Bron: Die Kerkblad. 4 bladsye.

Die Heilige Skrif en die Evolusieteorie

Van ons kinders en sommige volwassenes in die kerk vra aangaande die oorsprong van die heelal: Wat is waarheid? Het God alle dinge geskep soos Hy in Genesis 1 en 2 openbaar? Of het die heelal deur 'n proses van evolusie tot stand gekom? Bybel of 'wetenskap'? As ons die 'wetenskap' moet volg, mag ons dan die skeppingsverhaal as 'n mite, 'n fabel beskou? 'n Artikel wat Totius omtrent 'n halwe eeu gelede hieroor geskryf het, bly aktueel en word daarom weer gepubliseer.

Genesis 1 en 2 - Fondament van die Skrif🔗

Die leer van die skepping deur 'n kraguiting van die wil van God is die grondslag waar die Christendom op gebou is, terwyl die dogma van 'n eindelose wording afkomstig is uit die heidendom en weer na die heidendom teruglei.

Die Leer dat God die Here Skepper is van Hemel en Aarde bevat die Volgende Momente:🔗

  • God het die wêreld nie geskep 'uit niks' in absolute sin nie (soos die rabbyne geleer het), maar terwyl niks bestaan het nie, het Hy geskep deur sy almag, wil en wysheid (vgl. Op. 4:11; Rom. 4:17; Heb. 11:3). Die argument dat ‘uit niks niks kan voortkom nie', is dus 'n wapen wat nie teen die Christendom gebruik kan word nie.

  • Die begrip skepping sluit uit dat die mens by die skeppingsdaad van God aanwesig was, sodat ons daar niks van kan weet nie, tensy dit vir ons geopenbaar is.

  • Sonder skepping as uitgangspunt is alle godsdiens in die sin van die Heilige Skrif ondenkbaar; eers deur die belydenis dat God Skepper en die mens skepsel is, verkry die aanbidding sy vaste en suiwere grondslag.

Teenoor hierdie belydenis wat aan Israel geopenbaar is, staan die natuurlike mens met sy leer dat daar 'n wordingsproses is waaraan alle dinge hul ontstaan te danke het. Belangrik is hierdie opmerking van dr. A. Noordtzij: 'ln 'n heeltemal ander wêreld kom ons sodra ons kennis neem van wat buite Israel oor die wording van die wêreld gedink is. Hier is eintlik van skepping geen sprake nie, maar staan ons voor 'n proses van wêreldwording, waarvan die wording van die gode 'n deel uitmaak'.

Dit is dan ook opmerklik dat Assiries, die magtige kultuurtaal van die oudheid, geen woord het vir 'skep' in die Bybelse sin van die woord, 'n werkwoord wat uitsluitend gebruik word vir die goddelike skeppingsdaad nie.

Op die standpunt van wêreldwording staan ook die evolusie; en, onder wisseling van voorstelling, sal die mens daarby volhard, solank as hy die Openbaring van God verwerp.

Skepsels se 'Verwantskap'🔗

Daar is volgens die Heilige Skrif samehang en verwantskap tussen aarde, plant, dier en mens. 'n Samehang en verwantskap só innig as wat die evolusiedogma dit maar kan begeer, en dit is op hierdie wortel dat die evolusieteorie as woekerplant so welig groei.

Bedoelde Samehang en Verwantskap blyk uit die Volgende Gegewens wat aan die Eerste Hoofstukke van Genesis Ontleen word:🔗

  • Die mens heet in die grondtaal van die Ou Testament: adam, en die aardbodem of grond waaruit sy liggaam gevorm is: adamá. In die woorde self lê dus die verband tussen 'mens' en 'aarde' vas.

  • Dit geld ook van die ander skeppingsdinge. Dieselfde Skepper laat uit dieselfde oerstof (Gen. 1:1), deur sy skeppingswoord, voortkom gras, plante en bome (1:11) sowel as see- en landdiere (1:20,24).

  • Nouer is die verwantskap as daar sprake is van die vee, kruipende en wilde diere enersyds, en die mens andersyds. Dit blyk (1) uit die benaming siel wat nie net op die mens van toepassing is nie (2:7), maar ook op die dier (1:21,24); en (2) uit die feit dat God die landdiere saam met die mens op dieselfde dag geskep het (1:24-26).

  • Ook die hoogs belangrike stuk van die voeding wys op die samehang van plant, dier en mens: laasgenoemde moet gespysig word deur die plantelewe wat uit die aarde spruit (1:29,30).

So tree die skepping in sy pragtige eenheid voor ons - 'n wye terrein waarop die wetenskap werksaam kan wees, as hy hom maar wil laat bind deur die ordinansies van die Skepper en nie dié terrein wil uitbuit om die Skepper te onteer nie!

Voeg nie Saam wat God Skei nie🔗

Naas hierdie alles omspannende eenheid het God in sy skepping ook grense en onderskeidings vasgelê wat die mens moet eerbiedig. Ons mag nie skei wat God saamgevoeg het nie; maar ons mag ook nie, met die evolusieteorie, saamvoeg wat God geskei het nie.

Ook in Hierdie Opsig Spreek die Skeppingsverhaal in Duidelike Taal, soos uit die Volgende kan Blyk:🔗

  • Op die eerste drie dae maak God skeiding tussen lig en duisternis, hemel en aarde, land en see (Gen. 1:3-10).

  • Verder skep God elke ding Volgens soort', iets wat só belangrik is dat dié uitdrukking nege keer in die eerste hoofstuk van Genesis voorkom. Die Hebreeuse woord vir 'soort' word deur König in sy Woordeboek en Kommentaar op Genesis vertaal met species, wat seker die kenmerkende eienaardigheid van elke ding duidelik aangee. Sikkel merk op: 'God skep dus die grondsoorte. En Hy skep daarin die afgeleide soorte'. Hier veral is dit dat die evolusieteorie, wat die oorgang van die een soort in die ander leer, in konflik kom met die uitspraak van Gods Woord.

  • Ten opsigte van die mens sê die Heilige Skrif nadruklik dat sy siel van hoër formering is as dié van 'n dier: die mens is geskep na die beeld van God (Gen. 1:27). Al word sy liggaam uit die aarde gevorm en al is daar verwantskap tussen sy siel en dié van 'n dier, dit is God self wat die asem van die lewe in sy neusgate inblaas (2:7).

Op grond van hierdie oorweginge veral moet die Christen die evolusieteorie beskou as 'n ondermyning van die Skrifgesag en die Christelike geloof.

God Alleen is Skepper🔗

Omdat die skeppingswerk van God 'n eenheid vorm, is daar samehang tussen die verskillende skeppingsdade wat daarin uitkom dat God telkens rekening hou met die bestaande stowwe en kragte, sonder dat dit ook maar iets verminder van die soewereine betekenis van sy skeppingsdaad.

In syvoortgaande skeppingsdaad spreek God die bestaande dinge aan. In Genesis 1:11 staan daar: 'Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante' ensovoorts. In Genesis 1:20 sê God: 'Laat die waters wemel met 'n gewemel van lewende wesens.' In Genesis 1:24 netso: 'Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte.’

Skynbaar is hier dus 'n ryk eksploitasieterrein vir die evolusioniste wat die ontwikkelingsteorie met die Skrif ooreen wil bring. Intussen is dit niks meer as skyn nie. Die 'aarde' en die 'waters' tree in genoemde Skriftuurplekke nie as medeskeppers op nie. Al is dit dat God met die bestaande stowwe en kragte rekening hou, Hy bly die soewereine Skepper en 'aarde' en 'waters' die onmagtige stof wat aan sy skeppingswoord gehoorsaam moet wees. Gód is dit dan ook wat die wese en soort en bou van elke plant en dier deur sy skeppingsvrymag bepaal. Daarom staan daar in vers 11: 'En God sê', terwyl by die skepping van water- en landdiere dit nadruklik gesê word: 'God skep' (vers 21) en 'God maak' (vers 25).

Die Skrif en die Evolusiedogma - Onverenigbaar🔗

Die pogings wat aangewend word om die evolusiedogma met die Heilige Skrif te versoen, moet noodwendig op 'n mislukking uitloop, omdat Skrifleer en evolusieteorie wesenlik en in die grond onverenigbaar is.

Dié onversoenbaarheid hoef insake die meganisme evolusie (die Darwinistiese voorstelling daarvan) nie nader aangewys te word nie. Ons volstaan met 'n sitaat uit dr A Kuyper se rede oor Evolusie. Hy sê: 'Die evolusie is ... 'n nuut opgekome geloof wat hom reëlreg teenoor die Christelike geloof stel en nêrens anders as op die puinhoop van ons Christelike belydenis sy tempel kan stig nie. ... En daarom moet ons verset in alle kringe teen daardie stelsel van die sonder doel meganies opgeboude kosmos gaan. Ons moet ons nie daarteen verdedig nie maar dit aanval. Die handboeke waarin dit ingesluip het, moet tersyde gelê word, en aan geen onderwyser wat dit leer, mag ons ons kinders toevertrou nie. Dit moet as die dodelike bakterie wat alle geestelike lewe kom verniel, mikroskopies nagespeur en uit elke plek van die weefsel van ons lewe geweer word.'

Maar ook as die evolusie voorgedra word as 'n meer organiese proses waaraan die 'skepping' van 'n 'oerkiem' voorafgaan (creative evolution), is hy 'n 'dodelike bakterie'.

Rev. JE Mercer, 'n voorstander van die bedoelde versoening, laat ons dan ook duidelik sien hoe gevaarlik hierdie nuwe verskyningsvorm van die evolusie is, as hy konkludeer en sê: 'Die begrip waartoe ons dus geraak, is van 'n wêreld in wording. Die skepping was nie 'n bepaalde gebeurtenis wat op 'n sekere tyd in die lewe van die Skepper plaasgevind het na verloop van 'n verbygegane ewigheid van alleen bestaan nie; dit is 'n gevolg van 'n skeppende werksaamheid wat, soos die wese van God self, ook ewig is.'

Dat hierdie beskouing onmoontlik akkoord kan gaan met wat die Skrif van ons aangaande die skepping as daad van God leer, is nie moeilik om te bewys nie.

Ten eerste sê die Hebreeuse woord bara (skep) self glad iets anders as wat Mercer en sy medestanders bedoel. Ter sake is hier die opmerking van dr Noodtzij: 'Hierdie bara het nooit die vierde naamval van die stof waaruit iets gemaak is, by hom nie, waardeur onwillekeurig die onvergelyklike grootheid en mag van die goddelike werke geteken word.' Wie dus Gog se skeppende mag vasbind aan en afhanklik maak van wat voorhande is, sodat 'die voorgaande wesens geëer word as die oorsaak van wat volg, en in wat volg, gesien word die natuurlike selfontwikkeling van wat voorafgaan' - wie dit doen, kom met die skriftuurlike skeppingsbegrip in onversoenlike stryd. Wel het God by sy skepping van nuwe formasies telkens by bestaandes aangesluit, maar dan tog só dat Hy sprekende en skeppende, deur ingrypende skeppingsdade, die wêreld in aansyn geroep het. Die bestaande stof was onmagtig en het 'n 'potentia obedientialis' besit. Die Skrif verbied ons om die skeppingsdaad van God te verlaag tot 'n wordende wêreld'!

En as geargumenteer word dat by die wordingsproses van die dinge aangeneem word die werking van 'regstreekse dade van skeppende mag', dan antwoord ons dat dit nie die sesdaagse skeppingswerk van Genesis 7 is waaromtrent die Skrif ons so 'n duidelike berig gee nie. Dit is iets anders. Mercer spreek dan ook van 'n soort ewige skepping: 'skeppende werksaamheid wat soos die wese van God self, ook ewig is'.

Terwyl dan ook die Christelike teologie, op slegs enkele uitsonderinge na, aan die letterlike, historiese opvatting van die skeppingsverhaal vasgehou het - so was dit nog omtrent 'n halwe eeu gelede (redakteur) -, kom die evolusioniste wat steun in die Bybel soek, en vervlugtig die berig aangaande die werk van God wat in ses dae afgeloop het, tot 'n eindelose proses van wording.