Die Geringste van die Apostels
Die Geringste van die Apostels
Daar is ongeveer ses-en-twintig Christelike karaktertrekke wat in die Nuwe Testament as ʼn grondreël of voorbeeld, geleer word. Oor drie daarvan, naamlik vertroue in God (teenoor angstigheid of vrees), liefde en nederigheid, word meer dikwels onderrig gegee as oor al die ander tesame. Aangesien sommige van die oorblywende karaktertrekke – soos deernis, vriendelikheid, sagmoedigheid en geduld – uit liefde en nederigheid voortspruit, kan ons baie leer omtrent die apostel Paulus se karakter deur ons studie te beperk tot eersgenoemde drie.
Wanneer ons eers na Paulus se vertroue in God kyk, onthou ons dat hy die een is wat aan die gemeente in Filippi die volgende baie bekende woorde geskryf het: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank” (Fil 4:6). Sonder twyfel het Paulus, te midde van die ongelooflike ontberinge wat hy in sy werk as apostel moes verduur, meer as genoeg geleenthede gehad om dit wat hy gepreek het, self te beoefen. Trouens, Paulus het hierdie woorde juis geskryf tydens sy gevangenskap in Rome. Maar die beste voorbeeld van sy vertroue in God vind ons tydens ʼn gebeurtenis in die stad Filippi, etlike jare voordat hy hierdie brief geskryf het.
As gevolg van sy verkondiging van die Evangelie, is Paulus en Silas geslaan en in die tronk gegooi (Handelinge 16:16-40). By die meeste van ons sou so ʼn ongunstige wending in hul situasie waarskynlik ʼn hoë angsvlak tot gevolg hê, maar nie by Paulus en Silas nie. In plaas daarvan lees ons dat Paulus en Silas om “middernag ... besig [was] om te bid en tot lof van God te sing” (v. 25).
Ons weet niks omtrent die inhoud van hul gebede nie, maar die hele strekking van die verhaal suggereer dat hulle besig was om God te dank dat hulle waardig geag is om te ly ter wille van Christus en om Hom te vra om hulle omstandighede te gebruik tot voordeel van die verspreiding van die Evangelie. Hulle het God ten volle vertrou.
Hoe verklaar ons Paulus se vertroue in God en sy vreugde in sy omstandighede, selfs in die tronk in Filippi en in die gevangenis in Rome? Etlike jare tevore het hy aan die gelowiges in Rome geskryf: “Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is” (Rom. 8:28). Paulus het absolute vertroue in die soewereiniteit en goedheid van God gehad. Hy het Jesus se lering geken dat nie een enkele mossie op die grond kan val buite die wil van God nie, en nie een enkele mossie deur God vergeet word nie (Matt. 10:29; Luk. 12:6). Hy het dit geglo en dié wete tot in sy diepste wese omhels. Paulus se vertroue in God was veranker in sy geloof in God se soewereiniteit en goedheid.
Paulus se teologie was ook die grondslag van sy nederigheid. Hy het nie sy volwasse lewe as ʼn nederige volgeling van Jesus begin nie. Trouens, wanneer ons die eerste keer vir Paulus ontmoet in die boek Handelinge, leer ons hom ken as ʼn trotse, fanatieke Fariseër wat besig was om die kerk te verwoes en mans en vroue in die tronk te gooi. Hoewel ons besig is om Paulus se karakter te bestudeer, kan ons nie sy basiese persoonlikheid ignoreer nie, en laasgenoemde was ferm en kragtig. Sy traumatiese ontmoeting met die opgestane Christus op die pad na Damaskus het dit nie verander nie. Inteendeel, ons sien dat hy onmiddellik onverskrokke oor Jesus preek in die sinagoges van Damaskus. Jare later vind ons hom waar hy met beslistheid die sedelike probleem in die gemeente van Korinthe aanspreek en oor die valse leraars wat die ware geloof van die gemeente in Galasië ondermyn het, ʼn vloek uitspreek. Paulus het ongetwyfeld niks van sy ferm, kragtige persoonlikheid wat hy as Fariseër geopenbaar het, verloor nie. Nogtans kenmerk sy lewe as apostel duidelik ʼn houding wat deurdrenk was van nederigheid teenoor God en teenoor mense.
Paulus se nederigheid is die duidelikste sigbaar in sy beoordeling van homself. In sy brief aan die Korinthiërs in 55 n.C., noem hy homself “die geringste van die apostels, nie geskik om ʼn apostel genoem te word nie omdat hy die gemeente van God vervolg het” (1 Kor 15:9). In sy brief aan die Efesiërs ongeveer vyf jaar later, verwys hy na homself as die “die geringste van al die heiliges” (Ef. 3:8). Kort voor die einde van sy lewe beskou hy homself as “die heel grootste” van alle sondaars (1 Tim. 1:15). Dit toon nogal ʼn taamlike groeiproses in sy selfkennis, van ʼn trotse, eiegeregtige Fariseër na die grootste van alle sondaars. Net ʼn persoon wat werklik nederig is, sou homself so beskryf. Wat het ʼn eens trotse Fariseër in ʼn nederige apostel van Christus verander? Dit was Paulus se insig in God se genade. Hy het verstaan dat God se genade groter is as net onverdiende guns. Hy het homself gesien, nie net as onverdienstelik nie, maar as “misverdienstelik”. Hy het geweet dat hy in homself, los van Christus, die toorn van God ten volle verdien het. In plaas daarvan is hy aangestel as draer van die boodskap wat hy probeer stilmaak het. Dit is waarom hy, ná sy waardebepaling van homself as apostel, dit opgevolg het met die verklaring: "[m]aar deur die genade van God is ek wat ek is" (1 Kor. 15:10). Dit is waarom hy kon sê: “Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade geskenk” (Ef. 3:8). Hy het homself gesien as ʼn onmiskenbare voorbeeld van God se genade, en sy teologie van genade het hierdie nederigheid by hom teweeggebring.
Wat van liefde in Paulus se lewe? Wanneer ons sy ferm, kragtige persoonlikheid in herinnering roep, merk ons dat dit getemper is deur die liefde? Is daar in die lewe van die man wat die pragtige beskrywing van die liefde in 1 Korintiërs 13 gegee het, dieselfde eienskappe waarneembaar? Wanneer ons vier van sy briewe aan verskillende gemeentes bestudeer, besef ons dat dit wel die geval is.
Aan die gelowiges in Filippi skryf Paulus: “Want God is my getuie hoe ek met die innige toegeneentheid van Christus Jesus na julle almal verlang” (Fil. 1:8). En aan die gemeente in Tessalonika kon hy skryf: “Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ʼn ma wat haar kinders vertroetel” (1 Tes. 2:7 Nuwe Vertaling, 1983). Ons vind in werklikheid ʼn wonderlike paradoks by Paulus – ʼn ferm, kragtige persoonlikheid verenig met die “sagter” eienskappe van toegeneentheid en welwillendheid.
Natuurlik was die gemeentes in Filippi en Tessalonika twee van Paulus se “beter” gemeentes. Ons kan sê dat dit vir hom redelik maklik was om hierdie mense, wat hom liefgehad het, ook lief te hê. Maar wat van die probleemgemeentes – Korinthe en Galasië – wat soveel verdriet vir Paulus veroorsaak het? Het hy ook liefde teenoor hulle geopenbaar? Ongetwyfeld was Paulus baie streng in sy briewe aan albei gemeentes. Aan die Korinthiërs kon hy skryf: “Want met groot kwelling en angs in my hart het ek deur baie trane heen aan julle geskryf, nie om julle te bedroef nie, maar dat julle kan weet van die liefde wat ek in so ʼn groot mate teenoor julle koester” (2 Korintiërs 2:4). En aan die Galasiërs het hy geskryf: “My kinders, ek ervaar weer geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry” (Galasiërs 4:19). Dit was sy innige liefde vir hierdie mense en die kommervolle droefheid in sy hart wat veroorsaak het dat hy so streng was met hulle. Dit is wat ons deesdae “volhardende liefde” ('tough love') sou kon noem. Die waarheid is egter dat “volhardende liefde” die kosbaarste van alle vorme van liefde is.
Wat het aanleiding gegee tot hierdie diepgewortelde liefde van Paulus vir die gemeentes? Dit het voortgespruit uit sy grondige besef van God se liefde vir hom. Paulus was so diep bewus van Christus se liefde vir hom dat dit hom, in sekere sin, gedwing het om vir Christus te lewe en om lief te hê soos wat Christus liefhet. Hy het die Korintiërs en die Galasiërs liefgehad omdat Christus hom liefgehad het. Ons sien dus weereens dat ʼn mens se karakter groei uit jou teologie. Omdat Paulus se teologie so diep gewortel was in sy liefde vir Christus, het sy karakter dit weerspieël, en kon hy andere liefhê soos wat Christus hom liefgehad het.