Bron: Nader Bekeken, 2006. 3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Konsistoriegebed

In baie van ons kerke bestaan die gewoonte dat die ‘diensdoende ouderling’ met gebed voorgaan voordat hy die predikant na die kansel begelei. Dit is ʼn eerbiedwaardige tradisie wat in baie kerke reeds lank in stand gehou word. Soveel as wat daar oor die ontstaan van ons gereformeerde liturgie bekend is, so min is daar oor die oorsprong van hierdie tradisie bekend.

H. Bouwman, indertyd hoogleraar aan die Teologiese Skool in Kampen, het in verband met die oorsprong van hierdie gewoonte die volgende gesê: ‘Heel waarskynlik het dié gebed aan die begin van die ‘Afskeiding’ ontstaan, toe gelowiges as gevolg van groot verdrukking byna nooit seker was dat hulle byeenkoms nie deur ʼn militêre- of polisiemag versteur sou word nie en dat kerkrade en predikante daarom die behoefte gevoel het om, voordat die diens begin, eers in gebed te verenig. In die kerke van die Afskeiding het die gebed algemeen geword en is later deur die kerke van die Doleansie oorgeneem...‘1

Daar is geen getuienis uit vroeëre eeue dat dié gebed gebruiklik was nie en daar heers dus onsekerheid. Bouwman skryf ‘heel waarskynlik’, maar tot op hede moet dit helaas daarby bly.2

Na die Vrymaking is in ons kerke op heelwat plekke met die tradisie gebreek. Dit het dikwels gepaard gegaan met die afskaffing van die ‘stil gebed’ deur die hele gemeente by die aanvang van die diens. Die gedagte was dat daar tuis vir ʼn geseënde kerkdiens gebid behoort te word.

Toe daar in die jare sewentig van die vorige eeu opnuut aan liturgiese sake aandag gegee is, het baie kerke weer die konsistoriegebed ingevoer. Die praktyk in die meeste konsistories is vandag dat voor die eerste diens en na die tweede diens deur een van die ouderlinge gebid word.

Ampswerk🔗

Wat moet ons standpunt hieroor wees? Wat is die karakter en wat is die sin van hierdie gebede? In sy bekende verklaring van die kerkorde sê Joh. Jansen dat die konsistoriegebed beslis nie ʼn amptelike gebed is nie, maar net ‘privaat van aard’ is. ‘Soos ʼn gemeentelid vooraf ʼn seën van God vir homself vra, so bid een van die broeders van die kerkraad om bystand vir die bedienaar van die Woord’.3

Dit kom my voor of Jansen die bal misslaan. Dit gaan wel deeglik oor amptelike werk. Die broeder wat bid, bid in sy hoedanigheid as ouderling. Die kerkraad roep die gemeente saam. Dit is ook die kerkraad wat by monde van een van sy lede ʼn seën vra oor die diens wat gehou gaan word. Dat dit juis ʼn ouderling is wat voorgaan en nie ʼn diaken nie, vloei voort uit die amp van die ouderlinge. Hulle is die regering van die kerk en die toesig oor die leer van die kerk is aan hulle toevertrou; daarom is dit voor die hand liggend dat die ‘diensdoende’ ouderling die gebed doen. Dit is immers ook hy wat straks die predikant die hand gee as teken dat die voorganger nie op eie inisiatief optree nie, maar as gemagtigde van die kerkraad.

Dit is waar dat daar by die huise reeds gebid is en in die diens ook gebid gaan word, om die seën van God, om ʼn luisterende oor by die gemeente en om krag vir die bedienaar van die Woord. Maar myns insiens neem dit nie weg nie dat dit baie gepas is dat ʼn kerkraad wat die diens belê en die verantwoordelikheid dra vir alles wat in die diens gebeur, in bewussyn van hierdie verantwoordelikheid om die hulp en seën van God bid. Hierdie gemeenskaplike soeke van die aangesig van God vóór die erediens maak terselfdertyd duidelik dat die predikant nie sy werk in die diens alleen in opdrag van die kerkraad doen nie, maar ook in verbondenheid met sy medebroeders in die amp. Dit bring op ʼn unieke manier tot uitdrukking wat so kenmerkend is van die gereformeerde beskouing van die amp: die kollegialiteit, die sáám voor die gemeente staan.4 In ʼn gereformeerde kerk is mens altyd ampsdraer sáám met die ander ampsdraers. Die gereformeerde kerkreg ken nie ‘solo-optredes’ nie.

Voorbidding🔗

Wat die inhoud van die gebed betref, sal dit ʼn voorbede moet wees vir die dienaar wat in die prediking en gebed sal voorgaan. Dit is nie ʼn kleinigheid om die boodskap van God aan sy volk te verkondig én mond van die gemeente te wees nie. As selfs die apostel Paulus voorbidding vra: “sodat ʼn woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak” (Efesiërs 6:19), hoeveel te meer pas hierdie voorbeeld dan vir die predikant wat gereed staan om sy verantwoordelike werk in die gemeente te gaan doen!

Die konsistoriegebed moet egter ook ’n gebed vir die gemeente wees, dié wat die kerkraad byeengeroep het. Dit is nie vanselfsprekend dat hulle na die boodskap van God luister nie. Die saad van die Woord moet in “goeie grond” val (Matteus 13:8), dit moet gehoor en verstaan word (Matteus 13:23). Ook hiervoor moet in die konsistoriegebed gebid word.

Ten slotte moet almal wat in die erediens ’n taak het, aandag kry. Dit val my op dat daar nooit vir die ouderlinge self gebid word nie. Dit is immers hulle wat toesig het oor die prediking, wat ‘let op die leer’, soos die bevestigingsformulier dit stel. Dit is myns insiens belangrik dat in die konsistoriegebed ook gevra word dat die opsieners sal waak oor die “gesonde leer” (Titus 2:1; 2:8).

By dit alles is dit baie belangrik dat die ouderlinge sal besef dat dit hier nie oor ’n privaat gebed gaan nie, maar oor amptelike voorbidding. ’n Voorbede wat ook beperkinge het. Die gebed behoort geheel gerig te wees op die diens wat gehou gaan word. Allerlei node en probleme in die gemeente hoort nie hier tuis nie. Die broeders bid ook nie om self ’n seën te ontvang nie. Dit gaan oor voorbidding met die oog op wat aanstons gaan gebeur.

Dank🔗

In kerke waar voor die oggenddiens gebid word, is dit ook gebruiklik om na die tweede diens ’n dankgebed in die konsistorie te doen. Laat die gebed dan ook werklik dank wees vir wat die Here in die dienste aan voorganger én gemeente gegee het. Dit is goed as die ouderling kan teruggryp na die boodskap wat gebring is, maar hy moet daarteen waak om nie net te laat hoor hoe goed hy geluister het nie. Die dank hoef ook nie te wag tot hierdie tweede konsistoriegebed nie. Dié dank kan ook die oggend al klink. Paulus vermaan ons immers: “laat julle ... gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6).

Gebed is innige en heilige werk. Die ouderling wat sal voorgaan, moet hom tuis daarop voorberei. Mens hoor soms baie skraal gebede in die konsistorie; asof mens maar nouliks rekenskap gee van wat gebid behoort te word.

Ek dink ook dat dit goed is as by die verwelkoming van nuwe ampsdraers die konsistoriegebed ’n agendapunt van die betrokke kerkraadsvergadering gemaak word. Ek het dit nooit ervaar dat hieroor gepraat word nie. Dit lyk of dit vergeet word. Die gebed voor en na die eredienste is part en deel van ’n ouderling se ampswerk.

Bemoediging🔗

Laat my toe om met iets persoonliks af te sluit. Ek self ervaar die konsistoriegebed as kostelike bemoediging. Daar word vir jou gebid voordat jy die kansel bestyg! Jy gaan nie in eie krag nie; daar klink ’n gebed wat séker deur die Here verhoor word. Daar is biddende broeders om jou! Ek dink baie kollegas ervaar dit ook so. In ’n tyd waarin dominees dit nie maklik het nie, kan daar baie troos uitgaan wanneer die predikant kan weet dat hy deur die gebed van broeders in die amp gedra word!

Endnotes🔗

  1. ^ H. Bouwman, Gereformeerd kerkrecht III, Kampen 1934, p. 98.
  2. ^ Met betrekking tot die oorsprong hiervan erken F.L. Rutgers, Kerkelijke adviezen, I, Kampen 1921, p. 256: ‘Ek weet niks vir seker hieroor nie’.
  3. ^ Joh. Jansen, Korte verklaring van de Kerkenordening, Kampen 1923, p. 15. Vgl. Ph.J. Huijser, De ouderling en de prediking, Kampen 1959, p. 163: ‘Dit is ʼn persoonlike gebed, dit kan geen amptelike karakter dra nie...’
  4. ^ Vir ‘kollegialiteit’ in die gereformeerde kerkregering sien J. Kamphuis, Altijd met goed accoord, Amsterdam 1973, p. 120.