Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Die Gees van meer

Oor die werk wat die Heilige Gees in ’n gelowige se lewe doen, bestaan daar verskil van mening. Dit is veral die Charismatiese groepe wat verwarring skep omdat hulle ’n bepaalde opvatting oor die werk van die Gees huldig, wat strydig is met die suiwere leer van die Woord. Volgens die tipiese “pinkster-teologie”, gee die Gees aan ons MEER as wat ons reeds in Christus het. Die Gees is die “Gees-van-méér”. Hy gee ekstras wat Christus nie bied nie. In die klassieke “pinkster-teologie” bestaan daar 3 spanninge: A. Spanning tussen Christus en die Heilige Gees, B. Spanning tussen geloof deur die Gees en ekstra dinge wat boonop deur die Gees ervaar kan word en C. Spanning tussen die geskrewe Woord en die regstreekse werk van die Gees waardeur die Gees ekstra openbaringe gee bó en behalwe die geskrewe Woord.

Is dit werklik so dat die Gees méér is/gee as Christus? Is dit so dat ervaringe méér is as geloof? Is dit so dat die regstreekse werking van die Gees méér is as die Woord? Moet ’n gelowige opsoek wees na méér? Is dít wat met “groei” in die geloof bedoel word? Lyk ’n gelowige se geloofslewe soos ’n dubbeldek bus – ’n onderste vlak (Christus) en boonste vlak (Gees)?

Hierdie idee van ’n “tweeverdiepingmodel” was die kern van iemand soos dr. Andrew Murray se teologie. En hy was ’n NG leraar wat ongekende invloed gehad het – tot vandag toe. Hy was die vader van ’n evangelies-charismatiese rigting wat binne die NG Kerk posgevat het - en tog wou hy as “gereformeerd” bekend staan. Hy het egter ’n vreemde leer in die NG Kerk ingebring en geen haan het daaroor gekraai nie. Dit is so geduld en aanvaar. Eintlik het hy die weg gebaan vir die huidige vatbaarheid vir die Charismatiese teologie wat tans binne die NG kerk aan die orde van die dag is.

Wat was die kern van Murray se “tweeverdiepingmodel – teologie”? Dit klink soos volg: ’n Mens moet Christus in die geloof ken vir die vergewing van sonde, maar dit is slegs maar die begin van die rykdom. By Jesus is slegs maar die begin te vinde. Slegs maar versoening, die kruis en genade. Maar dan kort die volheid nog. Dít ontvang ’n mens deur die Heilige Gees te ken. Dán ontvang jy dinge soos oorwinning oor sonde, verheerliking, selfs volmaaktheid. ’n Mens kry dus twee soorte Christene: Diegene wat nog net vassteek by Christus en slegs maar gered is en diegene wat die volheid ontdek het deur ’n ervaring met die Heilige Gees te kon smaak! Die Gees bring jou op ’n hoër en heerliker vlak as wat in die versoeningswerk van Christus jou deel is. Om die Gees te ken/ervaar is dus méér as om slegs maar net Christus te ken. In ’n gemeente is daar dus 3 groepe: 1. Ongelowiges 2. beginners wat “net maar” in Christus glo 3.  Die werklike ingewydes wat ’n “hoër lewe” ken. Groep 2 kórt iets om na groep 3 oor te skuif: Die ervaring van die doop met Heilige Gees. Die geloof in Christus moet aangevul/opgegradeer word met iets wat méér is as net-maar-glo (sola fide). Dit gebeur wanneer die gelowige daarin kan slaag om homself algeheel te ontledig van die “self” en algeheel oor te gee aan die Gees. Belangrik: daar moet ALGEHEEL oorgee word. Juis hier lê die knoop, want  wanneer is “algeheel” werklik “algeheel”? Wat hier gebeur is dat die fokus verskuif word wég van Christus se verlossing na die mens wat moet swoeg om ’n algehele oorgawe te maak. Die mens word op ’n subtiele wyse na homself verwys om die knoop deurgehaak te kry. So kom eindelose twyfel en onsekerheid weer by die agterdeur in, omdat die aandag verskuif word wég van Christus se volbragte werk ná die méns se dade. Op hierdie manier word die hartklop van die evangelie vernietig.

Die hedendaagse Charismate voeg nog ’n klompie ekstra vereistes toe (wat Murray nie gedoen het nie):  Daar moet ’n openheid wees vir die “charismatiese dimensie”. Openheid vir bonatuurlike ervaringe van die Gees soos drome, visioene, regstreekse openbaringe, profesieë, talepraat. Dít plaas jou op die boonste vlak/ derde groep. Dán is jy uiteindelik ’n Christen soos die Here dit bedoel het om te wees. Dit beteken jy moet wegkom uit die dooie/dorre gereformeerde kerke waar hierdie dinge nie geleer word nie en waar daar nie openheid hiervoor is nie – waar daar net oor Christus en geloof-in-Hom gepraat word. Die gereformeerdes hou hulle mense (met hulle Christusverkondiging) net op vlak 1/groep 1. Hulle mislei hulle mense deur nie die vólle waarheid (ekstra dimensie van die Gees) bekend te maak nie. Daarom die charismatiese oproep: “Kom weg daar! Voeg jou dáár waar daar lewe en vryheid in die Gees is. Gaan voeg jou dáár waar die Gees méér is as die Bybel/geskrewe Woord. Dáár waar daar openheid is om nuwe, vars, verkwikkende openbaringe van die Gees te ontvang. Die Bybel se openbaring is gestol. Gaan dáár waar daar direkte ingrypinge van die Gees plaasvind – eerstehandse openbaringe deur Geesvervulde mense wat profesieë ontvang en in tale praat. Kom weg van die dorre gereformeerdes wat net vashaak by die tweederangse Bybel.” Só praat die Charismate.

’n Mens kan die Bybel maar net bolangs lees om te sien hoe die Charismatiese teologie die bal geheel en al (tragies) misslaan. Wanneer ’n mens die Nuwe Testament onbevange lees, hoor jy ’n totaal ander soort taal. Dit is nie ’n taal wat so opwindend is soos die Charismatiese taal nie, maar dit is ’n taal wat ’n mens werklik tot rus bring – wat jou troos – in lewe en in sterwe. Wat ware hoop gee.

Die Nuwe Testament weet absoluut niks van ’n “tweeverdiepingmodel” nie. Die Nuwe Testament weet niks van verskillende “soorte” Christene wat op verskillende “vlakke” is nie. Die Bybel ken geen spanning tussen Christus se werk en die Gees se werk nie. Die Bybel weet niks van die Gees wat aan ’n mens méér gee as wat Christus gee nie. Tewens, die Apostel stel dit duidelik in Kolossense 2 dat die gelowige die volheid in Christus besit. Hierdie volheid kom nie net sekere gelowiges (wat ’n sekere vlak van Geesvervuldheid bereik het) toe nie, maar almal. Kyk maar net aan wíé adresseer hy sy woorde in Kol 1:2: “Almal in Kolosse wat aan God behoort”. Vir Paulus beteken geestelike groei om in verbondenheid met Christus te lewe (v 6) – in Hom gewortel en op Hom gebou – en om te sorg dat niemand jou met misleidende argumente van Hom af wegvoer nie (v 8). Dink net aan die uiters misleidende argument van Andrew Murray: Gehul in die grootste vroomheid, lei sy teologie jou wég van Christus af om in die Gees die volheid te vind!! Terwyl die Bybel dit net andersom sê. Volgens die Skrif is dit júís die GEES se taak om die gelowige in nouer verbondenheid met JESUS te laat leef!! Die volheid van die GEES beteken om te gaan leef vanuit die volheid wat die gelowige in JESUS reeds besit.

In Ef 1 stel Paulus dit duidelik: God die Vader het ons geseën met AL die seëninge v.d. Gees wat daar in die hemele is. En waar kry ons hierdie seëninge v.d. Gees? In Christus!! (v 3). Weer eens: dit is alle gelowiges se deel. In vers 1 sien ’n mens aan wie rig hy hierdie woorde: Aan almal in Efese wat in Christus glo.

Hoe kom die kragtige werking van die Gees in ’n gelowige se lewe na vore? Waar sien jy dit? Hoe werk Hy? Wat is Sy hooftaak? In Joh. 15:26 sê Jesus van die Gees: “Hy sal van MY getuig”. Wanneer die Gees kragtig in ’n mens se lewe werk, leer Hy jou om al die rykdom in Christus te vind. Om dááruit te leef in die gewone gang van elke dag. Die Gees is die Gees wat geloof wek (2 Kor. 4:13). En geloof ontvang altyd die volheid wat in Christus is. Ek lewe vanuit Christus se algehele oorgawe aan mý. Ek probeer nie hoër hoogtes (meer van die Gees) bereik deur myself algeheel aan Hom te gee nie. Ek sal myself in elk geval nooit algeheel oorgegee kry nie. Dit is ’n vrome illusie. Dit lei ook tot eindelose twyfel. Dit lei tot eie roem – die roem van die Fariseër. Gelukkig lei die Heilige Gees my nooit om op MY algehele oorgawe te let nie, maar Hy lig my ken op sodat ek kan opkyk en CHRISTUS se algehele oorgawe aan my kan sien en dáárin my sekerheid en volheid vind. Dit het ootmoed en nederigheid tot gevolg, nie roem en trots nie. Want ek leef uit SY algehele oorgawe, nie uit MY oorgawe nie. Daarom is my sekerheid nie SELFversekerdheid nie, maar CHRISTUSversekerdheid.  Wie in alle ootmoed só leef, begin iets ken van die kragtige werk van die Heilige Gees.