2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Evangelie

Die groot roeping van die kerk — inderdaad, die enigste roeping van die kerk — is om die evangelie te preek. Dit is ongetwyfeld die bedoeling van die “groot opdrag” in Matthéüs 28:19. Dit lyk ewenwel of daar min mense is wat nog weet wat die evangelie is.

Die woord evangelie beteken letterlik “goeie nuus” of, in die woorde van die engel wat die geboorte van Christus aangekondig het, “goeie tyding”. Die inhoud van die evangelie is inderdaad die beste nuus wat nog in hierdie met sonde gevulde wêreld gehoor is. Dit is goeie nuus omdat dit van verlossing deur die vrye en soewereine genade van God praat.

Tog is daar baie mense wat die boodskap van die evangelie só verander dat dit nie meer goeie nuus is nie. Deur hulle dwalings word die evangelie nuus wat nie beter is as wat ons in die daaglikse koerante lees nie. Dit is besonder waar van diegene wat die evangelie verdraai deur verlossing afhanklik te stel van die mens se eie werke. Verlossing deur werke is ʼn slegte tyding, want die Bybel verseker ons dat al ons dade sleg is (Ps. 14:1-3) en ons geregtighede soos ʼn besoedelde kleed (Jes. 64:6).

As die evangelie in óf die inhoud daarvan óf die wyse waarop dit aangebied word, te kenne gee dat die heil afhanklik is van die wil, keuse en besluit van die sondaar, is dit nie meer goeie nuus nie — dan is dit baie slegte nuus vir onbestendige, besluitlose, onwillige, ongehoorsame skepsele soos ons (Joh. 5:40; Joh. 6:44; Joh. 8:44).

Ewe onthutsende nuus wat dikwels as die evangelie uitgegee word, is die leer dat Christus vir almal gesterf het en dat God almal, sonder uitsondering, liefhet en wil red. Die leer dat Christus vir almal gesterf het, is nouliks goeie nuus as sommige vir wie Hy sou gesterf het uiteindelik in die hel beland. Die leer dat God almal liefhet en wil red, is ook nie ʼn goeie tyding as dit van ʼn God praat wat nie doen, of nie kan doen, wat Hy wil nie. As sommige vir wie Christus gesterf het hel toe gaan, sou dit al ons vertroue in Christus tot niet maak. As God almal wil red, maar dit nie kan doen nie, sou dit al ons vertroue in God tot niet maak.

Die gewoonte om sommige waarhede te vermy as sou dit onvanpas vir die prediking van die evangelie wees, is ook verkeerd. Dié praktyk lewer verskeie probleme. Die hele Skrif is evangelie. Om die waarhede van die Skrif te leer verskil nie van die verkondiging van die evangelie nie. Ons leer dit uit Matthéüs 28:19, “Gaan dan heen, maak dissipels1 van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” en uit die voorbeeld van die apostels is Handelinge 2, 7, 13 en 17 waar Bybelgeskiedenis, leerstellings, poësie én profesie as evangelie verkondig word en waarby elke leer, van die soewereiniteit van God oor die bose tot die leer van die skepping en die voorsienigheid, ingesluit was. Enige waarheid van die Skrif is vir die volk van God goeie nuus, want dit spreek van die God van hulle verlossing.

ʼn Ewe nare gewoonte is om die evangelie tot ʼn paar waarhede te beperk wat, gewoonlik elke week by ʼn ander teks aangehaak, oor en oor by evangelistiese aanddienste tot ongereddes wat teenwoordig mag wees al dan nie, gepreek word.

Om ʼn preek net tot die ongereddes te rig, is nie Bybels nie. God se hele volk moet al die waarhede van die Skrif hoor. So lank hulle in hierdie wêreld is, moet die gelowiges net so seer as die ongereddes tot bekering en geloof geroep word. Hulle moet met die beloftes van die Skrif getroos word, met die waarskuwings daarvan vermaan word en met die kosbare waarhede daarvan onderrig word. Mag God sulke prediking in die kerke herstel.

Endnotes🔗

  1. ^ Grieks:  mathēteuō, wat ook “leerling” beteken – NG.