Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Die Demokratisering van die Waarheid

Vraagteken

In ‘n vorige artikel is aandag gegee aan die deformasie wat intree wanneer God as "gebruikersvriendelik" gesien word. Daar is egter nog 'n gevaar wat besig is om die kerke binne te kom, naamlik die demokratisering van die waarheid.  Demokrasie is tans 'n modewoord. Op alles moet die stempel van demokrasie geplaas word, ook al hoe meer op die waarheid.

Wie se Waarheid?🔗

Een van die grootste vraagstukke waarmee die kerk tans worstel is die vraag na die waarheid. AI meer stemme gaan op wat vra "wie se waarheid" geld, en nie "wat is die waarheid" nie.

Wat is die Waarheid?🔗

Daar het 'n ongekende verwardheid ingetree oor wat met die waarheid bedoel word. Mens kry selfs die siening, soos deur 'n bekende teologiese professor van Unisa op TV gestel, dat as iemand beweer dat hy die waarheid ken, hy godslasterlik praat. Vir baie is die waarheid nog 'n grootse "ding" wat in die lug hang, wat nooit verander nie en wat mens sekerheid en sekuriteit bied. Daar het die afgelope dekades so baie veranderings ingetree dat talle mense wonder: "Is dit wat ek nog altyd geglo het, reg?" Baie ander mense het agtergekom dat sekere dinge verkeerdelik as waarheid bestempel is, en dat dit nou onwaar blyk te wees. Ander weer sukkel met die onderskeiding van die "geeste". Wanneer is iets die waarheid en wanneer het ek dit maar net vir myself as waarheid verklaar? Nog ander het in algemene sinisme verval omdat die wortels van hulle geloof aangeval is, en beweer nou dat daar geen waarheid bestaan nie.

Niemand het Waarheid Volledig nie🔗

Die mees populêre siening oor die waarheid blyk tans te wees dat niemand die waarheid volledig kan ken nie. As die waarheid bestaan, is dit in elk geval te groot om deur een mens volledig geken te word. En dit is juis hier waar die demokratisering van die waarheid ingetree het. Dit word gelykgestel aan die openbare mening. Slegs dit wat deur die meeste mense as waar en geldig aanvaar word, is waar en geldig totdat daar iets nuuts op die toneel verskyn wat weer deur 'n nuwe meerderheid as geldig aanvaar word. Vir laasgenoemde groep is dit dan ook dom en onsinnig om te vra "wat is die waarheid?" Hulle antwoord is dat daar nie 'n ewig geldende waarheid is nie, omdat die waarheid verander soos wat die tye verander (mense glo mos bv. nie meer dat die aarde plat is nie). Vir hulle is dit net belangrik om te weet wat nou as waarheid geag word.

Wat sê die Mens🔗

Wat sê die meeste mense is die waarheid? Om die antwoord op die vraag te bepaal, is gesprek en dialoog so uiters belangrik. Die proses van "waarheid maak" is deesdae belangriker as die waarheid self. Hierdie proses noem ons die demokratisering van die waarheid, en deesdae slaan dit ook in ons kerke uit. Daar moet gepraat word totdat jy die waarheid het.

Gemeentegesprek🔗

Daar gaan al hoe meer stemme op dat lidmate meer "sê" moet kry in die kerke. Daarom word deesdae ook so baie klem gelê op preekbesprekings. Natuurlik is dit nie verkeerd om die predikant se preek te bespreek nie, maar die gevaar ontstaan dat die "gemeente" met die "dominee" in 'n soort gesprek kom. Hierdie gesprek sou dan dien om by die waarheid uit te kom. Hier het 'n subtiele klemverskuiwing plaasgevind, naamlik dat die waarheid nie meer in die Woord en waaragtige Woordverkondiging geleë is nie, maar in die proses van gesprekvoering. Onderliggend aan hierdie siening is ongeloof. Daar word getwyfel of die Woord die waarheid is, en al is die Woord die waarheid, is dit 'n "ou teks" wat deur die dominee geïnterpreteer moet word, en wie sê dat hy die waarheid ken? Hoe meer die gemeente klem lê op hulle eie volwassenheid (wat onderskei moet word van geloofsvolwassenheid), hoe meer sal die aandrang kom op dialoog met betrekking tot die prediking. Die gevaar lê inherent daarin dat die prediking slegs 'n inleiding tot die gemeentegesprek word, en dat die dialoog naderhand die lewendige woordverkondiging heeltemal verdring.

termometer

Meningsopnames🔗

'n Tweede voorbeeld van hoe die demokratisering van die waarheid al ingedring het, is die meningsopnames wat deesdae in gemeentes gedoen word. Die meningsopname dien dan as voelhoring om te bepaal "hoe die meeste lidmate oor die saak voel", en dien ook as termostaat om te bepaal of die gemeente "al reg is" vir 'n nuwigheid wat in die kerk ingevoer moet word. Meningsopnames in die kerk is 'n onding. In God se kerk is dit tog nie belangrik wat die mense sê nie, maar wat God sê. Meningsopnames in die kerk is ook baie verdag omdat dit die indruk skep dat die klimaat eers verander moet word voordat iets toegepas word. Reformasie werk egter nie so nie. Reformasie toets nie eers die mening van die meerderheid voordat 'n verandering treetjie vir treetjie aangebring word nie. Reformasie is om God se woord onveranderd te verkondig en om aan te dring op onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God se woord. Reformasie is om God se wil onmiddellik en onvoorwaardelik te wil doen — ongeag of die mense gereed is daarvoor, of nie. Daar moet ook baie versigtig opgelet word dat sinodes nie in hierdie slaggat trap nie. Dit kan gebeur dat sekere sinodegangers oor beginselsake stem sonder dat daar deeglik na die Woord geluister word (dit het al baie gebeur dat sinodegangers nie so goed voorberei is nie). "Stemmemakery" op enige kerklike vergadering is ook waar onvoorbereide ampsdraers "agter die meerderheid aan" stem.