3 bladsye.

Die Deelname aan die Erediens

Vir die verstaan van die wese van die erediens moet gelet word op wie die erediens voltrek, wie die deelnemers daarvan is. Dikwels is hieroor baie onduidelikheid en misverstand.

1. Die Groot Subjek van die Erediens🔗

God is nie alleen die Inisiatiefnemer by die erediens nie en Hy is nie alleen die Een wie se werk die erediens moontlik maak nie, maar Hy bly van begin tot einde die eintlike Subjek van die erediens. Hy is die Deelnemer aan die erediens as 'n gesprek. Hy maak die diens moontlik, roep op daartoe, gee daaraan die sin en betekenis en dit is tegelyk Hy wat handelend deelneem aan die hele diens, van begin tot einde. Daarom is dit van so geweldige betekenis en is dit nie maar 'n onderonsie van die mense nie. Mooi vat J.J. von Allmen dit soos volg saam:

It is God's command which makes worship something greater than desire and longing. It is His presence which makes it more than an illusion. It is his action which redeems it from vanity. It is His glory which makes it other than spiritual blindness … God, Father, Son and Holy Ghost, is both the subject and the object of Christian worship, He who commands and He who welcomes the service, He who speaks and He who listens, He whom we implore and He who grants our requests.

Die Drie-enige God as Subjek in die erediens neem veral deel in die Persoon van Jesus Christus as die Middelaar en Hoëpriester. In Hom het God onder ons kom woon en werk en Hy is die sametrek­king van hierdie liefde en genade. In en deur Hom het daar ver­soening en vrede met God gekom. Hy is die Trooster, Hy is die Hoë­priester wat met al ons swakhede bekend is; Hy is die handelende Persoon wat aan ons handeling in die erediens sin gee. Hy is die vleesgeworde Woord wat nie alleen die afstand tussen ons en God oorwin nie, maar wat so handel dat ons kan leef en kan aanbid. "Jezus Christus, Immanuël, God met ons, Hij is de liturg, de Dienaar en wat wij doen is, wil het eredienst zijn, gedragen en opgedragen door Hem" (J. P. Boendermaker).

2. Die Gemeente🔗

Die deelnemers aan die erediens is verder die gemeente van Jesus Christus, die gedooptes, die getroues, die volk van God. Dit is nie die massa of die publiek of 'n onverskillige groep mense wat aan die erediens deelneem nie, maar die gemeente. Daar bestaan 'n binding tussen hulle en die Here en hierdie binding bring hulle saam en laat hulle deelneem en die hele deelname is gerig op Hom met Wie en tot Wie hierdie omvattende binding bestaan Alles word saamgevat in die wonderlike voorreg en tegelyk diepe geheimenis van die ver­bond.

Daarom is dit verkeerd om die erediens sodanig op te vat en in te rig dat dit die begeertes en behoeftes van die massa en veral die ge­sekulariseerde massa moet bevredig. In die eerste plek gaan dit om die gemeente wat die subjek is. Dit is hulle wat byeengekom het vir 'n bepaalde doel.

Waar dit die gemeente is wat aan die erediens deelneem, spreek dit vanself dat dit die hele gemeente omvat. Dit raak al die belydende lidmate, mense wat na noukeurige onderrig en selfondersoek gekom het om te verklaar dat hulle aan Christus behoort, Hom as die Here en Hoof van die kerk en van hulle lewens erken. Hierdie erkenning vind sy uitdrukking daarin om Hom te aanbid en te dien en in hier­die geloof opgebou te word deur Woord en sakramente. Nie genoeg kan dit beklemtoon word dat die erediens die saak van die ge­meente is nie, en nie slegs van 'n deel of 'n verteenwoordiging of 'n geraamte van die gemeente nie. E. Silomon stel dit duidelik:

Die erediens as sentrale gebeure van die gemeente impliseer die totale betrokkenheid van sy lidmate by hierdie gebeure. Die liturgie is die werk van die hele kerk.

Die hele gemeente sluit inderdaad die kinders van die gemeente in. Hulle staan in die verbond, is gedoop en groei op in die dampkring van God se genadige verbond. Om baie duidelike redes mag hulle nie nagmaal gebruik voor hulle belydenis van geloof nie, maar hulle mag en moet as volwaardige lede die hele diens meemaak. In die vroeë kerk is daar drie groepe persone wel tot die eerste deel van die erediens toegelaat, maar hulle moes voor die belydenis en gebede en dus voor die nagmaal die erediens verlaat — die missa catechumeno­rum (die drie groepe was: kategumene, boetelinge en onkundiges). Dit is onnodig, want die erediens in sy geheel het 'n boodskap en hulle kan veel van die bedoeling daarmee geïllustreer sien in die wyse waarop die gemeente die nagmaal vier. Tans kry ons weer iets van die sogenaamde missa catechumenorum in dié sin dat die kinders in baie kerke en dienste net die eerste deel van die diens bywoon en voor die preek na 'n aparte lokaal gaan waar hulle 'n ander tipe woordbediening ontvang. Hulle verlaat dus die gewone diens voor die preek en nie slegs voor die nagmaal nie. Dit is om baie redes af te keur, want daardeur word die eenheid van die gemeente verbreek en die besondere betekenis van die erediens word misken, en 'n baie belangrike deel daarvan word gemis. Wat agterna in 'n vorm van on­derrig of vertelling gebied word, kan nie hierdie gemis vergoed nie. So leer die kinders die erediens nie verstaan nie, maar juis misloop en plaasvervangers daarvoor vind. Waar die kinders uit die diens ver­wyder word omdat hulle nie sou kon verstaan nie, versterk dit die gevaar dat die diens slegs afgestem word op die volwassenes en kan dit dus maklik intellektualisties word.

3. Die Besondere Ampte🔗

Hulle word reeds ingesluit by die gemeente, maar die besondere amp­te het daarby 'n besondere taak in die erediens. In die geskiedenis van die kerk was daar steeds die gevaar na een van twee kante: vir die grootste deel van die geskiedenis van die kerk was die gevaar dat die deelname van die ampte só op die voorgrond gestaan het dat dit die lidmate as die volk van God oorskadu het. Vir lang eeue in die kerk het die ampte in die persoon van die priester 'n tussenposisie tussen die Here en sy gemeente ingeneem. Hulle was die handelen­de persone en die uitdelers van die Here se genade, en die gemeente was die ontvangers. Die gevaar aan die ander kant is dat die ampte in die erediens opsygeskuif word en dat die lidmate sonder meer alles self doen. Daar kom 'n demokratiese gevoel en gees in die erediens, waar dit gaan om die wil van die meerderheid en dat die ampte se besondere taak misgekyk word.

Dit is beslis 'n misvatting waar die lidmate as deelnemers aan die erediens opsygeskuif word, want dit is soos gesien die heerlike voorreg van die gemeente. Aan die ander kant is dit net so 'n misvatting indien die besondere leiding van die besondere ampte in die erediens misken word. Die kerk het steeds vanuit die Skrif dit so verstaan dat dit die wil van Christus vir sy kerk is dat die besondere ampte in die kerk gestel is om die gemeente te versorg en te bewaak, en hulle toe te rus vir hulle dienswerk. Verder dat hierdie lewe van die kerk en die toerusting van die gelowiges in 'n besondere sin tot openbaring kom in die erediens. Daarby het die Here die amptelike verkondiging van die Woord aan die ampte toevertrou, asook die bediening van die sakramente. Hulle word ook geroep om besonderlik in die gebed in te tree.

Die besondere ampte is dus ook deelnemers aan die erediens, maar hulle staan nie in die weg van die gelowiges nie; hulle is nie midde­laars of tussengangers nie, maar voorgangers, leiers.

In 'n besondere sin kan ons sê die liturg is die mond van God by die volk. Hy moet nougeset luister na wat God in sy Woord ge­spreek het en dit onverkort oorbring na die mense van vandag so­dat hulle opnuut God se eie Woord aan hulle hier en nou kan hoor. Dit geskied veral in die Skriflesing, die prediking, die absolusie. Maar dit is ook nodig dat die liturg die mond van die volk by God moet wees om hulle besondere node en behoeftes en hulle hele lewe voor die Here te stel. Dit geskied sodanig dat die gemeente ervaar: Dit is in ons belang en ons kan dit saamspreek en beaam. Dit geskied veral in die gebed en voorbidding.

Waar by die prediker meer die taak van die bediening van die Woord en gebede en sakramente op die voorgrond staan, daar is die kern van die taak van die ouderlinge om toesig te hou op die leraar, oor die wyse waarop hy die Woord bedien; maar ook op die ge­meente of hulle hierdie woord en sakramentsbediening bywoon, en die wyse waarop hulle dit moet bywoon. Die diakens se taak is ver­al die diens in die erediens en veral rondom die tafel en vandaar uit die diens van barmhartigheid wat in die gemeente uitgewerk en vandaar in die wêreld weerklank vind.

4. Die Wêreld🔗

Hoewel dit nie in die eerste plek gaan om die deelname van die ongelowige en die massa nie, is die erediens die besondere ontmoetings­punt waarheen die wêreld genooi en getrek word om op die regte wyse te kom tot die erkenning van Jesus Christus as Here en om deel te hê aan die aanbidding van Hom. Die diens moet sodanig wees dat dit vir almal duidelik sigbaar word waarom dit in die erediens gaan en wat dit meebring om tot aanbidding te kom. Die klem moet val op die lewe en die duidelikheid en verstaanbaarheid; dat die woord wat gebring word, vertrou moet word dat dit ook die ongelowige sal aanspreek. Veral dat die ongelowige in die voorbidding sal verneem dat hulle by hierdie gebeure betrokke is. Die ongelowige moet in die visier van die erediens van die gemeente kom, maar hy mag nie die opset en doel van die erediens bepaal nie. Die ongelowige moet verander en Christus erken en so die diens meemaak. Dit beteken egter nie dat die hele diens en boodskap sodanig verander moet word om te pas by die ongelowige nie, want so sou die erediens sy ware ka­rakter verloor. In sy gerigtheid op die gelowiges, moet dit ook die ongelowige raaksien: "All true Christian worship is open to the world, for it reaches out to the world. It calls men out of the world to Christ, and it proclaims Christ in His ministry for the world and as Lord of the world. For this reason Christian worship has to be directed to both believers and unbelievers, for it has a message for both. The fact that believers, subject as they are to the temptations of the world, still remain sinners, means that the two cannot be sharply distinguished" (W. Hahn).

Daar moet egter op gelet word hoe meer die erediens openbaar is, publiek is en hoe meer ongelowiges dit bywoon, hoe minder is die ware en sinvolle deelname. P. Cornehl kom na 'n historiese ana­lise tot die slotsom:

Hoe meer publiek die erediens word,
hoe meer word die aktiewe deelname van die enkeling daaraan terugge­dring.