Die Bekerteken by die Nagmaal
Die Bekerteken by die Nagmaal
Die vier instellingsberigte van die Nagmaal (Mattheus 26:26-29, Markus 14:22-25, Lukas 22:15-20 en 1 Korinthiërs 11:24-26) vertoon ten opsigte van die beker 'n opvallende verskil. Coetzee (1990 – in Koers) vestig die aandag daarop dat Jesus volgens Mattheus en Markus die bekerteken verklaar as:
Hierdie is my bloed van die verbond", terwyl Lukas en Paulus sy woorde aangee as: "Hierdie beker is die nuwe verbond in my bloed.
Twee Bewoordings⤒🔗
Die twee bewoordings bevat geen wesenlike verskil nie maar bied tog twee verskillende beklemtoninge:
-
Die eerste stel die betekende saak as "die bloed van Christus"; die tweede stel die betekende saak as die "nuwe verbond".
-
Die eerste is nie presies ten opsigte van die teken self nie. Jesus sê: "Hierdie (toutou in die Grieks) is my bloed…" Die tweede stel uitdruklik dat die beker die teken is. Jesus sê: "Hierdie beker is die nuwe verbond…"
Beker of Wyn?←⤒🔗
By die eerste bewoording (van Mattheus en Markus) word na die teken verwys bloot as "hierdie". Grammaties gesproke verwys "hierdie" na die beker. Logies gesproke is dit oop vir interpretasie waarna "hierdie" verwys – na die beker, of na die inhoud van die beker of na beide. Omdat die betekende saak "bloed" is, sou daaruit afgelei kon word dat die teken ook 'n vloeistof moet wees – in hierdie geval: wyn.
Beker is Teken←⤒🔗
Die tweede bewoording laat geen twyfel nie. Jesus sê uitdruklik: hierdie "beker" is die teken. Sommige verklaarders is van mening dat die "beker" bloot as plaasvervangende woord (metononia) gebruik word wat eintlik na die "wyn" verwys.
Die verklaring van die beker as slegs 'n plaasvervangende woord is egter problematies om die volgende redes:
-
Daar is geen aanduiding uit die teks of konteks dat die beker as blote plaasvervanging vir wyn beskou moet word nie. Om na 1 Korinthiërs 10:21, 11:26, 27, 28 te verwys om aan te toon dat "drink van die beker" elders in die Skrif ook as plaasvervangende verwysing na wyn gebruik word, oortuig nie;
-
omdat die tekste in 1 Korinthiërs 11 juis uit Paulus se weergawe van die instelling van die Nagmaal kom en 1 Korinthiërs 10:21 sy betekenis juis aan die instellingswoorde van die Nagmaal ontleen, en nie andersom nie.
Die genoemde verklaring sien wel raak dat Jesus by die instelling van die Nagmaal van plaasvervangende woorde gebruik maak, maar sien nie raak waarin dit werklik geleë is nie. Die werklike plaasvervanging is geleë in die sakrament self: die brood dien as plaasvervangende verwysing na die liggaam van Jesus Christus; die beker wyn as plaasvervangende verwysing na die bloed van Christus.
Openbaringhistories←⤒🔗
Die verklaring van "beker" as blote plaasvervanging vir "wyn" hou nie met die besondere openbaringshistoriese betekenis van "beker" in die Skrif rekening nie. In Mattheus 20:22 vra Jesus vir sy dissipels:
Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink?
en in Mattheus 26:39 bid Hy in Getsemane dat "hierdie beker" by Hom mag verbygaan. In beide gevalle is die "beker" 'n besondere simbool wat verwys na die toorn van God wat Christus ten volle aan die kruis sou dra. Dat die "beker" na die oordeel van God oor die sonde verwys, word gerugsteun deur die "beker van grimmigheid" waarvan ons in Jesaja 51:17 lees (vgl. ook Jeremia 25:15, Psalm 75:9, Habakuk 2:16, Openbaring 14:10, 16:19, 18:6).
Oor die algemeen word "beker" in die Ou Testament gebruik as 'n verwysing na die lotsbeskikking van God se bondeling bv. Psalm 16:5, 116:13. Indien die beker as blote plaasvervangende verwysing vir wyn beskou word, word die ryke openbaringsinhoud wat die Skrif self daaraan verleen, verbygegaan.
Beker Wyn←⤒🔗
Deur die beker as plaasvervangende verwysing vir wyn te gebruik, maak genoemde verklaarders 'n ontoelaatbare skeiding tussen die beker en die inhoud daarvan (die wyn). Veel eerder moet ons "hierdie beker" as sinekdogee beskou, dit wil sê as die deel wat benoem word in verwysing na die geheel. Spesifiek die woord "beker" word gebruik, maar daarmee word nie 'n blote leë beker bedoel nie: dit gaan om 'n beker met dit wat daarin is – dus 'n beker wyn. Dat Jesus die beker as sinekdogee vir "beker wyn" gebruik, word bevestig deur sy woorde in 1 Korinthiërs 11:26:
So dikwels as julle die beker drink.
Verder hou so 'n verklaring nie rekening daarmee nie dat die instellingsberigte konsekwent naas die brood slegs na die "beker" verwys. "Wyn" word nêrens eksplisiet vermeld nie en is net by implikasie aanwesig. Die implikasie geskied dan deur die sinekdogeïse gebruik van die woord "beker".
Coetzee skryf hieroor: "Die eksegetiese implikasie hiervan is dat die beker klaarblyklik baie sterk op die voorgrond staan – skynbaar selfs sterker as die wyn (inhoud daarvan)."
Geen Leë Beker←⤒🔗
Die sinekdogeïese gebruik van "beker", dit wil sê as verwysing na "beker met wyn", bring die volgende belangrike oorwegings na vore: Die beker en wyn is onafskeidbaar: Jesus gee nie 'n leë beker aan sy dissipels nie; ook gee Hy nie somaar net wyn vir hulle nie. Hy gee dit uitdruklik in 'n "beker". Beker en wyn by die Nagmaal kan nie van mekaar geskei word nie – die een kan nie sonder die ander nie.
Die beker wyn dien as plaasvervangende verwysing, dit wil sê as teken van die bloed van Christus wat as offer van die nuwe verbond vir ons gegee is. Ook die betekende saak is 'n onafskeibare eenheid: die "bloed van Christus" en "die nuwe verbond" kan nie van mekaar geskei word nie. Die eenheid tussen die bloed en die nuwe verbond word deur verskeie verklaarders bevestig.
Nuwe Verbond←⤒🔗
Te midde van die onafskeidbaarheid van bloed en verbond, laat val die twee bewoordings van die Nagmaalsinstelling die klem verskillend: Mattheus en Markus laat val die klem op die bloed van Christus ("Dit is my bloed, die bloed van die nuwe verbond"). Lukas en Paulus laat val die klem op die nuwe verbond: "Hierdie beker is die nuwe verbond in my bloed". Dit is opvallend dat, waar die klem op die nuwe verbond val, spesifiek van die beker melding gemaak word.
Hieruit is dit duidelik: Die beker by die Nagmaal stel die bloed van Christus direk in verband met die nuwe verbond. Die beker (= beker wyn) is dus in besonder verwysend (metanomia vir) die nuwe verbond in die bloed van Christus. Dit beteken dat daar 'n duidelike punt van ooreenkoms tussen beker en nuwe verbond moet bestaan.
Fokus op die Nuwe Verbond←⤒🔗
Lukas en Paulus berig dat Jesus; toe Hy die beker uitgedeel het, gesê het: "Hierdie beker is die nuwe verbond". Wat die inhoud van hierdie nuwe verbond is, word nie gesê nie. Jesus kwalifiseer dit egter met die woorde "in my bloed". Volgens Lukas voeg Hy daaraan toe "wat vir julle uitgegiet word".
Belangrik is dat die Nagmaal 'n maaltyd is van die verbond, die nuwe verbond, vervul in die bloed van Christus wat vir ons uitgegiet is.
By beide die Nagmaal en die Pasga is die verbond op die voorgrond. Watter verbond? Dit kan tog niks anders wees as die genadeverbond wat God met Abraham gesluit het nie (Genesis 15:18), want dit is 'n ewige verbond (Genesis 17:7). Maar tog het die verbond nie so gebly nie. Vir die verbondsvolk van die Ou testament het die verbond sy beslag gekry by die Sinaïtiese wetgewing; in die Nuwe Testament het God sy verbond nuut gemaak in Christus. Coetzee toon aan dat die nuwe verbond in die plek van die Sinaïtiese wetsverbond is en 'n nuutmaking van die genadeverbond met Abraham. Daarom: die Pasga was die maaltyd van die ou verbond, die Nagmaal die maaltyd van die nuwe verbond.
Bloed←⤒🔗
Die byvoeging "in my bloed" wys op die wyse waarop die ou verbond nuut gemaak is. By die ou verbond het bloed 'n belangrike plek ingeneem (Genesis 15:9-21, 17:11, 23, Eksodus 4:25, 26). Hieruit sou dan volg dat ook by die nuutmaking van die verbond bloed sou vloei – die offerbloed van Christus aan die kruis. Die beloftes van die ou verbond het dus met Christus se kruisdood in vervulling gegaan, en so het die ou verbond nuut geword – nuut, nie omdat dit die ou verbond vervang nie, maar nuut in die sin dat dit wat voorheen as beloftes en by wyse van voorafskaduwing gegee is, in die bloed van Christus vervul is en werklikheid geword het.
Drink Almal←⤒🔗
Teen hierdie agtergrond moet die onderskeie vormgewings van Mattheus/Markus en Lukas/Korinthiërs verstaan word. Die beker en die inhoud van die beker is dus nie net in praktyk nie maar ook as Nagmaalsteken onafskeidbaar aan mekaar verbonde, net soos die nuwe verbond en Christus se bloedstorting aan die kruis onafskeidbaar aan mekaar verbonde is. Die eintlike teken van die Nagmaal is nie soseer in die wyn geleë nie, ook nie in die beker nie – maar in die aktiwiteit om gemeenskaplik uit die beker te drink.
Diskontinuïteit←⤒🔗
Die beker teken dus die nuwe verbond af, soos by wyse van Skrif-met-Skrif-vergelyking blyk. Uit Jeremia 31:32 lees ons dat die nuwe verbond wat die Here gee "nie soos die verbond wat Ek met julle vaders gesluit het op die dag toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het" sal wees nie. Dus is die nuwe verbond ten diepste 'n nuutmaking van die verbond met Abraham. In 2 Korinthiërs 3:6 stel Paulus dat hy deur God bekwaam gemaak is as dienaar van 'n nuwe verbond. Hy beskryf dan die nuwe verbond as "nie van die letter nie, maar van die gees". Die "letter" verwys na die wet van die ou verbond. Die evangelie van Christus is dus die "gees" van die wet, wat lewend maak. Die evangelie is die nuwe verbond in Christus waarna die ou verbond verwys. In Hebreërs 9:15 word na die gekruisigde Christus verwys as die "Middelaar van die nuwe verbond". Juis in die offerbloed lê die kontinuïteit van die ou en die nuwe verbond.
Maar daar is ook 'n diskontinuïteit wat daarin bestaan dat daar in die ou verbond baie en herhaalde offers gebring is, wat in die nuwe verbond in vervulling gegaan het in die een offer van Christus om ons sondes finaal weg te neem. Wesentlik aan die nuwe verbond is dan juis dat op grond van die een bloedstorting van Christus die sondes van baie weggeneem is. Hierdie wesentlike aspek van die verbond is by die instelling van die Nagmaal beteken deur die beker, waarby die wyn die bloed aandui, en dieselfde beker waaruit al die dissipels gedrink het, die een offer vir die verlossing van baie aangedui het.
Die beker wyn by die Nagmaal is dus die teken van die bloed van Christus wat aan die kruis as offer van die nuwe verbond vir ons sondes gestort is:
-
die wyn as teken van die bloed van die verbond
-
die gemeenskaplike beker as teken van die nuwe verbond self, nl. die een offer wat die sondes van baie wegneem.