3 bladsye.

Die Blywende Betekenis van die Bybel

Sekere produkte wat ’n mens in die winkel koop, het ’n vervaldatum. As daardie datum verstreke is, is die betrokke produk onbruikbaar en is dit beter om dit in die asblik te gooi. Is dit miskien met die Bybel ook so? Is dit in die 21ste eeu nog sinvol om hierdie geskrifte uit ’n verre verlede te lees? Is die Bybel se vervaldatum nie lankal verstreke nie?

Mense wat dit beweer, gebruik dikwels die argument dat die Bybel in ’n ander tyd ontstaan het. Hulle sê dat die Bybel ’n kultuurgebonde boek van vroeër tye is. Is dit reg? Hoe moet ons die Bybel lees?

Die gedagte dat die Bybel ’n tydgebonde produk van vroeëre generasies is, word deesdae algemeen aanvaar. Baie mense wat vandag die Bybel lees, verwag derhalwe dat die Bybel geloofsuitsprake bevat wat as verouderd beskou moet word. Wat die Bybel sê, kan in ons tyd nie meer as gesagvolle woorde gehandhaaf word nie, meen hulle.

Tog wil die Bybel self op amper elke bladsy duidelik bo die tyd van die Bybelskrywers uitstyg. Die Bybel wil ’n boodskap uitdra wat betekenis het tot aan die einde van die tye toe. Die lae verwagting wat die moderne leser van die Bybel het, pas daarom nie by die hoë aansprake wat die Bybel self maak nie.

Hoekom is dit vir mense moeilik om blywende betekenis aan die Skrifte toe te ken? Omdat juis by die lees van die Bybel die vreemde stelling gemaak word dat tekste uit ’n vroeëre tyd vanselfsprekend tydgebonde is en ’n verminderde waarde het. Hierdie stelling behoort egter bevraagteken te word en is beslis nie algemeen toepaslik nie. Geskrifte van Plato, Confucius of Karl Marx word gewoonlik nie so gelees nie. Die normale prosedure is juis dat ons eers die geskrifte self laat spreek en dat ons dan ondersoek of die betrokke tekste bo hul eie tyd wil uitstyg of nie. Daarby word dit as vanselfsprekend aanvaar dat daar sekere mense is wat deur die grootheid van hul denke ’n betekenis het wat ver bo hul eie tyd uitstyg, ook al vind ’n mens in hulle geskrifte die spore van hulle tyd.

Hoekom sou ons nou by die lesing van die Bybel skielik moed verloor? Ons weet tog dat die Here Jesus homself nie beperk het tot sielsorg aan sy tydgenote nie, maar dat Hy baie dinge gesê en gedoen het wat ’n algemene en blywende betekenis vir alle tye wou hê. Dit is die rede dat sy woorde en dade vir baie Christene vandag nog steeds rigtinggewend is. ’n Ongelowige persoon kan, na evaluering van Jesus se woorde en dade, sê dat dit vir hom niks beteken nie. Hy kan vir homself die betekenis van Jesus se boodskap as ‘uitgediend’ bestempel. Dit sou egter onwetenskaplik wees om so ’n waarde-oordeel oor die inhoud van die teks as ’n hermeneutiese vertrekpunt te neem. Die inhoud van ’n boek is nie noodwendig verouderd bloot omdat dit ’n ou boek is nie.

Dit is ongetwyfeld so dat ons in die Bybel baie dinge raakloop wat kenmerkend is vir die tyd waarin die Bybel ontstaan het. ’n Voor die handliggende voorbeeld is die tale wat gebruik is. Daar kan meer genoem word: dinge wat in verband staan met die daaglikse lewe in daardie tyd, met die ou geskiedenis, en met die kultuur en ander religies van daardie dae. Die Bybel is nie ’n tydlose boek wat van die taal en die tyd van ontstaan losgemaak kan word nie.

Juis daarom het die Bybelleser hulp nodig. Hy ken nie meer die taal en tyd van die Bybel nie. Hy sukkel soms omdat hy die agtergrond van die teks nie meer so goed ken nie. Dit beteken nou ook weer nie dat die betekenis slegs ontsluit kan word deur hulpwetenskappe soos argeologie, taalwetenskap, en geskiedenis van lande en kulture nie. Dit beteken net dat ons hierdie hulp nodig het as ons die beeld goed in fokus wil kry. As ons hierdie kennis nie het nie, kan die beeld vaag word en kan daar misverstande ontstaan. In die Westerse kultuur het ons ’n hele skatkis vol agtergrond-inligting oor die Bybel tot ons beskikking; vir ’n sendinggemeente in Afrika is die situasie anders. Hierdie verskille is slegs relatief. Maar as ’n mens die hulpwetenskappe verwaarloos, is die gevolg wel dat jy verantwoordelik is as die beeld vaag en onduidelik word.

Hoe waardevol hierdie hulpwetenskappe ook al is, dit kan nooit gebruik word om die Bybelse teks as ’n ‘produk van die ou dae’ te bestempel nie. Dit moet eerder dien om aan die tekste hulle kleur te gee as tekste wat ín daardie tyd gespreek is.

Daar is nog iets wat in hierdie verband belangrik is. Die dele van die Bybel het nie net in verskillende tye ontstaan nie, maar hulle het ook hul eie historiese konteks en hulle vorm deel van ’n voortgaande openbaringsgeskiedenis. Hierdie openbaringsgeskiedenis (‘historia revelationis’) vorm die mees nabye historiese konteks vir die verskillende dele van die Bybel. Dinge wat in die Duitse geskiedenis gebeur het, moet teen die agtergrond van die Europese geskiedenis verstaan word, maar tog in die eerste plek binne die historiese raamwerk van Duitsland self. Die Bybelse tekste moet wel in die raamwerk van hul eie tyd geplaas word, maar dit moet allereers binne die raamwerk van God se openbaringsgeskiedenis verstaan word.

Voorbeelde🔗

As bv. in die Ou Testament die doodstraf ingestel word vir owerspel, is dit nuttig om te ondersoek hoe owerspel in lande rondom Israel gestraf is. Ons kan dan ’n idee kry of die eerste lesers die straf as streng, mild of vanselfsprekend ervaar het. Ons moet hierdie straf egter veral verstaan in die lig van wat God reeds voorheen, naamlik in die paradys, oor die huwelik gesê het. “ ‘n Man sal hom aan sy vrou heg.” Daardie woord uit Genésis 2 is die eerste belangrike agtergrond vir die straf op owerspel in Israel. Onthou ook dat die volk Israel by die uittog uit Egipte deur God tot ’n volk met ’n eie regstelsel saamgesmee is. Dit verklaar die vorm wat die straf aangeneem het , nl. die doodstraf. Miskien kan vergelyking met die wetgewing van Egipte en Assur uitwys of hierdie straf as swaar ervaar is of nie.

In die Nuwe Verbond word steniging nie meer as straf vir owerspelers voorgeskryf nie. Die rede daarvoor is nie dat die Bybelse strafgebooie tydgebonde was nie, maar die feit dat God in sy openbaring voortgegaan het van ’n nasionaalvergaderde kerk na ’n kerk wat uit alle volke vergader word. Die kerk is dan nie meer betrokke by die uitvoering van burgerlike strafreg nie. Maar omdat die kerk dit in Israel namens God gedoen het, behou die Ou-Testamentiese straf-wet tog betekenis: Die owerspeler staan voor die God van die paradys doodskuldig! Ons lees in Open- baring dan ook dat die hoereerders, moordenaars en afgodedienaars buite staan (Openb. 22, 15). Slegs deur die dood van Jesus is daar vryspraak en lewe vir owerspelers wat met berou en in geloof na Hom toe gaan.

’n Populêre voorbeeld is ook Paulus se gebooie rakende die slawe. Was dit nie bloot ’n tydgebonde saak as die apostel slawe oproep om onderdanig te wees nie? En in dieselfde asem voeg party mense by: so is ook Paulus se woorde oor die verhouding man-vrou tydgebonde. Mense vergeet egter dat hierdie laaste uitsprake in die skepping en die geskiedenis van die sondeval gefundeer word, terwyl daar vir die voorskrifte aan die slawe geen verdere begronding gegee word nie. Dit beteken dat die gebooie oor die slawe inderdaad by die tydgebonde verhoudings van daardie tyd aansluit.

Tog is daar ook in hierdie geval meer om te sê. Paulus praat teen die agtergrond van ’n Ou Testament waar die slawerny binne Israel reeds afgeskaf was. Verder spreek hy die slawe-eienaars aan op so ’n manier dat enige misbruike van die heer-slaaf-verhouding ernstig ver-oordeel word. Ook blyk dit uit sy brief aan Filémon dat hy vir die Christelike gemeenskap vra dat vrylating van ’n slaaf oorweeg word en dat ten minste die verhoudings broederlik behoort te wees.

Dit is dus duidelik dat Paulus se voorskrifte nie as ’n gebod om slawe te hê verstaan moet word nie. Inteendeel, sy uitsprake wys in ’n ander rigting. Maar beteken dit dat Paulus se uitsprake sonder betekenis geraak het omdat dit op daardie historiese situasie gemik was en omdat individuele slawerny vandag nie meer voorkom nie? Nee. Dat die apostel slawe opgedra het om onderdanig te wees, is ook omdat die nuwe verhouding met God in die hemel die aardse werk-verhoudinge in ’n nuwe lig plaas. Dit geld na analogie ook vir die verhouding tussen werkgewers en werkers vandag.

’n Derde voorbeeld is die sabbatsgebod. In die gebod om te rus op die sewende dag is daar ’n seremoniële aspek, wat tot ’n einde gekom het toe Christus - terwyl Hy in die graf gerus het - hierdie sewende dag voltooi het. Maar daar is ook ’n blywende element nou dat die Heiland die eerste dag van die week vir samekomste en gemeenskap en lofverheffing afgesonder het. Dit sou tog ook moeilik wees om te aanvaar dat die rusdag aan die mens ontneem is as gevolg van die Paasgebeure. Die dag kan skuif, maar die grondliggende gedagte bly dieselfde.

Daarom is dit verkeerd dat die Sondag al hoe minder as ’n rusdag geëer word en dat Sondagwerk soms maklik aanvaar word. Hierdie dag behou nog steeds die verwysingsfunksie na die komende rus wat oorbly vir die volk van God. Hebreërs 4, 9 leer ons om die rusaspek van die weeklikse dag vir ’n erediens nie te verwaarloos nie. Dit is nie ’n uitgediende en Ou-Testamentiese saak nie! Die vierde gebod oor die rusdag is, in openbarings-historiese sin, wel tydgerig maar nie tydgebonde nie. Met ander woorde, die gebod is in ’n spesifieke historiese situasie gegee, maar dit beteken nie dat sy betekenis derhalwe tot daardie tyd beperk is nie.

Die eksegeet moet deur middel van geduldige lees steeds opnuut vasstel watter elemente van ’n teksgedeelte tydgerig en watter elemente algemeen geldend is. Dit sou egter selfopgelegde leesblindheid beteken as hy ‘n priori aanvaar dat die ‘ander tyd’ tot gevolg het dat alles in die Bybel tydgebonde en verouderd is.