4 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Die Blywende Ligglans van die Wet van God

Julle is self ʼn brief van Christus, deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart. Hy het ons bekwaam gemaak as dienaars van ʼn nuwe verbond, nie van die letter nie, maar van die Gees; want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend. En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig – wat tog moes vergaan – hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? Die sinne van die Israeliete is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die ou verbond dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer die wet van Moses gelees word, lê daar ʼn bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. (2 Korintiërs 3:3, 6-8, 13a, 14-15).

Dit is so belangrik om die éénheid van die verbond van God in die ou en nuwe bedeling te besef. En om die belangrike plek wat sy wet daarin inneem te sien. Al te dikwels hoor ons hoedat die ou en die nuwe verbond teen mekaar afgespeel word: ‘Die wet beteken in ons Christenlewe so min. Ons het immers die Gees? Tog nie reëls nie asseblief, of dan so min as moontlik. Ons leef tog in die Nuwe Testament?’

Daar bestaan ’n merkwaardige situasie in Nederland dat daar enersyds ’n herwaardering vir norme en waardes gekom het, wat mede die grondslag van die huidige kabinet vorm.1Andersyds stuit ons in die kerke op ’n weerstand teen gebooie en reëls wat met ’n beroep op 2 Korintiërs 3 verdedig word: “... die letter maak dood, maar die gees maak lewend” (vs. 6); “wanneer Moses gelees word, lê daar ʼn bedekking oor hulle hart” (vs. 15). Laat ons daarom met die doel om aan 2 Korintiërs 3 reg te laat geskied, ons in dié hoofstuk verdiep.

Paulus is in sy apostoliese arbeid onder druk in die gemeente van Korinthe. Hy moes heelwat kritiek op sy prediking verduur. Hy het die besware as misplaas afgewys, ten minste waar dit sy preke betref. As apostel stel hy hom in sy werk hier op een lyn met Moses. Hy maak ’n vergelyking tussen destyds en sy eie tyd, waarin hy die hoë vlak van die nuwe verbond duidelik maak. Daarom verdien Paulus as Nuwe Testamentiese prediker en apostel nie minder respek as Moses nie. Moses was veertig dae op die berg Horeb saam met God, en het daar opnuut die Tien Gebooie op twee kliptafels gekry (Eksodus 34). Wanneer hy terug is by die volk en die boodskap van God verkondig, het hy ’n tyd lank so ’n glans op sy gesig dat hy dit moes bedek omdat die oë van sy volksgenote nie die strale kon verdra nie. Moses was immers by God en het die wet by Hom gekry! Die man stráál daarvan! Die naleef van die wet beteken dat jy saam met God wandel en sy beeld vertoon.

Tog is die gevolg van die wet dat die volk ooglopend ’n fout maak, “want die letter maak dood” (vs. 6) ... “met letters op klippe gegraveer” (vs. 7). Israel wil na die wet lewe. Daarin skiet hulle jammerlik tekort en teken daarmee hulle eie vonnis voor God. Die wet is in sigself pragtig en van onskatbare waarde, maar dit word nie reg hanteer nie. Dit wek God se woede. Die ou verbond eindig katastrofies in die ballingskap. Die Ou Testament is één groot roep om die goddelike Verlosser, die Emmánuel.

Tog het die gesig van Moses gestraal toe hy die wet in Israel bekendmaak. Want die wet kom uit die hand van God as ’n kosbare geskenk.

Paulus moes die boodskapper wees in die nuwe verbond en spreek van Christus wat gekruisig is en opgestaan het, en wat sy Gees met Pinkster uitgestort het. Die Gees wat vir ons die skatte en gawes van Christus bring. Die Messias wat deur die ou verbondsgeskiedenis heen só nodig was, het sy middelaarswerk op Gólgota volbring. Daarmee het Hy die straf gedra vir die wetsoortredings van alle tye. Christus het die vloek vir my gedra! Die Gees leer ons: “...waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (vs. 17). Vryheid, want as Christen is jy nie meer onder die vloek, nie langer onder die oordeel nie. Jy mag jou vryheid vier! Die Skrif roep ons op om die genade van God steeds dankbaar te gedenk in eredienste rondom die evangelie en die bediening van die nagmaal.

Want Christus het ons bevry van al die gevolge van die letter van die wet, wat doodmaak (vs. 6). Paulus sê dat daar nog sovele Jode is met ’n bedekte sig op die wet van God (vs. 14-16). Wanneer hulle hul sinagogale liturgie uit die wet van Moses lees, lê daar ’n sluier oor hulle hart. Want hulle erken Christus nie.

Is Paulus teen die wet?

Het Paulus en ander Nuwe Testamentiese skrywers iets teen die wet? Sien hulle dit as iets tipies Ou Testamenties, waarvan Christus die gemeente vir altyd bevry het? ’n Oppervlakkige lesing van hierdie hoofstuk kan so ’n indruk wek. Ook in sinne uit die brief van hierdie apostel aan die Galasiërs: “...want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe” (Galasiërs 2:19); “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek... “ (Galasiërs 3:10); “Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe ... . Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ʼn tugmeester nie” (Galasiërs 3:23-25).

Tog kry ons, as ons dit reg verstaan, beslis nie ’n negatiewe indruk van die wet nie. Waar in die Nuwe Testament oor die wet gepraat word, gaan dit oor die hele wet van God van die ou verbond. In beginsel word dan al sy wette en verordeninge aangedui; offers, besnydenis, heilige dae en tye, reinigings ens., waarby die Tien Gebooie ’n sentrale plek as grondwet inneem. Ons hoor die allereerste begin van die goddelike wet al in die paradys. Adam en Eva het al opdragte ontvang en word teen die verbode vrug gewaarsku. By die reis na die beloofde land het Israel die geheel van die wette van God ontvang, om:

  • by die redding wat hulle ontvang het te bly en nie af te dwaal nie,
  • hulle sonde te besef, en
  • só des te meer na die Messias uit te sien,
  • om aan die komende Messias herinner te word deur die vele instelling wat hulle aan Hom laat dink (offers, besnydenis, nasireërskap, ens.).

Hierdie wette is deur Christus vervul. Dit is ook waaroor dit in Galasiërs 3:24 gaan: “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe”. Die seremoniële (die skaduagtige) het verval, maar dit bly betekenisvol vir prediking en oordenking; om die stem van God vir altyd daarin te hoor. Daarom bly die moreel van die wette ten volle staan, Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 25: “Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik ... om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.” Die Dekaloog hoort ook by die morele middelpunt van God se wetgewing deur Moses. Ons sien die Tien Gebooie op verskeie plekke in die Nuwe Testament as ’n bekende opsomming (Matteus 19:19-19; Romeine 13:9; Jakobus 2:11). Die antwoord op die vraag of die Nuwe Testament nie plek aan die Tien Gebooie gee nie, is dan ook ontkennend. Die wet is en bly waardevol. Die beswaar van Paulus is daarteen dat die wet losgemaak word van Christus. Wie met die wet omgaan maar Christus negeer, het ’n sluier oor sy hart (2 Korintiërs 3:15).

Sonbril🔗

Paulus laat dit juis mooi sien hoe Christus as Middelaar van die nuwe verbond sy heerlike werk volbring het. As dit al met Moses so was dat hy by die bring van die wet van God ’n glans op sy gesig gehad het, hoeveel meer glans en skittering gaan daar dan nie uit van die evangelie van Christus nie (vs. 7, 8 en 10). Die uitstraling uit die gesig van Moses het verbygegaan, maar dié wat die Gees bring, bly (vs. 11, 13)!

Die glans op Moses se gesig was vir Israel ondraaglik. Hy het die heerlikheid van God, wat hy veertig dae lank meegemaak het, uitgestraal. Maar gelowiges van die nuwe verbond kan die glorie, die luister, die glans en die strale van die ryke boodskap van Jesus Christus onbelemmerd meemaak. Hulle kan sonder ʼn ‘sonbril’ die Bybel lees en in die kerk sit. Die Israeliete in die woestyn is deur die wet nog op so ’n manier met hulle sonde gekonfronteer dat hulle geweet het dat die straf daarvoor nog nie vir hulle gedra is nie. Die letter van die wet het op hulle ʼn ‘dodende’ werking gehad. Maar nou maak die Gees lewend deur Christus (vs. 6). Dit is immers so ’n heerlike sensasie om dié evangelie te kan ontvang. In die kruis sal ek ewig roem, en geen wet sal my verdoem. Christus het die vloek vir my gedra!

So word ons ook na die beeld van die Seun verander (vs. 18). Deur sy evangelie aan te neem en ons deur sy Gees te laat lei. Ons word nuwe mense en lyk meer en meer na Jesus.

Ons kan natuurlik nie sonder die wet nie. Ook vir ons het die gebooie in sekere sin ʼn ‘dodende’ werking, “want deur die wet is die kennis van sonde” (Romeine 3:20). Ek ken my ellende uit die wet van God (Heidelbergse Kategismus, Sondag 2). Deur die wet besef ons so goed dat ons onsself nooit uit eie krag met God in die reine kan bring nie en word ons na Christus gedrywe. Terselfdertyd is die wet ook ’n leefreël van dankbaarheid. Die wet wys ons die pad, gee inhoud en bewaar ons in die redding wat ons van Christus ontvang het.

Wet én genade vir Israel🔗

Maar wat is dan die verskil tussen die werk van die Gees onder die ou verbond en onder die nuwe verbond? Kan dit in swart en wit weergegee word, soos: onder die ou verbond het God die wet op kliptafels geskryf, en onder die nuwe verbond op die harte van gelowiges (sien 2 Korintiërs 3:3, 6)? Nee, die Heilige Gees het ook al in die ou verbond met die Woord van God en die wet in die harte van gelowiges gewerk. Die opdrag was “jy (moet) die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag” (Deuteronomium 6:5). Daar is nie sprake van ’n uitwendige diens van God nie: “hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6: 6-7). En: “U het geen lus in slagoffer nie; ... in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ʼn gebroke gees; ʼn gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:18-19; ook Jesaja 1:11; Jeremia 6:20; Amos 5:21-24). Psalm 1: Gelukkig is die mens wie se ... “behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag” (vs. 1-2). Wanneer daar teruggekyk word op die reis in die woestyn word later gesê: “u goeie Gees het U gegee om hulle te onderrig” (Nehemia 9:20). Die werk van die wet, die dien van God, is toe alreeds deur die Gees in die harte van God se kinders gelê. Onder die ou verbond was ʼn dissipline van hou-maar-net-by-die-reëls nie die normale praktyk nie. By al die onvolkomenheid wat daar destyds was, kan die gang van sake onder leiding van die Gees van God nie as ’n reëls-is-reëls-samelewing getipeer word nie. Dink maar net aan die ryk en veelsydige geloofsbelewing (spiritualiteit) wat so pragtig in die Psalms verwoord word.

Ons lees in 2 Korintiërs 3 dat die wet ’n dodende werking het. So was dit onder die ou verbond. Onder die nuwe kan dit ook so wees. God het sy wet nie net op klip of op papier geskryf nie, maar ook in die harte. Hy doen dit nou. Hy het dit vroeër ook in Israel gedoen. Die skrywe in die harte het net met die koms van Christus en deur sy volbragte werk, baie ryker en meer indringend geword. Die uitgestorte Gees op Pinkster bring die Woord van God, en daarmee ook die wet, op ’n deurdringende manier tot die gelowiges.

Die nuwe verbond maak duidelik

  • wat in die ou verbond nog deels as iets toekomstigs verborge was;
  • dat die wet van God vir sondige mense heerlik en vreugdevol is, as mens dit met Christus verbonde sien.

Ons krimp nie inmekaar wanneer ons die Woord van God ontvang nie en ons hoef nie ons oë daarvoor toe te knyp nie, want ons ken Christus. Ons voel wel dat die wet ons skuldig verklaar, maar hoor daarby deur die Gees dat ons in Christus regverdig is, vrygespreek. As ons dan die wet so Geestelik, Christosentries op ons lewe toepas, kom ons daardeur tot groter bloei: “... waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ʼn spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korintiërs 3:17-18).

Die evangelie, die blye boodskap, was ook al daar onder die ou verbond. Daar is toe al vergewing geskenk. Die lewe na die gebooie van God is nie deur die HERE as ’n vreugdelose las opgelê nie. Lees maar Psalm 119, die loflied op die wet. Israel mog by voorbaat al die vrugte van die toekomstige middelaarswerk van Christus pluk. Maar die hegte verbondenheid van Christus met die wet kon nog nie, soos later, ten volle gesien word nie. Maar die samehang van wet en evangelie was al openlik vermeld. So het Moses by sy afskeid gesê, “hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie ... baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen” (Deuteronomium 30:11, 14). Paulus haal dit aan in Romeine 10:8. Die Gees het deur die woorde van Moses al laat hoor dat Christus die wet sal vervul, dit wil sê: die straf dra en die gehoorsaamheid uitvoer. Sodat die gebooie nie meer vir die gelowiges ’n las sal wees nie.

Natuurlik is die omgang met die wet vir ons anders as wat dit vir Israel was. Daar is voortgang van die ou verbond na die nuwe, en daar is nou sprake van mondigheid. Tog bly die kern van die saak deur albei bedelings van die een verbond dieselfde, naamlik dat God se wet genoem word: die wet wat vryheid bring (Jakobus 1:25). Die gebooie is daar om die kinders van God in die vryheid wat gegee is, te bewaar. Mens hoor dit al by die aanhef van die Tien Gebooie: “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het” (Eksodus 20:2). Omdat Hy die God is wat vry mense wil hê, gee Hy toe, én nou, sy goeie wet.

Eerherstel vir die Ou Testament🔗

Wie vanuit Christus met die wet omgaan, wil nie in ’n fiksasie op reëltjies en ’n waarskuwende vinger verval nie. Jy dien God uit dankbaarheid as ’n verloste mens. Geen werkgeregtigheid nie. Nie die saligheid self wil verkry nie. Geen gemoraliseer of oordrewe vasklou aan gebruiklike reëls nie. Want dan raak Christus buite sig. Mense moet tereg bedag wees en pleit vir kerk-wees en ’n geloofsbelewing vanuit die regte perspektief op die werk van Jesus Christus.

Maar as jy teen ’n gemoraliseer of legalisme stuit, moet dan nie sê: ‘Dis nou tipies Ou Testamenties’ nie. Want dan begryp jy die ou verbond verkeerd. Wettisisme is judaïsties. Die gemeente in Korinthe het moontlik met judaïste te doen gehad: mense met ’n vertroebelde kyk op die verlossingswerk van Christus, waardeur hulle die Ou Testamentiese kultiese, seremoniële wetgewing (offers, besnydenis ens.) sonder wysiging wou voortsit.

So is dit dan ook pragtig om as kerk en volk Goeie Vrydag en Pase te vier. En aanstons ook Pinkster. Christus het alles volbring. As ons dan sy norme, sy gebooie hoor, weet ons dat die Gees dit nie net op skrif gestel het nie, maar ook in ons harte skryf. Sodat ons al hoe meer na die beeld van Christus herstel en vernuwe word. Jesus, gaan ons voor! Pase leer ons dat die sonlig van die evangelie, uit die héle Woord van God, met al sy ses-en-sestig boeke, op ons straal. Die lig van Christus, die son van geregtigheid (Maleagi 4:2). Deur sy heerlike genade kan ons na die lig kyk. Want dit is so heilsaam vir ons, en wys ons elke dag die pad aan. Ou Testamenties gestel: “U woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my pad” (Psalm 119:5)!

Endnotes🔗

  1. ^ Hierdie is ’n vertaling van ’n artikel wat in April 2007 in die Nederlandse tydskrif Nader Bekeken verskyn het.