Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die Kerklike Tug Verkondig die Gesag van die Bybel

In Beeld van14 Januarie 2002 het dr. Isak Burger in die rubriek Godsdiens-Aktueel 'n paar in-die-kol opmerkings gemaak. Op die vraag waarom die Bybel deesdae so in gedrang is, antwoord hy dat Christene self die blaam daarvoor moet dra. Enersyds is die leefwyse van baie "Christene" van so 'n aard dat dit mense afskrik in plaas van nadertrek; andersyds is daar heelwat "Christene" wat baie oor die Bybel te sê het en wat oor die Bybel "teologiseer" sonder dat hulle die God van die Bybel self leer ken het. Hierdie opmerkings van dr. Burger verdien 'n paar voetnote.

Leer en Lewe🔗

In die eerste plek sien 'n mens uit dr. Burger se opmerkings weer hoe onafskeidbaar die Christen se leer en lewe is. Iemand wat die Bybelse waarhede bely, maar dit nie doen nie, se leer en lewe stry met mekaar. Inderwaarheid trek so iemand se lewe 'n streep deur sy belydenis. Sy lewe maak die waarheid wat hy bely, tot 'n leuen. Sy lewe verkondig die leuen dat God nie werklik die Koning is wat ons altyd en oral moet gehoorsaam nie. Met sy lewe gee hy te kenne dat die Bybel se boodskap van God se koninkryk onwaar is, dat die Bybel onbetroubaar is en geen gesag oor ons besit nie. Sodoende word sulke "Christene" die stille vennote van diegene wat openlik in soveel woorde die waarheid en gesag van die Bybel bevraagteken.

'n Christendom wat so lewe asof God en sy Woord geen verskil maak nie, is water op die meul vir die vyande van God, sy Woord en sy kerk.

Maar hoe nou? Beteken dit dat ons as gereformeerdes 'n sondelose Christendom propageer? Dit kan tog nie, want ons bely - op grond van die Bybel — dat geen mens volmaak en sonder sonde is nie (bv. Kategismus So. 24). Inderdaad kan dit nie. Maar ons bely óók - ook op grond van die Bybel - dat elke sondaar hom daagliks van sy sonde moet bekeer (bv. Kategismus So. 32 en 33). Die probleem van 'n leuenagtige lewe lê dus nie by Christene wat sondig nie, maar by Christene wat hulle nie van hulle sonde wil bekeer nie.

Daarom: Christene wat elke dag in berou oor hulle sonde in alle erns daarvan probeer wegvlug en juis daarom hulle toevlug tot God neem, is 'n lewende getuienis dat God regeer en dat ons aan sy gesag onderworpe is. En aan die gesag van sy Woord.

Wetenskap en Geloof🔗

In die tweede plek laat dr. Burger se opmerkings 'n mens weer besef dat wetenskap en geloof nie geskei kan word nie. Wetenskaplikes wat oor die Bybel "teologiseer" asof dit niks meer is nie as 'n ou-ou boek wat uitgediende idees en waardes bevat, sê eintlik per implikasie dat hulle nie die God van die Bybel ken nie. "Eintlik moet 'n mens maar so min as moontlik sê as jy nie die eintlike Outeur van die Bybel ken nie," skryf dr. Burger.

Om oor iemand anders se hart te oordeel, is moeilik. Selfs onmoontlik. Net God deursien die hart en weet waar geloof werklik bestaan en waar nie. Tog het Hy ons ook geleer om 'n boom aan sy vrugte uit te ken (Matt. 7:15, 16; 1 Joh. 4:2, 3). Iemand wat dan sê dat Hy God as sy Here ken, maar hy aanvaar nie die Bybel as God se Woord nie, is soos 'n doringboom wat probeer vye dra.

'n Oënskynlik handige verweer wat sulke teoloë soms voorhou, is dat hulle die Bybel slegs wetenskaplik bevraagteken, sonder dat hulle geloof daardeur geraak word. Hierdie verweer kan egter nie stand hou nie, omdat dit wetenskap en geloof van mekaar probeer losmaak. Net so min as wat leer en lewe geskei kan word, kan wetenskap en geloof van mekaar geskei word. As jy werklik in God glo en die Bybel in die geloof as sy Woord omhels, kan jy onmoontlik in jou wetenskaplike arbeid tot die gevolgtrekking kom dat die Bybel onwaar en onbetroubaar is. Omgekeerd: wie in die wetenskap daarop staan dat die Bybel nie God se Woord is nie - waarom sou hy wat sy geloofslewe betref hom dan wel aan die Bybel gebonde ag?

Skeiding van wetenskap en geloof lei tot 'n verdere gevaar: die demonisering van die wetenskap. Dit gebeur wanneer Christene, in reaksie teen "teoloë" wat die gesag van die Bybel op "wetenskaplike gronde" verwerp, die wetenskap in geheel verwerp. 'n Voorbeeld hiervan kom voor in die briewekolom van Beeld van 17 Januarie 2001, waar 'n skrywer (in aansluiting by dr. Martin Lloyd-Jones) skryf dat teologie nooit 'n wetenskap moes geword het nie. Hierteenoor moet 'n mens sê: die probleem is nie dat teologie 'n wetenskap geword het nie, maar dat ongelowiges hulle in die teologiese wetenskap gaan staan en begeef het. Sulke "teologie" verwar, in plaas daarvan dat dit verhelder. Op sulke "teoloë" is Jesus se woorde van Matteus 7:15 toepaslik: "Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is."

Verwaarloosde Tug🔗

Waar lê die oplossing van die probleem? Waar moet die kerk begin om die Bybel en die waarheid daarvan te verdedig? Ongelukkig kom dr. Burger nie uit by 'n antwoord op hierdie vrae nie. In die lig van bogenoemde oorwegings waag ek dan om die volgende voetnoot by te skryf: As die kerk die waarheid en gesag van die Bybel wil verdedig, moet dit in die heel eerste plek weer die tug suiwer, toegewyd en met liefde begin toepas.

  • Toe ons belydenis van geloof afgelê het, is elkeen van ons immers gevra: Beloof u dat u u aan die Christelike vermaning en tug sal onderwerp as u in leer of lewe u misgaan? Hierop het ons elkeen "ja" geantwoord.

  • Ook ouderlinge en diakens word by hulle bevestiging telkens plegtig gevra: Belowe u om u aan die kerklike vermanings en tug te onderwerp as u miskien in leer of lewe afwyk? Die antwoord is klokslag "ja".

  • Dieselfde vraag word aan elke predikant (en professor in teologie) gevra wanneer hy in sy diens bevestig word. Elkeen het hierop "ja" geantwoord.

Dit is dus geen skande om vermaan te word of voorwerp van die tug te wees nie. Wat wel onaanvaarbaar is, is as jy jou nie daaraan wil onderwerp nie. Nog minder aanvaarbaar is wanneer die kerk nie met die tug optree wanneer iemand in leer of lewe afwyk nie.

Kortom: Die kerk wat sy roeping tot tug liefdevol, getrou en ywerig nakom, basuin aan die wêreld uit dat hulle God se gesag aanvaar en dat hulle hul aan sy Woord onderwerp. Hoewel nie sondeloos nie, is die kerk dan toonbeeld van kinders wat na hulle Vader in die hemel luister en Hom wil gehoorsaam. Hulle wys aan 'n skeptiese wêreld dat God en sy Woord nie ligtelik opgeneem kan word nie en dat ons wel erns moet maak met sy gesag.

'n Laaste voetnoot: Natuurlik staan God se almag en gesag vas oor alles en almal, selfs al herken hulle dit nie. God se gesag en die gesag van sy Woord is nie afhanklik van wat mense sê nie. Daarom is die Bybel se gesag nie beperk tot hulle wat dit as gesagvol ervaar en erken nie. Wat God sê, sê Hy met absolute gesag vir almal. Hy is immers die Here van almal, of hulle dit wil erken of nie. Die kerk is slegs hulle wat die genade ontvang het om God as die Here te leer ken en Hom as Here te dien en te vrees. Ook om Hom as Here aan die wêreld te verkondig. Dit is ons vreugde. Dit is ons roeping. En die begin van hierdie roeping lê by die tug.