Bron: Kompas. 3 bladsye.

Die Gesin as Oefenplek vir 'n Toekomstige Huwelik

As ouers sien dat hulle seun of dogter ongelukkig is in die huwelik, is dit vir hulle ’n groot hartseer. Daar kom knaende vrae. Kon ons hierdie leed voorkom het? Het ons iets verkeerd gedoen in ons opvoeding? Moes ons meer oop gewees het oor probleme en hoe om dit op ’n Christelike manier op te los?

Foute word gewoonlik nie opsetlik gemaak nie. ’n Mens probeer tog altyd om so goed as moontlik op te tree. As ’n mens terugkyk kan daar skuldgevoelens ontstaan wat nie regtig gegrond is nie. Die vraag is: Hoe kan ’n mens jou kinders so goed as moontlik voorberei op hulle toekomstige roeping as huweliksmaat?

Een van die dinge wat belangrik is, is om bewus te werk aan die ontwikkeling van verhoudings. Die huwelik as gawe van God staan in ons tyd onder groot druk. Ook huwelike van Christene ly onder die gevolge van die sondeval.

Die Here gee die gesinssituasie as ’n oefenplek vir die bou van verhoudings. Ook om te leer om ’n goeie huweliksmaat te kan wees. Die vraag is nie: hoe goed gaan die ander vir my wees nie. Die opdrag vir ons almal is om self die ander lief te hê. Aangesien dit teen ons natuur is, moet die Here groot dinge doen om ons te verander. Maar Hy doen dit ook, deur die krag van die Heilige Gees. Hoe groot is God se genade dat Hy dit moontlik maak dat ons ons gesin ervaar as ’n plek van veiligheid en sekerheid. ’n Omgewing waar kinders ook belangrike lesse kan leer wat hulle voorberei om volwasse verhoudings te kan hê.

Voorbeeld🔗

Die gesin is ’n belangrike omgewing om tot geskikte huweliksmaat gevorm te word. Ek bedoel nie dat die ma’s maar vroeg moet begin om hul dogters te terg oor oulike seuns wat huwelikskandidate kan wees nie. Of pa’s wat hul seuns van jongs af wys op mooi dogtertjies wat met hul mooi rokkies in die kerk inkom nie. Nee, ’n goeie voorbereiding op die huwelik begin wel vroeg maar op ’n heeltemal ander manier.

Een van die belangrikste dinge is dat die ouers vir hulle kinders die voorbeeld van ’n goeie huwelikslewe wys deur die manier waarop hulle self saamleef. Dit is baie belangrik dat die kind kan sien dat daar liefde tussen die ouers is. As die kind kan sien dat pa van ma hou en ma van pa, is dit die beste voorbereiding vir die huwelik wat ons die kind kan gee. Die belangrikste ding wat ’n pa vir sy kinders kan doen is nie om vir hulle mooi presente te gee nie, maar om hulle ma lief te hê. Een van die beste dinge wat ’n ma vir haar kinders kan doen, is om te wys dat sy ’n baie noue band met hulle pa het.

’n Ander punt is dat ouers hul bes moet doen om hul kind te help om ’n positiewe gevoel van eiewaarde te ontwikkel. Wie as ouer sy kind se selfbeeld reëlmatig aantas deur negatiewe opmerkings, help die kind nie om later ’n goeie lewensmaat te wees nie. Die gevoel van eiewaarde word baie keer slegs aan prestasies gekoppel. Maar die Here sien meer in ons. Hy het ons gevorm met ons karakter en moontlikhede.

Onsekerheid oor eie gevoel en bestaansreg, kan in ’n huweliksverhouding inwerk soos ’n dodelike siekte. Verborge wantroue en onderliggende onsekerheid oor onsself, kan die oorsaak van twisgesprekke wees. Meningsverskille wat ons self eintlik ook nie soek nie. Maar dit ontstaan en ons moet leer om te herken waar dit vandaan kom.

Dit is belangrik om te begin by hoe die Here na ons kyk, sowel na myself as na my (toekomstige) huweliksmaat. Ek mag glo dat ek ’n kind van God is, eiendom van Christus, en tempel van die Heilige Gees. So mag ek ook na my huweliksmaat kyk, ten minste as hy of sy ’n Christen is. Hierdie geloofsvertroue moet die basis wees van die verhouding. En hierdie vertroue kan groei as jy saam op die Here gerig is, deur die werking van die Heilige Gees. Dan kan ons die diepste gevoelslaag van selfrespek en vertroue in mekaar bereik in die gesamentlike gebed. Die toon waarop ons met die Here oor mekaar spreek mag die van danksegging wees.

Vertroue🔗

Vertroue dat iemand jou regtig liefhet, is ’n geweldige geskenk van die Here. Dat jy mag weet dat daar iemand is wat ondanks jou foute weer daar sal wees. Die Here bou die verhouding tussen twee mense wat aan Hom verbind is, op deur sy liefde. Dit is sy groot werk in Christelike huwelike.

Aan die ander kant moet ons as mens ook leer om betroubaar te wees. Ons is baie keer geneig om ander mense te los as dit nie meer lekker is nie. Kinders het dieselfde probleem. Ook al het hulle die Saterdag met mekaar gespeel, Sondag by die kerk maak hulle of hulle mekaar nie ken nie en soek hulle ’n ander maatjie. As ons as ouers hierdie houding in ons kinders raaksien, moet daar ’n rooi liggie begin brand. So mag ons nie leef nie. Saamleef beteken dat ons ook die moeites wat daar is, aanpak en probeer oorwin. In liefde die waarheid vertel en nie in ’n vlaag van boosheid nie. Dit breek net af. Ons moet daar wees vir mekaar, in alle eerlikheid. Ook al is dit partykeer glad nie lekker nie. Ons moet jong kinders help om betroubaar te wees. Hierdie houding teenoor ons medemens wil die Here graag sien. Binne die huwelik is dit ’n voorwaarde om vertroue in mekaar te leer kry en te behou .

’n Belangrike kenmerk van ’n liefhebbende huweliksmaat is toewyding: dat jy daarvan hou om die ander te help. Om iets vir die ander te wil beteken ook as dit niks ‘oplewer’ nie. Hierdie houding moet ons by ons kinders probeer vestig. Dit sit ook in klein dingetjies. ’n Voorbeeld: Dit is nie wenslik as kinders geld kry vir werkies in en om die huis soos grassny, skottelgoed of karwas nie. Gee ons so nie ’n onbybelse indruk van liefde vir mekaar nie? Asof dit altyd so moet wees dat daar ’n beloning moet kom vir jou goeie dade. In ’n gesin leef jy saam. Die take word nie net deur een persoon uitgevoer nie. Ons moet leer sien waar ons mekaar kan ondersteun en help. Gewoon, uit liefde. Die Here vorm gesinne. Hy wil graag sien dat ons mekaar liefhet en ondersteun, want Hy wil daar woon met sy Gees. Diensbaar aan mekaar wil wees, is ’n vrug van die werk van die Gees. As ouers is ons daar om hierdie groeiproses te probeer bevorder.

Openheid in gesprek🔗

Ouers kan baie beteken vir die toekomstige huweliksgeluk van hulle kinders deur Bybelse riglyne aan hulle oor te dra. Behalwe deur die voorbeeld van die ouers se eie huwelikslewe, kan dit ook gedoen word deur praktiese onderrig wat gebaseer is op die Woord van God. ’n Voorbeeld is die raad wat ’n pa vir sy seun gegee het: “Moenie met ’n meisie uitgaan met wie jy nie kan trou nie.” So ’n opmerking is ’n stukkie wysheid wat bly vassteek in ’n seun se herinnering. Dit vorm hom. Dit is ’n uitwerking van die Bybelse beginsel dat ’n mens slegs met ’n gelowige moet trou.

Die jongmense wat gaan trou, moet natuurlik hulleself ook goed voorberei. As ouers kan ons ’n rol daarin speel. As ons opmerk dat die paartjie eintlik maar net aan mekaar vat en nie juis met mekaar gesels oor allerhande onderwerpe nie, mag ons maar gerus vrae vra: Is daar studie gemaak van die seksualiteit in die huwelik? Is daar goeie Christelike boeke gekoop om die gesprek aan die gang te kry? Is daar voldoende openheid om onsekerheid te bespreek? Is daar gepraat oor gesinsvorming? Sê nou maar die Here gee geen kinders nie. Watter enorme gevolge het dit vir die verhouding. Ons kan nie alle situasies so indink dat ons vantevore kan weet hoe ons gaan reageer nie. Tog moet ons wel probeer om mekaar te ken. Mekaar se reaksies op diepte inskat en in liefde leer hanteer. Die uitgaan- en verlowingstyd is nie net daar vir die reëlings van die troue nie. Die waarde daarvan kan so betreklik wees as ’n mens dit gaan afweeg teen die persoonlike vreugde of verdriet wat daarna kom.

Nog ’n paar vrae wat bespreek kan word tydens gesprekke ter voorbereiding op die huwelik is die volgende:

Op watter manier gaan ons huwelik ’n huwelik tot eer van die Here wees?

Hoe sal ons ons geld en tyd in sy diens gebruik?

Wanneer en hoe gaan ons die Bybel lees en tyd neem vir gebed?

As ’n mens in hierdie dinge nie saam groei nie, gaan daar verseker eensaamheid binne die huwelik wees.

Hierdie tipe onderwerpe kan ouers in die gewone gesprekke probeer inwerk. Of tydens ’n spesiaal georganiseerde aand. Dit kan baie help om na mekaar toe te groei. Dit is nie die bedoeling dat ouers vir hulle al die antwoorde gee nie. Jongmense moet self daardeur gaan en die vrae hulle eie vrae laat word.

As ouers nie hiervoor kans sien nie of die verhouding nie oop genoeg is nie, sou hierdie gesprekke ook in gemeente-verband kon plaasvind. Daar is in die gemeentes deurgaans baie gawes gegee en dit hoef nie net afhanklik te wees van predikant of ouderling nie. Wyse broeders of susters kan deur middel van gesprekke ’n belangrike bydrae lewer aan die ontwikkeling van goeie verhoudings by jong paartjies.

Verder is daar baie Christelike boeke beskikbaar wat jongmense kan lees as voorbereiding op die huwelik. ’n Boek wat gebruik kan word is: “Die huweliksdaad” deur Tim en Beverly LaHaye. Ook ouers wat al 25 jaar getroud is, kan hierdie boek geniet. ’n Goeie evaluering van hul eie huwelik kan hulle verhouding weer nuwe lewe gee!