Bron: De Reformatie. 4 bladsye.

Die 'Amen' van die Gemeente

In die liturgie van die gemeente het ons ʼn sterk band met die kerk uit vroeëre tye. Ons dink hier aan die gemeenskaplike leer, die liturgiese formuliere, die Formuliergebede en die ou kerkliedere.

Maar die band met die verlede blyk ook duidelik in minder omvangryke dokumente. Wat ons hiermee bedoel, is die vaste terme en klein woordjies wat ons vandag gebruik en waarin ons ook die kerk van die eeue duidelik hoor spreek. Oor die grense van taal en tyd kom hulle na ons en laat ons iets beleef van die band wat die kerk oor al die eeue heen verbind in erediens aan God. Daarin praat die kerk met ons, en leer ons saampraat met die kerk van alle eeue. En mettertyd sal ons dit weer aan die volgende geslag leer.

Ons het naamlik in die kerk ʼn aantal Hebreeuse woorde, wat direk afkomstig is uit die erediens van die kerk van die Ou Verbond, ons eie gemaak. U ken die woorde goed: Halleluja, Hosanna, Amen. Ons kan ook dink aan Abba en Maranatha, Aramese woorde uit die oud-Christelike kerk (1 Korintiërs 16:22, vgl. ook Openbaring 22:20; Galasiërs 4:6 en Romeine 8:15). Die eienaardige van al hierdie woorde is dat hulle, blykbaar sonder moeite, die taalgrense kon oorsteek. Of die kerkgangers nou Grieks of Latyn of Afrikaans (ens.) praat – hierdie woorde word oor die hele wêreld gebruik.

Ons wil spesiaal let op die Hebreeuse woordjie ‘Amen’.

ʼn Mens kom dit al teë in die wetsbepaling van Numeri 5:22. Wanneer ʼn vrou verdink word van ontrou en deur haar man na die priester gebring word, moet die priester die vrou onder ʼn ‘eed van vervloeking’ stel. Dit is ‘n beroep op die vloek van Hom wat ‘die enigste Kenner van die hart’ is sodat Hy sal straf ingeval die verdenking sou blyk waarheid in te hou. Die priester het die eed uitgespreek, waarop die vrou moet sê: ‘Amen’. Daarmee bevind sy haar in die krag van die eed. Sy het daarmee erken dat die eed vir haar geldig is en dat sy haar lewe aan die regskrag daarvan onderwerp. Sy het as’t ware haar lewe vir die effek van die vloek oopgestel. Want die woordjie ‘Amen’ dui altyd op sekerheid, vastheid, regskrag, effektiewe geldingskrag. Dit is vergelykbaar met ons handtekening of met die eedsformule wat ons op ʼn vraag van ʼn regter of ander owerheidsamptenaar uitspreek.

Die verhaal van die vervloeking op die berg Ebal, waarvan Deuteronomium 27:11-26 ons vertel, is in dieselfde sfeer. Ons lees nie minder nie as twaalf keer: “ ... en die hele volk moet antwoord en sê: Amen”. Die volk plaas hulle onder die mag van die woorde van die vervloekinge, wat hulle een vir een as regskragtig erken. Dieselfde geld van die seremonie wat in Nehemia 5:13 vir ons beskrywe word. Ons kom ‘Amen’ ook teë as ʼn antwoord op ʼn opdrag of ʼn belofte. Benája, die seun van Jójada, het die belangrike saak van die troonopvolging van Dawid op hom geneem en hom vir die uitvoering daarvan verantwoordelik gestel toe hy sy antwoord op die opdrag inlui met “Amen!” (1 Konings 1:36). Die woorde van die profeet Jeremia waarvan ons in Jeremia 11:5 en 28:6 vertel word, is hiermee vergelykbaar.

Die woord ‘Amen’ funksioneer in al hierdie tekste as ʼn reaksie op wat deur iemand anders gesê is. Dit is nie die eie woord wat daarmee bekragtig word nie1, maar die woord van ʼn ánder, wat daarmee aanvaar en oorgeneem word.

Dit geld ook vir die mees feestelike gebruik van die woord, naamlik wanneer dit dien om in te stem en jou te vereenselwig met lof aan God, wat sopas deur ʼn ander uitgespreek is. ʼn Mooi voorbeeld hiervan is te vinde in 1 Kronieke 16:36: Asaf en sy broers sing ʼn psalm wat in lofprysing eindig “en die hele volk het gesê: Amen! en: Prys die HERE!”. So lees ons ook in Nehemia 8:7: “En Esra het die HERE, die grote God, geloof, en die hele volk het geantwoord: Amen, amen! met opheffing van hulle hande”. (Vgl. ook die slot van verskeie Psalms: Psalm 41:14; 72:19; 89:53; 106:48). Waar die lof van God voorgesing word, kan die Amen van die volk verwag word.

Die erediens van die Jode in die sinagoge het veral ook op hierdie punt aansluiting gevind by die Ou Testamentiese kultus wat in ons Bybel beskryf word. Die ‘Amen’ van die aanwesiges het dikwels in die sinagoge weerklink, in elke geval na elke lofprysing aan God en na elke seënspreuk tot die gemeente2. Ons tref dieselfde in die Nuwe Testament aan. Die apostel vra in 1 Korintiërs 14:16 aan die (Griekssprekende!) gemeente hoe, wanneer iemand in tongetaal die Here prys (letterlik ook: ‘ ʼn seën uitspreek’), iemand wat dit nie verstaan het nie instemming kan betuig en “amen sê op jou danksegging ... ?”. Die Amen was blykbaar dus gewoonte in die gemeente van Korinte. So kan ons die woord ook in 2 Korintiërs 1:20 verstaan waar die apostel herinner aan die gemeente se Amen tot eer van God, en dan daarvan sê dat dit net maar in Christus moontlik is. Deur daardie Amen word omgang met God beoefen en die verbond bevestig. Openbaring 5:12-14 is ʼn duidelike voorbeeld daarvan.

As ons die veelvuldige gebruik van die Amen in die Nuwe Testament wil verstaan, moet ons veral op hierdie lofprysende gebruik van die woord let. Omdat die instemmende ‘Amen’ van die gemeente altyd na die lofprysing verwag kan word, tref ons die woord so dikwels in dié verband in die Nuwe Testament aan 3. Ons dink aan Romeine 1:25; 9:5; 11:36; 16:27; Galasiërs 1:5; Efesiërs 3:21; Filippense 4:20; 1 Timoteus 1:17 6:16; 2 Timoteus 4:18; Hebreërs 13:21; 1 Petrus 4:11; 5:11; Judas 25; Openbaring 1:6; 7:12.

Ons kom ook die Amen-Halleluja teë (vgl. Psalm 106:48; Openbaring 19:4). So ook die Amen-Maranata (in Openbaring 22:20). In beide gevalle is dit die reaksie op wat God en sy Christus gedoen en aan ons toegesê het. Die bekende lofverheffing aan die slot van die Onse Vader (Matteus 6:13) is dieselfde. Die Amen slaan in die eerste plek dáárop terug.

Die oorspronklike sin van hierdie liturgiese woord is dus dié van ʼn antwoord, waarin die Amen-spreker van sy kant instem met die lofprysing wat hy hoor of met die seën waarmee hy toegespreek word. ‘Amen sê’ is altyd Amen sê ‘op iets’. Ewemin as wat ʼn handtekening bo-aan ʼn brief staan of onder aan ʼn leë brief aangebring word, kan die Amen sonder voorafgaande woorde in die liturgie funksioneer, want dan verwys dit na niks.

Wanneer ons oog kry vir hierdie oorspronklike bedoeling van die woord, sal dit vir ons ook duidelik word dat, langs die lang reis wat dié woordjie deur die kerkliturgië onderneem het – vanaf die dae van Numeri 5 tot die hede! – daar ʼn paar ongelukke gebeur het.

Ons het gegewens uit die eerste eeue van die Nuwe Testamentiese kerk waaruit die Amen van die gemeente as antwoord op die lofprysing aan God of die gebed tot God, oortuigend blyk. Wat dit betref, het lofprysing en gebed dikwels saamgeval, omdat menige gebed met lofprysing geëindig het. Dit was nie die voorganger wat die Amen uitspreek op die woorde wat hy sopas geuiter het nie – dit het weerklink, geheel in ooreenstemming met wat ons in die Bybel aantref, as antwoord van die versamelde gelowiges. Hironimus (ongeveer 350 tot 420 n.C.) het selfs gesê dat die Amen van die volk soos donder uit die hemel in die Romeinse basilikas weerklink het.

In latere eeue het hierdie gebruik stil geword. Die Amen is wel nog gehoor, maar nie uit die gemeente nie. Vóór in die kerk het één man gestaan wat die woord, nou en dan, sag uitgespreek het. Die een man was die priester.

Die ontwikkeling van die erediens het die gemeente haar Amen ontneem. Dit is een van die kwade gevolge van die hiërargie wat ’n paar eeue gelede in die hele kerklike lewe afgedwing is. Saam met die sang en die volkstaal is ook die Amen van die gemeente aan die onskriftuurlike sakramentalisme ‘opgeoffer’. ’n Mens kan byvoorbeeld ook dink aan die feit dat so ʼn sakramentalistiese misverstaan van die Nagmaal van die Here onder meer tot gevolg gehad het dat die mis opgedra is sonder dat ʼn enkele gemeentelid teenwoordig was.4Dit het ʼn kultiese kruk geword wat op gesette tye gebruik word. Die handeling as sodanig is belangriker geag as die samekoms van die volk van God. 5Die priester het dus al die verrigtinge oorgeneem wat vroeër as die wonderlike regte en verpligtinge van die gemeente beskou is.

Só het die gebruik ontstaan dat die voorganger self ‘Amen’ sê aan die slot van seënspreuke, lofprysings, gebede en prediking. In wese is die Amen daardeur van sy karakter beroof en eeuelank is die bedoeling daarvan van die gemeente weerhou. Ons kan met vrymoedigheid aanvaar dat tot vandag toe die oorgrote meerderheid van kerkgangers (ook gereformeerde kerkgangers) die Amen ervaar as ʼn plegtige, kerklike manier waarmee die voorganger die einde van sy gebed of prediking bekend maak. In der waarheid funksioneer dit dus as ʼn teken, ʼn kerklike variant van ‘Dankie vir u aandag’, wat ons soms aan die einde van ʼn spreekbeurt of redevoering hoor. In hierdie opsig het ons die deformasie van die liturgie kennelik nog nie te bowe gekom nie.

Die reformatore het op dié punt nie voldoende hulp verskaf nie. Hulle het wel die ‘preek in die volkstaal’ aan die gemeente terugbesorg, maar die Amen is nie – altans in baie plekke nie – tot sy vorige luister herstel nie 6.  Daar was tog goeie moontlikhede daarvoor, want in menige reformatoriese kategismus en die daarmee verbonde kategismus-prediking het ‘die woordjie Amen’ aan die einde van die behandeling van die Onse Vader, gereeld ter sprake gekom. Luther het reeds in 1519 die Onse Vader uitgelê en daarmee saam ʼn verklaring van die slot gegee. Hy het skerpsinnig ingesien dat die woord ‘Amen’ blykens sy herkoms verwant is aan ‘vir waar en seker hou’ en ‘beaam’, wat die kenmerk van alle geloof is. Maar hierdie, juiste, waarneming word dan verwerk sodat die woordjie ‘Amen’ ʼn uitdrukking word van die geloof waarmee ons bid. Ons gee dan daarmee uitdrukking aan die gelowige verwagting van verhoring waarmee, ooreenkomstig Jakobus 1:6 en 7, die twyfel uit ons hart geweer word.

Hiermee is natuurlik baie belangrike, en in 1519 ook uiters aktuele sake aan die orde gestel, maar intussen is die oorspronklike sin van die Amen nog nie herstel nie. Dit moet naamlik duidelik wees dat die woordjie allereers in verband met die lofverheffing (“want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid”) aan die slot van die Onse Vader verstaan moet word. Maar Luther bespreek juis nié die lofverheffing nie. Dit kan verklaar word deur die feit dat Luther die lofverheffing nie in die Roomse liturgie gevind het nie. Dit ontbreek daar (en in Roomse Bybelvertalings) tot vandag toe 7.

Ons kry dieselfde gedagtegang in Luther se Klein- en Groot Kategismus (1529). Die lofprysing ontbreek en die Amen dien as bekragtiging en karakterisering van die hele gebed, wat daarmee as ʼn ‘gebed in vaste geloof’ aan die gemeente voorgehou word.

Die uitleg van Calvyn is beter, vir sover hy wel aan die lofverheffing aandag skenk. Hy het beswaar teen die weglating daarvan in die Latynse Bybels. Die wins van Calvyn se uitleg is, dat volgens sy begrip, die sekerheid van die verhoring in hierdie lofverheffing vertolk word. Maar die antwoord-karakter word nog nie deur Calvyn aan die lig gebring nie 8.

Dit alles werp lig op die bekende uitleg van die Heidelbergse Kategismus in antwoord 129. Ons kan dankbaar wees vir hierdie uitleg, juis in verband met die uitleg van die doksologie wat in antwoord 128 uiteengesit is, terwyl die wens steeds bly dat die ‘woordjie amen’ tog allereers in sy antwoord-karakter aan die gemeente voorgestel word. Juis só sal die uitspreek daarvan nog sterker, en  die woorde van antwoord 129 nog dieper, gefundeer word 9.

Daar leef by ons hierdie grondige wens: laat die Amen tog nie op die preekstoel bly nie, maar gee die Amen aan die gemeente terug, by die lofprysing, by die gebed, by die seën, by die prediking 10. Dit sal die begrip by die gemeente van wat erediens is tot ʼn groot mate  versterk en die gemeente aktief maak by die toebring van die lof en verwagting wat aan die God van die verbond verskuldig is. Die gemeente mag sy stem hoor; en sy oor is oop vir haar Amen!

Endnotes🔗

  1. ^ Die woord word op hierdie manier net deur ons Here Christus gebruik, wat sy eie uitsprake dikwels begin deur te sê: ‘Amen, Amen’, ‘Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle ... ‘. Hy is die waarheid in eie persoon. Hy is die Amen (Openbaring 3:14).
  2. ^ Die drie seënspreuke van Numeri 6:24-26 word na elke reël met ʼn Amen deur die gemeente bevestig.
  3. ^ Dieselfde kan gesê word van die seënspreuke aan die slot van sommige briewe, vgl. Romeine 15:33, 16:24; Galasiërs 6:18.
  4. ^ Dit het die vertaler van hierdie artikel opgeval dat in verband met die mis net die werkwoorde ‘opdra’ of ‘gelees’ in geraadpleegde woordeboeke gevind is – nie, bv. ‘gevier’ nie.
  5. ^ Daarom staan daar in art. 35 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: “ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God ... “.  Dieselfde beginsel lê ten grondslag van artikel 64 van die gereformeerde kerkorde.
  6. ^ Charismatiese bewegings, wat hulle nie deur die geskiedenis laat leer het nie en daarom ewemin ʼn historiese ‘las’ dra, is op hierdie punt die reformatoriese kerke in Nederland voor. Hulle toon in ieder geval meer begrip vir die oorspronklike sin van die woord.
  7. ^ In verband met die ekumeniese gesprek (Rome-Reformasie) blyk dat die doksologie van die Onse Vader veld wen in die Roomse kerk; ook in die Missaal vir die kerkprovinsie Nederland kom dit op ʼn bepaalde manier na vore in die sge. Kommunie-gebed. (Vgl. Missaal voor zondagen en feesten, Jaar C. Haarlem 1970, 213.
  8. ^ Calvyn skryf dat ‘amen’ aan die einde toegevoeg word, waardeur die vurigheid uitgedruk word van ons verlange om te verkry wat ons van God afbid, én ons hoop dat al die dinge reeds verkry is en seker aan ons toegestaan sal word, omdat dit beloof is deur God, wat nie bedrieg nie. Dit is opvallend dat Calvyn by die uitleg van die doksologie wesenlik soortgelyke opmerkings maak in verband met die vertroue waarmee ons bid.
  9. ^ In die Schatboek van Ursinus lê alles vir ons gereed. In die uitgawe van 1763, Deel II op bl. 612 skryf hy dat “ ‘die woordjie’ toentertyd (nl. In die tyd van die apostel Paulus – C.T.) deur die gelowiges gebruik is sodat die vergadering van die gelowiges daardeur te kenne sou gee dat die gebed, deur een uitgespreek, deur almal saam gedeel is; want een van die dienaars spreek die gebed uit wat die vergadering in hulle gemoed en gedagte navolg totdat daar by die woordjie Amen gekom word – dan sê almal eendragtig saam Amen. Dit was die betekenis van die gebruik van die woordjie in die Ou en die Nuwe Testament. Wanneer ons dan ons gebed met die woordjie afsluit, moet ons weet dat die woordjie nie deel is van die gebed nie... “.
  10. ^ Ons sluit ons hierby, en trouens in die hele artikel, volledig aan by G. Van Rongen, Zijn schone dienst, Goes 1956, pp. 114-118, maar het tog genoodsaak gevoel om hierdie bydrae te skryf, omdat sekere dinge in verband met die liturgie skynbaar meer as een keer gesê moet word. Ook A. Kuyper, Onze eeredienst, Kampen 1911, pp. 335-338 wys op die verhewe vlak van die Amen, al eindig sy betoog nie met die wens wat ons hier uitspreek nie.