Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die Brief aan die Filippense

Die stad Filippi en die ontstaan van die gemeente aldaar🔗

Filippi was geleë naby die noord­oostelike kusgebied van Macedónië. Hoewel dit reeds teen 360 v.C. be­staan het as ’n stigting van Filip­pus van Macedónië (vandaar die naam Filippi), die vader van Alexander die Grote, het dit veral sedert 42 n.C. ’n stad van betekenis geword binne die Romeinse Ryk. Antonius en Octavius (die latere keiser Augustus) het dit verhef tot ’N ROMEINSE KOLONIE. Let wel: teenoor ‘provincia’ of provinsie, dit wil sê ‘oorwonne gebied’, het ‘colonia’ of kolonie by die Romeine beteken ’n gebied buite Italië waar Romeinse setlaars, gewoonlik uitge­trede soldate, gevestig is om te dien as ’n Romeinse vesting en afskrik­middel teen opstande deur die on­derworpe inheemse bevolking.

So was Filippi dan nog in die tyd van Paulus ’n belangrike Romeinse soldatestad wat, vanweë sy strate­giese ligging op die grens tussen Europa en Asië, met sy oorwig afge­trede Romeinse soldate ’n belang­rike wagpos in die Romeinse Ryk was. (Opvallend is die militêre beeldspraak in die brief volgens onder andere 1 : 27 - 30.)

Die Christelike gemeente ln Filippi was van besondere belang as die eerste kerk van Christus wat Paulus op Europese bodem gestig het, nadat sy weg deur die Heilige Gees uitdruklik gerig is op Europa (vol­gens Hand 16 : 6 en volgende verse). Die ontstaan van die gemeen­te by die aanvang van die tweede sendingreis het aldus ’n groot oor­gangsmoment in die geskiedenis van die Kerk verteenwoordig.

Die tema van die brief🔗

Die sentrale tema van hierdie Ge­vangenskapbrief van Paulus kan ten beste so geformuleer word:

Die blydskap van die Christenstryder

Die motivering vir hierdie tema is soos volg:

  1. In teenstelling tot die bewering wat veelal gemaak word dat Filip­pense geen sterk deurlopende grondgedagte of eenheidsmotief het nie, vind ons die BLYDSKAPSMOTIEF deurlopend en selfs geheel beheer­send dwarsdeur die brief - uitdruklik sowel as - aanwesig

(vergelyk byvoorbeeld 1 : 4; 1 : 12; 1 : 18; 1 : 27; 2 : 2; 2 : 14; 2 : 17 -18;  2 : 19;  2 : 28 - 29; 3 : 1; 3 : 20 - 21; 4 : 1;  4 : 4 - 5; 4 : 10).

  1. ’n Kenmerk van die blydskap is dat dit blydskap IN DIE HERE moet wees. Dit is dus geen bloot menslike opgewektheid nie, maar die diepere vreugde in die genade van Christus, wat alleen die CHRISTEN smaak. Kernverse: 4 : 4, 5.
  2. Steeds gaan dit nie maar om blydskap in die algemeen nie, maar om blydskap te midde van aanveg­ting, verdrukking, swaarkry blydskap dus onder STRYD.
  3. Die KERNVERSE, Filippense 1 : 27 - 2 : 2, word geheel en al in militêre terme uitgedruk. Let op die opstapeling van militêre terme:

“Voer julle BURGERPLIG uit waardig die Evangelie van Christus sodat ... ek van julle omstandig­hede kan hoor dat julle eensgesind OP WAG STAAN en een van siel saam VEG vir die geloof van die Evange­lie, en dat julle jul in geen opsig deur die VYAND laat afskrik nie ...”

Die belangrikheid van hierdie verse beklemtoon Paulus met die eerste woord in 1 : 27 “Alleenlik” - dit wil sê, as daar EEN saak is wat ek uit die gevangenis by julle moet tuisbring dan is dit HIERDIE saak.

En aan die einde van die perikoop sê Paulus: As julle dit doen sal my blydskap volkome wees (2 : 2).

Wat is hierdie groot saak? Dié CHRISTENSOLDAAT wat waardig die Evangelie veg!

  1. Dit is belangrik om te onthou dat Paulus skryf aan mense in ’n Romeinse ‘colonia’ - die inwoners van Filippi was oorwegend Ro­meinse OUDSOLDATE en hulle ver­wante, terwyl die stad as COLONIA direk verbind was aan Rome self met sy geweldige militêre tradisie.

’n Tema: “Blydskap van die Christensoldaat” sou dus hier besondere trefkrag hê.

Die betekenis van die brief🔗

  1. Die brief gee ’n wonderlike openbaring oor die ingrypende verandering wat die ware geloof in Jesus Christus bring in die hele lewensvisie van die gelowige. Die hele lewe kry vir hom ’n ander kleur en geur:
    1. blydskap oor God se genade in Jesus beheers sy lewe in alle lewensituasies;
    2. beproewinge, maar ook teen­kanting en vervolging van die wêreld word nie maar net tydelik verduur nie - maar selfs hierin kan die Christen hom verbly! Want so word hy waardig geag “om nie net in Jesus te glo nie, maar ook vir Hom te ly”  (1 : 27 - 29).
  2. Die Filippense-brief laat geen ruimte in die kerk vir die suurgesig-Christen nie. Ondubbelsinnig is die getuienis: Geloof in Jesus eis nie ’n lang gesig en stroewe erns nie, maar juis lewensvreugde en heerlike blydskap en vriendelikheid wat ook uitstraal na almal rondom die Christen (4 : 4, 5).
  3. Blydskap en vriendelikheid in die Here beteken egter nooit vrede en vriendelikheid met die sondige wêreld nie. Nee, dit roep juis op tot stryd: Ons blydskap in die Here moet met jaloerse erns verdedig word teen almal wat ons daarvan wil beroof - so pas Filippense 3 pragtig in in die geheel van die blydskapsbrief.
  4. Besonder ryke betekenis het ook die sogenaamde Christus-himne, 2 : 5 - 11, as bondige geheelbeeld op die betekenis van Jesus Christus se menswording, lewe, lyde, sterwe, opstanding en hemelvaart. Hierin vind ons dan ook die diepe fundering van die Christenblydskap: God het in sy Seun my so liefgehad dat hy ALLES gedoen het om my te red uit die dood. Jesus het vir my gesterf en Hy het vir my opgestaan uit die dood. Die dood is oorwin! En nou sit MY Verlosser aan God se regter­hand met die HOOGSTE Naam, nl. HERE, Koning - Hy regeer oor alle dinge. En! Hy is NABY aan ons (Filippense 4 : 4 - 5)! Ons Koning is met ons! Hoe kan ons dan anders as om in blydskap te lewe?