Bron: De Reformatie. 4 bladsye.

Die Bybel Na-Spreek oor die Uitverkiesing

As ’n mens die woord ‘uitverkiesing’ hoor, kan jy baie vinnig na die Dordtse Leerreëls gryp om te kyk wat daarin gesê word oor hierdie leerstuk. Maar dit kan gebeur dat ons te vinnig die Dordtse Leerreëls nader trek. Asof dit ʼn klein ensiklopedie is waarmee ons al ons vrae oor die uitverkiesing kan beantwoord. Verwytend sou iemand tereg kon sê : ”Kyk eers wat sê die Bybel!”

My Uitverkorene!🔗

Wat sê die Bybel oor die uitverkiesing? Jy moet die Bybelse woorde próé. Wanneer die Vader vir Jesus aanspreek as die ‘Uitverkorene’, bedoel Hy: So besonders is Hy vir My, só uniek vir die werk wat Ek vir Hom het! Dit is ʼn uitdrukking van liefde. Wanneer ʼn man lief is vir ʼn vrou, is sy sy uitverkorene. Hy het haar gekies bo al die ander vrouens wat hy geken het. ʼn Mens sal nie by so ’n man hoor dat hy al die ander vrouens afgekeur en verwerp het nie. Nee sy liefde vir sy vrou styg eerder bo alles uit.

Die uitstyg van liefde word net sterker wanneer ons besef dat God die Here Jesus op aarde so aanspreek, omdat Hy gekom het om ons te verlos van ons sondes. Hy is die énigste Een wat dit kan doen! Jesus Christus is die enigste Een wat vir God aanvaarbaar is. Omdat ons onbekwaam geag was en is, kon God ons nie vir die taak gekies het nie. Onbekwaam, want vir God gaan dit juis oor die redding van verlore mense.

Jesus Christus – die Uitverkore van God! Die sterk liefde wat in hierdie woorde sigbaar word, kan ons ook sien in Efesiërs 1:4 waar Paulus sê dat: ”…Hy (God) ons in Hom (Jesus Christus) uitverkies het”. Jesus Christus is die liefde van God in eie persoon. En ons is in Christus uitverkies. Daarom hoor ons ook hierdie sterk liefde as God Israel sy uitverkore volk noem: Omdat Ek julle uitverkies het, is julle vir my baie spesiaal. Julle is uniek en bestem vir my werk hier op aarde!

Ja, God kan dan ook sê: ”Ek het julle gekies bo al die ander volke“. Hiermee sê die HERE nie in die eerste plek dat Hy die ander volke verwerp het nie. Dit is waar dat die HERE nie ʼn ander volk gekies het nie (Psalm 147:20), maar dit is nie die fokus nie. Nee, wat God wel teenoor Israel beklemtoon is: Moenie dink dat Ek julle uitverkies het, omdat jul beter is as die ander volke nie. Ek het júlle gekies enkel en alleen omdat Ek julle liefhet (sien Deuteronomium 7:7)! Dit is ʼn verrassende rede. Dat God geen ander volk gekies het nie, erken ons met verbasing en nederigheid.

Jubelkreet met ʼn Uitroepteken!🔗

Paulus se woorde in Efesiërs 1:4 is bekend: ”Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld...

  • ’n Mens sou nou kon konsentreer op die tydsbepaling en sê: God se besluit van verkiesing het reeds voor die skepping geval.

  • Jy kan ook kyk na die uitdrukking ’grondlegging van die wêreld’ en sê: So vas soos God die aarde gegrondves het, so vas staan sy besluit oor die uitverkiesing. Dit staan so vas soos ʼn huis. Nog vaster! Vaster selfs as die wêreld!

  • Jy kan ook die woorde ’ons’ en die uitdrukking ‘in Christus’ beklemtoon. Met vrymoedigheid mag jy bely dat God óns uitverkies het in Christus, in Wie ons glo!

Wat is nou die belangrikste in hierdie uitspraak oor die verkiesing? Is dit die tydsbepaling, die objektiewe (buite ons gefundeerde) sekerheid of die persoonlike toe-eiening? Ek dink dat al drie antwoorde hier belangrik is!

Hierdie ingrypende besluit van God is al geneem voor die ontstaan (van die leefwêreld) van die mens. Voordat die eerste mens geskape is, het God sy besluit ten opsigte van sy kinders klaar geneem en dit staan vas. Jy mag dit as waarheid aanvaar, want hierdie liefdesbesluit staan so vas soos ʼn huis. Jy mag dit in jou liefde vir Christus en in Christus se offer persoonlik toe-eien. Saam met Paulus mag jy dit jubelend na-spreek, want dit is ʼn geloofsbelydenis: God het ons immers in Christus uitverkies!

Saam met so ʼn geloofsbelydenis kan daar ook vrae ontstaan. Byvoorbeeld: wat maak ons nou met die sondeval en waar pas die ongeloof van die mense dan in? Ons maak byvoorbeeld ʼn logiese gevolgtrekking, naamlik: As God vóór die grondlegging van die wêreld al uitverkies het, dan het Hy ook mense verwerp. Maar almal voel aan dat sulke vrae nie pas by Paulus se manier van praat nie. Dit is asof jy aan die knoppie van die radio begin draai, en skielik by die geruis van ’n ander golflengte beland het – die golflengte van die logiese vrae en konklusies.

By ʼn jubelkreet hoort nie ʼn vraagteken nie, maar ʼn uitroepteken!

Van Verkiesing na Verwerping🔗

Hoe praat die Bybel oor verwerping? Ek wil graag met ’n voorbeeld begin wat hierdie tema indrukwekkend weergee.

Die Here wys Saul as die eerste koning aan. Ons mag sê dat die Here hom gekies het. Dit is nie ʼn demokratiese verkiesing deur die volk nie, maar ʼn salwing deur die Gees. Tog lees ons later tot ons verbystering: ”… terwyl Ek hom verwerp het ...”(1 Samuel 16:1). Die Gees van die HERE wyk van Saul. Die verkiesing het betrekking op sy koningskap, maar sy kindskap is hiermee verweef. Wanneer die Gees Saul verlaat, verloor hy ook as kind van God die pad na God se vrede. Kan dit dan tog gebeur dat God terugkom op sy keuse soos in hierdie geval van koning Saul? Samuel moes selfs vir Saul sê: ”...omdat jy die Woord van die Here verwerp het, nou het die Here jou verwerp…”(1 Samuel 15:26). Kan ons sonde God se raadsplan beïnvloed? Ja, in die Bybel word verwerping baie keer soos volg weergegee: As daad van God in die geskiedenis en as reaksie van God op ongehoorsaamheid.

Jy kan ook hierdie skrik probeer vermy, deur te sê: Ja, maar wanneer die Here mense in hierdie tyd van Hom af wegstoot, moes dit van ewigheid af al Sy besluit gewees het. Dit leer ‘die verwerping van ewigheid’ ons. Maar wanneer jy so op die Woord van God reageer, gryp jy te vinnig na die Leerreëls. Ervaar maar eers die skrik ten volle: Dis vreeslik, dat God se volk as geheel en as enkelinge, die HERE so kan terg dat Hy nie anders kan as om hulle te móét wegstoot nie! Om ons deur die skok tot bekering te roep. Eers dan leer jy om die gebed te bid wat herhaalde kere in die Psalms opklink: “Verwerp my nie van U aangesig nie” (Psalm 51:13)! HERE, moenie my wegstuur onder U oë uit nie!

Die Bybel gee nêrens aanleiding om die volgende te dink nie: Daar is ʼn verwerping van ewigheid-af-wat-ook-my-kan-tref. Hierdie sig op verwerping pas nie by die goeie Woord (blye boodskap) waarmee die Here na my toe kom nie. Net in verband met verharde ongeloof kan die apostel Petrus, verlig deur die Heilige Gees, sê: Mense kan hulle aan Christus stoot en val, ”waarvoor hulle ook bestem is” (1 Pet. 2:8). Nêrens gebruik God die leer van verwerping as ʼn struikelblok om iemand tot geloof te bring nie. Dit is ʼn bevrydende feit. Dit bevry ons van angs. Dit bevry ons ook om te kan luister na die ernstige waarskuwings, ook dié waarin die woord ‘verwerping’ gebruik word.

Die Dordtse Leerreëls: Die Volgende Stap🔗

Iemand het die volgende geskryf oor die verhouding van die Bybelse taal oor die uitverkiesing en die spreekwyse van die Dordtse Leerreëls: ”Dit is ʼn tragiese feit dat mense tussen die lyn van histories-horisontaal en die lyn van ewig-vertikaal wou kiés”. Die Dordtse Leerreëls sou die uitverkiesing te veel benader vanuit ʼn ewigheidsperspektief (ewig-vertikaal), terwyl die Skrif meer laat sien hoe God in die geskiedenis van sonde en verlossing sy mense uitverkies en tot verlossing bring (histories-horisontaal, of heilshistories-liniêr).

’n Mens kan (so het ons gesien) die seggingskrag en die aanspraak van die Woord van God blokkeer met ons logiese vrae of denke. Oorheers die Dordtse Leerreëls dus met sy logika die Woord van God? Ek dink glad nie so nie. Want die aanname is (en die belangrikste is) tog dat die kerke sorg dat daar op Sondae uit die Woord van God gepreek word. En so kom die aanspreek van die Bybel oor verkiesing en verwerping, bekering of verharding, val in sonde en kniel vir vergewing ens duidelik en genoeg aan die orde. Dit sluit pragtig aan by die manier waarop God in hierdie geskiedenis sy verlossing in ons uitwerk. Dit is wat hierbo bedoel word met die histories-horisontale lyn.

Die Dordtse Leerreëls het sy plek in die kerk na en langs die verkondiging van God se Woord. Dit is ʼn geloofs-verantwoording wat op baie spesifieke dwalings reageer. Die Leerreëls gee inderdaad baie aandag aan die Ewige Raad van God. In die bogenoemde aanhaling word dit die ‘ewig-vertikale’ lyn genoem. Ten slotte meer hieroor.

God se Raad: ʼn Leessleutel🔗

 Jy kan in die Bybel nagaan hoeveel keer die woord ‘uitverkiesing’ gebruik word, maar daarmee het jy nog nie houvas op die Bybelse leer van die uitverkiesing nie. In die belydenis word woorde gebruik soos: raad, wil, welbehae, voorneme en bestemming. Op grond hiervan word dan ook bely: God lig ons gedeeltelik in oor die planne wat Hy vir die mensheid het. Hierdie plan, oftewel beraadslaging, word in die leer van die kerk ‘Raadsplan van God’ genoem. Daarin gaan dit byvoorbeeld oor God se voorneme om te skep. Met dieselfde terme word in die Bybel geskryf oor die plan van verlossing van die gevalle mensdom, oor die keuse van die Middelaar ens.

In ’n eerbiedige gedagtegang kan ons die volgende sê: Ons het ʼn onverdeelde God. Hy gaan nie teen Homself in nie. Hy is nie veranderlik sodat ’n mens geen vat om Hom kan kry nie. Hy is onveranderlik, sodat jy Hom kan vertrou. Net so min is y H/kJLkj’|J’kjK KLJK; kK ip Hy ʼn swakkeling, dat Hy oor Hom sou laat loop. Nee, ons God is ‘volkome wys, onveranderlik, alwetend en almagtig’. Daarom kan God se besluite nie verander, hernu, herroep of ongedaan gemaak word nie (DL.1:11). Hy weet wat Hy gedoen het en nog steeds doen! Daarom vorm Sy ewige Raad ʼn geheel. Met die lees-sleutel in die hand sal jy verstaan hóé die Dordtse Leerreëls praat oor verkiesing én verwerping, oor die ewige Raadsplan van God en ons lewenstyd hier op aarde.

So word daar – deur te reageer op bepaalde dwaalleringe – met eerbied gekyk na wat die Bybel alles sê oor God wat kies en oor Sy keuse. So het die belydenisskrifte ontstaan. Hierin word boontoe (vertikaal) gekyk na ʼn barmhartige én regverdige God (horisontaal, reguit). God roep en maak sy keuse bekend soos Hy dit wil – en so mag dít geglo word. God maak sy oordeel hoorbaar, soos wat dit verseker geopenbaar sal word aan hulle wat nie wou luister nie.

Verras en Bevrees🔗

Ek glo nie dat die Dordtse Leerreëls die Bybelse manier van praat oor die uitverkiesing en verwerping verkeerd weergee nie. Asof ‘lewendige’ Skrifgedeeltes oor God se pad wat Hy met mense stap, doodgedruk kan word deur ʼn massiewe leer. Ek glo óók nie dat die leer van die verwerping ʼn skaduwee werp op die God van die uitverkiesing nie. Is dit nie eerder andersom nie? Wanneer jy die gedagte van verwerping weggooi, vervaag die uitverkiesing.

Tog glo ek dat dit van belang is om die volgende te benadruk: moenie onderskat hoe baie ons denke oor die uitverkiesing belas is met (dikwels negatiewe) gedagtes nie. “Wat help dit as alles in elk geval al vasstaan?” is ʼn opmerking wat sommer maklik gehoor word. Daarom is dit nodig en goed om ons gedagtes Skriftuurlike ruimte te gee en die leer met ʼn nuwe varsheid te benader. Dan sal ons in die woord ‘uitverkiesing’ weer die klank van liefde hoor en verras bly reageer. Dan kan die Gees ons laat bewe wanneer ons die bede lees: “Verwerp my nie voor U aangesig nie.” Hierdie woorde moet ook ʼn plek in ons hart kry, sonder dat hulle verstik word deur ʼn magteloos-makende (en verkeerde) sig op die verwerping. Die leer waarin die Bybelse gedagte van verkiesing en verwerping verwoord is, wil ons denke lei om met blydskap en bewing, verras en bevrees ons ‘roeping en verkiesing vas te maak’ (2 Petrus 1:10).