Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Die Kerkraad en Meerdere Vergaderings

Christus vergader sy kerk plaaslik. Hy regeer sy plaaslike kerke deur die middel van die ouderlinge wat saam die kerkraad vorm. Die kerkraad is volgens Skrif en belydenis die enigste kerklike bestuursliggaam. Hy bedien die mag van die Kerkhoof. Die Skrif beklemtoon sowel die selfstandigheid van elke plaaslike kerk as die verbondenheid van die kerke. Die gesamentlike verbondenheid met die Here behels die opdrag om in onderwerping aan Hom saam te lewe.

Hierdie artikel skenk kortliks aandag aan die streeksgewyse samelewing van kerke. In direkte aansluiting daarby word in die raamwerk van hierdie artikel op die verhouding van die kerkraad en die meerdere vergaderings gefokus.

Streeksgewyse Samelewing van Kerke🔗

Plaaslike kerke word in die Skrif soms saam aangespreek. Ook doen verskeie plaaslike kerke enkele dinge saam. Dit geskied in baie gevalle ressorts- of streeksgewys. Ons lees byvoorbeeld van die gemeentes in Asië (1 Korintiërs 16:19, Op 1:4) en die gemeentes van Galasië (1 Korintiërs 16:1; Galasiërs 1:2), die kerke van twee landstreke in die huidige Turkye, asook van die gemeentes van Macedonië (2 Korintiërs 8:1-5), 'n ressort in Griekeland.

Op grond van hierdie en ander soortgelyke Skrifgegewens reël ons kerkorde die samelewing van kerke ressortsgewys. Artikel 41 omskryf die klassis as "'n vergadering van naburige kerke". In 'n partikuliere sinode kom kerke uit verskeie naburige klassikale ressorte byeen. Die nasionale sinode is volgens die oorspronklike Dordtse kerkorde die vergadering van al die kerke in die land. Die samelewing met die kerke buite die nasionale verband word deur kerklike korrespondensie onderhou (KO, art 52).

Streeksgewyse samelewing van kerke berus op die bogenoemde ander skriftuurlike voorbeelde. Die klassis, partikuliere, nasionale en algemene sinode is die meerdere vergaderings. Die woord "meerder" beteken nie dat die kerke in wyer verband steeds meer mag en gesag het nie. Nee, 'n meerdere vergadering is 'n vergadering waarin meer kerke saamkom.

Wyse van Samekoms?🔗

Die vraag kom na vore: Op watter manier kom kerke in 'n meerdere vergadering byeen? Daar word op hierdie prinsipiële vraag uiteenlopende antwoorde gegee. Die een sê: 'n Meerdere vergadering is 'n regeerkollege, 'n bestuursliggaam. Ander beskou die meerdere vergadering as 'n vergadering van ampsdraers of 'n uitgebreide kerkraad. Nog ander meen dat die kerke deur afgevaardigdes in meerdere vergaderings saamkom.

Watter oortuiging is reg? Kom ons toets al drie standpunte aan die norme vir kerkregering wat in die vorige twee artikels uit die Skrif en belydenis aangevoer is.

'n Bestuursliggaam?🔗

Die standpunt dat die meerdere vergadering 'n bestuursliggaam is, hang onlosmaaklik saam met die oortuiging dat die Here een land- of wêreldwye kerk vergader. Plaaslike gemeentes is op hierdie standpunt slegs parogieë, onderafdelings van die land- of wêreldkerk, die sogenaamde algemene kerk. Die Roomse kerk is so 'n wêreldkerk. Die pous en kardinale beklee die hoogste gesag. "Papa locuta, causa finita": As die pous gepraat het, is die saak finaal afgehandel.

Voorstanders van die landskerk met sy gemeentes as onderafdelings verskil nie prinsipieel van die Roomse oortuiging nie. Synodus locuta, causa finita: as die sinode besluit het, is die saak bindend. Alle onderafdelings van die kerk, die gemeentes, is verplig om die besluit gehoorsaam uit te voer. Besware teen sinodebesluite mag ingebring word, maar TOTDAT 'n sinode die besware aanvaar, moet die besluit waarteen beswaar gemaak is, uitgevoer word.

Die oortuiging dat die kerk se hoogste gesag by die pous of by 'n sinode berus, is in stryd met die Skrif wat slegs een kerklike bestuursliggaam leer, die kerkraad (vgl. NGB, art 30). Om hierdie rede moet die standpunt dat 'n meerdere vergadering 'n bestuursliggaam is, afgewys word.

'n Vergadering van Ampsdraers?🔗

Aanhangers van die standpunt dat 'n meerdere vergadering 'n vergadering van ampsdraers is, beroep hulle op die kerkorde. Die kerkorde bepaal immers dat die meerdere vergaderings uit bedienaars van die Woord en ouderlinge bestaan (art 41, 47, 50, 51). Op hierdie standpunt is 'n meerdere vergadering ’n uitgebreide kerkraadsvergadering.

Die oortuiging dat die meerdere vergadering 'n uitgebreide kerkraadsvergadering is, stem nie ooreen met die skriftuurlike beperking van ouderlinge se gesag tot die plaaslike kerk nie.

Oorskryding van kerkraadsgesag buite die grense van die plaaslike kerk gaan teen die Skrif in en verswak die kerke in hulle verweer teen die dreigende gevaar dat die sinode as 'n opperkerkraad gaan funksioneer. 'n Opperkerkraad waaraan – soos in die 'landskerke' – die hoogste kerklike bestuursmag toevertrou word.

Die mening dat die meerdere vergadering 'n vergadering van ampsdraers en sodoende 'n uitgebreide kerkraadsvergadering is, kom nie ooreen met die Skrif en die belydenis nie (NGB, art 30) wat die gesag van die bedienaars van die Woord en ouderlinge uitdruklik beperk tot die plaaslike kerk waarin hulle dien. Daarom moet ook die oortuiging dat die meerdere vergadering 'n uitgebreide kerkraadsvergadering is, afgewys word. 'n Meerdere vergadering is 'n vergadering nie van kerkrade nie, maar van kerke KO, art 41).

'n Vergadering van Afgevaardigdes?🔗

Die standpunt dat die meerdere vergadering 'n vergadering van afgevaardigdes is, berus op die oortuiging dat die gesag van die ouderlinge (met insluiting van die predikante) beperk is tot die plaaslike kerk wat hulle bedien. Hierdie beperkte gesag van ons besondere ampsdraers word in die Skrif geleer en is derhalwe in die belydenis beaam en in die kerkorde verwerk.

Broeders wat buite die plaaslike kerk in die wyer kerkverband take verrig, word volgens die Skrif na goedkeuring of verkiesing deur die plaaslike kerk gestuur (1 Korintiërs 16:3). Hierdie arbeid verrig hulle nie as ampsdraers wat die plaaslike grens van hulle bevoegdheid oorskry nie, maar as afgesante van die gemeentes (2 Korintiërs 8:23), as afgevaardigdes (Filippense 2:25). Gestuurdes, afgesante, afgevaardigdes: drie woorde wat dieselfde saak aandui. 'n Afgevaardigde kry 'n welomskrewe opdrag om 'n spesiale taak uit te voer.

Toe die kerk in Antiochië 'n aantal broeders met beperkte opdrag na die apostels en ouderlinge in Jerusalem afvaardig (Handelinge 15:2), wou Paulus aanvanklik nie gaan nie. Hy was immers 'n apostel wat unieke, eenmalige gesag met die oog op stigting van kerke gehad het. Apostelbevoegdhede het tog oor die grense van plaaslike kerke heen gestrek. 'n Apostel mag tog nie as 'n ouderling met beperkte plaaslike gesag behandel word nie.

Die Here wil egter dat sy dienskneg in hierdie geval die roeping van afvaardiging opvolg en as mede-ouderling met beperkte plaaslike mag optree (vgl. 1 Petrus 5:2). Die geskil in Antiochië het al die kerke waarin Jode- en heiden-Christene opgeneem is, geraak. Dit was 'n saak wat by al die toenmalige kerke tuisgehoort het en dus nie in een kerk (Antiochië) afgehandel moes word nie.

Paulus vertel self oor sy afvaardiging deur die kerk in Antiochië. "Ek het na Jerusalem opgegaan met Barnabas en Titus ook saamgeneem. Maar (teen my aanvanklike oortuiging dat ek as apostel geen afvaardiging met beperkte opdrag mag aanvaar nie) ek het opgegaan op grond van 'n openbaring" (Galasiërs 2:1-2). Die Here het in 'n besondere openbaring vir die apostel te kenne gegee dat hy hom moes laat afvaardig.

Afgevaardigdes van kerkrade na meerdere vergaderings is in ooreenstemming met die voorbeelde in die Skrif en so vaardig gereformeerde kerkrade broeders na die meerdere vergadering af (KO art. 41, 47, 50, 51). Afgevaardigdes het nie bevoegdheid om te regeer nie. Ons kerkrade vaardig predikante en ouderlinge af, nie as besondere ampsdraers wat bevoegdheid ontvang om buite die grense van plaaslike kerke regeermag uit te oefen nie, maar as broeders wat genoegsame kennis van sake het om saam met ander afgevaardigdes kerklike sake in opdrag van die kerke te behandel.

Die oortuiging dat meerdere vergaderings vergaderings van kerke deur afgevaardigdes is, stem ooreen met die norme vir kerkregering. Hierdie beginsel eerbiedig die beperking van die gesag van die kerkraad tot die plaaslike kerk Hierdie beginsel eerbiedig ook die selfstandigheid van die plaaslike kerke en die Skrifopenbaring oor die enigste kerklike bestuursliggaam: die kerkraad.

Lasgewers en Lashebbers🔗

Meerdere vergaderings is vergaderings van afgevaardigdes. Die kerkraad is en bly die enigste regeerliggaam in die kerk Dit beteken: Kerkrade is die lasgewers van die meerdere vergaderings. Die afgevaardigdes na die meerdere vergaderings is die lashebbers. Diegene wat opdragte ontvang (die lashebbers) moet na afhandeling van hulle opdragte verantwoording aan die opdraggewers (die lasgewers) doen. Die kerkrade, die regeerders wat afgesante stuur, behoort die werksaamhede van die afgevaardigdes, die gestuurdes, te beoordeel, na beoordeling goed of af te keur en nog meer kerklike handelinge te verrig.

Die proses van kerkraadshandelinge met betrekking tot die besluite van meerdere vergaderings word kerkregtelik ratifikasie genoem.