Bron: Kompas, 2003. 3 bladsye.

Die Gevaar van Sekularisasie in die Kerk

Kan jy jou indink dat die Heilige Gees Hom uit die gemeente sou onttrek sonder dat ons dit sou agterkom? Dit klink miskien vreemd maar dit is moontlik. Die kerklike strukture bly in stand: Christelike gesinne, gereformeerde skole, eredienste, katkisasie, Bybelstudieverenigings, ens. As die Gees Hom sou onttrek, sou alles vir ’n rukkie gewoon aangaan. Ons bly dieselfde dinge doen, maar dan nie uit ’n lewende geloof nie. Ons is dan eerder besig om ’n gereformeerde kultuur te handhaaf as om die Christelike godsdiens uit te leef. Dis ’n gevaar waarvoor ons moet bly waak. Daarom hierdie artikel oor sekularisasie.

’n Mens kan sekularisasie omskryf as ’n proses waardeur godsdiens al hoe minder relevant word. Dit kan beteken dat die godsdiens vir steeds minder mense relevant is. Dit kan egter ook beteken dat die relevansie van die godsdiens vir steeds meer mense, wat wel godsdienstig wil wees, beperk word tot sekere terreine van hul lewe. Die eerste kan ons eksterne sekularisasie noem: al hoe meer mense leef sonder God en sonder godsdiens. Die tweede is interne sekularisasie: godsdienstige mense word minder godsdienstig. Hul geloof beteken al hoe minder in hul lewe. Dit kan in beginsel met enige kerklid gebeur. Daarom sal ons veral aan die tweede aspek aandag skenk.

Wanneer iemand God heeltemal die rug toekeer, was hy waarskynlik reeds lankal besig om Hom uit allerlei gebiede van sy lewe te weer. Wie ’n slagoffer van interne sekularisasie is, is op pad na ’n volledige breuk met God. Hy moet dus van daardie pad teruggeroep word voordat dit te laat is.

Hoe herken jy dat iemand besig is om te sekulariseer? Jy herken dit die beste aan wat vir God en godsdiens in die plek kom. Die hart van ’n mens is mos nooit leeg nie. As die Woord en die Gees van God op ’n bepaalde lewensterrein nie meer in ons hart seggenskap het nie, dan kom iets anders daarvoor in die plek. Dan kry in die plek van die Heilige Gees, die tydgees seggenskap; die bose gees van die wêreld.

Om die sluipende sekularisasie te herken, moet ons daarom die tydgees ken. Dominerende trekke van die tydgees is die strewe na mondigheid, emansipasie en onafhanklikheid, die nadruk op die gevoel, dit wil sê: jou gevoel bepaal wat goed en wat kwaad is; en die hier-en-nou mentaliteit, wat lei tot ongeduld, ’n onvermoë om te ly en die gebrek aan perspektief. Hierdie trekke in die samelewing dreig om die Christelike geloof sy plek te ontneem.

Sekularisasie en Spiritualiteit🔗

Interne sekularisasie sluit hom altyd op een of ander manier aan by wat reeds aanwesig is. Om ’n beeld uit ’n gelykenis te gebruik: as daar ’n bose gees in die huis van jou hart kom woon, laat hy in eerste instansie die voorgewel van die huis nog onaangeraak. Dit lyk asof niks verander het nie. Maar alles het verander! Want die bewoner is iemand anders.

Dit geld nie net vir mense persoonlik nie. Dit kan ook vir ’n kerklike gemeenskap geld. So ’n gemeenskap word deur ’n bepaalde spiritualiteit gekenmerk. Jy herken daar ’n sekere lewensfeer, ’n manier van dink en praat en omgaan met mekaar, ’n bepaalde manier van belewing van die diens van God, van gebed en Bybel lees, van die eredienste ens. Daardie spiritualiteit is so te sê die voorgewel van die huis van die kerk. Maar daarmee is nog nie alles gesê oor die gees wat agter die voorgewel woon nie. Is dit die Heilige Gees of is dit die tydgees? Jy kan nog ’n tyd lank jou eie sfeer as kerk ’n bietjie in stand hou, terwyl jy ondertussen behoorlik gesekulariseer het. Dis iets waarvoor ons baie goed moet oppas.

’n Voorbeeld uit die Bybel. Deel van die Joodse spiritualiteit was dat hulle uitdruklik uiting aan hul godsdienstige blydskap gegee het. Dans, sang en musiek het daarby behoort. Maar dit maak natuurlik wel ’n groot verskil waarvoor gedans, gesing of gemusiseer word. Is dit Dawid wat met die hele volk voor die aangesig van die Here dans wanneer die ark Jerusalem ingebring word of is dit die dans rondom die goue kalf? As jy net na die uiterlike kyk, na die voorgewel, na die dans, dan is daar nie baie verskil nie. As jy let op wat agter die uiterlike sit, dan is dit ’n wêreld se verskil. En daaroor gaan dit uiteindelik.

Wat is dan ons spiritualiteit? Kenmerkend vir ons gereformeerde spiritualiteit is in ieder geval die groot nadruk wat gelê word op die verbond van God met die gelowiges en hul kinders; op die betekenis van die heilige doop; op die krag waarmee die Woord van God van buite af na ons toe kom; op die belang van die sigbare kerk met haar kenmerke; op die groot waarde van die gereformeerde skole.

Dit is dinge wat ons ’n eie gesig na buite gee en wat die sfeer in ons kerke bepaal. Dis egter ook dinge wat deur die sekularisasie van binne af uitgehol kan word. Dan bly dit alles nog ’n tyd lank pragtig staan, maar die gees daaragter het totaal verander. Dit kan ook by ons, jonk en oud, so wees. Dan is al die dinge nog daar, dan is ons en ons kinders so te sê nog ‘eg vrye gereformeerdes’, maar die lewe, die Gees van die lewe, is daaruit weg en die gees van hierdie eeu het daarin gekom. Daarmee bedoel ek nie dat daar by ons en ons kinders geen sprake meer van geloof is nie. Gelukkig blyk nog dikwels die teendeel. Ons bedoel wel dat daar sprake kan wees van ’n vérgaande sekularisasie ook by ons en ons kinders wat nog behoorlik gereformeerde lyk te wees. As ons wel die gereformeerde buitekant sien, maar nie let op die gees wat daaragter sit nie, dan skiet ons tekort in ons sorg vir mekaar. Op die huisbesoeke en op die verenigings kan dan baie voorspelbare antwoorde gegee word, terwyl die lidmate feitlik reeds baie gesekulariseer is, dikwels nog sonder dat hulle dit self besef. Dit sou goed wees as ons mekaar aan die probleem ontdek.

Voorbeelde🔗

Laat ons ’n paar konkrete voorbeelde gee. In die eerste plek gaan dit dan oor die sekerheid wat die Here ons in die verbond gee. Daarop word onder ons tereg groot nadruk gelê. Die Here het in die doop sy verbond met ons gesluit en verseël. Dit staan vas. Ons is deur God as sy kinders aangeneem. Hy het dit self gesê. Dis ons sekerheid. Jy hoef nie eindeloos in jouself te wroeg om te weet of jy wel ’n kind van God is nie. Jy mag vashou aan God se betroubare beloftes.

Die sekerheid kan egter in die greep van die sekularisasie kom. Want ook die gees van die tyd ken sekerheid. Dis die sekerheid van die mondige mens, wat vir homself opkom en homself tot uitgangspunt van alles maak. As die tydgees die sekerheid wat by gereformeerdes pas, besit neem, dan verword die sekerheid van die verbond tot selfversekerdheid. Dit lyk nog dieselfde, maar dit het iets anders geword. So kan dit byvoorbeeld gebeur dat lidmate met sekerheid verklaar dat hulle kinders van God is, terwyl ’n groot deel van dieselfde lidmate nooit of byna nooit self uit die Bybel lees nie. Waarop is hul sekerheid dan gebaseer? Op die beloftes van God wat deur die Heilige Gees aan hul hart verseël is, of op die sekerheid wat die tydgees bied?

’n Tweede voorbeeld. Die nadruk op die sigbare kerk, op die belydenis van die ware kerk wat geken kan word, op die lewe vanuit die kerk ook in die onderwys ens., kan ook in die greep van die moderne emansipasiegedagte kom. Dan verdwyn die verwondering oor die werk van die Here in sy kerk en oor sy groot geskenk in ons skole. Dan kom dit in die kader te staan van ’n geëmansipeerde gemeenskap, wat op eie bene kan staan, homself kan red en verder niks of niemand nodig het nie.

Mense wat in gereformeerde kerke en aan gereformeerde skole grootgeword het, kan soms ’n snobistiese houding aanneem van: ons weet reeds alles, ons het alles reeds en jy hoef ons niks meer te vertel nie: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie”, soos die gemeente te Laodicea wat nie geweet het dat hy ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak was nie. So kan dit ook by ons gaan as die gereformeerde opvoeding en onderwys op ’n gesekulariseerde manier gebruik word.

’n Laaste voorbeeld. Ons weet dat ons in die verbond geroep is om in ons hele lewe die Here te dien. Niks is daarvan uitgesonder nie, ook nie ons werk of ontspanning nie. Maar ook die oortuiging kan deur die sekularisasie uitgehol word. Dan kan die hier-en-nou mentaliteit ’n rol begin speel. Dan is daar geen besef meer van die groot verband waarin ons as kinders van God leef nie, die groot verband wat hemel en aarde en alle tye omspan. Maar dan verwag ons dat ons in ons omgang met God baie ver kom deur ’n paar konkrete reëls te stel: ‘dit mag wel en dit mag nie’. Soms word aangedring op konkrete reëls op allerlei gebied: Mag jy op Sondag TV of sport kyk? Mag jy fliek toe gaan? Mag jy dans? Die verleiding is groot om te dink dat, as jy op al die vrae ’n antwoord het, jy ver gevorder het in jou leiding gee aan mekaar. Maar niks is minder waar nie.

Ek bedoel nie dat ’n ‘gereformeerde sede’ waardeloos is nie. Ek bedoel wel, dat jy met die gereformeerde sede dit baie maklik vir mekaar kan maak, as jy naamlik die lewe met God gaan versmal tot gehoorsaamheid aan ’n aantal reëls. Jy kan net oor die gereformeerde sede praat as jy baie duidelik maak, dat God ons hele lewe opeis. Dit kan alleen as jy ook laat sien hoe groot die gevaar van sekularisasie is, nie net in die disko of fliek nie, maar in ons hele denke en doen, ook as dit miskien nog goed gereformeerd lyk te wees.

Ons Opstelling🔗

Hoe moet ons ons teenoor die interne sekularisasie opstel? Dit word soms voorgestel asof die fout in die spiritualiteit van ons gereformeerdes self lê. Dan kom daar oplossings soos: as ons maar minder nadruk lê op die objektiewe waarhede en meer op die persoonlike verhouding met God, dan sal ons baie minder bekommerd hoef te wees; of: as ons eers ’n bietjie minder oor die kenmerke van die ware kerk sou praat en meer oor die gemeenskap van die heiliges binne-in die kerk; of: as ons eers minder onsself agter die bastions van ons eie skole sou opsluit en ons meer vir die wêreld rondom ons sou oopstel.

Ek glo nie dat die soort oplossings werklik oplossings is nie, al sê ek nie dat alles wat genoem is verkeerd is nie. Maar die fout sit nie in die gereformeerde lewensfeer as sodanig nie, maar in die sekularisasie. Die fout sit nie in die gebou nie, maar in die ander gees wat in die gebou wil gaan woon. Om aan die gebou te verander help dan niks nie. Die bose gees moet uitgedryf word.

Dit is baie belangrik dat ons, jonk en oud, altyd weer opnuut leer wat die waarheid van verbond en kerk is en van al die ander dinge waaroor ons graag praat. Ons moet mekaar nie afskeep met bekende woorde en geykte formules nie, maar ons moet mekaar laat sien om watter werklikheid dit gaan: dat God ons in die verbond opgesoek het en ons deur Christus saambring in sy gemeente. As die sekerheid van die verbond dreig om te sekulariseer tot selfversekerdheid, dan sal ons weer moet duidelik maak wat dit beteken om vanuit jou doop te leef, om altyd weer, soos Luther dit gesê het, terug te kruip in jou doop. As die plek van die jeug in die kerk ’n vanselfsprekend reg dreig te word, dan sal ons dit vir hulle weer moet voorhou, hoe min vanselfsprekendheid daar is in die feit dat God sy volk in die lyn van die geslagte vergader. Dis ’n wonder van verkiesing en van genade. As ons steeds so te werk gaan, dan hoef die voorgewel van die gereformeerde lewe geen misleidende vertoning te wees, waaragter die gees van hierdie eeu rustig kan woon nie. Dan bly dit ’n woning van God in die Gees.