Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Is die Kategismusprediking nog Aktueel?

In die eerste artikel het ons aange­toon dat beide die geskiedenis en die ervaring ons versigtig moet maak om nie so maklik uit die swak bywoning van die tweede erediens te konkludeer dat die Kategismus vir ons sy betekenis verloor het nie. In die tweede artikel het ons weer eens by die geskiedenis gaan kers opsteek en het bemerk dat daar sedert die sewentiende eeu ’n ver­andering in die Westerse denke ge­kom het waarin die menslike ver­stand op die troon geplaas is en ’n nuwe, optimistiese kyk op die geskiedenis gaandeweg gegroei het. Die gevolg hiervan was dat daar geglo is dat ons Godskennis maar presies lyk soos die algemene, wetenskaplike kennis wat die ver­stand ons bied: onpersoonlik, objek­tief, geldig en vir alle mense toe­ganklik. Daar is aangetoon dat binne hierdie gangbare Westerse manier van dink ons met groot stelligheid kon beweer dat die Kategismus sy aktualiteit in ons dag verloor het. ’n Mens kan nou met reg vra of die moderne denkwyse nie ’n rol speel (al is dit onbewus) as ons so maklik sê dat die Kategis­mus in ons tyd sy betekenis verloor het nie - en dit sonder voldoende bewyse uit die geskiedenis én die ervaring dat die swak bywoning van die tweede diens hierdie stelling ‘bewys’ nie. Maar, as hierdie stelling ’n sekere mate waar is, ver­raai dit nie juis die moderne denk­wyse by ons mense nie juis daarin dat hulle ’n afkeer het van ‘koue leerprediking’ en ’n begeerte het na die ‘warm’ prediking van hoe om te lewe nie; verraai dit nie die feit dat ons as predikante ’n probleem ondervind om die ‘objektiewe’ leer van die Kategismus ‘subjektief’ in die harte van die gemeente te laat posvat nie? Hoe op aarde kan ’n leerboek in die kader van die troos (Sondag 1) aangebied word? Kom ons maak hierdie probleem een­voudiger deur slegs op twee vrae in te gaan:

  1. Hoe dink ons?
  2. Hoe behoort ons te dink?

Hoe dink ons?🔗

Ons moet nie dink dat ons nie kin­ders van ons tyd is nie. As die hele Gereformeerde teologie en lewenswyse sedert die sewentiende eeu die littekens van die tweespalt van of leer (Ortodoksie) of lewe (piëtisme, metodisme) dra, moet ons nie dink dat ons gevrywaar is van die denkklimaat waarin ons gebore is en groot geword het nie. Dat ons wel kinders van ons tyd is, kan met ’n enkele voorbeeld geïllustreer word. Immanuel Kant (1724-1804) was die groot filosoof van die agtiende eeu wat die verstandsmens mondig verklaar het. Meer nog hy was die man wat die gangbare tweespalte geyk het: objektief en subjektief, teorie en praktyk, leer en lewe, algemeen en besonder alles woorde wat ons elke dag gebruik sonder om ons oor hulle herkoms te bekommer. Die bydrae van Kant was nie ’n ‘vooruitgang in die Westerse beskawing’ nie maar ’n uiteenruk van die meeste dinge wat in die Hervorming én in die Bybel ’n eenheid vorm.

Ons moet ook nie dink dat ons manier van dink van minder belang is nie. Dit sal duidelik word as ons die opvattinge van Amesius en Calvyn met mekaar vergelyk. Dan sal ons besef hoe groot die grond­verskuiwing van die sewentiende eeu was, wat ons moderne manier van dink ingelui het. Amesius sê: die grondslag van ons kennis stam uit die natuur: ‘By the creation God is known’. Calvyn sê: Inderdaad, God openbaar Hom in die natuur en sy ewige krag en heerlikheid kan van die begin van die skepping af in sy werke gesien word, maar die mens, wat in sy verstand verblind is, kan dit nie reg sien nie, beroof God van sy heerlikheid en skep af­gode. Die openbaring van God in die skepping bring ons dus nie tot kennis van God nie maar stel ons alleen skuldig voor Hom omdat ons dit wat ons van Hom kon ken, verdraai en onderdruk het (Kommentaar, Romeine 1:18 - 22). Amesius sê: op die basis van ons kennis van God uit die skepping (natuur) word ons kennis verder uit die Skrif opgebou. Hierdie kennis is waar en volkome omdat dit uit die Bybel opgebou is. Tog deel gelowiges hierdie ware kennis van God met ‘ongelowiges, ketters, afvalliges en met die duiwels self’. Calvyn sê: Sonder kennis is geloof en godsvrug en ’n lewende gemeen­skap met die Here nie moontlik nie en hierdie kennis is ‘unieke voorreg wat God alleen aan sy uitverkorenes verleen, wat Hy van die res van die mensheid af sonder’ (Institusie 1.7.5). Amesius sê: hierdie ware kennis van God wat die gelowiges met die ongelowiges en die duiwels het, is nie saligmakend nie: die ge­loof as ’n ekstra wilsbesluit moet daar bykom om die saligheid te kry. Calvyn sê: geloof is kennis: “Nou sal ons ’n grondige definisie van ge­loof hê as ons sê dat dit die vaste en sekere kennis van die welwillend­heid van God jeens ons is, wat in die waarheid van sy genadige belofte in Christus gegrond is, en deur die Heilige Gees aan ons verstand geopenbaar en in ons hart verseël word” (Institusie 3.2.7, vertaling van H. W. Simpson).

Dit is duidelik dat Amesius as ’n latere Gereformeerde teoloog nie Calvyn se siening aanvul en verdiep nie maar dat hy Calvyn eenvoudig weerspreek. Juis dit maak die vraag: Hoe dink ons? besonder akuut. Ons kan ook die vraag anders stel: gebruik ons nog die woorde ‘kennis’ en ‘geloof’ in die sin van die Hervormers of gebruik ons dit in die betekenis van die moderne denke?

Hierdie vraag word dringend as ons besef hoe diep ons deur die moderne denke beïnvloed is. Ons kan naamlik die Kategismus ook (teen sy bedoeling in) gaan verklaar in terme van die tweespalt van die moderne denke. Dan word Sondag 7 se omskrywing van die geloof ‘nie alleen ’n gewisse kennis nie, maar ook ’n vaste vertroue’ (waar kennis en vertroue, volgens Melanchton se formulering wat hier gevolg word, twee helftes van dieselfde saak is) ’n tweespalt: nie net ’n gewisse kennis nie maar ook ’n vaste ver­troue. Hierdie ‘verklaring’ van die Kategismus kan in verskillende variasies voorkom: “Ons ken God maar vertrou ons Hom?” “Ons het genoeg kennis (of te veel kennis) maar te min vertroue.” Só ’n ver­klaring van Sondag 7 lê volkome in lyn met die opvatting van Amesius maar is totaal vreemd aan die ge­dagtes van Calvyn, wat die Heidel­bergse Kategismus diepgaande beïnvloed het. Daarom kan ons sê: Só ’n verklaring van Sondag 7 is teen die bedoeling van die Kategismus in en eenvoudig verkeerd.

Hoe behoort ons te dink?🔗

Behoort ons te dink soos die Her­vormers? Die antwoord hierop is: Ja en Nee. Ja, want hulle het die boodskap van die Skrif deur die genade van God weer op ’n beson­dere manier ontdek. Hulle het dinge wat bymekaar hoort, bymekaar gehou ons tyd ruk dit uiteen. Die antwoord is ook: Nee, want hulle was ook kinders van hulle tyd, feil­bare en sondige mense en het ook hulle foute gehad. Ons moet bo alles dink soos die Bybel ons leer. Leer! Hoe dikwels kom hierdie woord in die Skrif voor! God onderrig sy volk, Hy leer hulle, Hy maak sy Woord bekend, sy Woord kom tot die profete, Hy stuur sy Seun wat die Vader aan ons bekend maak sodat Hy kan sê: “Wie My gesien het, het die Vader gesien”. Hy sê ook: “Dit is die ewige lewe dat hulle U ken ... en Jesus Christus wat U gestuur het”. Die Gees leer ons om te weet wat God ons uit genade geskenk het, gee ons die salwing sodat ons alles weet.

Die ‘kennis’ waarvan die Bybel praat is nie net ‘objektief waar’ nie maar raak ons altyd ‘subjektief’. God maak sy arm, sy heerlikheid, sy geheimenis wat vir eeue ver­borge was, bekend; Hy maak sy Naam bekend as die God wat Hom aan sy volk verbind het, wat hulle geroep hoor, wat hulle uit die slawehuis uitlei, wat met hulle ’n nuwe verbond sal maak. Eintlik is die hele onderskeiding objektief subjek­tief by die kennis waarvan die Bybel praat irrelevant en misleidend. Dit wat God in die Bybel van Hom bekend maak as Skepper, raak die mens as skepsel altyd.

Die taal van die Bybel is ’n ander taal as dié van die moderne wêreld: Hier is dinge nog bymekaar wat bymekaar hoort. ‘Kennis’ in die Ou Testament is ’n intiem persoonlike saak wat verstand en hart raak en gebruik word vir die intiemste verhouding tussen man en vrou. Hierdie kennis sluit vertroue in – ‘nie alleen ’n gewisse kennis nie, maar ook ’n vaste vertroue’.

Om Bybels te dink is deel van ons opdrag om vernuwe te word in ons gemoed.

Om Bybels te dink is om dinge wat ’n eenheid vorm, bymekaar te hou.

Om Bybels te dink is om te verstaan dat dit wat God ons leer ons tegelyk troos, juis omdat Hy wat ons ken, ons Vader is.