4 bladsye.

Die HERE se Vereistes vir Ware Reformasie van sy Kerk

1 Samuel 7:1-17

Maar Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne.

Die geskiedenis bewys dat mense gedurig geneig is om in hulle verhouding met God rond te val. Daar was altyd tye van geestelike afplatting en tye van oplewing in die kerk. Dit is wat ons in  1 Samuel 7 teëkom. Dit gaan hier oor die vraag na ware reformasie. So baie mense praat van reformasie, herlewing en vernuwing. Sommige doen dit reg, volgens die HERE se wil, maar baie is roekeloos hiermee.

Die gevalle Ou Testamentiese kerk, wat so tragies weggedryf het, het juis daarna gestrewe om na die HERE terug te keer. Aan die begin van hierdie strewe het hulle nie op die regte manier probeer terugkom nie. Daarom het die HERE hulle deur die bediening van Samuel geleer hoe hulle Hom moet dien op ’n wyse wat vir Hom welgevallig is. Slegs die regte wyse sal tot die salige vrug van bekering lei.

Die vooraand van reformasie🔗

Hierdie Skrifgedeelte beskryf een van die mees tragiese tye in Israel se verhouding met die HERE. Daar is altyd duidelike tekens wat waarsku wanneer dinge in die gelowiges se hart nie reg is nie. Hierdie tekens het deur al die eeue van die kerkgeskiedenis nog nooitverander nie. Dit word in die eerste hoofstukke van Samuel beskryf.

Die godsdiens het immoreel en korrup geword🔗

Mense het nie ingesien dat daar ’n sterk verbinding is tussen hul lofoffers in die heiligdom en hul lewe dwarsdeur die week nie. Selfs die priesters het die diens aan God beklad (1 Samuel 2:12). Die seuns van Eli was deugniete; hulle het die HERE nie erken nie en hulle aan die offergawes vergryp. ‘En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag’ (1 Samuel 2:17). Die godsdiens het ’n valse hebsugtige speletjie geword, ’n goeie verskoning vir tempelprostitusie.

Die Woord van God is nie meer verkondig nie🔗

‘En die seun Samuel het die HERE gedien voor Eli, en die woord van die HERE was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie’ (1 Samuel 3:1). Dit is verstommend en vreesaanjaend dat mense dit regkry om al die uiterlike verpligtings van hulle godsdiens in stand te hou, lank nadat die HERE sy teenwoordigheid onttrek het. By hierdie punt is twee sake belangrik: die korrupte erediens en die Woord wat nie gehoor is nie. Waar die Woord van God verdamp het, waar die kerkvolk van die kosbare Woord beroof is, waar enige ander praatjies of voorlesings behalwe die Woordverkondiging plaasvind, daar ontspoor die godsdiens in sy geheel.

Die erediens was in verval🔗

Die tabernakel is as die sentrum van die godsdiens ontruim en die ark van sy toepaslike plek verwyder. ‘Toe het die manne van Kirjat-Jeárim gekom en die ark van die HERE gaan haal en dit in die huis van Abinádab op die heuwel gebring; en hulle het sy seun Eleásar geheilig om die ark van die HERE te bewaak. En van die dag af dat die ark in Kirjat-Jeárim gebly het, het daar geruime tyd verloop - dit was twintig jaar - en die hele huis van Israel het agter die HERE aan geweeklaag (1 Samuel 7:1-2).

Mense kry dit nie net reg om die beginsels van God se gesag in die godsdiens te ignoreer nie, maar hulle kry dit vir 20 jaar lank reg! Vir 20 jaar lank het die versoeningsdiens by die ark van die HERE binne die allerheiligste nie plaasgevind nie, het die Christusbediening verdwyn. Hierdie tragiese tekens het vir die kerkvolk in die algemeen gegeld. Dit het noodwendig ook ’n uitwerking op elke lidmaat individueel gehad.

Kyk maar hoe staan sake met ons wanneer dit oor die korrupsie van ons eredienste gaan. Hoe is dit met ons gesteld wanneer dit oor die suiwer verkondiging van die Woord van die HERE gaan? Hoe is dit met ons wanneer dit gaan oor die versoeningsdiens in en deur Christus Jesus, met ons gebedsdiens, met ons toetrede by God in sy allerheiligste?

Waarom reformasie noodsaaklik word🔗

Wanneer ware aanbidding afneem, floreer afgodery en eiesinnige godsdiens. Volgens die instruksies in 1 Samuel 7:3 is daar twee belangrike opdragte: bekeer en verwyder. Bekering tot die HERE en verwydering van die afgode. Ons kan nie die een sonder die ander doen nie. Daar is so baie mense wat probeer terugkeer. Hulle weier egter om die vreemde gode uit hul lewe te verwyder. Dan is ons ook nie verras dat hul geweeklaag 20 jaar aangehou het nie.

Iemand wat oor sy ellende weeklaag, maar nie bereid is om sy afgodery te verwyder nie, is besig met bedrog.

Dit is die skyn van bekering, soos ons dit in ons post-moderne tyd ook kry. Wanneer die ware aanbidding besoedel en besmet raak, en die vereistes en begeertes van wêreldse menseregte oor die gesag van die Woord heers, dan word mense outomaties slagoffers van hul ou natuur, van hebsug en ontug, van allerlei bose geestelike magte wat veel kragtiger is as wat ons kan beheer.

Dit is dus gevaarlik as ons nie ywerig en getrou aanbid nie. Van Daniël het ons geleer dat dit deur die getrouheid van sy aanbidding en sy gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die HERE was, dat die HERE hom gebruik het om die koninkryk van die hemele te proklameer.

Die Bybel leer ons dat daar ’n direkte band is tussen ons ontrouheid, ons slapheid in ons aanbidding en die ineenstorting van ons huishoudings, die besoedeling van ons moraliteit, en ons persoonlike verslawings en spannings. Dit is ’n Bybelse beginsel vir meer as 3 000 jaar. Ons moet nie dink dat ons dit vandag kan verander nie.

Dit is wat ook in hierdie Skrifgedeelte gebeur. Die ark is weg. Die tabernakel is ontruim. Die Woord van die HERE is skaars. Wanneer die mense God ignoreer, sal hulle verlief raak op en verslaaf raak aan iets anders. Na ’n tyd mis hulle die HERE selfs nie meer nie.

Waarom ’n sekere soort reformasie nie slaag nie🔗

Soms neem christene ’n stap om na God terug te keer wat baie na reformasie lyk, maar ver daarvandaan is. Die hele huis van Israel het geweeklaag agter die HERE aan - en hulle het dit bly doen vir 20 jaar lank! (1 Samuel 7:2). Byna onmenslik lank!

Hulle het begin verstik aan die wrede onderdrukking van die Filistyne. Hulle het die dwaasheid aangevoel wat dit is om ’n God in teorie te hê, maar hulle ervaar nie sy teenwoordigheid en sy krag nie. Hulle het die Heilige Gees bedroef en uitgeblus, en nou is daar geen lewensvatbaarheid in hul godsdiens nie. Enigeen behoort die leegheid van so ’n soort godsdiens in te sien; om die gedaante van die godsaligheid te hê, maar die krag daarvan te verloën. Dit is tragies dat mense so lank moet neem voordat dit werklik tot hulle deurdring.

Dan begin hulle die lading van hulle sondes besef. Hulle weet dat God beslis iets beters vir hulle in die vooruitsig gestel het. Wat hulle ervaar is ellende op ellende: misoeste, berowing, anneksasie van grond en besittings. Dan doen hulle wat ons almal doen: hulle begin weeklaag agter die HERE aan. Hulle begin bid. Miskien versamel hulle ook mooi en groot beloftes onder die lidmate. Hulle begin byeenkomste organiseer. Dit alles doen hulle vir jare!

Selfs voordat Samuel hulle gekonfronteer het, het hulle so geweeklaag agter die HERE aan - vir jare lank. Dit was alles sonder vrug. Natuurlik was daar ook plek-plek ware geloof. Samuel was immers nog die hele tyd in hul midde. Moontlik was daar ook nog ander mense, wat soos Samuel se ouers, getrou in die godsdiens was. Maar, en dit is die gedeelte van die boodskap waarna ons vandag moet kyk: hulle het agter die HERE aan geweeklaag sonder noemenswaardige sukses - omdat hulle twee wesentlike dinge nagelaat het wat hierdie teks beveel.

Samuel doen niks spesiaals nie. Hy ruk die volk eers tot stilstand en gee hulle daarna vanuit die wetboek ’n opfrissingskursus in hul pad terug na God toe; toerusting uit die verbondsboek in ware reformasie. Dit is die volgende hoofgedagte.

Samuel leer die kerkvolk vanuit die genadeverbond hoe om na God terug te keer🔗

Die eerste ding wat hulle moet doen is om al hulle afgode te vernietig. As julle ernstig is om die HERE te volg, hier is dan die manier om dit te bewys. Weg met al julle eie bedinksels! Weg met julle eie sentimente! Weg met julle wêreldgelykvormighede! Weg met die lewensbegeerte om die modes van die wêreld slaafs na te jaag!

Weg met daardie obsessies om by die ontspanningskultuur van die stadslewe in te wees! Weg met die drinkersmentaliteit!

Hoe sou ons pluralistiese samelewing reageer op ’n hedendaagse soort Samuel wat op die toneel verskyn en verkondig dat die godsdienstige praktyke van die hele nasie waardeloos en sleg is, dat ons waardestelsels korrup is? Dit is presies wat Samuel gedoen het: As julle vir Jahwe as julle God wil hê moet julle na Hom alleen toe kom, en julle moet volledig op sy terme kom - nie op julle terme nie. Nie God én Mammon nie. Nie die HERE én die Astartes nie. God sal nie aanbidding van ’n verdeelde hart aanneem nie. Hy vereis suiwerheid van hart. Enkelhartigheid. Dit beteken ’n hart wat nie besmet is en wat nie vermeng is met ander passies en begeertes nie.

Die meeste van ons weet dit in ons harte. Die mense in Israel het dit ook geweet. Hulle het immers reeds woorde gehoor soos: Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, en al jou kragte. En ook: Jy sal geen ander gode voor my aangesig hê nie!

Daar was dus geen onduidelikheid dat God van hulle vereis het dat hulle hul harte op Hom alleen gerig moes hou nie. Dit is nie ’n waarheid wat hulle vergeet het nie, en ons het dit ook nie vergeet nie. Ons weet dit maar al te goed. Maar hier is die waarheid wat hulle vergeet het, net soos wat ons dit ook so maklik vergeet: Ons het die HERE nie meer so lief soos daardie tyd nie. ‘Julle het julle eerste liefde verlaat.’ Ons harte is verstik deur die dorings en distels van die sorge van hierdie lewe, die grootsheid van hierdie wêreld, die genot van hierdie tydelike bestaan van ons. Ons harte is heeltemal oorbeset met al ons lewensprogramme. Ons is so besig!

Wanneer ons dan opnuut na die HERE toe kom, sal van ons vereis word om iets anders uit te ruk en dood te maak; plek te maak, die ou mens af te sterf. Dit is die waarheid wat hulle vergeet het. Daarom het hulle al daardie jare, sonder sukses, net aangegaan om te weeklaag agter die HERE aan. Hulle wou nie hul losbandige Astartes, hulle perverse heilige boomstamme, al daardie aanloklike afgode verwyder nie. Dit is ook die rede waarom so baie mense vandag net tydelik, van korte duur, opgewek word om God te volg. God kom nie eenvoudig woning maak in enigeen nie. Daar moet ook vir Hom ’n woonplek in jou binneste afgesonder en geheilig word.

Die tweede wat Samuel vir die kerkvolk geleer het om tot God se welgevalle te reformeer was om hulle harte op die HERE te rig en Hom alleen te dien; dan sal Hy hulle uit die hand van die Filistyne red.

Hulle was met ligsinnige godsdiens besig. Ligsinnige godsdiens wil eerder aanbid as wat dit wil dien. Nie dat aanbidding verkeerd is nie. Dit is goed en reg om te sing en erediens te hou. Aanbidding is inderdaad baie belangrik.

Waar lê die fout dan? Aanbidding is bedoel om die oorloop van my ware lewe te wees wat ek voor die HERE uitstort (soos Hanna in haar droewige gebed en haar stryd). Maar dit is nie die een en al nie. Dit is ook nie die einde van alle ware godsdiens nie. Dit is slegs die uiterlike en waarneembare oorloop van my egte verhouding met God. Aanbidding is wonderlik en fantasties, maar as ons dink dat dit al is wat God van ons vra, maak ons ’n baie groot fout. Om maar een ding te noem: God vereis suiwerheid, enkelhartigheid saam met aanbidding (kyk ook HK Sondag 45). ’n Suiwer Godsbegrip, ’n suiwer sondebesef, ware verootmoediging, oorgegewe vertroue deur Jesus Christus se volkome offer. Godsdiens moet nie net suiwer wees nie. Dit moet ook ware diens wees uit ʼn dienskneggestalte. Dit is die probleem wat Samuel aanspreek. God is nie hulle gelukbringer wat hulle kan gebruik en manipuleer soos hulle wil nie. Egte diens is baie belangrik.

Egte diens met die hele hart is die regte manier om ons gereed te maak om in God se teenwoordigheid te kom (Psalm 15) en sy krag te ondervind (Filippense 3). Daar is ’n enorme verskil tussen verlang na iets en om werklik voor te berei daarvoor. Die egte geloofsdaad het vir Abraham daarop neergekom dat hy nie net verlang het om ’n geseënde nageslag te hê waarvan hy die geloofsvader is nie, maar hy moes op grond van God se belofte ook voorbereidings tref om sy beloftes in ontvangs te neem.

Samuel leer die kerk om op te hou huil agter die HERE aan en goeie konkrete besluite te neem. Ruk die afgode uit en dien die Here alleen. Hier is ’n opdrag van die HERE met ’n belofte wat ons nie kan ignoreer nie. Diens aan die Here loop waarlik daarop uit dat die vyand se rug gebreek word. Die belofte is: Hy sal julle verlos uit die hand van die Filistyne (1 Samuel 7:3b). Hier is ’n versteekte skat van waarheid vir diegene wat die moed het om dit op te grawe en te omhels: Dien die HERE en weerstaan die duiwel en hy sal van julle wegvlug (Deuteronómium 30:1-10). Dit is ook troosryk, bemoedigend hoe hierdie paragraaf in vers 13 eindig: ‘En die Filistyne is verneder, sodat hulle verder nie meer die gebied van Israel binnegekom het nie, en die hand van die HERE was teen die Filistyne al die dae van Samuel’.

Daar kom in die geskiedenis tye van groot afvalligheid. Tans in Suid-Afrika beleef ons ook ’n groot afvalligheid. Intussen kerm en kla ons agter die HERE aan, elke keer as daar ’n kaping, moord, afdanking, petrolstyging, ensomeer plaasvind.

Die HERE gee in hierdie Skrifgedeelte opdrag: As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne.

Toegepas op ons situasie: As julle opreg begeer om die kerk in die bane van die reformasie te stuur, verwyder dan die wêreldse dinge onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen. Hy belowe dat ons ook oor ons doodsvyande oorwinning sal smaak.