2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Katolieke (Algemene) Kerk

Die Apostoliese Geloofsbelydenis verwys na “ ʼn heilige, algemene, Christelike kerk”. In die Engelse vertaling van die Belydenis word verwys na die “holy catholic church”. Dit is nie ʼn verwysing na Rooms-Katolisisme nie, Hoewel Rome daarop aanspraak maak om die heilige katolieke kerk te wees. Dit is egter nóg heilig, nóg katoliek, nóg die kerk van Christus, maar die valse kerk. 

Die woord katoliek beteken “algemeen, allesomvattend; oor die hele wêreld versprei” en die woord universeel het dieselfde betekenis.1 Dit is die gepaste beskrywing van die ware kerk van Christus. Ons moet die woord katoliek nie aan Rome oorgee nie. 

Dat die kerk in hierdie sin katoliek, universeel of algemeen is, blyk uit baie Skrifgedeeltes. Openbaring beskryf die algemene kerk in hoofstuk 7 vers 9. Ons lees daar van ʼn groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat voor God se troon staan. Die algemeenheid van die kerk beteken dat mense deur die krag van die soewereine genade van God uit elke volk in die kerk versamel word, én dat God sy kerk deur alle eeue heen versamel. Dié algemeenheid verseker ons dat ons saam met Abraham, Isak en Jakob in die hemelse koninkryk sal wees (Matt. 8:11). Op grond hiervan word ook na gelowiges wat nou lewe, in Openbaring 6:11, as medediensknegte en broeders van die martelare verwys.

Die algemeenheid van die kerk beteken ook dat alle soorte mense tot die kerk behoort; ryk en arm, groot en klein, jonk en oud, heer en kneg, manlik en vroulik. Daar is vir hulle almal plek in die kerk.

Dit is wat die Woord in 1 Timótheüs 2 bedoel, wanneer dit ons beveel om vir alle mense te bid (vs. 1, 2). Die woord alle beteken nie “almal sonder uitsondering” nie. Dit sou onmoontlik wees om in daardie sin vir almal te bid. Die woord verwys eerder na “alle soorte” mense, soos uit die verwysing na konings en hooggeplaastes blyk. Ons moet vir alle soorte mense bid, want dit is die wil van God dat alle soorte mense gered word, en Christus vir alle soorte gesterf het (vs. 4-6).

Jakobus het ook hierdie aspek van die kerk se algemeenheid in gedagte wanneer hy die Christene aanspreek omdat hulle vir die rykes partydig is en die armes oneer aandoen (2:1-9). Ons doen dit ook, wanneer ons ander Christene weens hulle uitwendige gesteldheid minag.

Algemeenheid in hierdie sin word, wanneer die vers reg verklaar word, ook in Galasiërs 3 vers 28 bedoel. Daar staan: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus”. Dié vers ontken nie die hoofskap van die man oor die vrou of die verskeidenheid van die gawes wat aan Christene gegee word nie. Dit sê eerder dat mans en vroue, Jode en Heidene, slawe en vry mense, in die eenheid van hulle almal in Christus gelykwaardig is. Hulle is almal geestelike kinders van Abraham.

Opvattings dat een taal meer gepas is om die Christelike geloof mee uit te druk as ʼn ander, of dat sommige rasse nie goeie Christene kan wees nie, ontken die katolisiteit, die algemeenheid, van die kerk. Dit geld ook vir die gedagte dat een land of volk die koninkryk van God in besonder verteenwoordig, soos dit deur dispensasionalisme en die Brits Israel-beweging geleer word. 

Laat daar daarom nie partydigheid en skynheiligheid, geen verwerping van ander op grond van hulle velkleur, taal, nasionaliteit of gebruike, in die kerk van Christus wees nie. Hierdie dinge maak hoegenaamd nie die verskil nie.

Wanneer ons aan die algemene kerk glo, bely ons “dieselfde Here tog is . . . ryk oor almal wat Hom aanroep” (Rom. 10:12, 13).

Endnotes🔗

  1. ^ F. F. Odendaal (Red.), Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal,  Perskor Johannesburg en Kaapstad, 1991. - NG.