Bron: Kompas. 4 bladsye.

Die Kerkverband: ʼn Verband van Selfstandige Kerke van Christus

 kerk🔗

Die Plaaslike Kerk is Selfstandig🔗

Elke gemeente is selfstandig want hulle het van die Here ampsdraers ontvang wat saam die gemeente moet regeer. Let ook daarop hoe ons in artikel 30 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely dat die kerkraad die ware kerk, dit is die plaaslike gemeente regeer. Om dit duidelik te maak haal ek die hele artikel aan:

Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee.

Hier sien ons raak hoe ook ons belydenis wys dat die wese van die kerk in die plaaslike kerk lê waar Christus ampsdraers aangewys het wat in sy diens sy gemeente moet regeer. Ons moet dan ook sê dat die kerkverband nie die kerk is nie. Dit is nie die kerkverband wat daarvoor sorg dat die ware prediking van die evangelie gehoor word nie, dat die sakramente so bedien word soos Christus dit wil nie, dat die tug op die regte manier uitgeoefen word nie. Dit is die plaaslike kerk onder die regering van die ampsdraers wat daarvoor sorg. Die wese van kerkwees lê in die plaaslike kerk en dit maak duidelik dat die plaaslike kerk selfstandig is. Die vraag ontstaan nou of die kerkverband dan onbelangrik is. Om hierdie vraag te kan beantwoord wil ons eers die vraag beantwoord of elke plaaslike kerk outonoom is.

Die Plaaslike Kerk is nie Outonoom nie🔗

Outonoom is meer as selfstandig wees. Outonoom beteken dat jy heeltemal op jouself staan en dat jy jou eie baas is. Jy staan los van alles rondom jou. Daar is verskillende redes hoekom ’n gemeente wel selfstandig is maar nooit outonoom mag wees nie. Ek noem daarvoor enkele redes:

  • Die kerk is in al sy dele aan Christus en sy Woord gebind. ’n Gemeente mag nooit sy gesag in homself soek nie. Hier en vir alles wat ons oor kerkregering en kerkverband sê, is dit wat ons in Mattheüs 23:8-12 lees, baie belangrik:

Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus. Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.

  • Die gemeente wat volgens eie demokratiese siening en gedagtes wil leef, is besig om homself te verhoog, en wil nie ’n slaaf van Christus wees nie. Die kerk se eer en bestaansreg lê juis daarin dat hulle Christus wil volg en in alles aan sy Woord onderdanig en gehoorsaam wil wees. Ons bely in ooreenstemming daarmee in artikel 32 van die Nederlandse Geloofsbelydenis:

Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar ’n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wys van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.

  • Dit mag nie so wees dat Christus se kerke los van mekaar bly staan nie. Die verskillende gemeentes vind in Christus as hulle Koning en Verlosser hulle eenheid. Hulle is saam sy volk. Die eenheid in Christus wat die verskillende gemeentes het, sien ons o.a. in Openbaring 1 raak. Christus gee daar die opdrag dat die boek Openbaring na die sewe gemeentes gestuur moet word. Sy Woord is vir alle gemeentes van die grootste belang. Nadat Christus dit gesê het, sien Johannes o.a. die volgende:

en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars een soos die Seun van die mens met ’n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ’n goue gordel.(12, 13)

  • Die sewe kandelaars staan nie los van mekaar nie omdat Christus tussen hulle stap. Sonder Hom kan hulle nie regte kandelaars wees wat die ware lig versprei nie. Hulle moet aan Christus as die lig van die wêreld verbind wees om die ware lig te versprei. Kerke wat in die lig van Christus staan, wil mekaar dan ook help. Wil mekaar help om in hierdie lig te bly staan. Wil mekaar help met dinge wat beter gesamentlik gedoen kan word. Wil mekaar help om die Woord van God al hoe meer in sy rykdom te verstaan. Gemeentes mag hulle nie op hulleself hou nie. Hulle moet mekaar soek. Die band aan Christus sorg daarvoor dat ons nie die voorgeslag vergeet wat die HERE gedien het nie en ook nie die wysheid en kennis ignoreer van ander gemeentes wat die HERE in waarheid en liefde dien nie. Hier kan ons dink aan dit wat Paulus in Efesiërs 3 skryf:

sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. (17-19)

puzzel stukkies

Christus se kerke het die roeping om mekaar te help, om in liefde na mekaar om te sien. Dit beteken dat ’n gemeente nie outonoom is nie. Op grond van die band met Christus moet ook die band met ander gemeentes sigbaar word en beoefen word. Daarom is die kerkverband vir Christus se kerke ’n roeping.

Hoe Ontstaan die Kerkverband?🔗

Dit is weer belangrik om te sien hoe die kerke in die tyd toe die apostels die evangelie verkondig het, gefunksioneer het. Dit het nie by ’n kerkverband begin nie. Dit is nie so dat ’n sekere kerkverband homself uitgebrei het nie. Die apostels het die evangelie van Christus verkondig in ’n sekere plek. So het gemeentes ontstaan wat later mekaar se hulp gesoek het. Kerke het later vir sekere sake by mekaar aangesluit.

In die tyd van die Reformasie sien ons dat dit op dieselfde manier gebeur het. Dit is nie so dat ’n kerkverband homself uitgebrei het nie. Nee, deur die verkondiging van die ware leer teenoor die leer van die valse kerk het kerke ontstaan wat regtig kerke van Christus was. Hulle het mekaar gesoek vanuit die gesamentlike binding aan Christus, vanuit hulle gesamentlike binding aan die waarheid.

Die kerkverband is gegrond op die waarheid. As die gesamentlike binding aan die onfeilbare Woord van God en die belydenisskrifte wat daarmee in alles ooreenkom nie meer daar is nie, is daar nie meer ’n ware kerkverband nie. Dit is daarom ook ’n pragtige gebruik dat by die begin van elke meerdere vergadering die afgevaardigdes moet gaan staan om met die belydenisskrifte van die kerk instemming te betuig. Ons eenheid lê in Christus en in sy leer!

Die kerke wat die waarheid leer en verkondig, soek mekaar as selfstandige kerke. Deur die gesamentlike liefde vir die waarheid ontstaan dan ’n liefdesverbond van kerke. So ontstaan dan ’n gereformeerde kerkverband deurdat kerke hulle vrywillig by die kerkverband aansluit. Wanneer daar iewers ’n gemeente ontstaan, moet daardie gemeente dus eers geïnstitueer wees. Dan is dit die kerkraad wat die keuse vir die kerkverband moet maak. Hierdie gemeente behoort nie outomaties by die kerkverband nie, maar moet self vra om tot die kerkverband toegelaat te word.

Kerkvisitasie🔗

’n Ander saak wat hiermee saamhang is die sogenaamde kerkvisitasie. Die kerkvisitasie wat in Art. 44 van die KO gereël is, het die volgende doel:

Die visitatore sal ondersoek of die ampsdraers elkeen afsonderlik en gesamentlik hulle ampte getrou vervul, hulle by die suiwer leer hou, die aanvaarde orde in alles nakom en die opbou van die gemeente na die beste van hul vermoë met woord en daad bevorder. Die doel van die visitasie is om ampsdraers by wie nalatigheid bemerk word, betyds te vermaan en ook om met raad en daad saam te werk aan die vrede, die opbou en welsyn van die kerke.

Die doel van visitasie by ’n plaaslike kerk is om die ander te help; om as die ander kerk besig is om in ’n verkeerde rigting te beweeg of in die genade te veragter, weer op die spoor van die Gees te laat stap. Die verslag van die visitatore moet ook vir die kerkverband wys of ons volgens hulle ondersoek nog met ’n ware kerk van Christus te make het. As hierdie kerk die spoor van Christus byster geraak het en nie daarna wil terugkeer nie, sal die kerkverband moet uitspreek dat daar met hierdie gemeente nie meer saamgeleef kan word en dat daardie gemeente nie meer deel van die kerkverband uitmaak nie. Ons sien by die ontstaan van die gereformeerde kerkverband van die Nederlandse Kerke die groot belang van eenheid in die geloof, die eenheid wat ook in die binding aan die belydenis vaslê. Die tweede artikel van die Sinode van Embden is naamlik:

Om die eendrag in leer tussen die Nederlandse Kerke te bewys, het dit die broeders goedgedink om die belydenis van geloof van die Nederlandse Kerke te onderskryf en om ook die belydenis van die kerke in Frankryk te onderteken om daarmee hulle verbintenis en eenheid met die Franse Kerke te wys. Dit in die vertroue dat die dienaars van die Franse Kerke ook van hulle kant die belydenis van die geloof van die Nederlandse Kerke eensgesind sal onderteken.

Die kerkverband is ’n verband van selfstandige gemeentes wat saam in die leer van die Gees van die waarheid hulle eenheid vind.

visitasie🔗

Ons Maak in die Kerkverband Afsprake🔗

Die kerkverband is nie die kerk nie. Nogtans is dit nie so dat die kerkverband gering geag moet word nie. Wanneer die kerke in die kerkverband saamkom, maak hulle afsprake oor hoe hulle mekaar sal help in die dinge wat beter gesamentlik gedoen kan word en hoe hulle mekaar kan help om by die leer van Christus te bly. Die kerke bind mekaar dan ook aan die gesamentlike afsprake. Dit is daarom dat die kerke in die kerkverband vir mekaar in Art. 31 van die KO belowe:

Die uitspraak wat met meerderheid van stemme aanvaar is, sal as bindend aanvaar word, tensy daar bewys word dat dit in stryd is met die Woord van God of met die Kerkorde.

Hier sien ons weer dat God se Woord die norm vir die kerke in die kerkverband is, ook vir hulle kerkverbandelike saamleef. Dit beteken ook dat in ’n gereformeerde kerkverband nie ’n wetboek kan en mag ontstaan nie. Ons moet altyd weer daarop let dat ons mekaar nie meer bind as wat nodig is nie. Nie meer bind as wat die Woord ons bind nie. Hier geld ook wat ons in artikel 32 van die NGB in ooreenstemming met die Skrif bely oor ’n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk:

En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou.

Ons maak as kerke in ’n kerkverband afsprake om saam te groei en saam op die beste manier kerke van Christus in ons omgewing te wees. Ons het mekaar nodig. Ons het die gawes wat Christus in verskillende kerke gegee het nodig. Dan kan ons sonder om op enige manier hiërargies te wees of te word, sê dat Christus sy bloed ook vir die kerkverband gegee het.