4 bladsye.

Die Bybel oor Jongmense

blare en kind

Ons bespreek in hierdie artikel wat die Bybel oor jongmense sê, en die manier waarop ouer mense, in lyn met die Skrif, met die jonger geslag behoort om te gaan. Ons sal ʼn paar gedeeltes in die Skrif oopslaan wat gaan oor die plek van jongmense in die volk van God, en veral oor vrae wat kinders en die opgroeiende jeug stel.

Maar eers net die hooflyn. Die hooflyn van wat die Skrif oor jongmense sê, is dit: hulle is heeltemal ingesluit – jongmense, selfs die kinders, hoort by die gemeente. En dit is nie bedoel as ʼn beleefde opmerking, so asof gesê word: ook die jongmense word ingesluit, nie. Of dat die dominee moet sê: broeders en suster, seuns en dogters, nie. Begryp goed, die dominee mag dit gerus sê, maar dan nie asof hy daarmee twee verskillende groepe aandui: broeders en susters aan die een kant, en aan die ander kant seuns en dogters, nie. Want ek is bevrees dat dit die manier is waarop ons wêreld so maklik sê: jongmense is ook ingesluit. Daaragter skuil: ‘die volwasse wêreld is die eintlike, die egte werklikheid, tog is ons so openhartig, en daarom mag die jongmense ook ingesluit word’.

Deur die Beskikking van God🔗

In die Bybel is dinge egter totaal anders. Want wat is die wesenlike van die manier waarop volwassenes tot die volk van God behoort? Dit: dat God so genadig was om ons daarby te betrek, om Hom aan ons te verbind en sy verbond met ons te sluit. En dit geld nie vir ouer mense én vir jongmense, as twee groepe nie, maar dit geld vir ons almal, kop vir kop, wat kinders van één Vader is. In die manier waarop ouer mense en jongmense aan God se verbond behoort, staan ons volledig langs mekaar. Dit is deur God se genadige verkiesing. U sien dit in die verbondsluiting met Abraham en met sy kinders. Toe God met Abraham ‘n verbond sluit, wag Hy tot Abraham in ʼn diep slaap val. Sê maar gerus: tot hy soos ʼn kind was. Dit was God se beskikking, sy onvoorwaardelike genade, dat die verbond opgerig is. En as die Here dan daarna gebied dat die nakomelinge van Abraham, op die leeftyd van agt dae, as teken van die verbond besny moet word, is dit wesenlik nie anders nie. En, voeg ek hier by, vir die Nuwe Testamentiese gelowige wat die saak goed verstaan, is dit ook nie anders nie. “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God”.

Erfdeel van die Here🔗

Ek sou hier wil noem dat die uitdrukking ‘die kinders is ingesluit’ presies aansluit by ons eietydse lewensbesef. Maar, as jy na die Bybelse betekenis daarvan vra, dan kom die kinkel wat ons laat struikel, naamlik: kinders is ingesluit, nie omdat hulle ook mondig geag word nie, maar omdat ons beide van God afhanklik is. God het vanaf ons geboorte ʼn aanspraak op ons. Ons staan nie vry teenoor Hom nie, maar met ʼn roeping teenoor Hom. En daarom is ons ingesluit – van kindsbeen af.

Om dit met ʼn voorbeeld te verduidelik: ʼn Grondspreuk uit die populêre opvoedingsleer is: ‘U kinders is nie u kinders nie’ bedoelende daarmee ‘hulle behoort nie aan u nie, maar ... aan hulleself’. Vanuit die Bybel gesien, sou ons die spreuk kon oorneem, maar met ʼn besliste ander betekenis: ‘U kinders is nie u kinders nie ... want hulle behoort aan die Here’.

In dié verband verwys ek na Psalm 127, waar van kinders gesê word dat hulle “ ʼn erfdeel van die HERE” is. Die uitdrukking beteken méér as net dat ons hulle van die Here ontvang. Met erfdeel word in die Bybel deurgaans die land bedoel, daardie deel van Kanaän wat God aan ʼn familie toegesê het. Deurgaans word van daardie land gesê dat die Israeliete regtig volledig van die opbrengs daarvan mag geniet, maar dat dit nooit hulle eiendom word nie. Dit is nie iets wat jy mag opmors of van afstand kan doen nie. “Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne” (Levitikus 25:23). Die feit dat die land ʼn ‘erfdeel’ is, maak dit vir die Israeliet tegelykertyd ʼn gawe én ʼn opdrag. Toevertroude goedere.

hand en blom

Nou goed, kinders is volgens Psalm 127 ʼn erfdeel van die Here. Dit is met hulle natuurlik anders gesteld as met ʼn stuk grond. Jy het immers nie kinders vir die opbrengs nie. Maar dít bly waar: geniet gerus u kinders, maar dink terselfdertyd aan Hom wat die erfdeel gegee het, en wat die laaste Eienaar daarvan bly. U kan só daaraan dink: soos die grond nie van die hand gesit kon word nie, so kan ons ons nie van ons kinders losmaak deur te sê ‘laat hulle maar self kies’ nie. Dit is veels te goedkoop vir iets só kosbaar soos ʼn erfdeel van die Here.

Nie ʼn Krat Vol Individue Nie🔗

Ouers het ʼn verantwoordelikheid om die geloof deur te gee, ook al is dit dan ʼn verantwoordelikheid met mensemate gemeet. Want om geloof aan ʼn ander te gee, dit kan niemand nie, selfs nie aan jou eie kinders nie. Maar dit is nietemin ʼn saak wat ouers ter harte moet neem. Die Bybel gee dan ook steeds aandag aan die vraag of kinders later nog sal begryp hoe goed die Here vir sy volk was. Aandag, dus, vir die onderrig van jongmense. By die uittog uit Egipte word byvoorbeeld gesê wat die Israeliete later aan hulle kinders moet sê, wanneer hulle vra wat die Paasfees beteken. By die deurtog deur die Jordaan word klippe gepak as ʼn herinnering, waarby Josua dit by die mense inprent wat hulle later daaroor aan hulle kinders moet sê. Ten slotte is één van die bedoelings van die Psalms, dat die volgende geslag sal weet: Die Here is onse God. Dink maar aan Psalm 78:

Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.

Die aandag aan jongmense in hierdie Skrifgedeeltes, sien u, beteken dat die toekoms vir die Bybelskrywers ʼn lewende werklikheid is. Anders sou hulle nie so begaan gewees het oor die vraag hoe die volgende geslag teenoor God sou staan nie. Nou stel hulle die jongmense in die ry van die geslagte, en nie maar net in ʼn bondel, soos in ʼn krat vol individue nie. Daaruit leer ons om in ons geloof verder te kyk as wat ons neuse lank is, of liewer, verder as wat ons eie lewe lank is. Die Bybel gaan ons daarin voor, om sorgvuldig daaraan aandag te gee of jongmense die HERE nog goed sal ken.

Maar ons moet ook let op die manier waarop ons, na die Bybel se voorbeeld, ons verantwoordelikheid teenoor die jongmense nakom. Ek wil twee Bybelse voorbeelde behandel. In altwee gaan dit oor vrae van jongmense, elkeen op ʼn totaal ander manier gestel.

Vertel Geskiedenis🔗

Die eerste voorbeeld vind ons in Josua 4, wat vroeër genoem is. Dit is die geskiedenis van die deurtog deur die Jordaan – die beslissende stap, die beloofde land in. By dié geleentheid het Josua, in opdrag van die Here, twaalf groot klippe uit die middel van die Jordaan laat saamneem en hulle laat stapel by Gilgal, in die beloofde land. So word dié plek, en dié gebeurtenis, gemerk met ʼn klipmonument – dit mag nie vergeet word nie! Dit was nie net die uitkoms vir die toe nog lewende Israeliete nie, maar ook die volgende geslagte moes daarvan weet. Dit word dan bevestig met die uitleg wat Josua daarby gee:

Wanneer julle kinders later hulle vaders vra en sê: Wat beteken hierdie klippe? dan moet julle dit aan julle kinders bekend maak en sê: Op droë grond het Israel deur hierdie Jordaan getrek, deurdat die HERE julle God die water van die Jordaan voor julle uit laat opdroog het, totdat julle deurgetrek het, soos die HERE julle God gedoen het met die Skelfsee wat Hy voor ons uit laat opdroog het, totdat ons deurgetrek het; dat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die HERE sterk is, sodat julle die HERE julle God altyd mag vrees.

Sien u wat dit beteken? Baie geslagte later nog, sou ouers wat met hulle kinders by Gilgal kom, met die vinger kon wys: Kyk, daar het die water voor julle opgedroog, daar het Hy julle deur laat trek. Hulle moes dit dus nie onbetrokke doen nie. Nie met ʼn string name en feite wat jy uit jou kop moet leer nie. Sekerlik nie met die gruwelike onbetrokkenheid wat ek in sommige skoolboekies teëkom nie. Nie iets soos: ‘Die mense van destyds het geglo dat hulle nie uit eie krag Kanaän ingekom het nie, en hulle het dit toe aan God toegeskryf’. Want so soek jy daarvoor dat die jongmense hulle neus optrek vir die dade van God.

stapel klippe

Uit hierdie teks is duidelik dat die ouers hulle kinders moes betrek, deur te sê: Die HERE, julle God, het op hierdie plek die water van die Jordaan voor julle laat opdroog, en só kon julle in hierdie mooi land kom woon. Kortom, hulle moes wys wat die geskiedenis vir die kinders beteken.

Ek dink dat daarin ʼn belangrike voorbeeld is vir die manier waarop ons aan ons kinders die Bybelse geskiedenis vertel. Dit geld ook, en veral, wanneer ons oor die feite van die Nuwe Testament, soos oor Jesus, sy wonders en sy liefde, en ook sy sterwe en opstanding, vertel. Ons mág dit nie vertel soos ʼn onwerklike sprokie van vroeër nie, want, om die woorde van Johannes te gebruik, “hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God”. U  kan, byvoorbeeld, ook dink aan die droom van Paulus, waarin hy geroep is om na Europa oor te kom en dáár die Evangelie te verkondig. Daarby het óns gebaat, hier in die verre Afrika. Paulus het toe na óns toe gekom!

Kinders en Kerkverlaters🔗

Op hierdie punt onderbreek ek eers, want ek kan my voorstel dat u dink dit gaan nou net oor vertelling aan kinders, terwyl ons in hierdie artikel praat oor jongmense. Daarby dink mens tog meer aan opgroeiende jeug, byvoorbeeld aan jeug in hulle puberteit. Inderdaad lyk dit asof die meeste tekste waaroor ek tot dusver gepraat het, oor die jonger jeug gaan, sê maar die kinders. Dit wys in elk geval duidelik op die belang van die onderrig aan die jonger jeug!

Maar dit sê ook baie oor die onderrig aan die ouer jeug. In ʼn boeiende lesing van H. Algra wys hy daarop dat in baie gevalle die belangrikste beslissings ten opsigte van die opvoeding van jeug reeds in tydperk daarvoor geneem word. Met ander woorde: geloofsvrae en kerkverlating mag miskien eers na puberteit plaasvind, maar dit word deur ʼn baie belangrike kindertyd voorafgegaan. Ek haal hom aan: ‘Kinderopvoeding ken sogenaamde kritieke periodes; dit geld ook vir opvoeding in die geloof. Vroeg-kinderlike geloof kan ʼn veilige basis vir die latere geloofsontwikkeling beteken’.

My oortuiging is dus dat die Bybelse aandag vir geloofsoordrag aan kinders alles te doen het met die onderwerp van kerk en jongmense.

Nietemin is dit natuurlik so dat baie ouers steeds met die probleem van kritiese vrae te doen kry as hulle kinders jongmense word.

‘Watse Gebooie is Dit?’🔗

Ek wil nie in die minste die indruk wek dat ek sonder meer kan vertel hoe dié probleme opgelos moet word nie. Wel wil ek opnuut ʼn Skrifgedeelte noem, wat hierop kan lig werp. Ek dink hier aan Deuteronomium 6, die bekende hoofstuk waarin liefde tot God die groot gebod genoem word. Vanaf vers 20 gaan dit daar oor ʼn soort ‘vraag van jongmense’ wat herinner aan wat Josua by die Jordaan beskryf. Maar tog verskil die toon daarvan. Sê maar gerus dit is meer ondersoekend. Ons lees daar die volgende: “As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die HERE onse God julle beveel het?” dan moet jy sus en so antwoord.

Voel u die verskil? Hier het ons nie te doen met die outomatiese aanvaarding van kinders nie. Hier vra ʼn seun, en dit lyk amper asof hy ’n bietjie ouer is as die kinders by die Jordaan: ‘Wat se wette is dit eintlik wat God julle opgelê het?’ U hoor die meer kritiese toon: ‘Wat se insettinge is dit? Waaroor gaan dit nou eintlik?’ U hoor ook ’n bietjie die afstand wat geneem word: wette wat God julle opgelê het. As die diens aan God in die belewing van jongmense ʼn las op ons nekke geword het, dan word dit baie belangrik om hieroor te praat; as hulle hul van hulle ouers distansieer en vra: ‘hoekom maak julle eintlik so?’

Nou moet u daarop let dat Moses se antwoord in styl verskil van dit wat Josua adviseer. Josua laat die ouers sê: hier het God júlle deur die Jordaan gelei. Moses laat die ouers op die kritiese vrae in die ‘ons’-vorm antwoord: “Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE het ons deur ʼn sterke hand uit Egipte uitgelei. En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen. En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land kan gee wat Hy aan ons vaders met ʼn eed beloof het”.

ouers en kind

Sien u die styl waarin Moses die ouers adviseer om te antwoord? Dit is die styl van ‘ons’. As daar na die ‘waarom’ van die gebooie gevra word, moet ouers begin deur te vertel wat God vir hulle beteken. In woorde van ons tyd gesê: antwoord vanuit u eie betrokkenheid. Laat sien waarom die gebooie vir u iets beteken, naamlik omdat u die God ken wat die gebooie gegee het; dat u vas glo dat dit nie bloot gaan oor reëls wat God op u nek gelê het nie, maar oor wette ter wille van die lewe, woorde van die God wat ons vrygemaak het en die goeie vir ons bedoel. Ons lees die verdere woorde van Moses: “En die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is”.

Die Gebod in U Hart🔗

Dit behoort nou duidelik te wees dat om só op vrae van jongmense te antwoord ʼn ander storie is as om net te sê: ‘jy moet kerk toe gaan want dit is die gewoonte in ons gesin’. Dit kom veel meer aan op die vraag: waar staan ’n mens self? Dit is duidelik dat om oor jou geloof te praat, iets is wat jy nie aan die dominee kan oorlaat nie. Daarom is dit wat Moses pas tevore in die hoofstuk gesê het, so ryk aan inhoud: “...hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;  en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek”. Daar is ʼn onomkeerbare volgorde. Die gebod (en veral die gebod om God lief te hê) moet eers in u eie hart wees, dan kan u dit by u kinders inprent, en dan kan u daaroor praat. So nie, is dit ʼn onbegonne taak.

Ten slotte. Dit sou u opgeval het dat, wanneer ons die Bybel naslaan oor die tema ‘kerk en jongmense’ ʼn mens nie veel vind oor ʼn taak wat die kerk spesifiek met betrekking tot jongmense sou hê nie. Ek bedoel hiermee dat daar nie gepraat word oor iets ‘anders’ as vir die gewone gemeente nie, en ook nie iets wat spesiaal ‘aangepas’ is vir die jongmense nie. Ek het ook ʼn bietjie na die Nuwe Testament gekyk, maar ek kom slegs een jongmens daar teë van wie afsonderlik vertel word dat hy in die kerk was. Dit is ʼn sekere Eútichus wat by die venster uitgeval het toe hy aan die slaap geraak het, omdat die preek so lank was!

Maar waar die nadruk wel op val, ook in die Nuwe Testament, is dat die jongmense van Godsweë ingesluit is. Van die kleintjies wat in die arms van gelowige ouers na Jesus gebring word, tot die jongmense aan wie Johannes skryf: “Ek het aan julle geskrywe, jongmanne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het”.

Die krag van die opgroeiende jeug is die vrug van die Woord van God, wat die jongmense éérs tuis moet hoor, op ʼn manier waaruit die betrokkenheid van die ouers spreek, en daarna ook in die kerk, as deel van die gemeenskap van die heiliges.