Bron: Kompas, 2004. 5 bladsye.

Die Charismatiese Beweging

Die charismatiese beweging het ʼn aantrekkingskrag op lidmate van die tradisionele gereformeerde kerke. Mense vind by charismatiese gemeentes blykbaar iets wat hulle by die tradisionele gereformeerde kerke nie vind nie: aksie, lewendigheid, krag. Mense sê dat die Heilige Gees in die charismatiese gemeentes op ʼn manier werk wat ons in ons eie kerke nie ken nie. Is dit waar?

Natuurlik kan dit so wees dat daar ʼn doodsheid in sommige tradisionele gereformeerde kerke ingetree het. Die Reformasie, wat 500 jaar gelede plaasgevind het, was seker die grootste vernuwingsbeweging in die geskiedenis van die kerk, maar die lewendigheid van die Reformasie het dikwels tot dooie konserwatisme verval.

Moet ons dan sê dat die charismatiese beweging ʼn noodsaaklike korreksie op dooie ortodoksie beteken? Nee, daardie gevolgtrekking is te maklik. Ook as die gereformeerde kerke almal springlewendig was, sou daar nog steeds konfrontasie met die charismatiese beweging wees. Reeds in die bloeityd van die Reformasie was daar konfrontasie met charismatiese bewegings (bv. die wederdopers). Reeds in daardie tyd was daar groepe wat gespog het dat die Heilige Gees by hulle kragtiger werk as in die kerke van die Reformasie. Die Reformatore het nie alleen teen Rome stryd gevoer nie, maar ook teen die charismatiese bewegings van hulle tyd.

Die afgelope vyfhonderd jaar was daar gedurig konfrontasie tussen die gereformeerde kerke en die charismatiese tipe bewegings. In die 18de eeu was dit John Wesley en die metodisme. In die 19de eeu was daar die heiligheidsbeweging met leiers soos Charles Finney. In die 20ste eeu het ons die opkoms van die Pinksterkerke en die charismatiese beweging gesien.

Aan die begin van die 21ste eeu is daar in baie gereformeerde kerke ʼn aanslag van die charismatiese beweging. Dikwels kom dit onder die vaandel van die ‘evangeliese beweging’. ʼn Voorbeeld is die Gereformeerde Kerken vrygemaak (GKNv) in Nederland wat tans duidelik ʼn krisistyd beleef. Die groot gevaar vir die GKNv is waarskynlik nie dat hulle liberaal of Skrifkrities kan word nie, maar dat hulle evangelies/charismaties kan raak. In baie ‘vrygemaakte’ gemeentes word byvoorbeeld die Alpha-kursus gebruik. Hierdie evangelisasiekursus is gebaseer op die boek Questions of Life van die Anglikaanse predikant Nicky Gumbel. In hierdie boek is daar ʼn sterk fokus op die werk van die Heilige Gees, en die manier waarop dit gebeur, is duidelik charismaties. Tongetaal is ʼn belangrike punt. Gumbel sal nie sê dat dit verpligtend is om in tonge te praat nie, maar dit word as ʼn positiewe ervaring vir elke Christen aanbeveel. Een van die hoofstukke het die titel ‘How can I be filled with the Spirit?’ (Hoe kan ek met die Gees vervul word?) As so ʼn boek wyd in gereformeerde kerke gebruik word, kan dit nie anders nie of dit moet gevolge hê.

Dit is derhalwe nie verbasend nie (en ook verblydend) dat ʼn aantal gereformeerde predikante in Nederland ʼn boek gepubliseer het waarin hulle teen die invloed van die evangelies/charismatiese beweging probeer walgooi. Die boek het die veelseggende titel ‘Meer dan genoeg’. Met ander woorde: In ons gereformeerde erfenis het ons ‘meer as genoeg’ gekry om die gawes van Christus en van die Heilige Gees ten volle te kan ontvang en gebruik. Een van die hoofstukke is deur prof. Hans Maris geskryf. Hy is professor in dogmatiek aan die Teologiese Universiteit van die Christelijke Geref. Kerken in Apeldoorn. Prof Maris bied ʼn insiggewende analise van die charismatiese beweging waarin hy ses kenmerkende patrone van charismatiese denke identifiseer en dit dan in die lig van die Skrif evalueer.

1. Christus en die Gees🔗

Die eerste kenmerk van die charismatiese beweging is dat die werk van die Heilige Gees so beklemtoon word dat dit die indruk skep dat die werk van Christus nie meer sentraal staan nie. Natuurlik word daar ook in charismatiese groepe op ʼn positiewe manier oor die werk van Christus gepraat. Hy het immers deur sy dood aan die kruis vir ons vergewing van sondes gegee. Maar dan word gesê dat ons nou verder moet gaan. Dit is goed as jy vergewing en versoening ontvang het, maar nou moet jy ʼn hoër vlak van Christenskap bereik en vervulling met die Gees ontvang. Jy moet byvoorbeeld oorwinning oor siekte behaal, ʼn meer volmaakte Christelike lewe lei, en spesifieke gawes van die Gees ontvang. Dit klink amper asof ʼn mens van grondvloer van die geloof na ʼn hoër vlak van geloof moet opklim om die vervulling met die Gees te beleef.

Wat sê die Woord van God hieroor? Is dit so dat ons van die grondvloer (Christus se werk) na ʼn hoër vlak moet beweeg (die Gees se werk)? Dit is merkwaardig dat Paulus in die brief wat handel oor die geestesgawes, juis Christus se werk benadruk:

Ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.1 Korinthiërs 2:2

En in die brief wat oor ‘volheid’ handel (Kolossense), benadruk Paulus dat ons die volheid in Christus ontvang het en dat al die skatte van wysheid en kennis in Christus verborge is (Kolossense 2:2-3). In dieselfde brief waarsku Paulus teen die gevaar van ʼn strewe na sogenaamde ‘hoër’ ervarings. So iets is maar net ʼn opgeblasenheid wat uiteindelik niks anders as ʼn vleeslike gesindheid is nie (Kolossense 2:18). Hy spoor die gelowiges aan om aan die Hoof, Christus, vas te hou (Kolossense 2:19). Blykbaar is dit ʼn gevaar vir gelowiges dat ons die band met Christus, die Hoof, kan verloor. As ʼn mens die Nuwe Testament lees, is dit opvallend dat Christus nooit agter die Gees verborge raak nie, maar dat die Gees juis gekom het om Christus alle eer te gee. Dit is wat Jesus self ook gesê het toe Hy die koms van die Trooster, die Heilige Gees, aangekondig het: “Hy sal My verheerlik” (Johannes 16:14-15). Dit is die taak van die Heilige Gees om van Jesus Christus te getuig (Johannes 15:26).

Werklike Geesvervulde prediking sal dus altyd prediking wees wat Christus en sy skatte en gawes sentraal stel. ʼn Werklike Geesvervulde lewe sal ʼn lewe wees waarin Christus en sy skatte en gawes sentraal staan. Paulus se waarskuwing aan die Korinthiërs is ook vandag nog belangrik:

Ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang. Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ʼn ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik ʼn ander gees en ʼn ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het.2 Korinthiërs 11:3-4, NAB

Dit is ʼn baie ernstige waarskuwing! As daar nie meer onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus is nie, kan dit beteken dat ʼn “ander gees” die oorhand gekry het – en dit kan nie die Heilige Gees wees nie, want die Heilige Gees getuig juis van Christus.

2. Geloof en Ervaring🔗

ʼn Tweede kenmerkende patroon van charismatiese denke wat prof Maris noem, is die nadruk op ervaring. Jy moet iets voel. Jy moet agterkom dat jy glo. Daar moet dinge gebeur in jou lewe. Veral moet jy die doop met die Heilige Gees ervaar.

Wat hierdie doop met die Heilige Gees presies beteken, is ʼn vraag wat in die charismatiese beweging self verskillend beantwoord word.

Aanvanklik was tongetaal dié ervaring wat elke Geesvervulde Christen moes kry. Later het die nadruk op tongetaal minder geword en is ook ander ervarings, bv. genesings, profesieë, wonders en dies meer, as tekens van die doop met die Heilige Gees gesien. Wat egter strykdeur dieselfde bly, is dat die doop met die Heilige Gees as ʼn ekstra, spesiale, buitengewone ervaring gesien word. Geesvervulde Christene het so ʼn ervaring gehad. Die wat dit nie gehad het nie, is nog op die ‘grondvloer’ en het nog nie by die ‘hoër vlak’ van Christenskap uitgekom nie.

Wat sê die Woord van God hieroor? In die Nuwe Testament kry ʼn mens glad nie die indruk dat geloof as iets minderwaardigs beskou word in vergelyking met ervaring nie. Ons lees dat geloof die verskil tussen verlore gaan en gered word beteken. Wie in Jesus Christus glo, het die ewige lewe; hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel (Johannes 3:15-18, ens.). Die geloof is die middel waarmee al die skatte en gawes van Christus ontvang word.

Bowendien lees ons in die Nuwe Testament dat gelowiges in ʼn situasie kan beland waar daar geen ervaring hoegenaamd is nie. Daar kan aanvegtings wees, versoeking, beproewings. In sulke omstandighede is dit kenmerkend vir die gelowiges dat hulle hul vertroue op God vestig (nie op hul ‘ervarings’ nie). Die Heilige Gees help ons om ons sekerheid nie in onsself te soek nie, maar om dit buite onsself, in God se beloftes te soek. Daarom skryf Paulus byvoorbeeld dat ons die Gees ontvang het “sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Korinthiërs 2:12).

3. Genade en Krag🔗

Die derde kenmerkende patroon van charismatiese denke wat prof. Maris noem, is dat krag belangriker is as genade. Daar is ʼn oorweldigende behoefte om geestelike krag te ervaar. Die woord ‘power’ is baie populêr. Ter illustrasie kan ʼn mens na die boekies van John Wimber, Power evangelism en Power healing, verwys. Gevolglik is daar in party charismatiese samekomste nie veel ruimte vir die verkondiging van die Woord nie, maar word daar baie tyd gegee vir die sogenaamde ‘werk’ met die Heilige Gees: genesings, duiweluitdrywings, ens.

Dit word natuurlik nie ontken dat genade ʼn belangrike Skriftuurlike woord is nie. Tog is dit in die praktyk van die lewe so dat daar ʼn soort van skeiding tussen die ‘Christus van genade’ en die ‘Gees van krag’ ontstaan. Weer eens is dit so dat ‘genade’ op die grondvloer van die geloof gevind word, terwyl dit van ʼn mens verwag word om op te klim na die hoër vlak waar geestelike krag ervaar word.

Wat sê die Woord van God hieroor? As ʼn mens die Nuwe Testament lees, is dit duidelik dat genade ʼn baie belangrike begrip is. Deur die genade van God word mense gered. Deur die genade van God doen gelowiges werke van barmhartigheid (2 Korinthiërs 9:14). Natuurlik is dit so dat hierdie genadewerkinge impliseer dat enorme kragte werksaam is. Die woord ‘krag’ is inderdaad ʼn belangrike woord in die Bybel.

God het ons nie ʼn gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.2 Timótheüs 1:7

Waar die Heilige Gees werk, daar is krag, en gelowiges sal ook hierdie krag in hulle lewe ervaar. As ʼn mens egter die ervaring van hierdie geestelike krag as ʼn doel op sigself gaan najaag, sal op die ou end die mens self sentraal staan. Bowendien is daar ook geestelike kragte wat nie van God uitgaan nie, maar wat ʼn ander bron het.

Benny Hinn, ʼn bekende profeet van die charismatiese beweging, het in 1989 geprofeteer dat God in 1994 of 1995 die homoseksuele beweging in die VSA deur vuur sou vernietig. Dit het nie gebeur nie. Ook het hy geprofeteer dat daar op 3 Maart 2003 wêreldwyd ʼn enorme bonatuurlike gebeure sou plaasvind. Dit het nie gebeur nie. Volgens Deuteronomium 18:20-22 beteken dit dat Benny Hinn ʼn valse profeet is. Bowendien het hy self gesê dat hy openbarings ontvang het tydens visioene van ontmoetings met dooies in die doderyk. In 1991 het hy die graf van die Pinkstervoorganger Aimee McPherson besoek om daar ʼn besondere ‘salwing’ te ontvang. Al hierdie inligting dui daarop dat die kragte wat in Benny Hinn werksaam is, nie die kragte van die Heilige Gees is nie, maar van ʼn ander gees.

Kenmerkend vir die ware Christelike geloof is dat “ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie” (2 Korinthiërs 5:7). Die realiteit van die lewe is hard, ook vir Christene. Ons aardse tentwoning word afgebreek, ons sug en ons is swak. Dikwels is daar, vir wat die oog kan sien, baie min ‘krag’ waarmee daar gespog kan word. En tog is daar die innerlike krag, die geloofskrag wat deur die Heilige Gees gewerk word, wat maak dat die ware gelowige “altyd goeie moed” het en daarna uitsien “om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon” (2 Korinthiërs 5:8).

4. Groei en Oorwinning🔗

Die vierde kenmerkende patroon van charismatiese denke wat prof. Maris noem, is ʼn neiging tot triomfantalisme. Die begrip ‘oorwinning’ is baie belangrik. Die charismatiese, Geesvervulde Christen moet altyd kan getuig van besondere dinge wat gebeur het en van oorwinnings wat behaal is. In charismatiese samekomste moet daar van besondere ervarings vertel kan word. ʼn Geesvervulde Christen moet ʼn triomfantelike uitstraling hê. Depressief wees, is eintlik onmoontlik. As iemand depressief is, is hy waarskynlik nie meer ‘in die Heer’ nie.

Wat sê die Woord van God hieroor? Die Christelike lewe word in die Skrif nie as ʼn geestelike staptoer op die toppe van die berge beskryf nie. Die ‘oorwinnings’ waaroor die Bybel praat (genesings, wonders, ens.) is veral tekens dat die Koninkryk van God gekom het. Hierdie tekens is nie bedoel om kenmerkend te wees vir die alledaagse Christelike lewe nie.

Die Here Jesus het self die houding gekritiseer van die mense wat altyd tekens en wonders wil sien (Johannes 4:48). Die Skriftuurlike benadering is nie ʼn soeke na spektakels nie, maar ʼn weg van erkenning van skuld en die besef dat ons van genade leef. Die Christelike geloof is nie ʼn teatervoorstelling waarby die een spektakel die ander een opvolg nie. Dit is ʼn weg van groei in kennis en in genade van Christus.

Julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.2 Petrus 3:18

Groei in geloof beteken nie dat ʼn mens al hoe meer verbasende oorwinnings oor siekte of oor demone behaal nie, maar dat ʼn mens die liefde van Christus al hoe meer leer ken. As Paulus praat van “vervul word tot al die volheid van God”, beteken dit vir hom dat ons “die liefde van Christus ken” (Efésiërs 3:18-19).

5. Sonde: Stryd en Oorwinning🔗

Die vyfde kenmerkende patroon van charismatiese denke wat prof. Maris noem, is ʼn neiging tot perfeksionisme. Dit wil sê dat die sonde gesien word as iets waarmee ʼn mens as Christen reeds klaargespeel het. Daar is leiers van die Pinksterbeweging wat meen dat ʼn Christen die vyfde bede van die Onse Vader (‘vergewe ons ons skulde’) nie meer behoort te bid nie. Ander voorgangers is meer gematig en sal nie ontken dat ʼn Christen nog sonde kan doen nie. Tog is daar oor die algemeen ʼn neiging om die realiteit van die sonde te ignoreer. Prof Maris noem die voorbeeld van ʼn gesprek wat hy met ʼn Pinkstergelowige gehad het. Toe hy die persoon vra of daar nog sonde in die lewe van ʼn Christen is, was die antwoord: “Ons praat nie eintlik daaroor nie. Ons is maar net altyd bly.”

Wat sê die Woord van God hieroor? Vir die apostel Paulus is daar in die Christelike lewe ʼn voortdurende stryd teen “die ou mens”. Hy skryf aan die gelowiges in Efese dat hulle die ou mens moet aflê en dat hulle vernuwe moet word in die gees van hulle gemoed (Efésiërs 4:22-23). Paulus sien homself ook allermins as ʼn perfekte Christen. “Ek, ellendige mens”, sê hy (Romeine 7:24). In al die briewe van die Nuwe Testament vind ʼn mens aansporings vir die stryd teen die sonde wat nog oorgebly het in die lewe van die gelowiges. As iemand dink dat hy klaargespeel het met die sonde, mislei hy homself (1 Johannes 1:8). Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus praat tereg van “my sondige aard waarteen ek my hele lewe lank moet stry”.

Die belofte van die evangelie is nie dat ek in hierdie lewe alreeds sondeloos kan word nie, maar dat die vele sondes wat ek in hierdie lewe gedoen het, almal vergewe word deur die bloed van Christus en dat Christus, deur sy Gees, ook inderdaad my lewe vernuwe na sy beeld (Sondag 32 HK.). Maar ons word nie sondeloos nie, altans, nie nou al nie.

6. Vrugte en Gawes🔗

Die sesde en laaste kenmerkende patroon van charismatiese denke wat prof Maris noem, is dat die gawes van die Gees oorbeklemtoon word ten koste van die vrug van die Gees. Bowendien is daar ook in hierdie geval weer ʼn eensydige belangstelling vir die meer sensasionele gawes van die Gees, soos bv. tongetaal en genesings. Daar is nie baie belangstelling vir die gawes wat Paulus in Romeine 12:6-8 noem nie, want dit is te ‘gewoon’: onderrig gee, leiding gee, vermaning gee, ywerig wees, barmhartigheid bewys, ensovoorts. Daardie gawes is blykbaar nie opvallend genoeg nie…

Wat sê die Woord van God hieroor? In 1 Korinthiërs 12-14 praat Paulus duidelik oor die doel van die gawes. Die doel van die geestelike gawes is dat die gemeente opgebou moet word.

As julle streef na geestelike gawes, moet julle probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente.1 Korinthiërs 14:12

In die gemeente van Korinte was daar blykbaar by sommige ʼn neiging om te streef na die gawes wat ʼn mens laat uitstaan, wat ʼn mens onderskei van ander mense, soos tongetaal. Daarom plaas Paulus die gawe van tongetaal doelbewus onder aan die lys van geestelike gawes (1 Korinthiërs 12:10, 30)!

Die geestelike gawes is nie gegee om die mens wat dit ontvang het, te verheerlik nie. Dit is gegee tot opbou van die gemeente. Nie die mens met sy gawes en sy geestelike hoogtepunte moet in die gemeente sentraal staan nie, maar Jesus Christus. In Hom het ons alles ontvang. In sy genade, in sy werk wat Hy op Golgota volbring het. In sy Gees, wat alles uit Hom neem en wat Hom verheerlik.