3 bladsye.

Die Huwelik en Moderne Onvrugbaarheidsbehandeling

baba sokkies

Die sewende gebod – jy mag nie egbreek nie – hou oënskynlik geen verband met die mediese praktyk nie. Die problematiek ten opsigte van VIGS en homoseksualiteit het egter alles met die sewende gebod te make. Dit geld ook vir die huidige ontwikkeling ten opsigte van die behandeling van fertiliteitsprobleme. Die huwelik wat die Here tussen man en vrou gestel het, en die geheimenis daarvan – soos die Skrif daarvan spreek – het wel deeglik implikasies vir moderne fertiliteitsbehandeling.

Die ontwikkeling het so 25 jaar gelede begin met die koms van die eerste proefbuisbaba in 1978. Wêreldwyd het hierdie tegniek groot belofte ingehou vir baie onvrugbaarheidsprobleme met meer as 20 000 babas wat al met hierdie tegniek gebore is. Trouens, in bykans elke land is hierdie tegniek gevestig en bestaan klinieke waar die tegniek van ‘in vitro fertilisasie’ beskikbaar is. Ook in ons land is daar verskeie sentra waar hierdie modaliteit van onvrugbaarheidsbehandeling beskikbaar is.

Die ontwikkeling van die in vitro fertilisasie tegniek is vinnig opgevolg met die koms van donor spermbanke, tegnieke van seleksie van bevrugte embrio’s en embriobanke. Die toekoms hou moontlik die tegniek van kloning in. Groot ontwikkeling binne die bestek van ’n kwart eeu.

Aanvanklik is begin met die in vitro fertilisasie tegniek onder ouerpare waar daar ’n stabiele verhouding (so word dikwels jammer genoeg van die huwelik gepraat) bestaan. Dit het egter in Wes-Europa vinnig plek gemaak vir allerhande soorte verhoudings. Nie alleen is die tegniek aan ‘pare’ beskikbaar gestel wat glad nie wettig getroud is nie, maar selfs kan daar van donor genetiese materiaal soos donor sperms of beide donor sperms en eierselle gebruik gemaak word. Die moontlikheid bestaan selfs om die bevrugte embrio’s in ’n surrogaat moeder in te plant.

Die huwelik soos die Here dit ingestel het, word hoegenaamd nie meer as enige vertrekpunt geneem waarbinne sekere tegnieke gebruik kan word nie. Nee, die vertrekpunt is heeltemal buite God se orde. Maar kan daar binne die huwelik soos die Here dit ingestel het, wel van fertiliteitsbehandeling gebruik gemaak word? Die Here het immers die huwelik ingestel ook met die doel om vir Hom kinders te verwek binne sy verbond? Mag ons dan van moderne fertiliteitsbehandeling gebruik maak om onvrugbaarheidsprobleme aan te spreek?

As dit inderdaad duidelik is dat onvrugbaarheid weens een of ander rede teenwoordig is, dan mag ons as kinders van die Here gebruik maak van tegnieke, mits God se gebod nie daarmee oortree word nie. En in baie gevalle word God se gebod wel oortree, sy eis dat Hy binne die gawe van die huwelik kinders aan ons vir sy koninkryk toevertrou.

proefbuis

Elkeen van hierdie tegnieke moet dus aan die lig van die Skrif onderwerp word. Eerstens moet alle vorme waar genetiese materiaal buite die pa en ma om gebruik word afgewys word. Sperm-donering, eiersel- en embrio donering moet afgewys word. Hier word ’n derde party in die huwelik ingebring, al geskied dit bloot tegnies deur middel van laboratoriumpipette. Dit is daarom in stryd met die sewende gebod en kom neer op in vitro owerspel.

Maar wat van in vitro fertilisasietegnieke binne die gemeenskap van die huwelik? In kort kan ons sê dat daar geen sonde in die tegniek self lê nie, maar wel hoe hierdie tegniek gebruik word.

Tydens die in vitro fertilisasietegniek word die eie eiersel van die vrou en eie spermsel van die man buite die normale gemeenskap om, in ’n proefbuis bevrug. Die rede hiervoor is moontlik ’n afwyking van die spermsel van die man of moontlik ’n afwyking van die eierstokke van die vrou. Gevolglik kan bevrugting nie normaal binne die eierstok van die vrou plaasvind nie. Die baarmoeder van die vrou is egter normaal.

So ’n huwelikspaar word deeglik ondersoek by ’n in vitro fertilisasiekliniek en die probleem behoort deeglik met die ouers bespreek te word, sodat duidelik is wat die probleem is. As besluit word op in vitro fertilisasie word daar in die standaardkliniek ’n aantal eierselle by die vrou geneem met ’n endoskopiese en/of sonarondersoek. ’n Monster van die man se sperms word ook geneem.

Hierna word bevrugting in die laboratorium bewerkstellig deur die spermsel in kontak te bring met die vrou se eiersel. Gewoonlik word meer as een eiersel bevrug, sommige eenhede selfs tot tien. Daar kan dus uiteindelik tien embrio’s wees, waarvan ’n aantal (gewoonlik ’n maksimum van vier) in die baarmoeder van die vrou ingeplant word en ’n aantal gevries word vir latere ‘gebruik’ of donasie (so word daar dikwels onrespekvol van ’n nuwe lewe gepraat). ’n Gesaghebbende mediese bron meld sonder om te blik of te bloos oor die ‘ekstra’ embrio’s: ‘or simply dispose of them’.

Die rede vir die bevrugting van meerdere embrio’s is die feit dat daar ’n relatief hoë insidensie van embrio’s is wat nie inplant nie en die hele proses ’n baie duur proses is.

laboratorium

As ons hierdie proses uit ’n christelike oogpunt beoordeel, moet ons ’n paar opmerkings maak.

  1. Die Skrif praat van die embrio, nie as ’n gebruiksartikel nie, maar as die begin van God se handewerk tydens die weef van die mens in die moederskoot (Psalm 139). Ons distansieer ons van die arrogante en goddelose manier waarmee daar oor God se skepping gepraat word.
     
  2. Daarom sal ’n mens by in vitro fertilisasie nie meer as twee embrio’s bevrug nie. En altwee embrio’s moet in die baarmoeder ingeplant word. As die Here wil mag daar dan ’n tweeling groei.
     
  3. Die Here beskik oor die inplanting van die embrio’s.
     
  4. Geen embrio mag ingevries word vir sogenaamde latere gebruik nie. As die ma byvoorbeeld sou sterf of siek word, waar sal die embrio’s dan ingeplant word?

As gelowiges moet ons dus ons vereistes tydens die uitvoer van hierdie tegniek eenvoudig stel. Dit moet vooraf met die dokters bespreek word. Hier volg ’n paar riglyne:

  1. Geen donor-materiaal nie.
     
  2. Slegs twee embrio’s word bevrug.
     
  3. Geen seleksie van embrio’s van watter aard word gemaak nie.
     
  4. Altwee embrio’s word tydens dieselfde behandeling (dus binne 2-3 dae) in die eie moeder ingeplant. Surrogaat-moederskap word afgewys.
     
  5. Geen embrio’s word ingevries nie.
     
  6. Hierdie riglyne geld, al kos dit baie meer geld as die standaard roetine manier.

swangerskap

Die gevaar is dat die dokters gewoon aangaan op die roetine manier en meer as twee embrio’s bevrug. Sommige klinieke sal weens koste-oorwegings nie toestem om te behandel as bogenoemde vereistes deur ouers gestel word nie. In een hospitaal in Nederland byvoorbeeld, die Akademiese hospitaal van die Vrije Universiteit word hierdie versoek wel gehonoreer, maar by geen ander kliniek in Nederland nie. In Suid-Afrika sal hierdie versoek wel in die privaatsektor gehonoreer word, met finansiële implikasies vir die ouers.

Die gebruik van hierdie tegniek binne die huwelik wat die Here ingestel het, met duidelike voorsorgmaatreëls, mag deur gelowige ouers gebruik word tot diens in God se koninkryk.