5 bladsye.

Die Daad van God en die Antwoord van die Mens

1. 'n Dialogiese Gebeure🔗

Die reformatoriese erediens is wesentlik getipeer as 'n groot gesprek. Dit is 'n gebeure waar woord en weerwoord plaasvind. Die woord en weerwoord rus egter op 'n daad of handeling van God en ook op die dade of handelinge van die mens. Soos wat God se woord of spreke bepalend is vir die spreke of ant­woord van die mens in die erediens, so is ook die handelinge van God bepalend vir die handelinge van die mens in die erediens. Meer nog, die gesprek vind plaas in sy dialogiese karakter omdat dit rus op die daad van God. By God is woord en spreke een. Die woord wat Hy spreek is tegelyk daad en die daad kom tot verwerkliking deur die woord.

Vandag is dialoog aan die orde van die dag en van al die dakke word luid geroep om, dialoog ten alle koste. Die erediens is inderdaad 'n dialogiese gebeure, dit is 'n heen en weer beweging van woord en weerwoord, maar tegelyk 'n heen en weer van daad, daad en die ant­woorde daarop. Maar die verskil is dat die dialoog nie in die eerste plek verloop op die horisontale vlak nie, tussen mense onderling nie, maar tussen God en mens op vertikale vlak. In hierdie dialogiese gebeure is God steeds die primêre en is sy woord bepalend vir en hoe die mens antwoord.

Die wese en opbou van die erediens verteenwoordig 'n tweevou­dige beweging in die gees en gemoed van die aanbidders. Daar is die alternatiewe beweging van God na die mens en van die mens na God. God roep en die mens antwoord; die mens roep en God antwoord.

The worshipper moves rhythmically from vision to response, and thence to fresh vision and new response.R. Abba

Ons kan ook sê die erediens is 'n gebeure met twee subjekte: die Groot Subjek, God, wat met ons handel, wat na ons neerbuig en aan ons sy heil skenk; en die klein subjek, die mens, wat in antwoord teen­oor God handel, wat sy heil ontvang met dank. Die erediens is 'n onskeidbaar "met mekaar en in mekaar" van woord en antwoord (C. Mahrenholz).

Op 'n ander wyse kan gesê word dat die erediens staan op die front tussen twee wêrelde en dat daar 'n verkeer oor die twee fronte plaasvind: God se wêreld en ons wêreld.

Die dialoog in die erediens word eerste bemerk waar woorde en handelinge uitgeruil word. Die ware dialoog, die tussen die Here en sy gemeente, is egter 'n diepgeestelike werklikheid, wat die hele bestaan van die mens omvat, maar wat nie so direk bemerk word nie.

In die dialogiese gebeure in die erediens gaan dit nie in die eerste plek om die emosies en indrukke wat uitgeruil word nie, maar om die dinamiek van die skeppende woord en in hierdie dinamiek kom die leweveranderende belewing na vore.

2. Die Erediens as Werk van God, Opus Dei🔗

Dit skyn asof die erediens bestaan uit menslike woorde en handelinge, of dit "'n werk van die mens", 'n "opus hominis" is. In werklikheid is dit die menslike handelinge en woorde wat volg op die werk van God, die "opus Dei".

Die hele erediens is in eerste instansie 'n werk van God. Dit is sy werk aan ons en vir ons, en dit is die begin, die grond, wese en inhoud van die erediens. Dit is wel waar dat wat in die erediens gesien en gehoor word, menslike woorde en handelinge is en dat ons God se woorde en handelinge nie so direk hoor en sien nie. Tog, wat ons hoor en sien is die neer­slag van wat God spreek en doen. Daaragter lê sy woorde en hande­linge. Van begin tot einde rus die erediens op en leef uit die spreken­de en handelende God. Wat God sê en doen, is die primêre in die erediens. Die opus Dei sien op die prioriteit en soewereiniteit van God.

Die erediens leef uit die werk wat God vooraf gedoen het, dit is 'n "prevenience" op alles wat ons in antwoord daarop doen (M. Perry). Tereg sê M. Perry verder: "Worship is God's business, both in principle and in its details … Worship is an activity of the Holy Trinity, an activity which does not depend on human awareness or human participation, but which is entirely prevenient". Die Here is die primêre en eintlike dryfkrag agter die erediens en maak alles moont­lik deur sy werk: "In worship then everything comes from God, entirely from his "prevenient grace", which draws man out of his darkness, raises him from the dust of a very small and sinful crea­ture, and tears away the veil which hides from him the knowledge of his Creator and Saviour. It is the Lord who calls together his people, it is he who holds assembly with them, and it is he who leads the divine service of his church … Worship is a dialogue, but the initial call comes from God who begins the conversation" (R. Paquier). Sterk stel Barth hierdie belangrike saak.

Die kerklike ere­diens is ten eerste, dit is primêr, oorspronklik substansieel 'n godde­like, dit is dan eers; sekondêr, afgelei, aksidenteel 'n menslike han­deling. Wat die mens daarby doen en kan doen, is diens. Dat hierdie diens diens aan God is, skep nie die mens nie, dit skep God gans alleen.

Alles hang af van die daad van God — dit is die een vaste gegewene "givenness" (P. Fischer). God is die primêre Subjek. Erediens is ten eerste en grondliggend diens van God aan ons (W. Hahn). Dit gaan in die erediens uitsluitend om die opus Dei, om Gods heilswerk, om God se diens … Die wese van die erediens, die wese van die litur­gie, hang af van die woord en werk van God (F. Buchholz). "God is the first reality in worship, not man; the soul feeds on the life God gives, not on itself ." (P. W. Hoon).

Dat God egter die begin van alles het en die inisiatief neem, ken ons uit die openbaring. God het geopenbaar wie Hy is en wat sy wil en bedoeling met ons is.

Die feit dat die erediens eerstens en laastens werk van God is, is baie moeilik vir die mens om te leer, ook vir baie kerkmense. Ons sien alles graag as 'n geleentheid waar menslike behoeftes bevredig word.

God het Hom opgemaak en inderdaad na die mense gekom. Dit het nie by woorde gebly nie. Hier in ons ellendige geskiedenis het Hy sy groot dade verrig. Hy het die wêreld so oneindig liefgehad dat Hy na ons gekom het en dit het geskied in die koms, geboorte, lewe en sterwe van Jesus Christus. Dit is so wonderlik dat die heilige God na die mens in sy sonde kom, na die mens wat in haat en ongeloof sy rug op God gekeer het, wat die Here verloën het en wat dus die kinderhart verloor het. Juis na hierdie mens wat God nie meer ken nie en wat Hom nie meer wil ken nie, kom die Here in sy genade en liefde.

God se koms na ons is tot heil en tot redding van die mens. Hy kom om die wêreld te red in plaas daarvan om dit stukkend te slaan. Hierdie koms het 'n Naam, dit geskied in die gestalte van Jesus Christus. Dit beteken God wil na ons kom en met ons gaan, by ons bly.

Hierdie heerlike gebeure is 'n groot korreksie op wat vandag op so baie maniere nagestreef word, ook in die erediens — waar mense hulle inspan en hulle besig hou om hulle na God heen te werk. Dan is dit nie meer 'n werk van God in eerste instansie nie, maar 'n werk van die mens. Hierdie koms van God na die mens keer hierdie ver­keerde menslike siening om:

Dit het … die onomkeerbare rigting van bo na onder; dit beteken die algehele voorrang van God en dit bevestig dat Hy ons eens en vir altyd voor is ("zuvorgekommen ist"); Hy het dit aan niks laat ontbreek nie … en nooit het Hy trapsgewyse sy genade gegee nie, maar altyd die hele genade … Daar hoef niks bygevoeg te word nie. Die bronne stroom, dit is nie verstop nie. Maar al hierdie dinge kom na ons nie van ons nie. En alles wat ons ere­diens noem leef gans alleen en uitsluitlik van die diens van God aan ons … Sy arbeid gaan vooraf; dit moet ons ons laat geval. Dit is 'n eer om jou te laat beskenk, en vreugde om gelief te wees al mag dit ons nog so beskaam.M. Mezger

God is nie alleen die primêre nie en Hy kom nie alleen na ons nie, maar Hy is ook die een wat die heil inderdaad skenk. Die Here skenk sy gawes van genade, Hy gee sy hart, skenk Homself aan die mens. Hy skenk sy liefde. Hy skenk nie maar eenmalig en met ver­wyte nie, maar Hy bly steeds die Skenker en Hy gee sonder om te verwyt. Hy gee sy gawes aan mense wat dit nooit verdien nie en wat dit ook nie werd is nie. Dit gaan daarom nie in die erediens om die behoeftes van die mens nie, maar om God wat skenk en wat rojaal en voortdurend skenk, wat sy Seun skenk. Hy skenk sy Gees wat Hom bekend maak. Hy skenk sy gawes in die woord en nagmaal en doop.

Ons moet duidelik oog daarvoor kry dat God die Skenker is, dit is die "ontvangskarakter" van die erediens. Hy skenk sy liefde en ge­nade, sy vergifnis, sy verlossing, die nuwe verhouding en die nuwe lewe. Dit is God wat gee, wat die eerste gee en wat altyd weer gee. Hiervan leef die kerk en die erediens (G. Voigt). Dit is die groot om­kering deur die regte verstaan van die erediens; Hy gee en ons ont­vang, Hy daal neer en dit is nie ons wat opstyg nie (M. Mezger). Alles wat in die erediens geskied, al ons handelinge en woorde ge­skied op grond van hierdie God wat ons beskenk en altyd weer be­skenk.

  • Die Actio Dei bring die Erkenning van die Enige Ware God🔗

Indien ons sê dat God begin en dat Hy primêr werk, dat Hy na ons kom en dat Hy ons beskenk, dan beteken dit meteen 'n keuse teenoor Hom, dit bring ons tot 'n keuse vir Hom en teen die afgode. Die erkenning dat Hy die begin en die einde is, die eerste en die laaste, die een wat spreek en handel en wat die hele erediens moontlik maak, beteken dat Hy inderdaad as die Here erken en gedien moet word. Vanself beteken dit dat die afgode verwerp word en hulle uit die lewe geban word. Dit bring mee dat die afgode en die duiwel die stryd aangesê word. Daarom beteken die erediens sulke magtige dinge — dit is die openbaring van die wesenlike stryd van God teen die afgode en die stryd vir God teen die afgode. Die erkenning van Jesus Christus as die Persoon in wie God se actio konkreet geword het, beteken die belydenis dat Hy die Here is, dat Hy die magte oorwin en uitgeklee en in die openbaar as oorwonne ten toongestel het (Kolossense 2:14, 15); dat Hy gekom het om die werke van die duiwel te verbreek (1 Johannes 3:8).

Hier staan ons voor die alles omkerende betekenis, die "Um­wertung aller Werte", van die eerste gebod: Jy mag geen ander Gode voor My aangesig hê nie. Die almagtige God staan alleen sentraal. Tereg het Maarten Luther dit gesien as die groot uitgangspunt vir die erediens. Dit gaan vir hom steeds om God òf die afgodery. Ons sie­ning van God bepaal die erediens. Of ons dien God werklik òf ons pleeg afgodery. "Of God is 'ons God', en ons leef in gemeenskap met Hom, of deur wantroue verag ons Hom — die een impliseer erediens, die ander afgodery" (V. Vajta). Ons kan dit nog korter stel: erediens beteken geloof. "Where there is faith in Christ there is fellowship with him. With this faith or unbelief a decision is taken" (K. F. Müller).

Nie slegs die begin en die grond van die erediens word gedra deur die werk van God nie. Die hele erediens is werk van God. Die hele erediens word gedra deur God se voorkomende werk en sy handel en woorde: "In Christian worship, God comes to us in Christ through the Holy Spirit, sustains us through his grace, establishes us in fellowship with him and with one another, and empowers us for his service in the world." (Worship and the oneness of Christ's Church). Ja, die hele erediens is een groot gang, koms van God na die mens, en een groot werk van God aan die mens.

3. Die Erediens as Werk van die Mense, Opus Populi🔗

Op die werk of aksie van God volg die aksie van die mens, op die koms van God na die mens volg die koms van die mens na God; op die aanspreke van God volg die antwoord van die mens; op die ge­skenk van die Here aan die mens volg die mens se offer van dank­baarheid aan die Here. Op die hele diens van God aan die mens volg nou die diens van die mens aan die Here. Daarom is die erediens vir sover dit die aandeel van die mense betref, wesentlik 'n antwoord, 'n respons, die respons op alles wat God eerste gespreek, geskenk en gedoen het. Al ons handelinge in die erediens kan niks anders wees nie as reaksie, as antwoord en konsekwensie van wat God primêr gedoen het. P. Brunner het gelyk as hy dit só stel:

Hierdie antwoordende, belydende, dankseggende en lofprysende woord van die gemeente moet steeds die groot reddende magsdade van God gedenk, dit biddend bely, roem en prys en dit op hierdie wyse weer verkondig en teenwoordig stel … Elke erediens is van die begin af reeds antwoord, antwoord op die vroeër ontvange gawes in die doop en in die konfirmasie.

Ons kom na Hom omdat Hy eerste na ons gekom het. Ons handel omdat Hy eerste gehandel het en dit moontlik gemaak het dat ons Hom kan ken en ook in antwoord kan handel. Ons eer en dank Hom omdat Hy Homself aan ons geopenbaar het en omdat Hy in Jesus Christus ons alles geskenk het. Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. Ons betoon aan Hom eer omdat Hy Homself so ge­openbaar het, "we ascribe to Him supreme worth because He has showed Himself to be worthy of our complete homage, gratitude and trust" (R. Abba).

Die menslike sy van die erediens, die opus pouli, kan goed soos volg saamgevat word: "In worship, we come to God in Christ, the True Worshipper, who by his incarnation, servanthood, obedience unto death, resurrection and ascension, has made us participants in the worship which he offers. In him, truly God, we have access to the Father; in him, truly Man, we are restored to our true nature as worshippers of God. Christian worship is, therefore, a service to God the Father by men redeemed by his Son, who are continually finding new life in the power of the Holy Spirit" (Worship and the oneness of Christ's church). "Het geschapen woord volgt steeds en op en uit het scheppende Woord" (W.J. Aalders). Verder: "God can be the object of our worship only if he is first the subject, that is, the one who gives us the worship. We can only offer him our service if he himself inspires and orders it first of all" (R. Paquier).

Ons kan dan met ewe veel klem sê dat die hele erediens een groot koms, gang van die mens na God is, 'n kom om te ontvang en jou te laat beskenk — maar dit is in die tweede plek omdat in alles God primêr gekom het. Ook vir die tweede deel is die mens afhanklik van God en is dit in dié sin ook weer God se werk.

4. Die Onskeidbare Samehang tussen Actio Dei en Actio Populi🔗

Hoewel in orde en in beginsel die werk van God altyd aan die werk van die mens in die erediens voorafgaan, is dit 'n ineengestrengelde wisselwerking wat nie geskei kan word nie. Die beide rigtinge van die handelinge — van God aan ons en gerig op ons, en ons hande­linge gerig op God, hang ten nouste saam. God skenk Homself as die genadige Vader deur die Seun in die Heilige Gees. Ons gee onsself aan Hom as versoende en aangenome seuns deur die Gees in Chris­tus, die Seun. God ontsluit sy genadige vaderhart en spreek met ons; ons ontsluit ons harte in dankbaarheid teenoor Hom in ons antwoord aan Hom: "In beide is die wisselwerking tussen een tweevoudige activiteit. Als God zegent, ontvangst en aanvaardt de gemeente en als zij bidt en dankt, neigt Hij zijn oor; als Zijn Woord verkondigt wordt moet zij luisteren en de boodschap in zich opnemen, … en als zij belijdt en looft hoort Hij en luistert de hemel" (K. Dijk, Woord en Offer). God wil sy werk aan en deur die mens voltrek (E. Silomon).

Dit is verkeerd om hierdie eenheid te sien asof in die erediens is wat God vir ons doen, en in die lewe weer is wat ons vir Hom doen. By elke erediens en by die erediens van die lewe gaan dit om die oor en weer van God se diens vir ons en ons diens aan Hom. Tog is die twee sye nie gelyk aan mekaar nie — daar is 'n wêreld van verskil tussen die twee. Die eenheid en gelyktydigheid word só goed saam­gevat:

Therefore both Word and Sacrament are at one and the same time God's service to us and our human service to Him. God's service to us and our service to Him permeate one another, and what God does for us He does only in, with and under our service.W. Hahn

Opus Dei en opus hominum staan wel teenoor mekaar, maar dan in die sin van komplementariteit. Hulle is komplementêr op ver­skillende vlakke. Komplementariteit kan dan nie slegs sien op bilaterale verhoudings nie, maar ook op multilaterale verhoudings tus­sen die partye (K. P. Jörns).