Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

Die Gemeenskaplike Beker by die Nagmaal

Die wyn by die nagmaal is 'n teken van die bloed van die verbond, en die gemeenskaplike beker is 'n teken van die nuwe verbond, naamlik die een offer wat die sondes van baie wegneem. Dit is dus duidelik wat Jesus bedoel met die woorde:

Hierdie beker is die NUWE VERBOND IN MY BLOED.

Die feit dat die dissipels toe uit een gemeenskaplike beker gedrink het, kan dus nie verklaar word as 'n blote (terloopse) gebruik van daardie tyd nie. Daar is selfs aanduidings dat dit teen die gebruik van daardie tyd ingegaan het. Jesus wou uitdruklik hê dat hulle uit 'n gemeenskaplike beker moes drink, om as teken van die nuwe verbond te dien. Dat dit Jesus se uitdruklike bedoeling was, word bevestig deur die volgende Jesus se woorde by die uitdeel van die beker soos Matteus dit berig, is "drink almal daaruit". Die uitdruklike byvoeging van die byvoeglike naamwoord "almal" tot sy bevel dui dat sy opdrag was dat almal uit die beker moes drink.

Een en Almal🔗

Markus se weergawe benadruk die feit dat almal uit die beker gedrink het. Anders as Matteus, gee Markus nie die opdrag nie, maar vermeld slegs die historiese feit dat hulle almal daaruit gedrink het. Die woordorde in hierdie sin is van besondere belang. Markus plaas die woord "almal" reg aan die einde van die sin, waar dit sterk beklemtoon is. Dit blyk uit 'n bestudering van Markus se plasing van die voornaamwoord "alles" as onderwerp van die sin elders in sy evangelie. Die beklemtoning van ALMAL uit die EEN word in Matteus en Markus se weergawes verder versterk deur die naasmekaarstelling van teenpole wat bewerkstellig word deur die naasmekaarstelling van een beker (enkelvoud) en almal (meervoud). Die daaropvolgende woorde van Jesus beklemtoon dit ook, naamlik dat Jesus se bloed (enkelvoud) uitgegiet word vir baie (meervoud).

Volgens Matteus 26:27 het Jesus, nadat Hy die beker aangegee het, opdrag gegee dat almal DAARUIT moet drink. Die woorde kan moontlik vertaal word as "drink almal daaruit" (d.w.s. uit die beker) of "drink almal daarvan" (m.a.w. van die wyn). Uit die Grieks is dit egter duidelik dat die eerste moontlikheid gekies moet word (uit die beker). Jesus se bedoeling was dat hulle UIT die BEKER moes drink.

Deel met Mekaar🔗

Ook in Luk 22:17 bevestig Jesus se woorde: "Neem dit en deel dit onder julle" dat Hy uitdruklik aan sy, dissipels opdrag gegee het om almal uit dieselfde beker te drink. Daar is verskillende vertalingsmoontlikhede van die opdrag naamlik "deel, verdeel en versprei". Daar is egter 'n nuanseverskil tussen die aktiewe en medium vorm van die woord. Laasgenoemde dui op "verdeel onder mekaar" soos die verdeling van Jesus se klere aan die kruis. Die aktiewe vorm daarenteen dui op "met iemand deel". By die instelling van die nagmaal sê Jesus dus nie dat sy dissipels die beker onder mekaar moet verdeel nie, maar dat hulle dit met mekaar moet deel, d.w.s. dat almal gemeenskaplik uit die beker moes drink.

Beide Matteus en Markus berig dat Jesus die beker geneem het ("opgetel het"). Daarmee word die moontlikheid uit die weg geruim dat die beker die erdebak was wat gewoonlik by Palestynse maaltye volgemaak op die tafel gestaan het waaruit elkeen kon skep. Die beker by die nagmaal was 'n drinkbeker wat opgetel en aangegee kon word. Dit word bevestig deur die beskrywing in Lukas 22:17, waarvolgens Jesus, nadat Hy die beker geseën het, vir sy dissipels gesê het: ''Neem dit". Jesus oorhandig die beker aan sy dissipels om verder aktief daarmee te handel.

Simboliek🔗

Volgens die beskrywing van Lukas en Paulus het Jesus, nadat Hy die beker geneem het, gesê: "HIERDIE beker is die nuwe testament in my bloed." Hy heg dus simboliese waarde aan die beker wat Hy in sy hand het. Dit is hoogs onwaarskynlik dat die dissipels dan nie met daardie selfde beker verder aktief sou handel nie. Die argument dat Jesus se woorde nie na die beker in sy hand verwys nie, aangesien dit nie na die instelling van die nagmaal verwys nie, maar na 'n (agterna)-verduideliking van die nagmaal, is onaanvaarbaar, om die volgende redes:

  • daarmee sou geïmpliseer word dat die dissipels al klaar gedrink het voordat Jesus aan hulle verduidelik het waarmee hulle nou besig was. So iets sou in stryd wees met die hele instelling van die nagmaal.

  • om te argumenteer dat Matteus-Markus na 'n beker "tydens" die ete verwys, is ongeldig. Matteus­-Markus se verwysing na "tydens" die ete het duidelik betrekking op die brood; die beker word eers daarna vermeld.

  • dat die twee vermeldings van die bekers in Lukas 22 nie na twee verskillende gebeurtenisse (die instelling en 'n latere verduideliking) verwys nie, blyk uit Lukas se dubbele verwysing na die beker.

Lukas se weergawe van die instellingsberigte is ietwat gekompliseerd, aangesien dit twee afsonderlike verwysings na die beker bevat (Lukas 22:17, 18 en 20). Hieruit is al afgelei dat Lukas na twee afsonderlike gebeurtenisse verwys die instelling van die bekerteken by die nagmaal (v 17, 18) en die verduideliking van die bekerteken (v 19, 20). Hiermee saam hang ook die ingewikkelde teksvariasie wat by die perikoop in Lukas voorkom, waarvan die tweede vermelding van die beker (v 19, 20) by sommige ontbreek. Ons aanvaar (saam met die Textus Receptus en die United Bible Society-teks) wel die teenwoordigheid van vers 19-20.

Koninkryk🔗

Dit is duidelik dat Lukas sy berig van die instelling van die nagmaal in Lukas 22:15-20 in 'n besliste gedagtestruktuur orden, naamlik in 'n dubbele parallelie. In vers 15-18 word die eerste twee tekens "eet en drink" agtereenvolgens in verband gebring met die Koninkryk. In vers 19-20 word die teken van "brood en beker" verbondsmatig verklaar. Die brood is ''my liggaam" en die beker is die "die nuwe verbond in my bloed".

Die dubbele vermelding van albei maak dit reeds duidelik dat Lukas nie 'n chronologiese weergawe van die instelling wil gee nie, maar die gebeure tematies behandel. Ook die feit dat Lukas, so opvallend anders as Matteus en Markus, Jesus se woorde "Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie" reeds voor die breking van die brood vermeld, bevestig dat hy nie 'n chronologiese weergawe bied nie.

Deur die dubbele parallellie bring Lukas tematies eers albei tekens in verband met die voleinding (koms) van die Koninkryk, en dui dan die onderskeie betekenis aan van die twee tekens. Dit is opvallend dat Jesus aan albei die tekens 'n verbondsmatige betekenis verleen:

  • Van die brood wat gebreek word, sê Hy: "Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis". Die "vir julle" en die "gedagtenis"-opdrag hou direk verband met God se verbondsbeloftes (vgl. ook die pasga as herinneringsmaaltyd).

  • Van die beker sê Hy: "Dit is die nuwe verbond in my bloed."

Deur die brood en die beker eers met die koninkryk en daarna met die verbond in verband te bring, word die onlosmaaklike verband tussen verbond en koninkryk bevestig. Regdeur die Skrif is koninkryk en verbond immers onlosmaaklik aan mekaar verbind.

Die Betekenis van "Vrug van die Wingerdstok"🔗

Wanneer die Here Jesus aldus Lukas 22:18 en Matteus 26:29 aan sy dissipels sê dat Hy beslis nie weer "van hierdie vrug van die wingerdstok" saam met hulle sal drink nie totdat Hy dit saam met hulle in die Koninkryk van sy Vader nuut sal drink, gaan dit duidelik vir Hom nie maar net oor die soort drank by die nagmaal nie, hoewel 'n mens kan aanvaar dat die beker met wyn gevul was (dit was immers winter en daar was geen manier waarop gewone druiwesap van die vorige seisoen af gepreserveer kon word nie). Dit is opvallend dat Jesus nie na wyn verwys nie, maar uitdruklik na die "vrug van die wingerdstok". Dit sou nie so opvallend gewees het nie as Hy nie die ongewone uitdrukking gebruik het nie.

Verbondsimbool🔗

Daarmee dui Hy aan dat dit om meer gaan as die blote wyn, dat Hy aan die "vrug van die wingerdstok" simboliese betekenis heg. 'n Aanduiding van die simboliese betekenis word in die volgende gevind:

  • In sy prediking direk voor die instelling van die nagmaal (Johannes 15:1-8) het Jesus die wingerdstok gebruik as simbool om die innige gemeenskap tussen Hom en sy dissipels aan te dui: Ek is die wingerdstok, julle die lote.

  • Johannes 15:1-8 vind op sy beurt aansluiting by Psalm 80, waar die wingerdstok gebruik word as simbool van God se verbondsvolk. Die ''vrug van die wingerdstok" word dus by die nagmaal gebruik as simbool van die innige verbondsgemeenskap tussen God en die gelowiges.

  • Jesus sê dat Hy dit eers weer eendag "in die koninkryk van die Vader" saam met sy dissipels sal geniet. Daaruit is dit duidelik dat die drink van die vrug van die wingerdstok heenwys na 'n eskatologiese vervulling van die gemeenskap tussen die Here en die gelowiges in die voleinding.

Dit gaan dus in hierdie deel nie oor wat of waaruit ons drink nie, maar oor wat ons eindbestemming in die nuwe verbond van sy bloed is. Die uitbeelding van die eenheid tussen Christus en sy dissipels as een wingerdstok met baie lote, sluit aan by die een beker waaruit baie (almal) moet drink.

Die Nagmaal as 'n Herinneringsmaaltyd🔗

Volgens 1 Korinthiërs 11:25 het Jesus, toe Hy die beker aangegee het, gesê: "Doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis". Die nagmaal is 'n herinneringsmaaltyd wat die gelowiges laat terugdink aan die kruisdood van die Here en die heilsbetekenis daarvan. Dit is opmerklik dat Jesus sê dat hierdie herinnering plaasvind "so dikwels as julle daaruit drink". In die Grieks gebruik Hy die onbepaalde konstruksie. Daarmee dui Hy aan dat die herinnering nie net vir die beker daar by die instelling geld nie, maar vir elke keer daarna (onbepaald) wanneer die nagmaal plaasvind.

Hieruit is dit duidelik dat die betekenis van die gemeenskaplike beker, soos hierbo aangedui, nie net gegeld het vir die beker wat Hy op daardie oomblik aan sy dissipels gegee het nie, maar dat dit ook vir elke nagmaalsviering daarna sou geld. Anders gestel: die betekenis van die beker spreek nie bloot openbaringshistories uit die beker wat die dissipels destyds gemeenskaplik gedrink het tot ons vandag nie, aangesien dit as 'n herinneringsmaaltyd telkemale wanneer ons nagmaal vier, met dieselfde openbaringshsitoriese inhoud tot ons bly spreek.

Die Nagmaal is 'n Verkondigingsmaaltyd🔗

Die nagmaal is egter nie net 'n herinneringsmaaltyd, soos Zwingli dit gesien het nie. In 1 Korinthiërs 11:26 toon Paulus aan dat die nagmaal 'n verkondigingsmaaltyd is ("so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here tot Hy kom".)

Deur die brood en die beker by die nagmaal te eet en te drink, word die gelowiges nie net aan die kruisoffer van Christus en die heilsbetekenis daarvan herinner nie, maar verkondig hulle dit ook daadwerklik. Dit beteken dat die gelowiges deur die gebruik van die gemeenskaplike beker by die nagmaal daadwerklik dit wat deur die gemeenskaplike beker uitgebeeld word, verkondig.

Die werkwoord kan vertaal word: "verkondig julle die dood" of "verkondig die dood". Heel waarskynlik is dit 'n geval van en-en: die viering van die nagmaal is op sigself 'n verkondiging van die feit en die heilsbetekenis van die kruisdood van die Here; dit wys die gelowige egter op sy roeping om die Here se kruisdood en die heilsbetekenis daarvan te bly verkondig.

Samevatting🔗

Ons kan die getuienis uit die instellingsberigte soos volg saamvat. Christus het opdrag gegee dat die volgende elemente by die nagmaal onderhou moet word (a) die brood wat gebreek en uitgedeel word (b) 'n beker wyn. Die besondere betekenis van die elemente stel Hy soos volg:

  • Die brood verwys na sy liggaam wat tot versoening van sondes gekruisig is.

  • Die beker wyn verwys na sy bloed wat in die nuwe verbond as offer tot versoening van sondes aan die kruis gevloei het: gemeenskaplik gedrink as verwysing na die feit dat ons almal gemeenskaplik deel het aan die een offer.

Die inhoud wat Christus aan die elemente verleen, het nie net openbaringshistories by die instelling van die nagmaal gespreek nie, aangesien die elemente telkemale wanneer ons die nagmaal (as herinneringsmaaltyd) vier, met dieselfde openbaringsinhoud tot ons bly spreek. Wat die beker betref, is die bedoeling van die instellingsberig nie om liturgiese leiding te gee oor die grootte en hoeveelheid van die bekers (dieselfde geld vir die brood) nie, maar om te berig dat die Here Jesus die gemeenskaplike beker as 'n teken gegee het om die eenheid van die verbond na vore te bring. Op hierdie manier word iets van die wêreldwye onsigbare eenheid van die kerk van Christus sigbaar verkondig in die gemeenskaplike beker almal (baie) deel aan die een offer van Christus aan die kruis.