Bron: Die Kerkblad, 1987. 8 bladsye.

Die Islam

Mohammed: die profeet van die Islam🔗

Dit is werklik verbasend hoe min ons mense van die Islam weet. Vra maar die mense, met wie u elke dag in aanraking kom, oor hierdie godsdiens uit, en u sal besef hoeveel onkunde daaroor bestaan.

Die benaming Mohammedaan en Mohammedanisme word dikwels gehoor. Dit is egter woorde wat die Moslems nie graag gebruik nie, want, sê hulle, Mohammed was net 'n profeet, hy word nie aanbid nie. Daarteenoor word ons as Christene bestempel, want Christus word deur ons aanbid.

Weeskind🔗

Die ontstaan van die Islam as gods­dienstige en kulturele organisasie word aan Mohammed, 'n Arabier wat in Mekka gewoon het, toege­skryf. Hy is in die jaar 570 n.C. gebore en volgens oorlewering aanvanklik deur sy grootouers en later as weeskind grootgemaak.

Daar bestaan geen gesaghebben­de bronne oor die lewe van Mo­hammed nie. Die meeste skrywers volstaan daarom met die verwer­king van 'n vertelling oor hom wat ongeveer 150 jaar na die aanvang van die Moslemjaartelling (na Hidjra) saamgestel is. Volgens hierdie ver­telling het Mohammed in Mekka ge­woon waar hy op vyf en twintig­jarige ouderdom met 'n veel ouer vrou getroud is. Twee seuns uit die huwelik is jonk oorlede; Moham­med was egter ook die vader van vier dogters. Die meeste skrywers meen dat Mohammed 'n analfabeet was, en dat sy skryfwerk deur andere vir hom verrig is. 'n Persiese skriba word selfs in hierdie verband ge­noem.

Roepingsvisioen en rooftogte🔗

Op veertigjarige ouderdom het Mohammed sy eerste sogenaamde openbaring van Allah ontvang en is die amp van profeet volgens sy eie getuienis op hom bevestig. Dit was in 'n roepingsvisioen wat hy in die 'nag van beslissing' in die maand Ramadan gehad het. In die eerste aantal jare na sy eerste 'openba­ring' het Mohammed veral onder die inwoners van Mekka gewerk en 'n kleiner aanhang gehad. Hy het in sy tuisstad egter ook groot weerstand teen sy nuwe godsdiens ondervind. Later moes sy volgelinge tydelik na Oos-Afrika vlug om aan hulle vervolgers te ontkom. Moham­med self moes om dieselfde rede na Medina vertrek, vanwaar hy 'n meer kragdadige 'sendingaksie' op tou gesit het.

Meeste van sy volgelinge het op hierdie stadium by sy groep aange­sluit ter wille van die buitneming waarin hulle gedeel het nadat ka­ravane aangeval en beroof is. Om­liggende stamme is meedoënloos aangeval en onderwerp. Binne die bestek van sowat tien jaar nadat Mohammed sy eerste openbaring van Allah ontvang het, het hy met sy volgelinge die stad Mekka weer binnegeval en dit onderwerp. Daarna het Mekka die middelpunt van die Islam geword, wat dit vandag nog is.

Mohammed was nie net die gods­dienstige leier van hierdie mense nie, maar het ook die politieke leier geword. Hieruit het die teokratiese staatsbeginsel van die Moslemstaat later ontwikkel.

Kameeldrywer word outokraat🔗

Binne sowat twee jaar het Mo­hammed die twee stede Mekka en Medina, sowel as die grootste gedeelte van Arabië, aan sy voete gehad. Die Joodse gemeenskappe is óf onderwerp óf heeltemal uitgeroei, terwyl die Christengemeenskappe tot skatpligtigheid onderwerp is. 'n Man wat 'n leërmag so goed kon organiseer dat dit die hele Arabië binne twee jaar kon onderwerp, moes eenvoudig spoedig 'n groot aanhang geniet. Hy het binne 'n ommesientjie uitgestyg van 'n on­bekende kameeldrywer tot 'n oor­heersende outokraat. Dieselfde het ook later met die leiers van die Islam gebeur: hulle het nie soseer leiers geword vanweë die objektie­we waarheid van die leerstellings wat hulle verkondig het nie. Hulle het die hoë posisies bereik as reg­streekse uitvloeisel van hulle militêre suksesse, deur middel van die 'djihad' of heilige oorloë. Mohammed het skynbaar 'n besondere vermoë besit om sy aanhangers tot onderhorigheid te dwing.

Moslemjaartelling🔗

Enkele jare na Mohammed se dood het sy volgelinge 16Julie 622 n.C. as die aanvang van die Moslemjaartelling (na Hidjra) aanvaar. Mohammed is op 7 Julie 632 oorlede. Daar is skrywers wat meen dat die Moslemjaartelling wel aan die Christelike of Gregoriaanse kalender getoets kan word, omdat daar in die Koran na sekere Romeinse veldslae verwys word wat dit moontlik maak.

Oorsprong van sy godsdiens?🔗

Daar is verskillende standpunte oor die oorsprong van Mohammed se godsdiens. Sommige skrywers meen dat daar tydens Mohammed se lewe alreeds relatiewe sterk Christelike sendingaksies in Arabië plaasgevind het. Die Nestoriaanse bisdom het toe alreeds aan die Eufraatrivier sending gedoen. Ook die Monofisiete wat in Oos-Afrika be­drywig was, het invloed in Arabië gehad. In Jemen, in die suide van Arabië, was sterk Christen- en Joodsegemeenskappe aanwesig, laasgenoemde veral as landbouers in die vrugbare landboustreke.

Veral hierdie streke het sterk handelsbande met Mekka en ander gebiede buite Arabië gehad. Daar was dus 'n taamlike mobiliteit, en kontak het ongetwyfeld tussen die inwoners van Arabië en die gebiede noord daarvan plaasgevind; veral Sirië was een van die streke waar­mee kontak gehou is.

Die moontlikheid dat Mohammed dus wel met lede van hierdie ge­meenskappe in verbinding was, is groot. Alhoewel daar van vóór sy tyd alreeds, veral in Wes-Arabië, 'n gedagte oor die monoteïsme bestaan het, is dit waarskynlik deur die aanraking met ander gemeen­skappe dat Mohammed die gedagte van een god ontdek en ontwikkel het. Die bestaan van 'n enkele god, Allah, staan in die Koran as 'n aan­vaarde feit; dit word nêrens beredeneer nie maar word net as 'n feit gestel. Daar bestaan ook 'n sterk vermoede dat Mohammed sy idees veral weens aanraking met die Christene van Sirië ontdek en ont­wikkel het. Die Christene van Sirië was toe reeds 'n goed ontwikkelde (maar sterk sektariese) Christelike gemeenskap. Veral oor die drie-een­heid van God, en gedagtes oor die moeder van Jesus, was daar taam­like mistastings onder hierdie Chris­tene. En dit is waarskynlik dan ook waar Mohammed aan sy verdraaide idees oor die drie-eenheid gekom het, en dat hy Maria as deel van die drie-eenheid beskou het.

Karikatuur as basis🔗

Ons kan dus met stelligheid sê dat Mohammed nie werklik met die evangelie te doen gekry het nie, maar veel eerder met verdraaiinge daarvan, 'n karikatuur van die Christendom. Die basis van die Islam het hy uit hierdie gebrekkige kennis van die evangelie en ook uit die Joodse godsdiens, en selfs uit die godsdiens van ou Persië ontwikkel, 'n geringe begin – wat tot 'n uni­versele godsdiens uitgegroei het. Die Moslems maak vandag byna twintig persent van die totale wêreldbevolkings uit.

Die Islam: Leerstellings en praktyke🔗

Leerstellings🔗

Die fundamentele leerstellings van die Islam is 'n ingewikkelde sisteem en sal daarom, en weens gebrek aan ruimte, baie oorsigtelik behandel word. Daar sal net na enkele belang­rike aspekte verwys word.

  • Geloof in Allah: Dit kan beskryf word as die primêre kenmerk van die Islam — daar is net een god, Allah; hierby kan die status van Mohammed ook gevoeg word: hy is die profeet van Allah. Allah het geen gelyke nie; hy het die wêreld en alles daarin geskape.
  • Geloof in engele: Die engele word beskou as die dienaars van Allah, deur wie hy sy wil bekend maak; die belangrikste van hulle is die engel Gabriel.
  • Geloof in die profete: Daar is 'n hele galery van profete, onder wie byvoorbeeld Abraham, Ismael, Moses, Jesus en Mohammed. Mo­hammed word as die laaste, die seël van die profete, geag. Wat hy ge­skryf het, is finaal en kan deur niemand verander word nie.
  • Geloof in heilige boeke: Van die heilige boeke is die Koran (Qur'an) die belangrikste, want dit is Allah se finale openbaring aan die mens en dit vervang alle vorige openbarings, onder andere dié van die Bybel. Dit word geglo dat die Koran in die hemel in Arabies geskryf is en dat dit net so woordeliks deur bemiddeling van die engel Gabriel aan die profeet Mohammed deurgegee is. Die Moslems erken ook die Wet van Moses, die Psalms van Dawid en die evangelie van Jesus – maar (en dit is belangrike verskilpunte) hulle heg hulle eie vertolkings daaraan, want dit is volgens die Moslems deur die Christene vervals en ver­knoei.
  • Geloof in die oordeelsdag: Die Moslems glo verder ook in die oor­deel van die laaste dag. By hierdie geleentheid sal elkeen se goeie en slegte dade verdiskonteer word, en dit sal bepaal of hy na die hemel of na die hel gaan.

Dit is nie moontlik om al hierdie aspekte diepgaande te ondersoek nie, daarom sal ons net sommige daarvan bespreek.

Monoteïsme🔗

Voor Mohammed se tyd was daar alreeds in Arabië 'n konsep van 'n enkele god. Daar was ook in die destydse heersende veelgodedom 'n god met 'n naam wat later aanlei­ding sou gee tot die naam Allah. Die Koran (hoofstuk 112) verwys na Allah as EEN god wat nie verwek is nie en ook nie verwek het nie. Hieruit lei die Moslems af dat Christus nie die biologiese seun van God kan wees nie. Allah word voorgestel en bevestig deur die belydenis: daar is geen god behalwe Allah nie, en Mohammed is sy profeet. Uit hierdie belydenis kan vrywel afgelei word dat Mohammed ook sy eie posisie as profeet daarmee beveilig het. Later meer daaroor.

Mohammed het as handelsrei­siger binne en buite Arabië nie net met die heersende Arabiese gods­dienste in aanraking gekom nie, maar ook met dié van die Judaïste sowel as die Christene. Die Chris­tene met wie hy in aanraking gekom het, was helaas van 'n sektariese aard (hoofsaaklik die Nestoriaanse skool), en gevolglik het hy nooit werklik met die ware evangelie te doen gekry nie. Daarom berus sy vroeë godsdienstige denke in 'n groot mate op halwe waarhede vir sover dit die Christelike leerstel­lings betref. Mohammed was egter volgens alle aanduidings 'n beson­der intelligente persoon, en hierdie gebrekkige kennis wat hy opgedoen het, was genoeg vir hom om daarop voort te borduur en daaruit sy nuwe godsdiens tot stand te bring.

Die Koran🔗

Benewens die aanvaarding dat dit die openbaring van Allah is, lê die goddelike karakter van die Koran volgens die Moslems in die vol­gende: daar kom geen weerspre­kings daarin voor nie; dit bevestig en verklaar die Bybel; die onoor­treflike literêre aard daarvan is uniek en verhef dit bo alle ander geskrifte; die Koran is sedert sy ontstaan nooit verander (vertaal) nie en is dus in sy oorspronklike vorm soos dit van Allah ontvang is.

Die tradisies en die wet🔗

Die ander belangrike geskrifte in die Islam is die Islamitiese tradisies (ahadith) en die Islamitiese wet (shari'a). Die tradisies is 'n ver­sameling van wat die profeet en sy metgeselle gedoen en gesê het, en wat nie in die Koran opgeneem is nie. Dit het tot 'n wetenskap in die Islam ontwikkel. Die Islamitiese wet verskil uiteraard van land tot land waar dit toegepas word, want dit is telkens (deur die proses van akkulturasie) by die plaaslike kul­tuur aangepas. Die wet is egter ook uit die Koran afgelei en daarom word na die Islam as 'n wettiese godsdiens verwys. Die drie saam, die Koran, die wet en die tradisies, vorm 'n belangrike onderbou van die Islam soos dit universeel voor­kom. Met ander woorde, dit is fak­tore wat die wêreldwye solidariteit van die Islam verseker.

Oor die toepassing van hierdie beginsels van die Islam soos dit in verskillende lande voorkom, kan baie geskryf word, maar omdat hierdie toepassings in 'n groot mate van land tot land verskil, sal daar te veel van veralgemening gebruik gemaak moet word. Ek wil egter daarop wys dat daar in sommige van die lande waar hierdie wette toegepas word, mense wat aan dief­stal skuldig is, se hande nog afgekap word; owerspelige vroue, selfs van koninklike afkoms, word nog vir sodanige oortredings gestenig.

Praktyke🔗

Die tweede belangrike been van die Islam is die daaglikse belewing van die godsdiens, die rituele voorskrifte wat nagekom moet word. Die rituele moet deur elke Moslem onderhou word. Die belangrikste hiervan is: die geloofsbelydenis (daar is geen ander god as Allah nie, en Mo­hammed is sy profeet); die daag­likse gebede (ten minste vyf keer per dag in die rigting van Mekka); die onderhouding van die vastye, veral die maand Ramadan; die ver­sorging van die armes; die pelgrimstog na Mekka (minstens een maal in 'n leeftyd).

Tydens hierdie pelgrimstogte is daar talle rituele wat uitgevoer moet word. Die belangrikste besoek­punt tydens die bedevaart is die Ka'aba, die sentrum van die bede­vaart in Mekka. Dit is 'n vierkantige gebou wat byna in die middel van die groot moskee in Mekka staan. Dit word met swart en afwisselend met wit bekleedsel behang; in die oostelike hoek is die swart klip (al­rukn al-aswad) wat net soos die Ka'aba, van voor Mohammed se tyd reeds 'n rol in die godsdiens van Arabië speel. Die Ka'aba word in die Islamitiese tradisie aan Abraham en Ismael gekoppel, en daarom vorm dit so 'n belangrike onderdeel in die geloofslewe van elke Moslem.

Ook word die graf van Moham­med in Medina besoek, en daar naby word 'n plek aangewys wat volgens tradisie gereserveer word as 'n graf vir Jesus. Die Moslems glo dat Jesus nie aan die kruis gesterf het nie en dat Hy eendag na die aarde sal terugkeer om die 'ware Islam' te vestig. Daarna sal Hy sterf en dan daar begrawe word.

Verder word 'n aantal feestye ook deur die Moslems onderhou. Vrydae word die gebede in die moskees gehou. Vroue speel 'n ondergeskikte rol in die godsdiens.

Ons het dus aan die een kant die teoretiese of leerstellige wat hoof­saaklik bestaan uit die Koran, die wet en tradisies; aan die ander kant kry die praktiese uitlewing van die godsdiens gestalte in die verpligte periodieke en daaglikse rituele.

Die Islam: Waar of vals?🔗

Om­dat geen vertaling van die Koran deur die Moslems as ge­saghebbend aanvaar word nie, sal hier net vrye vertalings van die be­trokke tekste gegee word. Waar nie anders vermeld word nie, word in alle gevalle verwys na die Engelse weergawe van die Koran soos dit aangebied is deur Mohammed M. Pickthall, The meaning of the glorious Koran.

Profeetskap van Mohammed🔗

Die eerste en belangrikste om vas te stel of Mohammed 'n ware profeet in die Ou Testamentiese be­tekenis van die woord was, is die vraag: Wie het hom as profeet aan­gekondig? Die onomwonde ant­woord hierop is: Mohammed self. Hy is nie deur óf die openbaring van die ware God óf deur enigiemand anders as profeet aangekondig of as sodanig bekend gestel nie.

Toe die Jode sekere toetse aan Mohammed gestel het oor die egt­heid van sy profeetskap, het hy dit eenvoudig met 'n nuwe openbaring van die hand gewys, min of meer met die woorde: "…hoekom sal ek vir julle tekens gee (wonders doen); julle het die vorige profete wat Allah na julle gestuur het, ook as valse profete behandel…" (Sura 17:59). Verskeie tekste van die Koran wys daarop dat hy "…net 'n gewone mens, 'n profeet is…" (Sura 17:90-93; Sura 13:7 ens.).

Die tradisies van die Islam wil egter dat Mohammed wel wonderwerke ver­rig het. Die Koran verhaal ook ver­skeie verse waaruit dit duidelik blyk dat hierdie besondere 'openbaringe' subjektief ontvang is om 'n bepaalde situasie waarin Mohammed verkeer het, te red, onder andere sy huwelik met sy skoondogter.

As ons lees wat in Jesaja 41:21, ­23 en Deuteronomium 18:21-22 staan oor die afgode en valse profete en hulle onvermoë om hulle goddelike sending te bewys, is daar in my hart werklik geen twyfel oor die ónegtheid van die profeetskap van Mohammed nie.

Die Bybel teenoor die Koran🔗

Die vertaling van die Bybel in ver­skillende tale is een aspek wat die Moslems gebruik om die Bybel as oneg en vervals voor te hou. Volgens hulle is die Koran onveranderd soos dit van Allah ontvang is. Dit is egter 'n romantiese droom, want eers in die tyd van die kalief Ullman is die verskillende weergawes van die Koran wat toe bestaan het, teruggetrek en net een uitgawe in die Quraysh-dialek uitgegee. Dit is dus nie so outentiek as wat voorgegee word nie. Lees maar wat Alfred Guillaume in sy boekie Islam hieroor skryf.

Die Koran self beweer dat dit wat in die Koran geskrywe is, alle voor­afgaande openbarings bevestig (Sura 10:37). Die Koran bevestig dus homself en hef daarmee ook alle voorafgaande openbarings op, onder andere die Woord van God. Die Koran beweer dat Mohammed die laaste, die seël van die profete was. Wat hy geskryf het, is dus die seël van alle openbarings en nie­mand kan daaraan verander nie.

Sura 2:23-24 rig 'n uitdaging aan enigiemand om 'n soortgelyke 'wonder' (soos die Koran) tot stand te bring, en maak dan die stelling dat dit die grootste wonder van die wêreld is. Dat die Koran van uit­staande literêre gehalte is betwyfel niemand nie. Dit verhef die Koran egter nie tot 'n goddelike openbaring nie; nog minder kan dit daarom hoër as die Bybel geag word.

Die Bybel as openbaring🔗

Oor die vertaling van die Bybel moet die Christene nie vir die Mos­lems se beskuldigings van interpolasie en vervalsing terugdeins nie. Die Woord van God gee immers direkte opdrag dat dit "aan alle volke, tale en nasies" gebring moet word.

Die Koran self dring duidelik daarop aan dat die Bybel aanvaar­baar is en dat dit bestudeer moet word. In Sura 5:47-50 word hier­die standpunt gestel, maar dit staan daar dat die 'mense van die evangelie' vir hulleself moet besluit volgens die evangelie wat Allah vir hulle daargestel het. Die verskil kom na vore as ons die standpunte van die godsdiensgeleerdes van die Islam ondersoek. Hulle sê die profete is gelyk, maar Mohammed is die laaste, die seël van die profete. In Sura 29:46 word daar selfs beweer dat "…ons god en julle (die mense van die 'Boek' se) God is dieselfde." Dit is die standpunt van die Moslems en, helaas, ook van talle Christene. Die waarheid van hierdie standpunt is net gegrond op dit wat in die Koran staan – dit kom nie in die Bybel voor nie.

Is Allah gelyk aan God?🔗

Die feit dat die Koran na Allah as God verwys, bewys geensins die egtheid van die stelling nie. God het Hom in sy Woord aan ons geopenbaar – Hy het nie nodig om Hom deur middel van die Koran, of op enige ander manier, weer te openbaar nie. As ons die eerste aantal verse van Johannes 1 lees, sidder ons om te dink dat Mohammed sy mensbe­dinkte god gelyk aan God, en sy valse profeetskap bo Christus wil stel:

…In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God… Alle dinge het deur Hom ontstaan…

Met vers en kapittel kan daar nog talle bewysplase aangehaal word wat die teenstrydigheid en die een­sydigheid van die Islam beklemtoon en die valsheid daarvan duidelik sal aandui. Dit dien egter nie 'n kon­struktiewe doel om hier nog meer ruimte daaraan af te staan nie.

Dubbelstandaarde🔗

Om die egtheid van die Bybel teenoor die Koran as openbaring te toets, lê die Moslems dubbele stan­daarde aan. Aan die een kant spreek hulle tekstuele kritiek teen die egt­heid van die Bybel uit, terwyl hulle aan die ander kant geen kritiek teen die Koran aanvaar nie. Veral oor die vertaling en die sogenaamde ver­valsing en foute wat daarmee ingesluip het, het die Islam dit téén die Bybel. Daarteenoor is die Koran, volgens hulle, uit die hemel ont­vang en mag daarom nie gekritiseer word nie.

Dieselfde dubbele standaarde word weer toegepas wanneer dit om die verspreiding van die twee godsdienste gaan. In die lande waar die owerheid hoofsaaklik deur Chris­tene beheer word, geniet die Moslems godsdiensvry­heid. In Moslembeheerde lande word sendelinge wat die Christen­dom versprei, egter nie toegelaat nie. As hierdie Moslemlande vandag hulle deur vir die Christelike sending moet oopstel, sal dit daar chaos tot gevolg hê. Die inwoners van daardie lande hoor nie die waarheid van die evangelie nie, hulle ken die verlossingswerk van Christus hoe­genaamd nie, en hulle het nie die vryheid om self die Christendom en die Christelike leer te ondersoek nie.

Die Islam: Kernverskille teenoor die Christelike leer🔗

Christus en die Drie-eenheid🔗

Die kernverskil tussen die Christe­like leer en die Islam is die feit dat die rol van Christus as Verlosser van die wêreld deur die Islam ont­ken word. Hy word as 'n gewone profeet beskou, terwyl Mohammed as die laaste van die profete hoër geag word. Die Moslems glo Chris­tus het sy profetiese roeping uitge­voer en daarmee sy taak afgehan­del. Daarmee word die goddelike gesag van Christus dus ontken, en ook sy Seunskap word deur die Is­lam van die hand gewys. By implikasie beteken dit dat die drie-een­heid van God ook nie erken word nie.

Oor die Drie-eenheid is daar teo­loë wat van mening is dat die Koran nie afwysend hieroor staan nie. As ons lees wat in die Koran staan, kom dit voor asof die Drie-eenheid wel afgewys word. In die vertaling van Pickthall, lees ons in Sura LXXII: 3-4 dat diegene wat glo dat Allah 'n vrou of 'n seun het, dwaas is en hulleself van 'n leuen bedien. In Sura V:72 word dit gestel dat diegene wat sê dat Allah die Messias, die seun van Maria, is, ongelowig is. Die volgende vers noem diegene ongelowig wat glo dat Allah een van drie is. Met ongelo­wige word bedoel ongelowig ten op­sigte van die Islam. In vers 74 word na die Messias, die seun van Maria, verwys as 'n gewone boodskapper, met ander woorde 'n profeet.

Uit hierdie en talle ander bewys­plase uit die Koran kan dit dus baie duidelik aangetoon word dat die Islam wel die drie-eenheid van God verwerp. Persoonlik meen ek die feit dat die rol van Christus as ver­losser van die mensdom verwerp word, in effek daarop neerkom dat ook die drie-eenheid van God ver­werp word. Die foutiewe Islamitiese opvatting oor die drie-eenheid van God spruit voort uit die halwe waar­hede waarmee Mohammed te doen gekry het. Die sektariese aard van sy kennisbron het hom hieroor mis­lei. Die indruk is by hom gelaat dat die Drie-eenheid uit God (die Va­der), Maria (die Moeder) en Jesus (die Seun) bestaan.

Kruisiging🔗

Die kruisiging van Christus word deur die Islam verwerp, terwyl die opstanding deur die Koran verswyg word. Sura IV:157-158 van die Koran verwys na die kruisiging en wys daarop dat dit vir die Jode vóór­gekom het asof hulle Jesus gekrui­sig het. Allah het egter iemand anders in sy plek aan die kruis be­skik. Die Islamitiese standpunt hier­oor is dat Allah nie die sondes van die vaders op die kinders sal wreek nie. Elkeen is vir sy eie dade aan­spreeklik.

Goddelike openbaring🔗

Die gesag van die Koran lê vir die Moslems in die feit dat dit die finale woord van Allah is, die ipsissima verba, die presiese woord soos dit van hom ontvang is en tot vandag onveranderd oorgedra word. Dit bevestig alle vorige openbarings en hef dit by implikasie op, ook die Bybel, want die openbaring van Allah aan Mohammed is aan die laaste, die seël van die profete gegee (Sura IV:82).

In hoofstuk X:39 word weer na die (literêre?) onvergelykbaarheid van die Koran verwys. Die Koran hef hom dus self bo die ander ge­skrifte op. As daar egter na die subjektiewe aard van baie van die verse van die Koran gekyk word, is dit maar moeilik om te glo dat God dit nodig geag het om die openbaring van sy Seun en sy Woord weer deur 'n profeet in die persoon van Mo­hammed te laat bevestig.

In Johannes 1:1 staan die antwoord: "In die begin was die Woord daar en die Woord was by God, en die Woord was self God". Watter ander ant­woord kan daar op die aanmatigen­de aansprake van die Islam hieroor gegee word? In teenstelling met die standpunt dat die Koran van die begin af in die oorspronklike taal bestaan en nie vertaal mag word nie, is die Bybelse opdrag baie een­voudig: "…maak dissipels van al die nasies…", en dit impliseer dat die Woord van God in die spreektaal van al hierdie 'nasies' vertaal moet word.

Uitbreiding van die Islam🔗

Oor die kwessie van die versprei­ding van die Islam moet daar na die wêreld in sy geheel gekyk word, en nie net na Nigerië of na Indonesië of enige ander land of streek in afson­dering nie. Dit gaan hier oor die verspreiding van die Islam in lande en streke wat tradisioneel deur Christene bewoon is — die agteruit­gang in hierdie lande stem ons tot kommer. Die Moslems vorm 17% van die wêreldbevolking, wat dub­bel die hoeveelheid Protestante is. Slegs 30% van die wêreldbevolking is Christene, wat weer in die vol­gende onderverdeel kan word: Rooms-Katolieke, 17% Protestante 9% en Ortodokse groepe 4%.

In Engeland was daar in 1945 slegs een moskee — in 1976 het dit tot meer as 200 gegroei; in Frankryk is daar vandag twee Moslems vir elke Protestant; in Joego-Slawië is daar sedert die Tweede Wêreldoorlog meer as 600 moskees opgerig; in Engeland, Frankryk en Swede is die Islam reeds die tweede grootste godsdiens in elk van hierdie Westerse lande; in 'n Skandinawiese land word daar 'n radiostasie deur die Moslems opgerig met die doel om in al die tale van Europa uitsendings te doen — waarom?

Meer as 4 uit elke 10 inwoners van Afrika is Moslems — dit is 42%. In die land met die grootste bevolking in Afrika, Nigerië, is sowat 46% (oftewel 40 miljoen) van die inwo­ners Moslems. Die sowat een persent inwoners van Suid-Afrika wat Moslems is, is weliswaar nie 'n bedreiging vir die ander 99% nie. Ons het egter hier in Suid-Afrika meer as 200 moskees — vergelyk dit nou met die getal Gereformeerde kerke. Maar as na die volledige prentjie van die wêreld in die algemeen en na Afrika in die besonder gekyk word, is dit 'n ander saak.

Ds. Pieter Conradie van die Vlaamse Sending van die Neder­duits Gereformeerde Kerk in België wys in April 1984 in sy verslag daarop dat die Christenbevolking van die wêreld oor die afgelope vyf­tig jaar met 57% gegroei het, terwyl die Moslems oor dieselfde tydperk met 235% toegeneem het. Wanneer ons na hiérdie statistiek kyk, kan ons nie meer met gevoude hande sit en dink daar is geen werk om te doen nie.

Verdraagsaamheid en godsdiensvryheid🔗

As ons die verdraagsaamheids­kwessie van nader bekyk, is die eerste vraag: Waarom word Christelike sendelinge nie in Moslem­beheerde lande toegelaat nie? Is dit 'n goeie rekord van verdraagsaam­heid? Dit sal nogal chaos veroor­saak as die Moslems werklik met die ware evangelie te doen kry en eers dan besef dat hulle vir die af­gelope veertien eeue deur hulle onderskeie regerings 'n rat voor die oë gedraai is. Is dit die rede waarom dit nie toegelaat word nie? Die Mos­lems van hierdie lande word nooit werklik met die ware evangelie ge­konfronteer nie. Ek is daarvan oor­tuig dat God se Woord ook daar sy loop sal neem as dit eers eenmaal toegang verkry het. Stel u die massa bekeerlinge voor!

Christus alleen🔗

Ten slotte moet ons eers weer lees wat in Johannes 4:2-3 staan oor diegene wat nie bely dat Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die teken van die Gees van die ware God; nie flou redes vir verdraagsaamheid nie; ook nie flou verskonings om versoening te bewerkstellig nie. Nee, die Gees van God roep ons op om sy werk, sy openbaring ook aan die Moslems te bring, dit kragdadig aan hierdie onkundiges bekend te maak. Die waarheid roep ons op.

Ons moet ons nie vir ons Christen­skap skaam en terugdeins vir die verskeurdheid nie. Ons verloën ons Christenskap en ons roeping as ons probeer om die verspreiding van die evangelie op hierdie wyse te ont­duik. Die Moslems is nie ons vyande nie. Ons moet hulle benader as mense wat nie die ware God en sy evangelie ken nie. Ons moet die ware openbaring van die ware God aan hulle bring. Dit moet ons aan­sporing wees.

Ons mag nie aanvaar dat die god van die Islam dieselfde God is as die Een wat deur die Christendom bely word nie. Hoe kan dit waar wees? Die Islam verwerp die verlossingswerk van Christus, sy kruisiging en opstanding, sy goddelike karakter, sy menslike karakter as Seun van God; hulle verwerp die Drie-een­heid. Hoe kan dit dan dieselfde God wees? Allah is 'n mensbedinkte god; die Islam is 'n afgodsdiens en Mo­hammed is 'n valse profeet. Indien ek as Christen nie hierdie stand­punte daaroor huldig nie, verloën ek my Christenskap.