Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Kerk wat Vol is

Wat gebeur as die kerk 'n verbete stryd begin voer om verlore veld te herwin? Hoe gemaak wanneer meer en meer mense begin om die kerk vaarwel toe te roep? Wat staan die kerk te doen wanneer sy invloed in die samelewing begin kwyn?

Nie net in Europa nie, maar ook in Suid-Afrika worstel kerke al 'n geruime tyd met hierdie vrae. En dikwels het kerke ook met vindingryke oplossings vorendag gekom. Oënskynlike oplossings. Want toe die balansstaat aan die einde van die dag opgestel word, toe blyk dit dat die verlies groter as die wins was.

Oor die mislukkings van sulke oënskynlike oplossings was daar in die afgelope tyd berigte van teoloë, uit verskillende oorde. Die eerste waarna ek verwys, is die opmerkings van die Suid-Afrikaanse teoloog, Christina Landman, in 'n artikel in die dagblad Beeld van 6 Maart. Die tweede is 'n voordrag wat die bekende Nederlandse teoloog, Braam van de Beek, tydens sy besoek aan Suid-Afrika by die Teologiese Skool te Potchefstroom gelewer het.

Simbole Vernietig🔗

Prof. Landman se artikel in die Beeld-rubriek Godsdiens Aktueel gaan onder die titel: Simbole vernietig - gaan susterskerke se einde beteken. Die titel sê al baie. Dit laat 'n mens onmiddellik vra: Watter simbole is vernietig? Prof. Landman se artikel gee die antwoord. Die Afrikaanse kerke (susterskerke, soos sy dit noem) het, in 'n poging om mense terug kerk toe te lok, probeer om die kerk na die mense toe te bring. Die kerk is te wêreldvreemd, is geredeneer, met 'n klomp wêreldvreemde gebruike wat niks anders is nie as onnodige kerklike simbole. Mense het niks daaraan nie en daarom kan die kerk maar net sowel daarvan ontslae raak.

Die eerste simbool wat moes padgee, was die preekstoel. Die preekstoel skep die indruk dat daar uit die hoogte, op 'n afstand, met die mense gepraat word. Daarom is die preekstoel in baie kerke verwyder en met 'n platformpie vervang. Die verwagting was dat die mense nou die kerk se boodskap as "hier by ons" sal ervaar.

Die volgende simbool was die predikant se formele kleredrag. Die toga is vervang met tekkies en 'n T-hemp. Sodat die mense met die predikant kon identifiseer, is geredeneer.

Daarna, miskien nog eerder, het die kerksang en kerkmusiek gevolg. Die sang en musiek mag nie meer duidelik kerksang en kerkmusiek wees nie. Weg met Psalms. Weg met Gesange. Liedjies wat sowel om die kampvuur gesing kan word, of wat op die hit-parade met moderne pop-musiek kan kompeteer, is ingevoer.

So het die kerklike "simbole" een na die ander geval. Maar dit het nie gewerk nie. Miskien het dit op die kort termyn 'n klompie nuuskieriges gelok. Maar by nabaat lyk dit of dit die einde van die "susterskerke" kan beteken. Waarom?

Wat hierdie drywers van verandering uit die oog verloor het, is dat die kerk simbole nodig het. Mense kom kerk toe omdat hulle behoefte daaraan het om 'n God te ontmoet wat bo hierdie wêreld verhewe is. Hy moet juis anders as hierdie wêreld wees. Maar, sê prof. Landman, die kerk het God verlaag tot op die vlak van 'n drinkebroer. En as Hy maar net op ons vlak is, kan ons maar net sowel tuis bly. Deur die kerklike simbole by die venster uit te gooi, het die kerk ook dit wat die gemeente aan God se verhewenheid en andersheid herinner, by die venster uitgegooi. En daarom moet die kerk nie verbaas wees as die kerkbanke nog vinniger leegloop nie. Die einde is in sig. Tensy ons nuwe sim­bole skep.

Prof. Landman sien 'n geldige probleem raak. Haar ontleding van die probleem laat ongelukkig veel te wense oor. Sy sien die probleem immers net uit die mens se oogpunt. Die simbool-afbrekery (simboloklasme?) was verkeerd, want dit is nie wat die mense wou hê nie. Daarom moet ons nuwe simbole invoer soos wat die mense wil hê. So argumenteer sy. Maar solank as wat ons fokus op dit wat mense wil hê, bly ons myns insiens in dieselfde moeras rondswem. Daarom is dit nodig om kennis te neem van prof. Braam van de Beek se ontleding.

'n Wisselvallige Liturgie🔗

Prof. Van de Beek het in sy voordrag by die Teologiese Skool gewys op die geweldige sekularisasie in Nederland. In Nederland het die mense só vinnig uit die kerk padgegee dat die kerk vandag niks meer as 'n randverskynsel is nie. Prof. Van de Beek noem dan 'n aantal verskynsels wat hy raaksien in kerke wat probeer om verlore grond te herwin.

Die eerste verskynsel stem nogal ooreen met prof. Landman se waarneming van simbool-afbrekery. Prof. Van de Beek wys op eksperimentering met die kerklike liturgie. Elke gemeente het 'n eie liturgie. Van eenvormigheid in die liturgie is daar nie meer sprake nie. Blykbaar sit daaragter 'n poging om weg te kom van die stereotipe erediens. Die verloop van elke erediens moet vir lidmate 'n verrassing wees. Die opwinding daarvan sal mense kerk toe lok.

Prof. Van de Beek toon egter aan dat die wegdoen met eenvormigheid kontraproduktief geblyk het. Om die eenvoudige rede dat die erediens vir getroue kerklidmate kort voor lank onbekend begin voel het. Hulle voel nie meer tuis in die erediens nie. So blyk liturgiese wisselvalligheid 'n krag te wees wat wegstoot in plaas van trek. Jongmense wat na 'n nuwe omgewing verhuis, voel immers veilig en gekoester in 'n bekende liturgie. Is die liturgie vreemd, voel hulle ook vreemd en besluit hulle makliker om weg te bly.

Rondspringery in die liturgie verloor egter die doel van die liturgie uit die oog. Die liturgie is nie maar net daar om die mense onder leiding van 'n bekwame seremoniemeester besig te hou nie. Die liturgie is juis die ordelike reëling waarvolgens die gemeente as eenheid in ontmoeting met God tree. Voel enige lidmaat ontuis in die liturgie, word die eenheid van die gemeente verbreek.

'n Eie-Ek Prediking🔗

Nog 'n kenmerk van 'n spartelende kerk is dikwels dat die prediking mensgerig raak. Moenie vir die mense vertel wat God doen nie. Vertel vir hulle wat hulle moet doen. So raak die gemeente betrokke en gaan hulle al meer ingetrek word. Dit is moontlik die argument.

Die probleem met sulke mensgerigte prediking is dat dit kort voor lank remonstrants raak. Die remonstrantse dwaling, waarteen ons Dordtse Leerreëls opgestel is, kom in kort juis daarop neer dat die mens self iets moet doen om tot sy eie saligheid by te dra. Vir die remonstrantse gemoed is die mens wat slegs uit genade sonder enige verdienste gered word, darem te magteloos. Die mens wil voel dat hy in beheer is. Die besluit oor my ewige bestemming is so belangrik dat ek dit nie net aan God kan oorlaat nie. Daarom moet ek self besluit of ek gered word of nie. Of ten minste mede-besluit. So word die mens in die remonstrantse predi­king al groter en God al kleiner.

Maar sulke prediking maak die kerk leeg. Dit werk nie sekularisasie teë nie, maar werk daaraan mee. Want as ons God al minder nodig sou hê, of selfs glad nie nodig sou hê nie, waarom dan kerk toe gaan? Net om na 'n lofrede oor ons eie gawes en moontlikhede te gaan luister? Miskien sou dit baie mense lok, maar is die kerk dan nog kerk?

Oppervlakkige Prediking🔗

Aan die ander kant is 'n ewe groot gevaar dat die prediking oppervlakkig word. Prof. Van de Beek wys die verskynsel uit dat dominees Sondae vanaf die preekstoel vir mense niks meer sê nie as: Julle is “orraait”. God het julle lief en daarom hoef julle, julle nie verder te bekommer nie. Met 'n paar mooi verhaaltjies word die hoorders se gewete gesus sodat hulle met 'n lekker gevoel kan huis toe gaan.

Na die skerp tweesnydende swaard van die Woord word die hand van die prediking egter kwalik uitgesteek. Die Woord is nie meer sleutelmag-bediening nie. Van God se geregtigheid word bitter min gehoor. Van sy oordeel byna niks meer nie. En juis daarom word die harte van die hoorders al minder aangegryp deur die wonder van God se genade in Jesus Christus. Gevolglik bly die dankbaarheid uit. En van 'n dankbaarheidslewe is daar nie sprake nie.

Sondag word die Dag van die Mens🔗

By hierdie gedagtes van prof. Van de Beek sou ons kon byvoeg: die Sondagsviering. As ons dink dat nougesette onderhouding van die Sondag as rusdag volgens God se Woord mense van die kerk gaan wegdryf, maak ons 'n groot fout. Omgekeerd, as ons mense kerk toe wil lok deur mense met 'n laat-maar-gaan-houding oor die Sondag te probeer tevrede stel, maak ons 'n ewe groot fout. Die rusdag is juis vir die mens ingestel, nie as dag van die mens nie, maar as dag van die Here. 'n Dag vir die mens opsygesit sodat hy onbelemmerd saam met die gemeente die vreugde van die Here se teenwoordigheid kan ervaar.

Geloofwaardige Getuies vir Christus🔗

Om saam te vat: die kerk kan nie groei deur minder kerk te wees nie. Hoe minder die kerk is waartoe hy geroep is, hoe minder bly daar van sy geloofwaardigheid oor. Maar as die kerk met vrymoedigheid hou by dit waartoe hy geroep is, hoe meer sal hy groei. Al is dit miskien nie in getalle nie, dan ten minste in geloofwaardigheid.

Daarom geld die woorde van die apostel Paulus aan Titus (2:7) ook vir die kerk van vandag: "In alles moet jy 'n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer, waardigheid in gedrag, gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal elke teenstander in die verleentheid kom dat hy niks slegs van ons sal kan sê nie." 'n Kerk wat so 'n getuienis laat uitgaan, is 'n onmiskenbare "brief van Christus vir almal om te sien en te lees" (2 Korintiërs 3:2). En dit is 'n kerk wat saak maak.