Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Brief aan die Efesiërs

Efése was ’n hawestad aan die westelike kusgebied van Klein-Asië, geleë in die Romeinse provinsie ‘Asië’. Die gemeente aldaar is gestig aan die einde van die tweede sendingreis van Paulus (vgl. Handelinge 18 : 19 ev.). Tydens die derde sen­dingreis het Paulus ongeveer twee jaar lank daar gewerk.

Tog is daar sterk twyfel of hierdie brief oorspronklik spesifiek aan hierdie gemeente gerig was: meeste van die oudste manuskripte van die brief laat die woorde “in Efése” in 1 : 1 weg, sodat ons volgens hulle hier ’n ‘ongeadresseerde’ brief van Paulus het, wat slegs in die alge­meen gerig is aan “die wat heiliges en gelowiges is”. Marcion, die tweede-eeuse ketter, beskou die brief as die “brief aan Laodisea” (Kolossense 4 : 16) , maar hiervoor is daar geen bewyse nie.

Ons het hier waarskynlik ’n omsendbrief aan die gemeentes van Klein-Asië wat oorspronklik eerste aan Efése gestuur is.

Inhoud en tema🔗

Die sleutelverse wat uitdrukking gee aan die sentrale inhoud van hierdie brief vind ons aan die einde van die eerste hoofstuk met sy lof­liedkarakter, te wete :

Efésiërs 1 : 22 - 23: “En Hy (God die Vader) het alle dinge onder sy voete (Christus s’n) onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente (die kerk) gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat. alles in almal vervul.”

In hierdie brief word dus gehandel oor: Die Kerk en Christus onder die beeld van “LIGGAAM EN HOOF.”

Die kerk word dan van begin tot einde gesien, nie as ’n menslike of vereniging nie, maar as die skeppingswerk van God in en deur Jesus Christus: die kerk het sy oorsprong by God in Christus; word byeengebring deur Christus; vind sy eenheid in Christus; word geregeer deur Christus; en daarom móét die gelowiges (die kerk) hulle hele lewe in alle fasette laat bepaal deur Jesus en sy Koningswoord.

Die tema is dus: DIE KERK AS LIGGAAM VAN CHRISTUS, DIE HOOF.

Die betekenis van die brief🔗

Efésiërs bied vir ons die volledigste prent van WAT die kerk prinsipieel (in beginsel) Is, en van hoe die kerk in die praktyk MOET wees.

Die kerk -

  • is nie die GEBOU waarin saamgekom word nie;
  • is nie die predikant en kerkraad nie;
  • maar is die GELOWIGES in die kerk.

Die kerk -

  • is nie ’n menslike vereniging, ’n genootskap van vrome mense wat hulle bymekaar voeg omdat hulle God wil dien nie;
  • maar is die skeppingswerk van Jesus Christus, sy “liggaam” wat Hyself saamstel deur uitverkiesing; deur roeping tot bekering; deur die gawe van die geloof wat sy Gees ons skenk.

As liggaam van Christus moet die kerk EEN wees (Christus het tog nie baie liggame nie). Die verdeeldheid van kerke (ook onder die Afrikaner­volk) is die gevolg van menslike ongehoorsaamheid en sonde. Efésiërs roep ons op tot EENHEID rondom die waarheid van Gods Woord.

Efésiërs 1 bied een van die be­langrikste en duidelikste uiteenset­tings van die leer van die uitverkie­sing; dit is nie MENSE wat eerste besluit om God te dien nie, maar in sy groot liefde en goedheid het God van ewigheid af besluit om vir Hom ’n kerk ’n uitverkore aantal kin­ders te red deur sy Seun Jesus.

Die gebed van Paulus in Efésiërs 3, dat die gelowiges, in wie die Hei­lige Gees reeds woon, ook vervul mag word (vol mag word) van die Heilige Gees, is seker van die rykste gebede wat ’n gelowige kan bid.

Efésiërs bied ook belangrike Skrifeise in verband met gesagsver­houdinge (5 : 22 - 6 : 9).

Verband tussen Kolossense en Efésiërs🔗

Waar die uiters noue verband tussen Efésiërs en Kolossense onmisken­baar is, moet dit op grond van die inwendige getuienis van die briewe só verklaar word:

  1. Albei briewe is deur Paulus ge­skryf, en wel feitlik direk na mekaar.
  2. Kolossense is die primêre brief. Paulus het immers ’n baie sterk aanleiding gehad tot die skryf daar­van: die berig van Epafras, leraar van die gemeente, oor die ernstige bedreiging van die gemeente deur die dwaalleraars. Daarom vertoon die brief ’n sterk persoonlike karak­ter, met persoonlike groetes, aan­bevelings en vermanings (2 : 1, 4; 4 : 7 - 17) , terwyl dit by Efésiërs byna heeltemal ontbreek.
  3. Terwyl Paulus tog vir Tigikus na Kolosse moes stuur met die brief, en Efése, ’n gemeente wat Paulus goed ken, slegs 170 kilometer wes daar­vandaan geleë is sodat Tigikus eintlik OOR Efése na Kolosse sou reis het Paulus klaarblyklik be­sluit om die uiters gewigtige saak waaroor hy aan Kolosse geskryf het, ook per brief aan onder andere Efése se gemeente te verkondig. Die klem val nou net meer op die plek van die KERK teenoor sy Hoof Christus, terwyl hulle nie te kampe gehad het met die dwaalleraars wat in Kolosse die posisie van Christus wou afkraak nie. Die brief was egter waarskynlik eintlik bedoel as ’n omsendskrywe aan die gemeentes van Klein-Asië met Efése net as EERSTE adres, vanwaar afskrifte na die ander gemeentes uitgestuur is. Vandaar die manuskripte wat wel “in Efése” bevat, en die ander wat die woorde in 1 : 1 weglaat.