4 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Einde van die Sonde: Vooruitgryp, of Afwag?

Hierdie is die laaste aflewering in ʼn reeks oor die sonde. Dit is nie my taak om ʼn samevatting te gee van alles wat aan die orde gestel en geskryf is nie. Ons skou nou vooruit.

Daar kom ʼn wêreld sonder sonde. Die mag van die bose sal tot niet gemaak word. Die vuur sal vernietigend en suiwerend sy werk doen! Aan die einde van die boek Openbaring word die toekoms vir ons geteken as ʼn samelewing sonder sonde:

En ek het ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.  En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ʼn bruid wat vir haar man versier is. En ek het ʼn groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ʼn God wees, en hy sal vir My ʼn seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars, hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.Openbaring 21:1-8

Hier word dit vir ons duidelik geteken dat die mag van, die smaad deur en die verdriet oor die sonde aanstons weggeneem sal word. Niemand wat die sonde doen en bly liefhê, sal ʼn plek hê in die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde nie. Aan die einde van Openbaring 21 word dit nog eens beklemtoon. Na die beskrywing van die intog van die volke met hulle eer en heerlikheid, lees ons: “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie” (v. 27a). Sonde en sondaars het nie toegang tot die nuwe Jerusalem nie. Hulle word geheel en al en finaal van die nuwe aarde geweer. Die sonde het nie ʼn toekoms in God se heerlikheid nie. Die sonde het in hierdie wêreld verskriklike krag. Dié krag verloor hy. Die verlossing deur Jesus Christus maak ʼn einde aan sy bestaan, aan sy vernietigende mag. Sondaars sal uitgewerp word.

Antisipasie🔗

Wanneer ons oor die einde van die sonde nadink, is daar verskillende gesigspunte wat ons aandag trek. Hoe moet ons daardie einde tegemoet gaan? Twee teenoorgestelde benaderings doen hulle vir oorweging voor. Daar is die houding van antisipasie, ʼn vooruitloop op Jesus Christus se finale afrekening met die sonde en met sondaars.

Dié antisipasie kan in twee vorme manifesteer. Daar is die gedagte dat gelowiges reeds op aarde ʼn staat van sondeloosheid kan bereik. Hulle sou weliswaar nie die sonde uit die wêreld rondom hulle kon uitban nie, maar wel in hulle eie lewe. Dit gaan dan nie daaroor of die mens se volmaaktheid as ʼn werklikheid wat in hierdie lewe bereik kàn word nie. Dit gaan oor reeds volmaak wees in hierdie lewe, as gevolg van die feit dat Paulus oor die 'mede gekruisig' van die ou mens skryf: “sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie” (Romeine 6:6). “Want” vervolg Paulus immers, “hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde” (Romeine 6:7). Ons dink ook aan die ingrypende uitspraak van Paulus, dat wie aan Jesus Christus behoort, die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig het (Galasiërs 5:24). Dit kan tog nie ʼn skyn wees nie. Dit moet tog betrekking hê op die werklikheid hier en nou!

Dit sou beteken: die einde van die sonde is in die lewe van ʼn gelowige. Hierdie feitelike volmaaktheid stem geheel ooreen met ʼn vooruitloping, antisipasie, op die volkome verlossing deur Christus. Hierdie vorm van perfeksionisme het ek in my boek Geroepen tot heilig leven afgewys, en ook met Bybelse argumente weerlê (pp. 71-77). Paulus se selfportret in Filippense 3:12 weerspreek hierdie perfeksionisme: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is”. Die verse wat volg op die aanhalings hierbo uit Romeine 6, wys op ʼn blywende stryd. “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie” (Romeine 6:12).

Juis op grond van die verbondenheid met Christus, moet die stryd met die nog oorblywende sonde aangeknoop word. Daar is nie in die werklikheid reeds daarmee weggedoen nie. Hulle moet aangepak en bestry word. Die hele teenstelling tussen vlees en Gees, soos Paulus daaroor skryf in Romeine 8:1-11 en Galasiërs 5:13-26, laat blyk dat ons met ʼn blywende, en nie maar net met ʼn verbygaande stryd te doen het, nie.

Die Doperse Ideaal🔗

ʼn Ander gestalte van hierdie antisipasie is die doperse ideaal van die stigting van die Godsryk op aarde! Dit is ʼn ou en aantreklike gedagte, dat die Ryk van God hier op aarde as ʼn stukkie volkomenheid nagestreef kan word. Dit is, so te sê, die uitbreiding van die vorige posisie (die vorige afdeling) tot die maatskaplike sfeer. Waar dit by die perfeksionisme oor die persoonlike lewe gaan, het die doperse ideaal van die Godsryk sosiale en kulturele trekke. Uit die klein, meer beslote kring van die lewe van die enkeling, gaan dit oor na maatskappy en staat.

Watter gelowige sou nie wens dat die ideaal reeds op aarde verwesenlik sal word nie? Wie sou nie vanuit die kennis van Christus wou hoop op die volkomenheid van die Ryk van God nie? En, voeg ons toe, mag dit reeds op aarde gebeur. Maar tog is daar geen Bybelse grond wat vir die verwagting van die verwerkliking van hierdie ideaal, aangevoer kan word nie.

Christus is Koning te Midde van Sy Vyande🔗

Dit sou inderdaad vreemd wees as die perfeksionisme met betrekking tot die individu deur die Bybel afgewys word, terwyl perfeksionisme met ʼn sosiale voorkoms in die kultuuromgewing wel Bybelse grond vind. ʼn Woord uit 1 Korinthiërs 15 lyk vir my beslissend. Dit gaan in die hoofstuk daaroor dat Christus die koningskap aan God die Vader sal oordra. Dit sal gebeur wanneer Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Dan skryf Paulus daardie merkwaardige vers 25:

Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Christus is Koning. Die dae van sy vyande is getel. Hulle mag is reeds regtens (de jure), maar nog nie in die bestaande werklikheid (de facto) nie, ten einde. Die koningsskap van Christus vind daarom plaas te midde van die vyande. Die koningskap kom nie eers tot stand wanneer die vyande in die hede uitgeskakel is nie. Nee, as dit sover gekom het dat die vyande onder sy voete gestel is en dus geen teenstand meer kan bied nie, dán kom daar juis ʼn einde aan sy koningskap. Dan dra Hy sy heerskappy aan die Vader oor! Jesus se heerskappy vind plaas te midde van lewende, weerstandbiedende vyande.

Daarom is die najaag van Jesus se Koninkryk, as die skep van ʼn volmaakte samelewing, nie ʼn Bybelse gedagte nie. Daarmee misken ons die krag van die verset wat Jesus se vyande toon. Dan gryp ons vooruit na wat Jesus self aan die einde van sy heerskappy sal doen. Só ʼn antisipasie doen tekort aan die volmaaktheid van Christus se oorwinning. Die volkome verlossing is seker. Ons hoef Christus nie daarin te help nie. Die fondament is sonder ons toedoen gelê. Net so kom ook die voleinding van sy Ryk – sonder ons toedoen.

Bowendien moet ons insien dat die voorgestelde ingrepe van die antisiperende ideale maar van baie beperkte omvang is! Dit behels ʼn plekkie op hierdie aarde, maar nie die totaliteit van hierdie wêreld nie. Dit trek ʼn sirkel om die lewe van ʼn individu of ʼn gemeenskap. Wat daarbuite lê kan ook hulle nie verander nie. “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ʼn nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). Dié belofte word vervul deur die vuur van die wêreldbrand heen. Ons moet nie dink dat ons deur ons vooruitgryp daardie vuur oorbodig maak nie. Om daardie heerlike einde vooruit te loop, is ons ontsê.

Gelate Afwag?🔗

Wat bly vir ons oor as antisipasie ons ontsê is? Gelate afwag?  ʼn Mens sou in die gelykenis van die onkruid onder die koring (Matteüs 13:24-30 en 36-43) ʼn regverdiging vir so ʼn houding kon vind. Die huisheer sê immers vir die diensknegte:

Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.

Dit lyk na ʼn voor die hand liggende gevolgtrekking dat ons gelate moet afwag. So ʼn gevolgtrekking sou egter ten onregte gemaak word. Die Here Jesus het die gelykenis vertel om vooruitgryping af te wys. Daar moet nie voortydig ingegryp word nie. God se geduld duur tot op die dag van die oes. Sowel die koring as die onkruid word ryp tot op die dag van Christus se wederkoms.

Die geduld beteken nie dat daar niks verder gedoen moet word nie. Die doel van die gelykenis is om die aandag op God se geduld te vestig. Wat daar in die tyd van God se geduld, voor die wederkoms van Christus, gedoen moet word, is nie ʼn vraag wat vanuit hierdie gelykenis beantwoord kan word nie. Dit hoort by die karakter van gelykenisse dat hulle elkeen ʼn bepaalde punt belig. Ons mag nie van ʼn gelykenis ʼn antwoord verwag op ʼn vraag wat buite die doel van die gelykenis val nie. Ons weet uit talle ander Skrifgegewens dat daar wel deeglik iets gedoen moet word. Die geduld van God met die sonde van hierdie wêreld beteken nie dat daar geen aktiwiteit moet wees nie. Aktiwiteit is wel deeglik nodig. Die aktiwiteit kan nooit ten doel hê om die gerig wat God in sy eie hand hou, vooruit te loop nie. Teenoor antisipasie word geduld beklemtoon.

Weerstand Bied Teen die Bose🔗

Die geloofshouding wat beantwoord aan God se geduld is dié van weerstand bied teen die bose. Dat die teenstelling tussen vlees en Gees as ʼn stryd beskryf word, het ʼn diep betekenis. Daar moet teen die sonde gestry word. Paulus teken in Efesiërs 6 die beeld van die wapenrusting, die militia Christi. Dit is nie ʼn wapenrusting wat in ʼn museum uitgestal word nie. Dit is ʼn wapenrusting wat gedra en gebruik moet word. Militia hoort by miles, ʼn stryder.

Die einde van die sonde is in sig. Regtens het die bose nie ʼn been om op te staan nie. Feitelik het hy – helaas – nog twee bene om mee te loop. En hy gebruik hulle ook!

Dit sou ʼn onderskatting van die sonde wees om te dink dat ons dit op hierdie aarde sou kon baasraak. Met die onderskatting van die mag van die kwaad gaan ’n onderskatting van die erns van die skuld gepaard. Helaas tref mens albei aan in die beskouings van Wiersinga (1982). In ʼn ander stuk het ek sy beskouing van die sonde bespreek met die oog op die etiek. Ek het toe gewys op die stelselmatige beroep wat Wiersinga doen op Okke Jager. Die ooreenkoms tussen hulle gaan verder.

Jager het die verwagting uitgespreek dat ons die dood kan uitstel. Ons sal dit nie heeltemal baasraak nie, maar om sy koms te vertraag behoort tot ons moontlikhede, en is ons opdrag. Wiersinga verdedig ʼn soortgelyke stelling met betrekking tot die sonde. Die sonde loop nie goed af nie, maar is hanteerbaar. Dit kan uitgeken, ontleed, en uit die weg geruim word. As die sonde sodanig saamhang met jou verantwoordelikheid en jou wil, kan jy ook daartéén kies. Die werklik sware sondes hoef nie te gebeur nie, dit kan voorkom en opgeruim word (176). Ons tref hier, in gesekulariseerde gewaad, ʼn parallel van die perfeksionisme aan.

Die Vagevuur🔗

Die Bybel praat heeltemal anders oor die uiteinde van die sonde! Die sonde word deur die vuur weggebrand. Nou dat ek hierdie beeld gebruik, moet ek nog ʼn onderwerp noem wat altyd, wanneer dit oor die einde van die sonde gaan, ter sprake kom. Dit is die vagevuur. ʼn Plek van loutering waar mense van die sonde loskom, waar hulle gesuiwer word voor die staat van sondeloosheid intree. Dit is nie vir my moontlik om die onderwerp in hierdie verband verder te bespreek nie, maar ek verwys met instemming na wat G. C. Berkouwer in die tweede deel van sy dogmatiese studie, wat hy aan die sonde wy, hieroor skryf. Hy het die leer van die vagevuur en die moderne variante daarvan in die hedendaagse Rooms Katolieke teologie bespreek. Hy wys dit op grond van Bybelse gegewens af (II, 334-342).

Die Gerig🔗

Wat is nou die houding wat ons teenoor die einde van die sonde inneem? Daar is drie Skrifgedeeltes waarop ons aandag vestig. In die eerste plek is daar 1 Korinthiërs 3:10-15. Hierdie perikoop begin met die prediking dat Jesus die enigste vaste fondament is. Daarop moet gebou word. Dit gaan oor die opbou van die gemeente en oor die werk van die kerk in hierdie wêreld. Elkeen, so lui die waarskuwing, moet oppas hoe hy daarop bou, “... die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is”.

Ons tref hier die gedagte aan dat ook die gelowiges nog in die gerig sal kom. Hulle werk word deur God getoets, soos die Heidelbergse Kategismus dit so duidelik formuleer in antwoord op die vraag na goeie werke. Dit is werke “wat uit ʼn ware geloof, volgens die wet van God tot sy eer gedoen word, en nie dié wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie” (antwoord 91). Werke van die gelowige wat nie aan hierdie maatstaf beantwoord nie, sal deur vuur verteer word “alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” sê Paulus in 1 Korinthiërs 3:15.

In 2 Korinthiërs 5:10 word ook oor die oordeel gepraat: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad”.

Hier word gewys op die verantwoordelikheid in ʼn lewe volgens God se gebooie. Ons tref dieselfde aan in 1 Johannes 3:3. In vers 2 word eers gesê: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is”. En dan volg, as aansporing op grond van hierdie verwagting: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is”. Daar is geen ‘eskaton’ sonder ‘etos’ nie, geen verwagting van die einde sonder verantwoordelikheid in die hede nie. Andersyds rus die oproep tot suiwering van die lewe in die verwagting van volkome saligheid – die vervulling van die belofte van die volkome verlossing.

Die volkome verlossing berus geheel in Jesus Christus. Ons lees in Hebreërs 9:27,28: “... net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,  so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid”. Ons verwag die einde van die sonde in Jesus Christus, wat sonder sonde gesien sal word. In die saligheid wat Hy voltooi is geen plek meer vir die sonde nie! Dit is nie aan ons te danke nie, maar aan sy werk. Ons verlos nie die wêreld en onsself van die sonde nie, Hý doen dit, finaal en totaal.

Verwagting🔗

Die lewe uit hierdie verwagting lei tot ʼn houding van: Waaksaamheid, weerbaarheid en diensbaarheid. Dit is die smal paadjie wat loop tussen die vooruitgryp en die gelate afwag. Dit is die pad wat Paulus geloop het. Hierdie apostel het swaar onder sy eie sonde gely. Hy het ook ernstig oor die sonde geskrywe. Hy het daarteen gestry – met as middelpunt die verlossing deur Jesus Christus. Laat my die laaste aflewering in hierdie reeks oor die sonde afsluit met sy woorde aan Timoteus. Dit word soms sy geestelike testament genoem. Daar is nie ʼn meer hoopvolle of meer aansporende perspektief nie, as hierdie woorde, waarmee hy op die weegskaal van die genade, bestek neem van sy lewe:

Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.2 Timoteus 4:7,9