4 bladsye.

Die Artikel Waarby die Kerk Staan of Val

Dogma en kultuur🔗

‘Hoe vind ek ʼn genadige God?’ Dit was, soos u weet, die groot vraag van Maarten Luther. Hy het met sy sonde en sy skuld voor God geworstel. Hy het ontdek dat hy nie self in staat was om die sonde te oorwin nie en dat hy sy skuld net maar groter maak. Luther het homself die swaarste boetedoening opgelê, maar het nie daarmee voor God in die reine gekom nie. Hy het inteendeel ontdek dat hy daardeur ʼn hekel aan God gekry het, dié God wat sulke swaar gebooie oplê dat geen mens hulle kan gehoorsaam nie. Hierdie haat teenoor God was boonop ʼn nuwe sonde, by die reeds bestaande. So het sy skuld oneindig gegroei en die noodkreet van sy siel was: ‘Hoe vind ek ʼn genadige God?’

Wat ʼn wonder was dit nie toe Luther ʼn antwoord op sy vraag kry nie. Hy het vir die soveelste keer die brief aan die Romeine, hoofstuk 1:17 gelees: “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe”. Hy het die geregtigheid van God altyd gesien as straffende geregtigheid. Maar toe hy geleer het om die geregtigheid van God as verlossende geregtigheid te sien, het sy oë oopgegaan. God maak ons regverdig deur die geloof in Jesus Christus. God vergeef ons genadiglik ons skuld omdat Jesus aan die kruis vir ons gesterf het. Daar is regverdiging, vryspraak van die sonde, deur die geloof alleen, uit genade alleen, in die naam van Jesus Christus alleen. Só vind ek ʼn genadige God.

Wanneer Luther later dié ontdekking beskryf, sê hy: ‘Toe voel ek heeltemal wedergebore; die poorte het vir my oopgegaan, ek het die paradys self betree’. So geweldig was dit vir hom dat hy ‘die paradys betree’ want hy het die vriendelike aangesig van God gesien; die genade van God deur Jesus Christus. Hy weet hy was vry van sonde en skuld deur die bloed van Jesus. Dít was die evangelie wat hy voortaan sou preek. Só word Luther hervormer van die kerk.

Die leer van die regverdigmaking deur geloof alleen is dan ook vir hom die hart van die Christelike leer: ‘Die artikel van die regverdiging is meester, vors, heer, leier en regter oor alle ander soorte leer; dit bevat en regeer iedere kerklike leer’. Van alle geloofswaarhede word dit die meeste deur dwaling bedreig. Die duiwel rig sy aanvalle daarop.

Alles draai om hierdie leer van die regverdigmaking, die ‘artikel’ van die regverdiging, soos Luther dit noem. As hierdie artikel staan, staan die kerk; as hierdie artikel ondergaan, gaan die kerk onder. Die leer van die regverdigmaking is die artikel waarby die kerk staan of val. (Hoewel inhoudelik van Luther, word hierdie uitdrukking as sodanig eers in 1712 deur die Lutherse teoloog, Löscher, gebruik).

‘Hoe vind ek ʼn genadige God?’ Is dit ook die groot vraag van u lewe? Worstel u met u skuld voor God? Is die leer van die regverdigmaking deur die geloof vir u die poort na die paradys? Is dit vir ons nog die artikel waarby die kerk staan of val? Draai alles nog hierom? Of hou ander vrae ons vandag besig, soos die vraag na die ervaring van God: waar is God in my lewe? Is Hy wel daar? Of die vraag na die sin van die lewe: wat is die betekenis van my bestaan? Wat is dit alles werd? Of die vraag na die sin van lyding: waarom gebeur daar sulke verskriklike dinge in die wêreld? Hoe kan God dit doen? Is dit nie die vrae van ons tyd, die vrae van u en my, waarop ons in die leer van die regverdigmaking oënskynlik geen antwoorde kry nie? Is dié leer werklik nog die artikel waarby die kerk staan of val?

Inderdaad hoor ons teenswoordig baie dikwels: ons lewe in ʼn gans ander tyd as Luther. Ander vrae en antwoorde geld vir ons. Nie meer die skuldvraag nie, maar die sinvraag. Nie meer die vraag: ‘Hoe vind ek ʼn genadige God?’ nie, maar: wat is die sin van alles? Nie meer die antwoord van die regverdiging ‘God vergeef jou sondes om Jesus ontwil’ nie, maar die antwoord van die singewing ‘Jy is vir God baie belangrik’. Die leer van die regverdiging is dus nie meer die artikel waarby die kerk staan of val nie. Ons hoor dit van alle kante.

Vrae in verband met verandering in kultuur is vir die leer van die kerk belangrik. Is die leer van die kerk tydloos, of verander dit saam met die kultuur? Kan ʼn dogma, ʼn leerstuk verouderd raak omdat die tye verander? Moet ons vandag ander antwoorde gee omdat daar ander vrae is? Is daar vandag ander artikels waarby die kerk staan of val?

Nie ʼn tydlose dogma🔗

Laat my begin met die stelling dat veranderings in kultuur wel deeglik van groot belang vir die leer van die kerk is. Die leer van die kerk is nie ʼn tydlose grootheid nie. Dit was nooit so. Augustinus moes hom met ander dinge besig hou as Athanasius; Luther met ander dinge as Augustinus, ens. Daarom is daar ook nie tydlose leerstukke nie. Die Institusie van Calvyn is anders as die Gereformeerde Dogmatiek van Bavinck en die Beknopte Gereformeerde Dogmatiek van die Apeldoornse hoogleraars Van Genderen en Velema is weer anders. ʼn Tydlose dogmatiek sou ʼn slegte dogmatiek wees.

Jy moet steeds besig wees met jou eie tyd: met die dwalings van die tyd en met die vrae wat in hierdie tyd gestel word. ʼn Mens sien in die boeke wat eeue terugdateer dat hulle op hulle eie tyd betrekking het: Die Stad van God van Augustinus; die Institusie van Calvyn; die Gereformeerde Dogmatiek van Bavinck. Hoe meer tydloos dogmatiek is, hoe gouer word dit vergeet.

Dit is ook van belang vir die leer van regverdigmaking deur die geloof soos dit deur Luther ontdek is. Luther het daarmee midde in sy tyd en die vrae van sy tyd gestaan. Dié vrae draai almal om hoe jy van straf op sonde verlos kan word; hoe jy ʼn genadige God kan vind. Kyk maar na skilderye soos dié van Jeroen Bosch wat in daardie tyd geleef het. Die verskrikkings wat jy in die hel te wagte kan wees, word in skrille kleure afgebeeld. Dit is die angs van die tyd. Hoe kan jy aan die straf ontkom? Die Roomse kerk het die antwoord gegee met die leer van die bieg. As jy maar eerlik oor jou sonde bieg, opregte berou het en doen wat die biegvader jou oplê, dan kry jy vergewing. Bowendien kon jy ook aflaat koop waarmee jy vir jouself of gestorwe geliefdes die straf kon betaal. Luther het ontdek dat die Roomse antwoorde die mense ʼn rat voor die oë gedraai het. Hoe kan ʼn biegvader jou sonde vergewe? Dit gaan daarom dat God dit doen. Hoe kan jy met geld vergewing koop? Dit gaan tog nie oor ʼn saaklike skuld nie. Jy staan voor God met persoonlike skuld belaai.

Dit was die vrae waarmee Luther geworstel het; vrae van sy tyd. Hierop vind hy in die evangelie die antwoord van regverdiging deur geloof alleen. Vraag en antwoord was nie tydloos nie, maar het op hulle tyd betrekking gehad. Daarom het die boodskap van Luther dan ook so groot aanklank gevind. Ek dink dat dit vandag vir ons beteken dat ons ons nie van die vrae van ons tyd mag distansieer nie. Dit geld ook vir die dogmatiek. Jy kan nie sê: ‘die skuldvraag, die vraag na ʼn genadige God, en al die ander vrae na die bestaan van God en na die sin van die lewe, is verkeerde vrae, daarop antwoord ek nie’. Nee, God gee ons in hierdie tyd ʼn plek met die boodskap van die evangelie. Mense in ons tyd, net soos die mense in die tyd van Luther, het aanvegtinge, maar die aanvegtinge het nou ʼn ander karakter. Ons moet werklik daarvoor sorg dra. Ons moet ingaan op die vrae van hierdie tyd. Ons moet ontdek dat dit ook die vrae is wat in ons eie hart lewe. Ons moet by ʼn oop Bybel na die antwoorde soek.

Dit beteken dat jy nie die leer van regverdiging deur die geloof vooraf kan vasstel as die een artikel waarby die kerk staan of val nie. Daar mag in ons tyd ʼn ander klem wees: die leer oor die Bybel as die Woord van God; die leer oor die skepping; die leer oor die koninkryk van God; die leer oor die kerk – net soos in die verlede ander aksente gelê is. Wat was vir Athanasius die leer waarby die kerk gestaan of geval het? Dat Jesus Christus, die Seun van God, een van wese met die Vader is. Wat was in die tyd van die sinode van Dordt die leer waarby die kerk gestaan of geval het? Dat God ons van ewigheid uitverkies het uit sy vrye wil alleen, nie omdat ons dit verdien het nie. So kan mens aangaan. Die artikel waarmee die kerk staan of val, is kennelik nie ʼn onveranderlike, tydlose grootheid nie.

Kortom, daar is ʼn verhouding tussen dogma en kultuur. Die verhouding is onmiskenbaar en jy moet daarmee rekening hou. Ek self het dogmatiek vroeër gedefinieer as ʼn sistematiese uiteensetting van die Christelike leer. Teenswoordig, jare later, sê ek eerder: dogmatiek gee ʼn sistematiese en aktuele behandeling van die Christelike leer. Daarmee wil ek reg laat geskied daaraan dat ons besig-wees met die leer op ons eie tyd betrekking moet hê.

Dit is die een kant van die saak. Verandering in kultuur is wel deeglik van belang vir die leer van die kerk. Jy hoef dus nie dadelik skuldig te voel as Luther se vraag na ʼn genadige God nie heeltemal jóú vraag is nie. Luther se vraag is nie die norm waaraan ons vrae moet voldoen nie. Ons is geroep om in óns tyd met die evangelie besig te wees en die vrae van ons tyd te deurdink.

Nie ʼn tydgebonde dogma🔗

Daar is egter ook ʼn ander kant van die saak. Hoeseer daar ook ʼn verhouding tussen dogma en kultuur is, wil dit nie sê dat die dogma tyd- en kultuurgebonde is nie.

In die dogma, die leer van die kerk, bely ons die evangelie van alle tye, plekke en kulture. Dit is, sê die Bybel, ʼn ewige evangelie (Openbaring 14:6). Dié evangelie het tot ons gekom in die Heilige Skrif, waaraan ons dogma en dogmatiek altyd getoets moet word.

Hoe was dit met Luther? Hy is gedryf deur die vrae van sy tyd. Hy het die angste van sy tyd ervaar. Waar soek hy die antwoord op die vrae en die bevryding van die angste? In sy Bybel! Jarelank was Luther intensief besig met die uitleg van die Psalms en die brief aan die Romeine. Só het die lig vir hom opgegaan, en die poorte van die paradys vir hom oopgegaan. Mens kan baie van Luther, en sy ontwikkeling, uit sy tyd verklaar, maar die evangelie wat hy ontdek en gepreek het, gaan ver bo sy tyd uit. Dit is dieselfde evangelie van ons Here Jesus Christus wat vandag nog die verlossing van ons lewe is.

Dit moet ons besef, juis as ons midde in ons eie tyd wil staan. Ons hoor die vrae van die tyd. Dit is ook die vrae wat in ons eie hart opkom. Maar die vrae mag nie die laaste woord hê nie. Die laaste woord behoort altyd aan die evangelie. Ek het vroeër gesê dat teenswoordig gesê word dat dit nie meer oor die skuldvraag gaan nie, maar oor die sinvraag. Ons het gesien dat ons inderdaad nie die sinvraag kan vermy nie. Dit wil ewewel nie sê dat ons by die sinvraag moet bly staan nie. Die vraag na die sin van die lewe of na die waarom van die lyding kan heeltemal die verkeerde vraag wees. Dit kan ʼn vraag wees waarby die mens homself in die middelpunt stel: dit gaan daarom dat my lewe betekenis moet hê. Ek wil van die sinneloosheid bevry word. Die sinvraag kan ewe maklik ʼn beskuldiging aan die adres van God word: waarom laat God ons in so ʼn sinnelose wêreld lewe? Hoe durf God ons soveel leed aandoen? So word God deesdae al te dikwels tot verantwoording geroep.

Mag dit? Kán dit? Mag ons onsself so in die middelpunt stel en God aankla? Gewis nie! Nie God staan skuldig nie – óns staan skuldig. Ons kry nie antwoord op die sinvrae as ons nie leer om ons skuld raak te sien nie. Waarom is die skepping aan die vrugteloosheid, die sinloosheid onderworpe (Romeine 8:20)? Omdat ons, mense, téén God gekies het, van Hom afvallig geword het. Toe het die dood in die wêreld gekom – die dood wat alles sinneloos maak. Toe het die lyding in die wêreld gekom. Dit is alles die gevolg van óns sonde. God het die wêreld goed gemaak, baie goed. Dit is die refrein van die skeppingsgeskiedenis: “God het gesien dat dit goed was ... baie goed” (Genesis 1). Maar deur ons het die kwaad gekom. Deur ons het die sinneloosheid gekom. Daarom kan jy nie die sinvraag teen die skuldvraag afspeel nie. Ons kan ons skuld nie vermy nie.

Maar God sy dank, daar is verlossing van die skuld deur ons Here Jesus Christus. Hy het Homself gegee tot ʼn volkome versoening van al ons sonde. Deur die geloof deel ons daarin. Ons word deur die bloed van Jesus gereinig van ons sonde. So kry ons lewe weer betekenis. Ons is kinders van God. Ons word geroep en geheilig tot die diens van God. Ons word bevry van angs en dood. Ons weet dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat geopenbaar sal word nie. Ons weet dat selfs die hele skepping bevry sal word: bevry van die slawerny van verganklikheid; tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God (Romeine 8:18, 21). Deur die verlossing van ons skuld kry my lewe en die lewe van die hele wêreld, weer sin. Deur die verlossing van my skuld word ek midde in hierdie wêreld geplaas, om hier, sinvol, God te dien in die verwagting van die komende koninkryk van God – dié ryk waarin die sin van alle dinge onthul sal word.

Dit is dieselfde evangelie wat Luther ontdek het: alleen deur die bloed van Jesus is daar verlossing. Die is die evangelie waarvoor Athanasius in die gryse verlede gestry het: ons kan van die dood bevry word alleen deur God self in sy Seun Jesus Christus. Dit is die evangelie wat ook in hierdie eeu nog die laaste antwoord op al ons vrae is.

Die vrae mog verander het – die evangelie het dieselfde gebly. Ons sal dit in hierdie tyd onder woorde moet bring en bely. Daarom kan ons nie ʼn tydlose dogmatiek toelaat nie, maar die ewige evangelie van ons Here Jesus Christus. As ons op die vrae van ons tyd wil ingaan, moet ons daaraan vashou. Met hierdie evangelie staan of val die kerk, vandag nog. Ons sluit met ʼn woord van Luther af: ‘Die ware skat van die kerk is die allerheiligste evangelie van die heerlikheid en die genade van God’.