Bron: Die Kerkblad, 1990. 2 bladsye.

Die Dekade van Grond: Argeologie in die Tagtigerjare

dooie see rolle

Wat is nuut op die terrein van Bybelse argeologie? Vir ’n argeoloog is dit ’n moeilike en kwellende vraag. Hy/sy kan eenvoudig sê dat daar niks nuuts is nie, want die argeoloog soek na ou goed hoe ouer, hoe beter!

Dié wat die vraag vra, wil egter graag hoor van ’n ontdekking wat sensasioneel of opwindend is – en miskien iets wat hulle idees of vooroordele kan bevestig en bewys.

In die algemeen gesien, het die tagtigerjare nie opspraakwekkende ontdekkings gesien soos dié van vorige dekades nie – ontdekkings soos die Dooie See-rolle, die Nag Hammadi-papiri, die Bodmer-papiri, en die Ebla-tablette. Dit is nie dat minder veldwerk in die tagtigerjare gedoen is nie – inteendeel: argeologiese werk in die Midde-Ooste het beduidend toegeneem (ten minste 25 uitgrawings word vir 1990 beplan).

Hierdie afname in ‘ontdekkings’ beteken ook nie dat daar geen belangrike bydraes was nie sommige gewone vondse voorsien waardevolle insigte in die interpretasie van Bybelse tekste. Ons kan dus die afgelope dekade karakteriseer as die periode van die ‘dirt archaeologist’, eerder as die ‘skattejagter’.

Grondargeologie🔗

Stratigrafiese opgrawing, die wetenskaplike term vir ‘grondargeologie’, kan baie waardevolle inligting verskaf van die verskeie lae in die grondhoop wat die argeoloog opgrawe. In grondargeologie word die terrein uitgelê in ’n ruitpatroon, en ’n beperkte aantal vierkante (gewoonlik 4-5 meter aan ’n kant) in die ruit word intensief en versigtig opgegrawe, Wetenskap­likes van verskeie dissiplines ontleed al die reste in die lae dan versigtig om die alledaagse lewe en aktiwiteit van die mense wat eens die gebied bewoon het, te herskep.

Die werk van die grondargeoloog hou verband met ’n nuwe dimensie in Bybelse studies – sosiologiese ontleding van die mense in die tyd van die Bybel. Sosiologiese studies van die eerste-eeuse Korinthe het bv. ’n nuwe insig gegee oor die aard en samestelling van die kerk wat die apostel Paulus daar gevestig het. As gevolg van argeologiese data weet ons nou dat die partyfaksies en die praktyke wat verband hou met die Nagmaal in Korinthe na vore gekom het in ’n kerk wat uit meer hoër-klas mense bestaan het as wat ons voorheen gedink het.

opgrawings

Tekste van die Tagtigerjare🔗

Die studie van die Dooie See-rolle het in die tagtigerjare voortdurend bygedra tot Bybelse studies. Hoewel hulle 40 jaar gelede ontdek is, is ’n groot deel van die rolle (ongeveer 127 verskillende Bybelse tekste) nog nie gepubliseer nie – tot groot frustrasie van Bybel geleerdes.

Die studie en publikasie van hierdie baie belangrike fonds is dikwels belemmer deur die politieke onstabiliteit van die gebied.

Gedurende die afgelope dekade het geleerdes ook gewerk aan die publikasie van ’n groot versameling kleitablette wat meer as 10 jaar gelede by Ebla, naby Aleppo, Sirië, ontdek is. Hierdie biblioteek dateer uit die laaste deel van die derde millennium voor Christus – ’n paar eeue voor die patriargale periode in Genésis.

Die publikasie van hierdie tablette, wat wissel van handelsdokumente tot literêre en godsdienstige tekste, vorder stadig, na ’n paar ongelukkige vertragings veroorsaak deur politiek en jaloesie van geleerdes. Die Ebla-tablette verskaf waardevolle inligting aangaande die geskiedenis van die oostelike Mediterreense wêreld voor die tyd van Abraham.

Kanaän🔗

Seker die mees kontroversiële tyd in Bybelse en argeologiese studies is die uittog van Israel en die verowering van Kanaän. Vir jare al het geleerdes oor die datum van die uittog gedebatteer – was dit in die jaar 1400 of 1200 voor Christus? Die argeologiese bewyse lyk ook moeilik versoenbaar met die Bybelse inligting.

Wat was die aard van die verowering? Was dit ’n beslissende oorname, soos beskryf in die boek Josua, of ’n geleidelike infiltrasie, soos gesuggereer in Rigters? Sosiologiese studies, uitgebreide argeologiese opnames in Transjordanië, en ekstensiewe opgrawings by Ekron, Geser, Hasor, Megiddo, Dan en ander plekke het waardevolle nuwe inligting verskaf. Deur middel van dié studies is vasgestel dat Kanaän voor die koms van die Israeliete ’n kultureel, polities en ekonomies gevorderde gemeenskap was.

Ebla tablet

Hoe klop hierdie nuwe inligting met die Bybelse feite? Dit maak sekerlik die tradisionele, letterlike interpretasie van die Bybel moeilik. Hierdie probleem is tipies van die sogenaamde konflikte tussen die Bybel en die wetenskap wat so baie geleerdes kwel.

Bybels en Wetenskaplik🔗

Gedurende die afgelope dekade het geleerdes voortdurend gedebatteer of onbybelse argeologie ’n teenstrydige konsep is of nie. Teenstanders van die term argumenteer dat die woord ‘bybels’ die navorser bevooroordeel, en sodoende objektiwiteit onmoontlik maak. En ongelukkig het party wetenskaplikes hierdie kritiek bekragtig deur te poog om argeologie te gebruik om die Bybel te “bewys”. Om die Bybel te sien as sou dit bewyse nodig hê, is hoegenaamd nie ’n gereformeerde beskouing nie.

Hierdie vraag betrek tog ’n groot kwessie die plek van argeologie in Bybelse studies teenoor ons siening van die Bybel. Baie mense besef blykbaar nie dat argeologie en wetenskap wel ons interpretasie van die Bybel kan korrigeer, maar nie die Bybel self nie. Dit is moontlik om die Skrif te sien as geïnspireer deur die Heilige Gees, en terselfdertyd met eerlikheid en integriteit argeo­logiese en wetenskaplike data te hanteer.