge­doen nie. Ook die NG Kerk en die Hervormde Kerk het belangstelling getoon.

Die Gereformeerde Kerke in SA se Inisiatief🔗

Op eg gereformeerde wyse het die eerste pogings om 'n nuwe Afri­kaanse Psalmberyming vir die ker­ke (gemeentes) daar te stel, nie van 'bo-af', van 'n sinode af, gekom nie, maar vanuit die boesem van die plaaslike kerke. Die Gereformeerde Kerk Bethulie het die voortou ge­neem.

Bethulie se Beskrywingspunt🔗

Teen 1919 was die saak oor die alge­meen reeds baie druk in die ge­meentes dwarsdeur die land onder die soeklig. En dit was veral die eerste Psalms wat deur Totius be­rym is en in Die Kerkblad gepubli­seer is, wat die belangstelling gaande gemaak het.

Die kerkraad van Bethulie het in 1920 die volgende beskrywingspunt via die Algemene Vergadering van die OVS na die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid­ Afrika te Colesberg deurgestuur:

Die eerwaarde Sinode neem in oorweging 'n Afrikaanse Psalmberyming met gepaste sangwysies vir kerklike gebruik.

Hiermee het die Gereformeerde Kerk Bethulie 'n vlam in die kerke aan die brand gesteek wat vandag nog brand — wyer en wyer en wyer…

Gereformeerde kerk Buthulie🔗

Die Sinode van 1920🔗

Op 24 September 1920 het die Gere­formeerde Kerke van Kaapland tot aan die Limpopo se afgevaardigdes ten suide van die Oranjerivier in die kerk van Colesberg vergader. Hier is die saak van 'n Afrikaanse Psalm­beryming baie druk bespreek. Ook aan die etenstafel en in hulle slaapkamers het die broeders aanhou­dend daaroor gesels. Dit kon ook nie anders nie, want is die Psalms dan nie juis by uitstek die kerkliedere vir die Gereformeerde Kerke nie?

Op Saterdagaand, 2 Oktober 1920, het die Sinode die volgende besluit geneem:

Die Sinode benoem 'n kommissie om hom te beywer vir 'n Afrikaanse Psalmberyming. Die kommissie sal trag om daarvoor 'n begaafde man of maniere te kry en die nodige mid­dele om die werk ten uitvoer te bring. As daartoe die dienste van een of ander professor in die Teolo­gie benodig word, dan laat die Sinode dit aan die Kuratore oor om te handel na bevind van sake sodat die belange van die Teologiese Skool nie sal skade ly nie.

Dat die sinodegangers alreeds op hierdie vroeë stadium vir prof. Du Toit in die oog gehad het, is baie dui­delik. Daar het dan ook 'n voorstel van die predikant van Waterberg (Nylstroom) gekom om aan prof. Du Toit 'meer geleentheid' vir so 'n onderneming te gee.

Die jaar 1920 kan dan beskou word as die amptelike, kerklike geboorte­jaar van die huidige Afrikaanse Psalmboek.

Totius in 1920 deur die Kerke as Digter Benoem🔗

Die kommissie wat in 1920 se Sinode vir die Afrikaanse Psalmberyming 'n daadwerklike opdrag gekry het, het nie gras onder hulle voete laat groei nie. Hulle het Totius dadelik genader. Sy gepubliseerde Psalms was toe alreeds so bekend, dat dit 'n algemene wens uit die kerke was dat hy die man vir die beryming is.

Met die volgende Sinode op Rus­tenburg in 1924, word gerapporteer:

Ons het prof. dr. J.D. du Toit genader met die beleefde versoek om die beryming van die Psalms te onderneem. Vir hierdie versoek het sy eerwaarde geredelik ingewillig.

Uit die rapport aan die Sinode blyk verder dat die verskyning van die eerste Afrikaanse bundel met 36 Psalms by Nasionale Pers in Kaap­stad in 1923, 'n direkte uitvloeisel van hierdie besluit was.

Op hierdie stadium het Totius al­reeds 50 Psalms voltooi — bykans een-derde van die totaal. Die Sinode was so onder die indruk van die deeglike gehalte en die 'verhewe manier', dat 'n klein 'bonus' aan die digter gegee is.

orrel🔗

Die Sinode van 1927🔗

In die jaar 1927 het Totius die ouder­dom van 50 bereik. Sy rypheid en er­varing as predikant, hoogleraar in teologie, kenner van die klassieke tale, Bybelvertaler, digter en een wat intiem onder die Afrikaanse volk geleef het, het hom seker die mees uitnemende Psalmberymer gemaak. Dit was 'n unieke gawe aan die Afrikaanse kerke. Selfs in die wêreld was sy toerusting buitenge­woon. Om dit bondig in verband met die Bybel en die Psalmboek te stel: Totius was die vertaler-digter. Hy was ook die digterlike vertaler.

Dit kon dan ook nie anders nie dat die Sinode van die Gereformeerde Kerke in SA wat in 1927 te Redders­burg vergader het, die doelstelling vir 'n finale, volledige Afrikaanse Psalmboek, kon beklink. En dit son­der dat daar aan Totius spesiale ver­lof of ekstra vergoeding gegee is.

In die geskiedenis van die Psalm­beryming is daar twee sake wat by die Sinode van 1927 (soms tussen die reëls) sterk na vore getree het: Dit is die saak van kopiereg en die baie mooi getuienis, dat daar 'n daadwerklike samewerking met die NG Kerk en die Hervormde Kerk tot stand gekom het.

Oor die samewerking met die an­der Afrikaanse kerke was daar groot vreugde; maar oor die saak van die kopiereg was daar vir die digter (sonder dat die publiek dit geweet het) groot stryd, vir hom as persoon selfs 'n pynlike stryd.