5 bladsye.

Die Heilige Gees Sier Ons met die Deug Lankmoedigheid

Maar die vrug van die Gees is... lankmoedigheid.

Galasiers 5:22

God soek by elkeen van ons die deug lankmoedigheid.  Lankmoedigheid behoort elke Christen te sier.  Maar wat verstaan ons daaronder?  Hierdie woord beteken letterlik dat jy nie gou kwaad word nie, dat jy baie kan verdra, dat jy nie onmiddellik jou vererg nie, maar dat jy jou kwaadheid terughou.  Die woord word soms ook met “geduld” vertaal.  Bv in Jakobus 5 waar God ons tot twee maal toe oproep om geduldig te wees.  God soek hierdie eienskap by elkeen van ons. 

Maar is so iets moontlik?  Ons leef tog in ’n sondige en gebroke wêreld?  Daar gebeur daagliks soveel dinge wat ’n mens kwaad kan maak.  Wie sou nie opgewerk raak oor dinge wat rondom jou gebeur nie?  Soos slegte dienslewering, lange rye vir dienslewering, niksseggende antwoorde van bestuurders, verkwisting van geld en tyd, roekelose motorbestuurders, ongemotiveerde werkers, onreg wat jou aangedoen word ens ens.  En selfs binne jou eie kring by die huis of binne die gemeente kan daar soveel dinge wees wat ’n mens kwaad kan maak: bv onregverdige kritiek, dom opmerkings, onverskilligheid, beledigende woorde, onverantwoord of ongevoelige optrede.  Daar is nog soveel swakhede, tekortkomings, sondes selfs in die kerk van Christus.  Genoeg rede om kwaad of bitter te word, sou ’n mens sê.  Tog soek God by jou die deug lankmoedigheid, geduld.  Vra God nie teveel van jou nie? 

Die goeie nuus is dat die Heilige Gees elkeen met daardie deug wil sier.  Hy wil jou na God se beeld vernuwe.  Hoe doen Hy dit?  Deur die woord vir jou oop te maak en jou opnuut op God te wys.  Sodat jy uit Hom en tot Hom gaan lewe. 

So kom die evangelie na jou: die Heilige Gees wil jou sier met die deug lankmoedigheid

En dan is dit belangrik dat jy God se lankmoedigheid met jou besef, en hoe dit jou lankmoedigheid opwek.

God se Geduld met My🔗

Sien jy God se lankmoedigheid in jou lewe nog raak?  Is jy nog daaroor verwonderd?  God se geduld met ons word maklik as vanselfsprekend aangeneem.  Dis dan vir ons vanselfsprekend dat ons nog in God se wêreld mag lewe en van sy gawes mag geniet.  Tog is dit ’n wonder dat ons hier nog mag leef sonder om deur God se toorn vernietig te word.  Dink net aan wat ons God skuld.  God het ons volmaak geskep om Hom te dien en te loof.  Hy het ons in die paradys ’n plek gegee en alles wat goed is tot ons beskikking gestel.  Maar wat het ons daarmee gemaak?  In opstand en ongeloof het ons alles afgewys.  En God se toorn oor ons uitgeroep. 

Het God die mens toe onmiddellik vernietig?  Nee, hy vernuwe sy verbond met ons, mense.  Hy laat ons, mense tog weer in sy liefde en guns deel.  Maar wat doen die mens?  Dank hy God daarvoor deur Hom van harte en getrou te dien?  Die mense geniet na die sondeval van God se gawes, maar hulle beskou al gou weer God se guns as vanselfsprekend.  Hulle gee God nie die eer wat Hom toekom nie.  Hulle maak asof die aarde en alles wat daarin is aan hulleself behoort, dat hulle die absolute eienaars daarvan is en daarmee kan maak wat hulle wil.  Op ’n sekere oomblik konstateer God dat die boosheid van die mens op aarde groot is en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg is (Gen 6:5).  Tog het God nie onmiddellik die mense deur die sondvloed vernietig nie.  Hy het geduldig gewag en gewag.  Waarom?  Hy het hulle nog tyd gegee om hulle van hul sondes te bekeer.  Totdat die maat van hul sondes vol was.  Eers toe het Hy deur die sondvloed ingegryp.  Kyk hoe lankmoedig, geduldig is God!    

Ons sien dit deur die hele geskiedenis heen.  God bevry Israel deur wonders en tekens, met ’n magtige hand uit Egipte.  Hy lei hulle deur ’n wonder deur die Skelfsee, terwyl Hy die Egiptenare daar in die see laat verdrink.  Maar hoe dankbaar is God se volk?  God versorg hulle in die woestyn met alles wat nodig is, brood uit die hemel en water uit die rots, maar hulle hou nie op om te murmureer nie.  Uiteindelik aanvaar hulle die verslag van die tien verspieders wat nie op die Here vertrou nie en bang vir die Kanaäniete is.  As hulle dan na Egipte wil terugkeer sê die Here vir Moses: “Hoe lank sal hierdie volk My verag?  En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?  Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ’n groter en sterker nasie maak as hulle” (Num 14:11,12).  Maar wat doen Moses?  As middelaar van die Ou Verbond pleit hy vir sy volk.  Hy beroep hom daarby op God se roemryke naam: “Die Here is lankmoedig en groot van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid en oortreding vergewe.”  Daarop luister die Here na Moses en vergewe opnuut sy volk.  Hy sal tog met die volk verder gaan.  Hy sal hulle nie radikaal in sy toorn vernietig nie.  Hy hou sy toorn terug. 

God se Geduld met die Wêreld🔗

Maar ons moet ook besef: die Here is nie net lankmoedig teenoor sy volk nie, maar ook teenoor heidene.  Dink aan die geskiedenis van Jona.  Ondanks die verskriklike sondes van die stad Nineve verdelg God nie onmiddellik die stad nie.  Hy stuur Jona na die stad toe om vir hulle te preek.  Jona wil niks daarvan weet nie.  Hy ken sy God, dat Hy genadig en barmhartig is, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Jona 4:2).  Daarom vlug hy na Tarsis.  Wanneer Jona uiteindelik tog in Nineve aankom, nadat hy deur ’n vis ingesluk en op die strand weer uitgespoeg is, verkondig hy vir hulle die komende oordeel.  God gee hulle nog veertig dae die kans om hulle te bekeer: “Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes.”  En die mense bekeer hulle.  Hulle roep ’n vasdag uit en trek rouklere aan.  Maar dis presies wat Jona nie wou gehad het nie.  Soos ’n lojale Jood wil hy sien dat daardie heidense hoofstad van Assirië verwoes word.  Maar die Here dink anders daaroor.  Hy is geduldig met die inwoners van Nineve.  Daar sal ’n tyd kom wanneer Hy die stad verwoes.  Maar dit is eers later.  Dit blyk dat hul bekering net tydelik is.  Hulle sal vinnig weer terugkeer na hul slegte lewenswyse.  In die tussentyd wag God.  Hy is lankmoedig.  Hy wag totdat die maat van hul sondes vol is en daar geen hoop meer vir hulle is nie.

Ja, ons het dikwels probleme met God se toorn.  God het die Israeliete beveel om geen genade aan die Kanaäniete te wys nie maar om hulle heeltemal uit te roei.  ’n Mens wonder: hoe kan God so iets wreeds beveel.  Maar eintlik sou ’n jy moet wonder: hoe kon God hulle so lank laat voortbestaan het, solank verdra het?  Waarom het Hy so lank gewag?  Immers ook met betrekking tot daardie nasies het God geduld gewys, eindelose geduld.  Maar hulle het Hom radikaal afgewys! 

Ons moet wonder hoekom God mense nog sy goedheid op aarde laat geniet.  Want daar is soveel goddeloosheid in hierdie wêreld.  Waarom hou God sy toorn terug?  Ja, waarom straf Hy ons nie na ons sondes nie?  Want in werklikheid verdien ons ook om totaal vernietig te word.  Daar is van nature niks goeds in ons nie en ondanks al God se genade en sorg gee ons Hom daagliks rede om teen ons uit te vaar.  Hoekom dan sy geduld met ons?  Na ’n lang wag het Christus op aarde gekom.  En dan gebeur die ongelooflike: God giet sy toorn teen die sonde van die wêreld uit op sy eie Seun.  Jy wonder dalk hoe dit moontlik is dat God sy toorn vir so lang teruggehou het.  Hy het dit net gedoen omdat sy geliefde Seun bereid was om sy toorn te dra.  Dis dan ook die enigste rede waarom Hy jou en my nie vandag verdelg nie.  Hoe genadige en barmhartig is ons God!

Ons verwag nou Christus se wederkoms.   Dan sal God sy toorn uitgiet.  Nie teen die uitverkorenes nie, maar teen almal wat Hom ignoreer of verwerp.  Spotters roep uit: waar is julle God?  Wat sien jy daarvan dat Hy regeer?  Wat sien jy daarvan dat Christus besig is om terug te keer?  Petrus antwoord daardie vraag vir ons.  Hy sê in 2 Petrus 3:9: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”  Kyk, dit is nou God se lankmoedigheid.  Die Here wag.  Waarom?  Sodat mense nog tot bekering kan kom. 

Ons kan wonder oor al die ellende in Afrika lande, oor die rampe wat die wêreld tref, oor die val van die twintowers van die Trade Centre in New York, oor die Tsunami enkele jare later, oor die groot finansiële krisis wat die wêreld teister.  Hoe kan God dit laat gebeur?  Vra eerder: hoe bestaan dit dat God die wêreld, die mensdom op die aarde, nog laat voortbestaan?  Sien in die rampe juis God se lankmoedigheid.  Hy verwoes nie onmiddellik die aarde en al sy bewoners nie.  Hy gee eerder nog tyd tot bekering.  Hy laat in al die rampe sy wekroep hoor.  Bekeer julle voordat dit te laat is. Wat ’n geduld!  Hy stel die volle gloed van sy toorn uit.  Hy wag nog, ook vir julle in die kerk wat julle nog nie werklik bekeer het nie.  Wees dankbaar daarvoor.  Maar besef ook daar kom ’n tyd wanneer daar geen ruimte vir bekering meer sal wees nie.  Dan sal Hy sy volle toorn uitgiet oor almal wat Hom nie ernstig opneem nie.  Laat niemand van ons te gemaklik raak nie.  Want dit bly ’n wonder dat God elkeen van ons nog bly seën.  Hoe dikwels stel ons Sy geduld nie op die proef nie!  Hoe dikwels stel ons mekaar se geduld nie op die proef nie, met al ons sondes en tekortkomings.

Hoe wonderlik is dit dan om te weet dat ons ’n Middelaar in die hemel het wat ons saak by sy Vader bepleit.  Wat vir Vader sê: Vader, wees geduldig met hulle.  Vernietig hulle nie in u toorn nie.  Kyk na my.  Ek het vir die klomp sondaars betaal.  Hulle is myne. 

Ons Geduld met Ons Naaste🔗

Ja, maar as God dan soveel geduld met ons het, hoe sou ons dan ook self nie geduldig wees nie?  God se lankmoedigheid wek by ons lankmoedigheid op. 

Die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser, waarvan ‘n mens in Mattheus 18 lees, help ons om te besef dat God se geduld teenoor ons, ons geduldig teenoor ander moet maak.  Petrus wil menslike geduld beperk: “hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe?”  In  antwoord daarop vertel Jesus hierdie gelykenis.  Die onbarmhartige skuldeiser skuld die koning miljoene rande.  Dit kan hy nooit terugbetaal nie.  Daarom val hy voor die koning neer en smeek hom om lankmoedig met hom te wees.   Die koning kry hom innig jammer en skryf al sy skuld af.  Die koning stel dus geen grens aan sy geduld nie.  Daarna vind die man vir wie soveel vergewe is, ’n mededienskneg wat hom enkele rande skuld.  Die man val toe voor hom neer en smeek hom: “wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal.”   Maar die kneg vir wie soveel vergewe is, het geen greintjie geduld met sy mededienskneg nie.  Hy eis betaling en werp hom in die tronk totdat hy sou betaal het.   

Hierdie gelykenis  leer ons oor die geduld van ons hemelse Vader.  Hy vergewe ons skuld, volkome, sonder enige reserwes of beperkings.  Maar ons is dikwels soos die onbarmhartige dienskneg.  Ons ignoreer God se uiterste geduld met ons.  Ons tugtig ons kinders uit kwaadheid terwyl God ons uit liefde tugtig.  Ons wil die persoon wat ons seermaak terugkry, terwyl God ons wil vergewe.  Wee ons as ons God se geduld as vanselfsprekend beskou! 

Hoe doen jy dit?  Jy doen dit as jy nie teenoor jou naaste geduldig is nie.  Hoe wys jy dan geduld?  God se geduld leer jou dat jy gereed moet wees om jou broer, suster te vergewe, nie net een maal nie, of twee maal nie, maar tot sewentig maal sewe toe, dit wil sê: oneindig.  Jy mag geen limiet aan jou vergewing stel nie. 

Dit beteken natuurlik nie dat jy iemand se sondes sommer ignoreer nie.  Geduld ignoreer nie sondes nie.  Dit leer jou om op ’n goddelike manier dit te hanteer.  Geduldig en opbouend.  Christus leer ons dat enige teregwysing met die regte gesindheid moet gebeur.  Ek probeer nie om die splinter – die irriterende gewoonte of tekortkoming - uit die oog van my broeder of suster te verwyder, voordat ek eers die balk uit my eie oog verwyder het nie.  Die balk in my eie oog kan enige verkeerde houding teenoor ander wees, in reaksie op sy swakhede en tekortkomings.  Dit kan ergernis wees, hoogmoed of ’n kritiese of minagtende houding.  Wat my verkeerde houding ook mag wees, ek sal dit as Christen eers wil aanspreek om seker te maak dat my teregwysing nie uit ongeduld plaasvind nie, maar in ’n gees van soekende liefde.

Ja, wanneer jy iemand liefhet dan soek jy nie die bevrediging van jou geprikkelde gevoelens nie.   Die liefde is mos lankmoedig en soek nie sy eie belang nie.  Jy wil dan die saak aanspreek op ’n manier wat verhoudings help herstel pleks om die probleme erger te maak.  Die liefde soek mos die beste vir die ander persoon.  Jy het dan dieselfde doel as God voor oë, naamlik om die persoon te laat groei in bekering.

Dit wys ons opnuut hoe nou die deugde wat Paulus in Gal 5:22 noem aan mekaar verbind is.  Die een kan nie sonder die ander nie.  Daarom praat Paulus ook van die vrug (enkelvoud!) van die Gees en nie van die vrugte (meervoud!) van die Gees nie.  Dis een geheel.  Niks kan gemis word nie.  Paulus noem lankmoedigheid saam met liefde, blydskap, vrede en vriendelikheid ens.  Waar liefde, blydskap,vrede en vriendelikheid ontbreek, daar sal dit moeilik wees om lankmoedig te wees, om nie kwaad of opvlieënd te wees nie.  As jy egter ware liefde ken, dan sal jy dit ook in geduld tot uiting bring.  Dan sal jy in staat wees om baie van mekaar te verdra.

Paulus verbind lankmoedigheid aan verdraagsaamheid.  Die geduldige reaksie op die swakhede en tekortkomings van ander, word die beste met die woord verdraagsaamheid weergegee.  In liefde leer jy om baie van  mekaar te verdra.  In Kol 3:13 verbind Paulus verdraagsaamheid weer met vergewing: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”  Hierdie klagte verwys eerder na haarklowery as na ernstige probleme.  In plaas daarvan om jou daaroor te vererg roep Paulus ons op om dit as ’n geleentheid te sien om te vergeef soos Christus ons vergeef het. 

Die beginsel om te vergeef soos Christus ons vergeef het, word in die gelykenis van die onbarmhartige dienskneg geleer.  Die gelykenis benadruk die groot teenstelling tussen die skuld van die een en van die ander: ’n miljoene skuld teenoor die skuld van ’n paar rand.  Jesus maak ook ’n punt daarvan om te wys op die tydstip van die tweede ontmoeting.  Die onbarmhartige dienskneg verlaat net die liefdevolle teenwoordigheid van die vergewende koning, om onmiddellik daarna liefdeloos betaling van sy skuldenaar te eis. 

Hoe duidelik teken hierdie gelykenis ons wanneer ons ongeduldig met ander is.  Elke dag verdra God ons geduldig en elke dag word ons versoek om ongeduldig te wees met ons vriende, bure en geliefdes.  Terwyl ons foute en tekortkomings voor God so veel ernstiger is as die klein dade van ander wat ons kan irriteer.  God roep ons op om welwillend die swakhede van ander te verdra en om hulle te vergewe soos Hy ons vergewe het.

Hoe kan jy daardie geduld teenoor ander hê?  Hierdie geduld kom nie vanself nie.  Dis nie iets wat ’n mens van nature besit nie.  Dis ’n vrug van die Gees.  Dit moet groei.  Die Gees wil dit in jou laat groei.  Gaan daarom op jou knieë in gebed.  Bid die Vader dat Hy dit vir jou wil gee.  Die Gees wil daarby die woord van God gebruik.  Leer God vanuit die Skrifte ken.  God wat o.a. lankmoedig is.  Leer ook in die lig van die Skrif jouself ken.  Besef jou eie sonde.  As jy nie jou eie sondigheid besef en erken nie, sal jy nooit werklik geduldig kan wees nie.  Gebrek aan geduld is dikwels ’n gevolg van hoogmoed, van ’n oorskatting van jouself.  Is dit dalk wat Prediker bedoel wanneer hy sê: ’n Lankmoedige is beter as ’n hoogmoedige.  Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergenis rus in die boesem van die dwase (Prediker 7:8,9).  Besef daarom jou groot skuld teenoor God almagtig.  En besef veral dat God almagtig daardie onnoemlik groot skuld wil vergewe.  Dan sal jy geduldig kan wees. 

Geduldig wees Hou In: Ly Onreg🔗

God leer ons ook geduld deur die beproewings wat ons ondergaan en deur die onreg wat ons soms moet ly.  Dis die situasie wat Jakobus beskryf wanneer hy sê dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.  Aan die gelowiges wat onreg moet ly, skryf hy in hoofstuk 5: “wees dan geduldig tot op die wederkoms van die Here.”  Ja, wees geduldig wanneer jy onreg ly.  God beproef hulle wat Hy liefhet.  Hy wil jou daardeur vorm.  Hy leer jou om te wag, om op Hom te wag.  Moenie terugskel nie.  Vertrou jouself toe aan God wat nog geduld met die mensheid het.  In plaas daarvan om ’n geleentheid te soek om jou vyande te vergeld, bid eerder vir hulle dat God hulle genadig mag wees en hulle hul mag bekeer. 

Ja, daardie geduld is nie maklik nie.  Kan jy jou dit voorstel om geduldig te wees as daar swaar beproewing of skrynende onreg is?  Dis nie ons natuur nie.  Ons kan soms selfs op God kwaad word.  Maar dan sê die Here: wees geduldig soos Ek geduldig is.  Ek kom gou.  Dan sal die tyd van genade verby wees.  Dan sal ook alle onreg en gebrokenheid verby wees.  My reg sal dan seëvier.  In die ewige paradys.