Bron: Kompas, 2009. 4 bladsye.

Die Eerste Boek

Moeder aarde bekla haarself oor alles wat ons, mense, haar aangedoen het. Op ʼn stadium was sy so mooi, maar ons het haar uitgebuit en vervuil. Nou is moeder kwaad vir ons. Slegs as ons onsself weer ordentlik begin gedra, en as ons moeder aarde weer leer respekteer, slegs dan kan die verhouding tussen haar en ons weer herstel word. Andersins sal sy ons straf met haar eie ondergang.

So ʼn soort kort filmpie, waarin die aarde tot ons spreek as ʼn bose en hartseer moeder, het ʼn rukkie gelede op televisie verskyn. Dit was ʼn baie aansprekende filmpie, goed saamgestel. ʼn Mens het daaroor bly nadink. Dít was natuurlik ook die idee, dat ons moes stilstaan by ons eie omgang met die aarde.

Oor een ding het ek ook nog nagedink: is dit moontlik om die aarde as ons moeder voor te stel?

Is dit maar net ʼn oulike, aansprekende beeld, of sit daar meer agter? Anders gestel: is ‘omgang met moeder aarde’ dieselfde as ‘omgang met die skepping’? Om ʼn antwoord op hierdie soort vrae te kry, wil ek saam met u nadink oor hoe ons na die wêreld, die natuur, die mooi skepping van ons God, moet kyk. Ek het daarvoor as titel gekies: ‘Die eerste boek’. Daarby dink ek dan aan die twee ‘boeke’ wat genoem word in artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die twee boeke waardeur ons God kan leer ken. Een van die twee boeke is natuurlik die Bybel. Maar die ander boek, wat heel eerste genoem word, is die hele wêreld, want – só sê die NGB – “dit is immers voor ons oë soos ʼn mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien.” Oor daardie eerste boek uit artikel 2 gaan dit dus wanneer ons nadink oor hoe ons na God se skepping behoort te kyk.

Een manier waarop jy dit kan doen, is dat jy die wêreld beskou as niks anders nie as ʼn soort dekor, as die agtergrond waarteen die groot drama van die mens en sy geskiedenis homself afspeel. Dan het die skepping slegs waarde met betrekking tot die mens. Die natuur, die wêreld, is slegs ʼn middel, terwyl die mens en wat daar met hom gebeur, die doel is.

In die geskiedenis is daar dikwels só na die skepping gekyk, ook deur gereformeerdes. Gereformeerdes moes dikwels nadink oor die uiteindelike bestemming van die mens, hemel of hel. Hulle het bely dat die mens die uiteindelik bestemming altyd bereik in ooreenstemming met God se ewige besluit daaroor, sy verkiesing of verwerping. Maar jy kan gevolglik so gefokus raak op wat met die mens gebeur, dat die res van die skepping eintlik nie meer baie saak maak nie. Die wêreld is slegs die toneel. Maar ons, mense, ons is die akteurs daarop.

Dit is nie net gereformeerdes wat hulself skuldig maak aan so ʼn eng siening nie. Ook in die teologie van hierdie eeu was daar tot onlangs min selfstandige aandag vir die skepping. Die Bybel handel immers, so is dikwels gesê, oor die verbond tussen God en die mense, dit gaan oor die heil wat God aan die mense gee. Daar buiteom gaan dit nooit oor die skepping nie. So het die mense selfs daartoe gekom om te sê dat Genesis 1 eintlik ʼn soort aanhangsel by die Bybel sou wees. Toe Israel God as sy Verlosser leer ken het, het hulle gesê: hierdie God moet ook die Skepper wees. Israel se skeppingsgeloof sou maar net ʼn produk wees van hulle heilsgeloof.

Op hierdie wyse het die mens daartoe gekom om ʼn teenstelling tussen natuur en geskiedenis te skep. In die heidendom gaan dit oor die natuur. Daar bly alles altyd dieselfde. Die wêreld deurloop die sirkelgang van die seisoene, maar daar kom nooit iets nuuts daaruit nie. Maar in die Bybel sou dit gaan oor die geskiedenis. En dit is dinamies, dit bring altyd nuwe dinge voort, dit ken geen ewige wederkeer nie, maar slegs voortgang. U begryp waarskynlik: die aandag vir die natuur gedy nie as daar so ʼn gedagteklimaat in die teologie heers nie.

Wat sal ons van hierdie soort opvattings sê? Allereers dat die eerste boek waaroor ons gepraat het, op dié manier toegemaak word. By ʼn toneelstuk het die dekor beslis nut, ʼn funksie. Maar as dit goed is, kyk die toeskouers na die spel van die akteurs. As die skepping net dekor is, ʼn agtergrond, dan hoef jy as Christen nie spesiaal daarop te let nie. Maar hoe sou jy dan ooit die boek leer spel waarin alle skepsels die letters is wat ons die ewige krag van ons God laat sien? Alle skepsels: die mense met hul geskiedenis. Maar net so goed die bome en blomme, die swaeltjies wat hierdie somer hul neste in ons tuin kom bou het, die majestueuse swewende valk bo die rietvleie en die jong riethaantjie en al die ander skepsels, so verskillend, so mooi, wat almal op hul manier oor God spreek, oor die God wat die mens nie nodig het om Hom te verheerlik nie, omdat al die diere van die woud aan Hom behoort en omdat Hy al die voëls van die berge ken, soos Psalm 50 sing. Hoe kan jy dit alles beskou as agtergrond van ons geskiedenis?

Trouens, hoe sou jy ooit ʼn teenstelling kon maak tussen natuur en geskiedenis as tog altwee uit die hand van God voortkom? Jy mag inderdaad nie die natuur vergoddelik nie. Dit is heidens. Maar jy mag ewemin die geskiedenis vergoddelik. Dit is net so goed afgodery. Beide, natuur en geskiedenis, val onder God se skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld waardeur God Homself aan ons openbaar.

Laat ons daarom goed bly luister na die manier waarop die Bybel oor die skepping praat. Die Bybel vertel nie oor die skeppingsgeloof slegs as ʼn aanhangsel tot Israel se geskiedenis nie. Nee, die Bybel begin by die skepping. As jy God wil leer ken, sal jy Hom moet erken as die God wat by al ses die skeppingsdae aan die werk was. Nie slegs op die sesde dag toe Hy die mens geskape het nie, maar net so goed die ander dae, toe Hy die plante gemaak het en die visse en die voëls.

Jy sal God ook moet erken as die God wat die geskiedenis deur Christus nie net lei op die weg na die heil van die mens nie, maar ook op die weg na die bevryding van die hele skepping: “want die hele skepping is aan die nietigheid onderworpe … in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:20 e.v.). Daarom het die gereformeerde teologie altyd vasgehou dat die nuwe skepping nie ʼn totaal ander skepping is nie, maar herskepping van die eerste skepping: God verlaat die werk van sy hande nie.

Wie rekening hou met al die dinge, sal nalaat om die skepping as agtergrond vir die geskiedenis van die mens te beskou. Dit sal dan ook die houding teenoor God se skepping beïnvloed. As dit in die skepping net oor die mens sou gaan, dan het die mens vrye spel in die wêreld. Dan hoef hy hom nie te bekommer oor die gevolge van sy optrede op die natuur nie, of slegs as die gevolge homself raak. Verder kan ons die wêreld rustig vir onsself gebruik. Maar as jy besef dat alle skepsels letters is in die boek waaruit ons God leer ken, dan word ons houding teenoor die skepping baie anders. God het nie die skepping aan ons eie willekeur oorgelaat nie. Nee, Hy het haar aan ons gegee as ʼn boek wat baie kosbaar is. En daarmee behoort ons mos baie versigtig om te gaan? Beteken dit dan dat jy die natuur, die wêreld, as iets goddeliks kan beskou? Dit is ʼn heeltemal ander beskouing oor die wêreld as sopas. Dit is die heidendom se beskouing oor die wêreld: oral in die natuur skuil daar goddelike kragte wat die hele wêreld deurtrek van die goddelikheid, en wat daarom met eerbied benader moet word.

Hierdie visie is nie net iets van die verlede nie. Dit word vandag steeds meer gewild. Dink net aan al die opvattings wat onder die term ‘new age’ saamgevat word, vanaf astrologie en sterrewiggelary tot behandelings met kruiegeneesmiddels asof dit toormiddels sou wees. Hierdie idees wen veld, juis in ʼn samelewing wat die Christendom vaarwel toegeroep het. Die Christendom word dan ook dikwels verwyt vir die ekologiese krisis waarin ons ons bevind: dit het die mens in die middelpunt geplaas en daardeur het dinge verkeerd geloop in die wêreld. Dit het in die Bybel al begin, so word dan gesê. Kyk maar net hoe die mens in Genesis 1 reeds heerskappy oor die hele skepping verkry. As ons weer in vrede met die natuur wil leer lewe, moet ons afstand doen van ons Christelike erfenis. Maar dan blyk dat die heidendom dus weer te voorskyn kom. Dat ons nooit in daardie rigting moet gaan nie, is duidelik.

As ʼn mens van die boek wat óór God spreek, die natuur, ʼn gód maak, dan pleeg jy afgodery. Jy lees nie meer die boek nie, maar jy vereer dit. Dan vervang jy, soos Paulus dit in Romeine 1:23 stel, die heerlikheid van die onverganklike God met “die gelykvormigheid van die beeld van ʼn verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere”. Daaroor kom die oordeel van God. Ons moet verseker nie op hierdie manier uitkoms uit die omgewingskrisis soek nie.

Tog is dit opvallend dat ook bekende teoloë vandag in hierdie rigting neig. ʼn Voorbeeld daarvan is die Duitse teoloog Jürgen Moltmann, iemand wat in die kringe van die Wêreldraad van Kerke baie invloed het. Hierdie man het ʼn paar jaar gelede ʼn boek geskryf, Gott in der Schöpfung, waarin hy ʼn ‘ekologiese skeppingsleer’ wil gee. Daar staan heelwat dinge in die boek wat ons gerus ter harte kan neem. Maar die hooflyn moet tog afgewys word. Waarom? Dit blyk seker die heel duidelikste aan die einde van sy boek as Moltmann ʼn pleidooi lewer vir die simbool van die groot goddelike wêreldmoeder, soos wat dit in verskeie heidense godsdienste voorkom. Ons moet leer om onsself tuis te voel in die wêreld, net soos wat ʼn kind homself tuisvoel op die skoot van sy moeder. Dan sal ons ook baie beter met die wêreld leer omgaan. Daar het ons dan vir moeder aarde, waaroor in die begin van die artikel gepraat is! Dit is ʼn ou heidense geloof, wat hier ingang probeer vind in die Christelike leer.

Hoe kom Moltmann tot sulke opvattings? Hy wil nie hê, so voer hy aan in sy boek, dat ons die wêreld gaan vergoddelik nie. Maar hy wil wel hê dat ons die wêreld leer beskou as, om dit so te stel, in God ingebed: God is die omgewing waarin die wêreld bestaan! As ons so met die wêreld leer omgaan, dan is daar uitkoms uit die ekologiese krisis, so stel hy.

Watter konsekwensies so ʼn opvatting het, blyk bv. as Moltmann ook die beperktheid, die veranderlike, die lyding in die skepping op God gaan oordra. God neem deel aan die lot van sy skepping en ly deur sy Gees saam met die lyding van sy skepping. Die skepping bestaan mos in Hom. Dit is dan nie meer God se ewige krag en goddelikheid wat ons uit die boek van die skepping leer ken nie, maar dit is juis ook sy swakheid en kwesbaarheid. Maar so wil die eerste boek van die Godskennis mos nie gelees word nie! Hoe sou dit dan nog in ooreenstemming wees met die ander boek, die Heilige Skrif, wat ons die Here leer ken as die God wat standhou, ook al verslyt hemel en aarde soos ʼn kleed (Psalm 102:27); as die God wat alleen onsterflikheid besit en ʼn ontoeganklike lig bewoon (1 Timótheüs 6:16); as die God by Wie daar geen verandering is of skaduwee van omkering nie (Jakobus 1:17). Nee, ons moet beslis ook nie hierdie rigting inslaan nie. As ʼn mens die grens tussen Skepper en skepping uitvee, kan jy nie een van twee meer goed leer ken nie. Ons mag die wêreld dus nie onderwaardeer nie, asof dit net maar ʼn middel sou wees in die hande van die mense en agtergrond vir sy geskiedenis. Ons mag ook nie op die een of ander manier goddelike eer aan haar gee nie, asof sy ons ‘moeder aarde’ sou wees, vir wie ons moet dien. Hoe moet ons die boek van die skepping dan wel lees? Voorop moet staan dat die skepping inderdaad wel ʼn doel het. Maar daardie doel is nie die mens en sy geskiedenis nie. Daardie doel is God en sy eer.

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.Romeine 11:36

Daarom bely ons dat God “aan elke skepsel ʼn eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee het om sy Skepper te dien” (art 12 NGB). En verseker, dan het die mens in daardie geheel ʼn baie besonderse plek. Want, so vervolg die artikel, God onderhou en regeer alle skepsels “om die mens te dien”. Maar daarmee word die mens nog nie die doel van alles nie. Want hoekom dien die skepsels die mens? “Sodat die mens sy God kan dien”, sê die NGB. Die mens is geen doel op sigself nie. God en sy eer, dit is die doel waarvoor ook ons geskape is. Daarom mag ons die skepping nooit verlaag tot ʼn middel wat in ons diens sou staan nie. Hier blyk weer eens wat ʼn dwaasheid hierdie teenstelling tussen skepping en geskiedenis is: die skepping is nou reeds vol van God se heerlikheid: “O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (Psalm 8:2). En in die geskiedenis is die Here met hierdie pragtige skepping van Hom op pad na die volkome openbaring van sy heerlikheid. Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die suigling speel by die gat van ʼn adder, “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). En ook ons, God se volk, word in hierdie geskiedenis saamgeneem: “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig”, sê die Here (Jesaja 43:21). Skepping, geskiedenis, verbond, dit alles loop uit op die een ding: die lof van Hom wat nooit genoeg geprys kan word nie.

Juis daarom sal ons ook nooit uitkoms uit die omgewingskrisis vind deur die wêreld, die skepping te vergoddelik nie, of deur te maak asof sy deel is van die goddelike lewe, of deur oor haar te praat as ons ‘moeder aarde’ nie.

Die verlossing van die skepping is nie dat ons aan haar die eer bring wat net aan God toekom nie.

Maar as die skepping verlos word, dan bereik sy vir altyd haar doel. En dit is nou juis die eer van God.

Daarom mag daar van ons ʼn diepe eerbied verwag word in die omgang met die skepping. God se heerlike Naam staan geskryf in die hemel en op die aarde, op plante en op diere. En God skryf sy Naam nog steeds daarop. Hy maak van die wolke sy wa (Psalm 104:3), en Hy bekommer Hom oor die dood van ʼn mossie (Lukas 12:6). Hoe sou ons dan onbekommerd die lug kon vervuil en dierspesies laat uitsterf? Juis ons, mense wat God mag ken in Christus, juis ons het tog die boek van die skepping leer lees deur die bril van die Skrif, om Calvyn na te spreek. Laat dit aan ons bemerk word! Laat ons leer om die letters van daardie boek te spel, baie sorgvuldig, baie eerbiedig, om so steeds meer die Naam van ons God groot te maak.