Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Die Groot Hereniging

Lees 1 Tessalonisense 4:13 – 5:11

Die dood beteken dat daar afskeid geneem moet word. Daar kom skeiding tussen mense. Afskeid beteken hartseer. Veral daar waar ʼn mens ʼn lewe lank as man en vrou saam geleef het. Selfs al kan ons in die geloof weet dat ons geliefdes by die Here is, neem dit vir geen oomblik weg dat hulle juis daarom nie meer by ons is nie. Die dood bring skeiding. Ons moet nie dink dat dit by onsself van ongeloof spreek as ons hartseer is as gelowiges nie. Die dood skeur uitmekaar wat die Here saamgevoeg het. Man en vrou. Ouers en kinders. Iemand word weggeskeur van die gemeente. Daar kom skeiding tussen familie en vriende.

Die Her-Ontmoeting🔗

Die apostel Paulus skryf woorde waarmee ons mekaar kan bemoedig by só ʼn skeiding en afskeid wat die dood bring. Hy skryf oor die groot ontmoeting. Die groot hereniging. Hy skryf oor Christus wat ons vanuit die hemel verwag. ʼn Saak van groot blydskap. Ons sit met gespanne verwagting en uitkyk na Christus, ons Verlosser, wat terugkom uit die hemel. Dit is die mooi van ons Christelike verwagting van die toekoms – ons toekoms met Christus is ʼn groot by-mekaar-wees. Met Hom in die eerste plek. Maar ook met mekaar.

Die Skrif is egter ewe eenvoudig as wat dit duidelik is oor ons toekomsverwagting: ons verwag ons Verlosser uit die hemel. Dit is die Verlosser wat in Homself vantevore in mý plek voor die regterstoel van God gaan stel het. Ek verwag Hom wat alle vervloeking van my weggeneem het, sodat daar geen skeiding meer kan wees nie. Sonde het skeiding gebring. Ons verwag egter vir Christus uit die hemel wat die skeiding heeltemal oorwin het deur sy dood. Sy wederkoms is die groot her-ontmoeting.

Die Woord van die Here praat nie oor die lewe na die dood en oor die oordeelsdag op só ʼn manier dat mense se nuuskierigheid bevredig kan word nie. As dit daarvoor bedoel was, sou dit erg teleurgestel het. Daar is baie aspekte van die dood en ewige lewe wat glad nie genoem word in die Bybel nie. Hier in Thessalonisense sien ons die doel waarvoor die Skrif oor die toekoms praat. Dit het ʼn pastorale doel. Dit wil bemoedig en troos. Dit wil verlange na Christus en mekaar as gelowiges by ons opwek.

Almal, mans en vroue en kinders sal geroep word om voor die groot Regter te verskyn. Net soos by die Here se neerdaling op die berg Sinaï, sal daar ʼn geblaas wees van die trompet deur die aartsengel. Die blaas van die trompet beteken daar is ʼn belangrike vergadering. ʼn Groot ontmoeting. Niemand mag dit misloop nie. Almal moet daar wees. Dit is nie ʼn ontmoeting waarvoor gelowige hoef bang te wees nie. Ons verwag nie Een wat sy kinders kom veroordeel nie. Hy kom nie om skeiding te maak nie, maar juis sodat ons nooit weer van Hom geskei sal wees nie. Sodat ons altyd by Hom kan wees.

Minderwaardige Posisie?🔗

Dan is dit glad nie vreemd dat daar in die gemeente in Tessalonika ʼn paar vrae oor hierdie wederkoms van Christus geleef het nie. Paulus antwoord eers die vraag oor wat die lot sal wees van die gelowiges wat reeds gesterf het, wanneer Christus weer kom. ʼn Volgende vraag gaan oor die tyd wat nog moet verloop tot die vereniging met Christus. “Hoe lank nog?” Maar in die eerste plek wil die Here nie dat daar onsekerheid sal wees oor wie almal teenwoordig sal wees by die groot ontmoeting tussen Christus en sy bruid nie. In Tessalonika was daar onsekerheid oor die teenwoordigheid by die wederkoms van die gelowiges wat reeds ontslaap het. Daar was ʼn lewende verwagting van Christus se koms. Maar dink jou nou in dat hulle wat reeds gesterf het, die mooi ontmoeting sal misloop! Sal hulle nie op een of ander manier in ʼn minderwaardige posisie wees nie? Sal hulle die wederkoms en alles wat daarmee gepaard gaan van die begin kan meemaak? Dink u in dat hulle eers op ʼn heel laat stadium uit die dood wakker gemaak moet word, nadat die Here Jesus reeds gekom het!

Só sterk was die verwagting en besef van Christus se wederkoms, dat selfs net die gedagte dat nie almal saam die koms van Christus van die begin kan meemaak nie, hulle groot droefheid gegee het. In ʼn gemeente waar dit as ʼn groot voorreg beskou word om die koms van die Hemelkoning mee te maak, wil niemand agter gelaat word nie. Daarom dat Paulus die gemeente wil verseker dat dit nie so is dat die gelowiges wat reeds gesterf het, in ʼn tweederangse posisie sal wees wanneer Christus kom nie. Eers sal die wat in Christus gesterf het, opstaan, en dan sal die wat nog lewe saam vir Christus tegemoet gaan.

Christus laat by sy wederkoms dit ondubbelsinnig sien dat Hy die Hoof is van sy gemeente. Selfs die dood kan die band wat daar tussen Hom en sy kinders is, nie verbreek nie. Hy is die Een deur wie die Vader alles wil regeer. Die geloofsband met Christus maak dit onmoontlik dat enige van die kinders van die Here ‘n tweederangse posisie sal hê by Christus se wederkoms. Of nog meer…dit is onmoontlik dat enigeen dit nie sal meemaak nie. Kyk, sê Paulus…ons glo dat Christus gesterf en opgestaan het (4:14)…sal die wat met Christus gesterf het, dan nie ook opstaan nie? Só regeer Christus oor alles. Niks kan selfs intussen, ná Christus se hemelvaart, die band met Hom tot by sy wederkoms breek nie. Met sy mag, waardeur Hy opgestaan het uit die dood, hou Hy ons naby aan Hom. Wanneer Christus terugkom, sal Hy al die gelowiges by Hom bymekaar maak. Sy wederkoms is die groot hereniging. Bruidegom en bruid ontmoet mekaar. Die wat nog lewe, sal die wat reeds gesterf het, op geen manier voor wees nie. Hierdie saak is só belangrik, dat Paulus hom selfs daarvoor beroep op die feit dat Christus self dit gesê het: “Ons sê dit vir julle deur die Woord van die Here” (vs. 15a).

Geen Vrees🔗

Die groot hereniging sal begin met ʼn neerdaal uit die hemel van Christus in heerlikheid. Daar sal ʼn geroep wees van die aartsengel. Die geklank van ʼn basuin van God sal gehoor word. En dié wat in Christus gesterf het sal dan eers opstaan. Hulle sal niks misloop van die groot ontmoeting nie. Trouens, Christus bring die ontslape gelowiges saam met Hom. Net soos wat die Here sy gemeente in die woestyn ontmoet het by die berg, daal Jesus van die hemel neer met trompette wat sy koms aankondig. Niemand kan die koms van die Koning misloop nie. Die trompet maak almal attent op sy koms! Christus kom net soos Hy na die hemel opgevaar het – in heerlikheid. Saam met die ontmoeting met Christus, is daar ook die hereniging van al die uitverkorenes. Die hele volk van die Here sal by Hom vergader. Dit vorm die agtergrond van wat ons in Sondag 19 van die Heidelbergse Kategismus bely : “Ek verwag met gespanne verwagting Hom wat tevore in my plek ..alle vervloeking van my weggeneem het”. Groot verwagting by elkeen wat leef uit die wegneem van ons vervloeking!

En dan, terwyl Jesus uit die hemel neerdaal, sal ons nie passief op Hom sit en wag nie. Wanneer Hy na ons kom, gaan ons uit na Hom. Die wat nog lewe en die wat dan uit die dode opgewek is, sal saam in wolke die Here tegemoetgaan. Die beeld wat ons hier voorgestel word, is die van ʼn besoek van ʼn belangrike persoon aan ʼn stad. Wanneer ʼn stad amptelik besoek was, het ʼn afvaardiging uit die stad die hoogwaardigheidbekleër tegemoet gegaan om Hom eer te bewys en te verwelkom. Op die laaste deel van sy reis word Hy begelei tot by hul stad. Iets soortgelyk het plaasgevind toe Jesus in Jerusalem verwelkom is deur skares mense wat Hom tegemoet gegaan het en met palmtakke verwelkom het in die stad van Dawid. Die uitroepe het geklink: “Hosanna, geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”. ʼn Feestelike verwelkoming vir die Hoof van die kerk. Hy wat oor alles regeer word in sy wêreld verwelkom deur sy diensknegte.

Hy wat kom as Regter, is niemand anders as Hy wat vantevore in my plek voor die regterstoel van God gestaan het nie. Hoe dringend het ons nie nodig om bevry te word van verkeerde beelde oor die wederkoms van Christus nie! Die groot trooswoorde van hierdie gedeelte is juis dat ons met Christus se wederkoms vir altyd by Hom sal wees. Geen gedagte dat daar dan eers gekyk moet word na alles wat ek gedoen het om te bepaal of ek wel ʼn toekoms met Christus het nie. Die Regter is tegelyk my Verlosser uit die hemel. Hy kom vanaf die troonstoel van die Vader waar Hy vir my ingetree het. Sy wederkoms mag ʼn blye ontmoeting wees. Hierdie woorde moet vir ons ʼn bemoediging wees. Vir hierdie doel skryf Paulus en Silvanus dit aan die gemeente in Tessalonika. Ons hele lewe hier op aarde kan daarom nou ʼn lewe wees in verwagting van hierdie mooi ontmoeting. Geen angs en vrees nie. Ja, Hy sal sy vyande en die vyande van sy gemeente in die ewige verdoemenis werp. Daar sal dan geen teëstand meer teen ons wees nie. Daarom kan my hele lewe nou ʼn uitreik wees na die groot ontmoeting met ʼn gedurige “Maranata!” op ons lippe. Kom Here Jesus, kom tog gou!

Hoe lank dit nog sal duur voor Hy kom, weet ons nie. Hy kom onverwags. Soos ʼn dief in die nag kom, wanneer jy hom nie verwag nie. Gelukkig mag kinders van die Here ook hier kinders van die lig genoem word. Die skielike koms van Christus sal hulle nie in die duister laat nie, want hulle leef nou reeds in die lig van alles wat Hy vanuit die hemel vir ons wil gee. Kinders van die lig slaap nie, maar waak en is nugter. God het ons nie bestem vir sy toorn nie, maar om deel te hê aan die mooi ontmoeting met Christus. Met hierdie woorde kan ons mekaar bemoedig en mekaar opbou. Laat ons mekaar wakker hou sodat nie een van ons afwesig sal wees die dag van die blye ontmoeting met ons hemelse Bruidegom nie.